Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nadat die Fariseërs Jesus probeer versoek het met die vraag of hulle belastings aan die keiser behoort te betaal, het Hy hulle geantwoord: 'Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom'. Want die keiser se kop was op die muntstuk en kon hy maar sy regverdige deel kry. Nou is die vraag of ons aan God betaal wat Hom toekom: nie net ons tiendes in geldvorm nie, maar Hy vra ook 'n tiende van ons tyd in diens van Hom. Maar in die lig daarvan dat alles aan God behoort, maak dit sin dat jy met dít wat Hy aan jou toevertrou het, sal doen wat Hy wil hê en nie wat jý wil hê nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (1)
083 444 7672)
Die ou geweerkolf is glad en koel teen sy wang. Dit ruik na baie dekades, letterlik amper ‘n honderd en vyftig jaar, se geweerolie, Ballistol, Hoppe’s Nommer 9, Young’s .303 en die Q20 van onlangs.
Dis ‘n reuk wat net ou gewere se kolwe en aksies het, wat ingetrek het in en teen die okkerneuthout, staal en brons. Daar is nog die reuk van ou swartkruit, gemeng met die rook van moderne rooklose dryfmiddel.
Hy was aanvanklik bang dat die nuwe rondtes die bykans honderd en vyftig jaar-oue aksie sou beskadig, maar hy het geen opsie gehad nie. Tot dusver hou dit nog en hy kan geen krake of swelling iewers opmerk nie. Die aksie is nog glad en stewig. Die slagdoppies bult nie uit nie.
Juda Kruger sou nie uit vrye keuse die geweer gebruik het nie, maar dis al wat hy gehad het, nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens in opdrag van die minister by sy huis toegeslaan het en die ander goed gekonfiskeer het. Daar was goeie, moderne gewere, slot-aksie, semi-outomatiese en enkelskoot gewere, rewolwers, pistole, en haelgewere in sy versameling.
Blykbaar kan ‘n mens teen die regering van die dag oorlog maak, of is jy ten minste ‘n bedreiging, as jy vuurwapens het. ‘n Gewone, wetsgetroue, vredeliewende belastingbetaler, het nou die vyand geword, as jy ‘n vuurwapen besit. Maar dis al ‘n ou storie, wat Hitler, Stalin, Trotski, Mao Tse Tung en Pol Pot gebruik het, as hulle weet hulle vang iets aan waarvoor mense hulle eintlik moet skiet. En, net soos in genoemde manne se geval, en inderdaad nog ‘n lang lys van korrupte diktators is, het die geweld binne ‘n paar dae uitgebreek.
Die SAPD het op ‘n lys afgegaan en al sy wapens gevat waarvoor lisensies uitgereik is. Die Winchester Model 1873 het teen sy sitkamermuur gehang as ‘n blote vertoonstuk. Die loop het aan die voorkant en agterkant ‘n stuk lood ingehad, en die loop was ook geboor aan die onderkant, ‘n ses millimeter gaatjie, sowat vyftig millimeter van die tromp af. Die hefboom van die aksie kon net beweeg as ‘n mens die knippie aan die onderkant sou wegdraai – ‘n standaard toevoeging van die fabriek af, maar die lid het dit nie geweet nie. Hy het die ou roer van die mikke afgehaal waar dit gehang het, die aksie probeer werk, veronderstel dat dit toegesweis is, gesien dat dit nie op die lys van lisensies was nie en op een van die sitkamerbanke neergegooi.
Na hulle vertrek het, het Juda die kas onder die Land Rover se sitplek gaan oopmaak en ‘n ongelisensieerde Ruger .22 rewolwer, vyf pakke .44-40 rondes en vyf honderd .22 rondtes gaan uithaal. Hy kan immers ook geskiedenis lees en het geweet wat kom. Die pak rondtes wat die SAPD gevat het, was van sy ander .44 Winchester, ‘n Model 92, in .44 Magnum, maar hulle sou nie die verskil agterkom nie.
Juda het ‘n dag gevat om die lood uit die loop te haal, die loop agter die gaatjie af te sny, so goed as moontlik met ‘n omslag en boorpunt te kroon en die ou ding skoon te maak en te olie. Die loop is nou maar net so ‘n rapsie meer as vier honderd millimeter lank, maar dis lank genoeg om die twee honderd grein loodkoeëls teen sowat een duisend vyf honderd voet per sekonde te skiet.
Die ou geweer is eintlik nog baie mooi. Die houtwerk is lank gelede deur iemand afgeskuur en weer ge-olie. Die dik, agt-kantige loop is nog goed en die aksie glad. Baie van die oorpronklike blou is al afgeslyt, maar daar is niks roes op nie.
Dis ‘n geweer wat die Boere ingevoer het, nog voor die Eerste Vryheidsoorlog en een van die spesifikasies was dat die sogenaamde “buckhorn” visiere vervang moes wees met klappiesvisiere, waarin die Boere soveel vertroue gehad het.
