Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons tragedie is nie dat ons swaarkry nie, maar wel dat ons die swaarkry vermors. Ons vermors dikwels die geleentheid om in medelye met ander te groei.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (16)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Skielik is daar ‘n beweging langs die ou man en ‘n lyf val by hom op die grond. Hy skrik en wil die haelgeweer omswaai om die nuwe bedreiging die hoof te bied, maar hy hoor Len langs hom skreeu, hard genoeg dat hy dit bokant die knal van die gewere, voor en langs hom, die demping van die dofies en sy konsentrasie op die mense voor hom kan hoor:
“Hey, wag nou, dis ek, Len!”
Len gaan sonder om te aarsel of te wag vir ‘n antwoord aan:
“Ek sien jy het ‘n paar boye agter die bome?”
Hy bring ‘n geweer aan sy skouer en in feitlik dieselfde beweging trek hy die sneller. ‘n Paar stukke rowwe bas spat voor en agter die boom uit en ‘n slap figuur val langs die stukke.
“’n Vier-vyf-agt Lott het nog altyd kant gebring!” skreeu Len opgewonde, haal oor en skiet nog ‘n man agter die boom uit.
“Vatso, ma se kind!”
Dis asof die aankoms van die kragtige wapen en die besef dat daar geen skuiling is nie, selfs nie agter bome nie, die hele momentum van die linie stuit en hulle begin terugval. Eers ‘n paar, maar dan en-masse.
Niemand roep uit dat hulle gewen het nie, want die klomp weet dat dit maar die eerste aanval van die dag is. Die leiers gaan nou die terugval by die huise keer, die groot groep aanmoedig en bemoedig, en die eerste vier vlugtelinge skiet, om die ander te wys dis nie ‘n goeie plan om dit te doen nie. Nadat hulle ammunisie herverdeel het, gaan hulle hergroepeer en met die volgende aanval begin.
Die ou man haal die dofies uit sy ore uit.
“Is julle almal okay!” roep hy.
“Ja, Pa,” roep drie stemme.
“Ja, Oom,” nog een vyftien meter van sy linkerkant af, waar die bure lê.
“Ek dink Stef is raakgeskiet!” skreeu ‘n vrouestem en die buurvrou hardloop na haar seun.
“Los my Ma!” roep Stef verergd. “Dis net ‘n snytjie.”
Sy ma is nie tevrede nie, totdat hy sy baadjie en hemp uittrek en die lang sny op sy regterblad vir haar wys. Dis nie ernstig nie en hy kan aanhou baklei, maar dit moet baie seer wees. Tog trek hy sy klere weer aan en vat stywerig sy geweer; ‘n ouerige eks-weermag .303, haal die magasyn uit en vul hom tot bo, voordat hy dit weer in die geweer inklap.
*
Is dit hoe dit aan die einde van ‘n reis lyk? Demas weet onwillekeurig dat sy eindbestemming hier vlak onderkant hom is. Die groot Mosambieker en sy suster is daar – hy het hulle immers al meer as een keer deur die teleskoop gevolg en hy sou hulle elkeen al kon skiet, terugkruip na veiligheid, vir ‘n paar dae van dou, plante en knaagdiere oorleef as dit nodig is, terwyl hy wag vir sy voet om genoeg te genees sodat hy teen die hang van die berg af kan loop. Die groot vraag is waarheen? As hierdie bende die hele dorp sou oorneem, sal dit mos in elk geval sinneloos wees om af te gaan.
Hy oorweeg sy opsies. As hy vir Butch Radebe en Dorkas skiet, is daar ‘n moontlikheid dat die hele klomp leierloos sal wees en uitmekaar spat. Maar wat dan van hulle ander leiers? Hy weet nie eens behoorlik wie hulle is nie, al het hy so ‘n vae idee.
Dis egter onwaarskynlik dat hy die geleentheid sal kry om elkeen van hulle plat te skiet, voordat hulle sal besef waar die gevaar vandaan kom. As van hulle daarna opklim na hom toe, en hy is steeds half immobiel, hoe gaan hy wegkom? En wat het hy dan bereik?
Hy sien weer die fris Mosambieker met sy groot, ronde, kaal kop tussen die ander uitloop en langs ‘n huis gaan staan, waar hy die mense aan die onderkant, by die huis van die ou man kan sien, maar nie maklik self gesien kan word nie.
Op hierdie afstand kan Demas eenvoudig nie mis nie en sy vinger krul om die sneller. Met inspanning haal hy sy duim weg van die veiligheidsknip en trek sy snellervinger weg. Vreemd genoeg, haal hy diep asem en besef hy het dit ingehou vir ‘n hele halfminuut.
Terwyl hy kyk, loop een van die kaders uit, tot langs die afdak by ‘n motorhuis. Sy kop ruk eenkant toe as ‘n koeël hom tref en feitlik oombliklik daarna hoor Demas ‘n knal van onder, anderkant die pad af.
