Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is reeds in daardie tyd waarteen Paulus vir Timótheüs waarsku dat daar 'n tyd sal aanbreed dat die volk hul oor sal afkeer van die waarheid en hul sal wens tot fabels. En dit geld nie net vir ons Godsdiens nie; ook het die volk hulle ore vir politieke misleiers uitgeleen en al die fabels vir 'n 'wonderlike Nuwe Suid-Afrika' geglo. Hiervoor sal dieselfde verantwoording gedoen moet word.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (14)
083 444 7672)
Demas probeer om die seer uit sy brein te weer. Hy hou die beseerde voet hoog van die grond af en beweeg treë vir pynlike treë tussen die groter klippe, om die struike en ander plantegroei deur. Elke treë wat hy beweeg, veroorsaak dat die seer enkel op en af beweeg en selfs dit is baie pynlik. Hy is seer en wil gaan sit, maar gee nog ‘n paar meter en dan nog en nog.
Die knal van skote word al harder. Hy kners nou op sy tande en beur nog twintig meter aan. Op ‘n lae, plat rots gaan hy sit en kou twee pynpille. Die houertjie het nie meer veel in nie. As hy maar net binne sig en skootafstand kan kom!
‘n Wolk kom oor die kruin van die berg aangerol en na ‘n paar minute lyk dit asof dit sommer net vryval na onder toe. ‘n Digte mis, soos ‘n mens sporadies in die berge kry, vloei af na die dorp se kant toe. Demas weet dat dit niks goed inhou nie.
*
“Yes! Our prayers have been answered by the ancestors. Look at the fog, coming down. This must be a sign from them. As soon as it reaches the houses, we shall make a full frontal attack!”
Butch kyk die man skuins aan. ‘n Man wat na tekens en wonders soek, sal oral een kry. En dis maklik om jou manne in te stuur om te gaan aanval op die versoek van die voorvaders, as jy in die relatiewe veiligheid van jou skuiling kan bly.
*
Die ou man sien die mis afsak teen die suidelike hang van die berg en besef ook dit hou niks goed vir hulle in nie. Op die oomblik sou hy reken is hulle besig om hierdie geveg te wen, want hulle is feitlik deur die bank goeie skuts, het lang gewere, toegerus met teleskope, maar as die sig sleg word, soos in donkerte of mistigheid, verval hierdie voordeel wat hulle het.
Die mistigheid loop stadig oor die boonste huise, maak hulle toe in ‘n grys kombers en vloei dan verder. Soos dit aankom, is daar manne wat uit die huise verskyn en voor dit probeer uitbeweeg. As hulle nie die vyand kan sien nie, kan die vyand hulle ook nie sien nie. Dit kom aan, oor die voorste huise, oor die pad en halfpad oor die veld. Skielik is dit asof dit spoed vang as dit gelyk grond tref en tussen die verdedigers in beweeg. Van naby is dit natuurlik nie so dig as in die verte nie, maar tog is hulle sig erg belemmer.
“Hulle gaan nou enige oomblik deur die mis aankom, staan reg!”
Die ou man sit sy geweer versigtig neer, haal sy een handwapen uit die skouerholster, druk die veiligheidsknip af en wag. Oomblikke later storm ‘n lang lyn manne deur die mistigheid. Hy gaan staan regop, en met ‘n twee-hande (die sogenaamde “Weaverstand”) houding, asof hy teiken skiet, trek hy die een na die ander skoot af. Langs hom volg die ander sy voorbeeld, behalwe die vrou, wat steeds kniel en so vinnig met die semi-outomatiese Remington skiet, dat sy dertien rondte magasyntjie in die buis in die kolf binne veertig sekondes leegskiet. Dan pluk sy ook ‘n pistool uit en skiet, skoot na skoot.
Die ou man laat val die leë magasyn van sy Browning, pluk ‘n vol een uit sy gordel, klap dit in die greep, druk die terughouknip af en skiet weer, oor en oor. Van voor af is ‘n aanhoudende geknetter van die aanvalsgewere en hy is verstom dat hy nog nie getref is nie. Uit die hoek van sy oog sien hy sy seun val, sien hom sy kop skud en weer vorentoe kruip, om sy plek in te neem.
“Gaan help vir hom!” skreeu hy vir sy vrou, maar sy skud net haar kop.
“Daar sal genoeg tyd wees as ons klaar is!” roep sy terug en gaan aan met skiet.
Die ou man laat val sy laaste 9mmP magasyn en pluk die groot Glock .45 langs sy been uit. Hy klim vinnig oor die lae muurtjie en staan op die grond aan die ander kant. Die geknal van skote langs en agter hom is nou ‘n aaneen-rollende geknetter soos sy mense op die aanvallers skiet, wat een na die ander deur die mis aankom.
Wanneer gaan dit ophou? Hy voel paniek in sy borskas opstoot en met moeite druk hy dit terug, vat mooi korrel op een wat, met AK in die heup, op hom afstorm. Die groot .45 holpunt koeël tref hom net onder die kuiltjie van sy ken en hy slaan sonder beweging neer.