Hy kyk deur die diep “V” van die agtervisier en die spits van die voorste een verdeel die man se borskas mooi in twee. Die man se bolyf is kaal, gespierd en jonk. Die vel blink swart in die sweet van sy opgewondenheid en, alhoewel sy voete in verslete weermagstewels sonder veters is, lyk dit nie asof dit enigsins aan sy spoed skade doen nie.
Die AK wat hy in sy heup hou, stotter in ‘n dodelike ritme as hy die sneller trek en inhou totdat die magasyn leeg is. Die koeëls fluit verby Juda se kop, slaan voor en agter hom teen die stukke muur van die verwoeste huis vas en stukke pleister tref hom skrams teen die nek en skouer. Hy haal diep asem, hou die ou geweer so stewig as moontlik en druk die sneller. Die rower vou soos ‘n marionet waarvan die toutjies geny is en die AK kletter neer, skuif oor die sement en kom tot rus teen ‘n lae muurtjie.
‘n Makker kom gebukkend aangehardloop, buk om die geweer op te tel, en as die volgende skoot klap, val hy bo-op die Kalashnikov. Juda druk weer die hefboom-aksie vorentoe, vang die leë doppie en sit hom by die ander in sy bosbaadjiesak. Met ‘n geoefende beweging trek hy die aksie agtertoe en op. Met sy duim laat hy die haan sak op die rondte. Dis nie regtig veilig nie – as die geweer op die haan sou val is dit heel moontlik dat die skoot sou afgaan – maar hy voel gemaklik daarmee onder die omstandighede.
Dis stil. Niemand het die waagmoed om weer te storm of te skiet nie.
“Kom gou, julle, voordat die ander kom!”
Aan sy linkerkant, sowat veertig meter weg, verskyn twee kinders, ‘n seun en ‘n meisie. Hulle is half onseker oor wat hulle te doen staan.
“Kom! Hardloop, daar is nie baie tyd nie!”
Die twee hardloop nou na waar hy skuil.
Juda beweeg versigtig agtertoe en klim deur die gebreekte venster aan die agterkant van die huis se ruïne. Hy druk twee nuwe rondtes in die laai-hekkie langs die geweer se aksie in.
Die twee kinders volg hom ‘n ent weg, waar onder ‘n blaarlose jakarandaboom ‘n ou Jeep Grand Cherokee staan. Dis met spuitblikkes geverf, oënskynlik sommer sonder enige beplanning, maar dit gee in werklikheid goeie kamoeflering. Die deure en al die ruite behalwe die windskerm is verwyder, die modderskerms rofweg groter geny en dit lyk nie na meer as net ‘n wrak nie. Die groot bande is egter redelik nuut en die enjin vat met die eerste draai van die sleutel. Die groot Chrysler V8 brul en die bande tjirp as Juda wegtrek.
“Maak julle vas.”
*
Boesman Britz ervaar vir die soveelste maal die gewaarwording dat die geweertjie absoluut géén terugskop bevat nie. Eers wanneer jy met die CZ 200 windbuks skiet, weet jy dat alle ander wapens wat projektiele van een of ander aard lanseer, ‘n mate van skop het. Natuurlik is Newton se derde wet van beweging toepaslik, dat vir elke reaksie daar ‘n gelykte teenoorgestelde reaksie moet wees, maar die aanvoelbaarheid is werklik sò gering, dat dit nie ervaar kan word nie.
Punt twee-twee geweertjies, kruisboë, selfs veer-geaktiveerde windgewere het terugskop. Eienaardig genoeg, het laasgenoemde ‘n dubbele reaksie, genoeg om teleskope wat nie spesifiek vir hule gebou is nie, te beskadig. Maar nie hierdie een nie. Die koeëltjie, in hierdie geval ‘n Diablo Match Exact, wat presies 13,43 grein, oftewel 0,870 gram weeg, word deur saamgeperste lug (sowat 230 Bar) aangedryf om ‘n snelheid van net oor ‘n duisend voet per sekonde by die tromp te bereik.
Saam met die teleskoop, ‘n Leopold Merk II wat hy van ‘n .308 afgehaal het, weeg die wapen – voorheen sou niemand dit as ‘n wapen beskryf nie – net oor die drie kilogram. Boesman het die geweer tien jaar gelede in sy kluis gebêre, nie omdat dit ‘n gevaarlike wapen sou wees nie, maar bloot omdat dit duur was.
Nou het hy ‘n duikbottel by ‘n vriend gekry, die windbuksie skoongemaak, die agtervisier vervang met die teleskoop en ‘n tienskoot roterende magasyntjie geïnstalleer. Dit het reeds ‘n doelgemaakte knaldemper aan, wat die laaste bietjie klank van die vrygelate lug totaal demp. Met moeite is die drukking van die lug verstel tot waar dit nou is. Vanaf ‘n dooierus kan hy sonder moeite tien skote binne tien millimeter op vyftig meter groepeer. Verder as dit is die wind ‘n té groot faktor.
