Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wat is die heel laaste ding waarmee alle mense uiteindelik oorbly nadat alle ander dinge van hulle weggeneem is? HOOP. As die donkerte oor jou toesak, bly hoop op God – Hy gee Lig!
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (13)
083 444 7672)
Demas voel goed. Die afgelope weke het hy al die oortollige gewig afgeskud, fiks geword, koud geslaap en min geëet. Nie net voel hy fisies beter nie, maar hy het ook die werkstres vergeet. Die onvoltooide lêers, balansstate wat nog nie klaar was nie, onderhandelings met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat hangende is; dis alles deel van ‘n ou, amper vergete verlede.
Hy besef ook dat as alles weer na normaal gaan terugkeer, hy nie weer so in ‘n kantoor kan gaan sit en werk nie. Hy weet nie regtig wat hy gaan doen nie, siende dat hy te oud is vir weermag of polisie-opleiding, en sekuriteitswerk is nie wat hy sou wou doen nie. Dis nou bygesê, as hy lewend hieruit gaan kom. Dis egter besluite vir ‘n ander dag en nou is hy die man in die berg wat soms vlug en soms agterna kom.
Hy word gejag en doen self jagwerk. Hy sal eintlik nie omgee om ‘n stukkie van die berg te besit nie, maar nou ja, dis anderdag se dinge. Nou moet hy sorg dat hierdie groep van seshonderd nie slaag nie – wat hulle ookal beplan.
Hy weet nie wat hy kan doen nie, die tyd sal leer, ook teen hierdie mense. Hy ervaar sò ‘n mate van euforie, dat hy nooit die gat gesien het nie. Hy trap tussen die blare deur en die meegee is so diep en vinnig dat hy nooit betyds sy voet daaruit sou kry voordat hy sy enkel erg verstuit nie.
“Eina!” roep hy onwillekeurig uit en val op die grond. Sy eerste gedagte is dat die R1 en die teleskoop nie moet seerkry nie. As dit nie daarvoor was nie, sou hy dalk met sy hande kon keer en nie die verstuiting so erg ervaar het nie.
Soos dit is, kan hy glad nie daarop trap nie en sy eerste gedagte is om die stewel se veters los te maak. Voor hy dit kan doen, val dit hom by dat hy iewers gelees het dat die voet eerder styf toegedraai moet word. Hy het natuurlik nie verbande nie en die enigste manier is om, ten spyte van die seer, die veters stywer vas te maak.
Hy weet ook dat sy voet vinnig sal swel en hy sal dan nie weer die stewel kan aantrek nie. Daar is egter geen sprake van verder loop vandag nie. Die gevoel van genoegdoening maak plek vir diep frustrasie.
*
Die voertuie word uit die erf weggevat, die lae muurtjies aan die binnekant versterk deur alle rommel, sand en alle beskikbare metaal aan die binnekant te plaas, sodat dit nie van buite sigbaar kan wees nie. Skietplekke word bepaal, met twee by elke posisie.
Water, kos en ammunisie word op strategiese plekke gesit, en die gewere weer een vir een nagegaan. Brandblussers en emmers sand word uitgesit. Die ou man maak seker dat elkeen soveel rus kry as moontlik, nadat die voorbereidings klaar is.
“En nou, Pa?”
“Nou bid ons saam en dan wag ons elkeen.”
Die nag is koud en die wind onaangenaam. Net na elfuur verskyn ‘n liggie bo teen die hang van die berg. Nog een en nog een, totdat daar letterlik honderde fakkels versprei is teen die skuinste.
Op die wind aangebring, is die geluid van hande wat klap, voete stamp, manne wat fluit en sing en die hoë “oeloeloee”, wat net ‘n swart vrou kan maak.
“Wat is dit Pa?”
“Dis hulle manier om ons te probeer sagmaak. Dit is ‘n tradisie wat so oud is soos die eerste mense in Afrika. Dit sal aanhou en jou senuwees klaarmaak. Maar dis soos ‘n hond wat blaf – hy kan nie byt terwyl hy besig is om te raas nie. Sodra hulle dink ons is bang genoeg om paniekerig te raak, sal hulle daarmee ophou.”
“En dan?”
“Dan kom hulle om ons dood te maak - as hulle kan.”
*
Net voor sonop het die geraas gestaak. Aan die Noordekant van die huis is ‘n oop stuk veld, ongeveer een honderd en twintig meter breed en twee honderd en vyftig lank. Die gedeelte aan die linkerkant is relatief plat en gelyk, met ‘n aantal platkruin doringbome. Die regterkant is basies nog ruwe veld, ongelyk met ‘n antieke spruit wat ‘n diep, breë donga gelaat het en hoë buffelgras wat ongestoord groei.