Skielik is dit vir eers verby. Die skote klap nou sporadies, maar uiteindelik hou dit op. Hy klim terug oor die muurtjie en hurk aan die anderkant. Sy vrou is besig om met haar seun te werk. Hy kan sien hoe sy die verband om sy arm draai.
“Is dit ernstig?”
“Drie maande gelede sou ek gesê het dis baie ernstig, maar vandag is dit net ‘n vleiswond.”
“Laai julle magasyne, mense! Ons weet nie wat nou gaan kom nie.”
*
Demas kreun onwillekeurig van die pyn, maar hy kners op sy tande en strompel so vinnig as wat hy kan voort. Die knalle van honderde wapens weergalm en eggo teen die kranse en deur die klowe langs en agter hom.
Skielik tref die besef hom dat sy een geweer nie veel kan verrig teen so ‘n oormag nie. Selfs al sou hy hulle verras, wat dan? Hoeveel skote gaan hy afkry, voordat hulle hom gaan raakskiet?
Ten spyte daarvan beweeg hy aan. Hy sit die negatiewe gedagtes agter in sy kop, waar dit veilig gebêre is, buite bereik van realiteit. Na nog twintig minute se pynlike loop is hy skielik by ‘n lae kransie; eintlik niks meer as net ‘n hoë rots nie, maar loodreg af. Daar is geen manier waarop hy met hierdie geswikte enkel daar kan afkom nie. Dis vir hom die slegte nuus. Die goeie nuus, as ‘n mens dit so kan noem, is dat hy nie meer as vyf honderd meter van die huise oorkant die pad is nie en skaars ‘n honderd van die naaste, luukse huis reg onderkant hom.
Hy gaan sit op sy boude, rol ‘n groterige, ronde klip nader om op te sit, haal die geweer van sy skouer af en kyk deur die laaste miswolkies, wat nou soos stukke watte uitmekaar skeur en voor die ligte windjie wegwaai, na die geveg onderkant hom.
Hy trek sy kruk nader, kap die onderste twee-derdes af en wig die punt in ‘n skeur tussen die klippe voor hom. Dis nog te hoog en hy kap nog ‘n honderd millimeter of so af. Die hoogte is nou reg, hy het ‘n mikstok en hy gaan nêrens heen nie.
*
“Maxim, ons moet gaan help!”
“Ons kan nie. As ons nou gaan, sal ons miskien die onvermydelike tydelik uitstel. As ons wag tot die tyd reg is, kan ons dalk net die hele geveg wen.”
“Ek hoop jy is reg.”
“Ek ook.”
*
Die son sak agter die hoogste deel van die berg. Dis nog nie donker nie, maar die skauwees is al baie lank en oor ‘n uur en ‘n half sal dit wees. Daar is nie ‘n maan vanaand nie en met net die sterre se flou lig, is daar groot probleme wat wag.
“Pa, wat gaan ons doen as hulle in die donker kom?”
“Dan skiet ons op ‘n baie korter afstand.”
Die ou man probeer postief klink, maar selfs hy hoor die kommer in sy stem. Dit help nie om almal bang te maak nie, maar hy weet as hulle nie meer die voordeel van langafstand-skote het nie, is dit haas onmoontlik dat hulle hierdie oormag kan weghou. Hy kan aan geen manier dink hoe hulle paar mensies sal maak om die klomp te stuit nie.
Hoeveel het hulle vandag geskiet? Gestel ‘n honderd, maar dit kan heelwat minder ook wees. Uit ervaring weet hy dat in so ‘n situasie ‘n mens gewoonlik jou aantal doodskote oorskat. So, sê maar vyf honderd na vyf honderd en vyftig oor. Moet hy nie maar vir Maxim roep en sy manne langs die muur stelling laat inneem nie? Dan is dit dan net so tien na elf teen een en nie vyftig teen een nie.
Hy maak sy wapens met sorg skoon, die FN Browning Hi-Power 9mmP, die Glock .45 en die Mauser. Vir ‘n oomblik staan hy besluiteloos en loop dan kluis toe, waar hy die Mauser omruil vir die semi-outomatiese haelgeweer. Sy oog vang die klein Mauser .25 pistooltjie wat eenkant staan. Hy het die ou wapentjie geërf, gelisensieer en vir die aardigheid gehou.
Na nog huiwering, haal hy dit uit, span die dingetjie, sit nog ‘n rondte in die magsyntjie en sit dit in sy broek se geldsakkie. Hy het al gehoor mense sê die klein kaliber-pistooltjie is ‘n gunsteling onder vissermanne – hulle gebruik dit vir ‘n sinker. Tog is dit beter a ‘n klip of ‘n baksteen.
Hy kyk na die huise teen die berg, bewus van die gevaar wat daarin skuil. Hy aanvaar die leiers is besig om bevele uit te deel, te hergroepeer, die manskappe miskien uittrap, wapens word nagegaan en ammunisie verdeel, aangesien sommige sekerlik hulle wapens en magasyne al leeggeskiet het.
Hy weet dat, voordat die volgende aanval gaan begin, die klomp opgesweep sal word, gedreig en dat daar hernude beloftes gemaak sal word van die belonings as hulle die geveg wen.
Eerlikwaar – groot moeilikheid is aan die broei.