Hy lig die geweer hoog genoeg dat deur die teleskoop hy kan sien wie geskiet het. Dis een van die jonger mans, wat skuins langs ‘n groot luiperdbasboom staan, sy geweer gestut in die mik tussen die stam en ‘n lae tak. Feitlik dadelik word dit begroet met teenvuur vanaf ‘n paar dosyn aanvalsgewere.
Hy versit sy teleskoop na waar Butch staan en sien die groot, sterk man op sy tande kners en sy hande in ‘n gebaar van hulpeloosheid oplig oor die voortgaande vermorsing van ammunisie. Een van die manne wat meer waaghalsig is en op ‘n muurtjie gespring het, sodat hy ‘n beter skoot of tien kan inkry, lyk asof hy agteroor geruk word as ‘n swaarkaliber koeël hom op die borsbeen tref. Die ander klomp soek onmiddellik dekking.
Demas weet eintlik nie waarvoor hy wag nie, maar iets, iewers in sy agterkop sê vir hom die geleentheid sal self opduik.
*
Len sien die ou wat op die muur klim, half hurk, regop kom en dan begin skiet. Op hierdie afstand kan hy hom mooi deur die teleskoop van die swaar CZ 550 sien. Hy het ‘n bofpalpet aan, met die kappie agtertoe, sodat daar eintlik geen doel aan die hoofdeksel is nie, ‘n gelerige gholfhemp met woorde voorop gedruk, maar hy kan nie uitmaak wat dit sê nie; die swart letters is onleesbaar weens verwering en natuurlik die vuilgoed wat dik aangepak is. Hy het ‘n denimbroek aan, waarvan die knieë in verflenterde stroke hang en ‘n paar pienk Crocs, soos dit vir hom lyk.
Hy rus die kruishare van die teleskoop teen die man se gesig en laat sak so effens, totdat dit sy lyf in vier dele deel. Die knal en die terugskop van die geweer het hy al effens gewoond geraak – soveel as wat ‘n vleis-en-bloed mens maar kan - maar steeds knyp hy sy oë daarvoor toe, al is dit net vir ‘n oomblik.
“Eina, dêmmit!” sê hy sag.
“Mooi skoot, Len.”
Vanwaar die verdedigers wag, kan hulle duidelik sien hoe alle koppe, arms, bene, knieë en alles wat raakgeskiet kan word, teruggetrek word agter elke moontlike vorm van dekking.
“Ou man, sien jy die bokant van daardie tattie se kop, so op my eenuur, sê maar twee honderd en dertig treë? Langs die pers huis? Hy dink daardie muur is dik genoeg, maar kyk nou!”
Die volgende skoot donder langs die ou man, en hy sien deur sy eie teleskoop hoe ‘n gat uit die muur geruk word en ‘n kol bloed teen die muur aan die anderkant spat.
“Whoeiee!”
“Hoe lyk dit vir my jy geniet hierdie hele gemors, Len?”
Len trek die doppie uit die kamer, sit dit in sy sak, vul die magasyn weer tot bo en druk ‘n volgende lang, dik rondte in die loop. Dan eers antwoord hy:
“Jy ken my al hoe lank? Vyf en dertig, jaar? Ek het geloop uit die SAW net voordat ek ‘n kolonel kon word. Ek het nie kans vir die sirkus gesien nie; daarna het my vrou my gelos, ek moes my nuwe werk in Midde-Afrika los en landuit vlug oornag, ek sukkel die afgelope jare om kop bo water te hou, my tweede vrou het my gelos, my gesondheid is nie meer op sy beste nie, met die heupvervanging, suiker en wat nie alles nie. Ek sukkel met depressie… hierdie is pay-back. Vandag is waarvoor ek al lankal voorberei. Miskien maak ek dit hier uit, miskien nie, ek gee nie regtig om nie, maar voor ek gaan, sal iemand bloei, glo my mooi.”
“Wel, iemand het al.”
Vanaf die sydeur roep een van die vroue:
“Pa, Ma sê een van julle moet kom kos en drinkgoed haal!”
Die ou man is maar te bly om die stywe litte te rek. Hy sorg dat daar heeltyd skuiling tussen hom en die spul teen die berg is. Hy het netnou al geruik dat daar ‘n gebak in die kombuis aan die gang is. Vetkoek en maalvleis, party met en ander sonder kerrie, ‘n hopie gerasperde kaas en goue stroop.
‘n Beker Oros en ‘n aantal glase staan eenkant. Hy sal eendag vir sy vrou vra hoe hulle dit regkry, gegewe die omstandighede.
“Sê vir jou ma sy is ‘n kampioen!”
‘n Koeël klap by hom verby en slaan stukkend teen die huis se Noordelike buitemuur. Die knal is nie ver agter nie en onmiddellik dreun Len se .458 Lott.
“Ai, Ouboet, party ouens leer ook glad nie.”
Die klik-klak van die slot wat oopgetrek word, en weer toedruk, is vreemd-duidelik in die stilte wat direk hierop volg.