Aan die bokant van die veld, oorkant die straat, begin die luukse huise van die raadslede, gebou met tendergeld en selftoegekende, hemelhoë salarisse. Feitlik al hierdie huise staan nou leeg, met die inwoners wat reeds die hasepad gevat het. Hier en daar staan ‘n verlate luukse kar of sportnuts-voertuig.
Die ou man, sy kinders en vrou, die buurman, sy vrou en twee volwasse seuns, wag agter die lae heinings, gewere gereed, hande gesweet en elkeen besig met sy of haar eie gedagtes.
“Ag Here, help ons vandag deur hierdie dag. Gee dat hulle nie mortiere of grofgeskut het nie. Maak my asseblief kalm en akkuraat en gee dat ons ammunisie nie klaar raak nie. As U iemand van ons wil wegvat vandag, laat dit ek wees. Ek is al oud en het ‘n goeie lewe gehad. Dankie daarvoor – ek bedoel die lang en goeie lewe, Here. In Jesus Naam, Amen,” bid die ou man sonder om sy oë toe te maak.
“Dis vreemd,” dink hy, “Ek het so lank verlang om al my kinders weer by my te hê, en nou is dit in hierdie omstandighede.”
Hy stel sy geweer se teleskoop, ‘n Leopoldt 6.5-20X50 tot op maksimum vergroting, en kyk huis na huis, grasperk en straat, dak en boom een vir een deur. Feitlik buite die sig van die lense sien hy ‘n beweging na sy regterkant en as hy mooi kyk, sien hy ‘n swart gesig, met ‘n opgerolde rooi balaclava op die kop, kyk om een van die hoë, dik mure.
Die afstand is meer as drie honderd meter en dis bedrieglik in die baie vroeë son. Hy druk die Mauser se veiligheidsknip vorentoe, en laat die kolf onder die dik loop stewig op die sandsakkie rus. Balaclava-man het sy kop weggetrek, en die ou man weet hy sal weer daar uitsteek, binne ‘n minuut of twee.
Hy skuif sy voete, wat plat lê, met die tone buitentoe, linkervoet effens links en die regter in die middel, soos die instrukteur hom soveel baie jare gelede geleer het op die lang skietbaan by Skurveberg, haal twee diep asems en blaas stadig die derde een uit, net as die man sy kop weer uitsteek om te loer waar hulle is.
Die geweer is ingestel op twee honderd meter en die rondte, ‘n 7,62 millimeter 150 grein, sak op hierdie afstand net meer as ‘n handhoogte. Hy laat die kruishare op die bokant van die balaclava rus en maak sy hand stadig toe. Aan die manier waarop die kop weggeruk word, weet die ou man dis nie reaksie nie, maar die koeël wat hom vol getref het. Hy haal die geweer vinnig oor en soek ‘n nuwe teiken.
Vanuit die huise aan die noordekant en selfs aan hulle bokant, waar die berg uitgekalwe is om nuwe huise te bou, klap honderde skote aanmekaar, soos die aanvallers op sy skoot antwoord.
Die ou man konsentreer om nie te koes nie, al kom sommige van die koeëls gevaarlik naby. Hy weet dis nie noodwendig gemikte skote nie, maar soos die ouens op die grens gesê het: “Daar is ‘n AK-rondte met jou naam op”. Hy kan sien dat een van die skuts op die balkon van een van die nuwer huise kniel en tussen die vertikale pilare sy geweer se loop gedruk het.
Die teiken wat hy tussen die planke bied is nie meer as honderd en vyftig millimeter wyd nie, en hy moet mooi korrel om raak te skiet. Of die ligte briesie die koeël gedruk het, en of hy effens aan die sneller getrek het in plaas van druk, weet hy nie, maar hy tref die plank, wat die pilaar vorm, net links van die man se middelrif. Die uitwerking is egter net so dodelik asof daar niks tussen-in was nie.
Langs hom aan sy regterkant knal sy seun se geweer en aan sy linkerkant nog een, en verder, oorkant die straat, skiet iemand agt vinnige skote na mekaar.
“Jy moet jou rondtes laat tel, Buurman,” dink hy onwillekeurig. Buurman het twee ou .303’s en kan tien skote skiet sonder om die magasyn te herlaai; elf as hy met een in die kamer begin het.
“Julle moet elke skoot laat tel, manne en vroue, hierdie geskietery gaan lank aanhou!” roep hy as daar ‘n effense stilte is. Hy is bly dat die vyand nie hieraan gehoor gee nie en die een lang sarsie na die ander na hulle kant geskiet word. Miskien raak hulle ammunisie op of te min om aan te hou, dink hy.
“Gelukkig is daar nog geen teken van mortiere nie”, besef hy verlig.