Vier dae gelede het die polisie uit die bloute opgedaag, gerugsteun deur lede van die SA Leër en het beslag gelê op al sy vuurwapens.
“Net tydelik, meneer, totdat die krygswet gelig is.”
Krygswet, wat gevolg het op ‘n noodtoestand, wat gevolg het op ‘n krisistoestand, gedurende die tyd wat die Nuwe Virus begin amok maak het. Vòòr die Virus, was Eskom die grootste nasionale bedreiging, maar die onvoorsiene siekte, wat eers huiwerend was, maar later soos ‘n veldbrand versprei het, het vérreikende gevolge gehad.
Die burgers van die land het eers sporadies, maar later al meer toenemend, by die huis gebly. Aanvanklik omdat hulle bang was hulle steek aan, of versprei die Virus, maar later omdat ‘n groot deel van hulle siek geword het.
Basiese dinge is nie meer gedoen om die land in stand te hou nie, en eers die passasiersnetwerk van die spoorweë, Prasa, het opgehou funksioneer, daarna die busse en munisipale dienste, en uiteindelik was daar net te min van die aktiewe personeel van Eskom (tegnies sou daar meer as veertig duisend werkers op die boeke wees, maar minder as nege duisend het geweet wat hulle doen), om die netwerk in stand te hou.
Dit was in elk geval besig om ineen te stort, maar die omstandighede het die onvermydelike net verhaas. Met ‘n bankrotgesteelde ekonomie, vervalde infrastruktuur en ‘n groot persentasie werkloosheid, was Eskom die laaste strooitjie wat die kameel se rug gebreek het. In hierdie geval was die rug die semi-beskawing wat deel geword het van die mense se bestaan van 1994 af.
Winkelrakke is binne ‘n ommesientjie leeggemaak – eers gekoop en daarna geplunder. Sonder elektrisiteit was daar geen voedselproduksie, geen brandstof, water, riolering of enige middel wat ‘n moderne samelewing op staatmaak nie. En natuurlik het wanorde en anargie gevolg.
Boesman en sy vriende was vir alles gereed, met genoeg kruideniersware, medisyne en ander noodsaaklike lewensmiddele. Maar die spoed waarmee hulle ontwapen is, het hulle almal onkant gevang. Al wat hy van sy wapens oor gehad het, was die drie windbukse wat die polisie sonder seremonie uit sy kluis gehaal het, gesien het dis nie vuurwapens nie, en eenkant gegooi het. Daarna het die SAPD onttrek en was nie beskikbaar vir enige taak nie. Ook nie vir die golf honger en desperate mense wat die wit buurtes ingestroom het nie.
Boesman het nog nooit soveel haat in mense gesien nie. Dis asof die afgelope kwart-eeu se frustrasie oorgeborrel het in barbaarse woede. Dit help nie jy probeer redeneer nie, dat jy sou kon noem dat die ekonomiese mag reeds jare gelede oorgespoel het na die ryk middelklas swartmense. Honger en woede, tesame met aangeblaaste haat, ken nie perke of debat nie. Dit stoom bloot voort, gedryf deur ‘n aanvanklike gevoel van vryheid en sukses.
Indien Juda Kruger nie die eerste golf gekeer het met sy ou Winchester en Jac met sy ou Webley nie, sou hulle paar huise ook in die slag gebly het. En nou is Juda nie meer hier nie. Hy het gery om sy vrou en kinders te gaan soek.
Dit het vir Boesman en nog ‘n handvol manne en vroue gelaat om die omgewing te probeer veilig hou. Leen Viviers, ‘n middeljarige weduwee, wat twee huise af in die straat woon, het ‘n kruisboog tevoorskyn gebring, Marius du Plooy ‘n gewone jagboog, en natuurlik was daar volop byle, messe, hamers en bofbalkolwe. Boesman wou ‘n skiet-ding hê, en die windgeweertjie was al opsie.
Nou lê hy agter ‘n paar bakstene en wag. ‘n Klompie menere het hulle perimeter binnegdring en sluip nou al met die skaduwees nader aan hulle. Dis volmaan, maar hulle loop soos ou, ervare inbrekers.
Boesman volg die voorste een deur die teleskoop. Hy kan nie die man se gelaatstrekke uitmaak nie, maar kan tog sien waar die ronde kop aan die bokant van ‘n kort nek uitsteek. Uiteraard kan hy ook nie in die swak lig die kruishare sien nie, maar as die kop die teleskoop vol lê, druk hy die sneller.
Daar is geen terugskop nie, geen geluid nie, net die kop wat agteroor ruk soos die man die koeëltjie voel wat sy oog binnedring, ver genoeg om sy brein af te skakel. Voordat hy stil lê, het Boesman die slot oorgehaal en skiet ‘n tweede en derde skoot.
Die meeste dapper manne sal bly staan vir die knal van ‘n vuurwapen, of terugskiet, maar hierdie goed wat uit die donker vlieg, sonder die flits van verbrande kruit, absoluut geluidloos en onbekend, is vir die rowers te veel en hulle blaas inderhaas die aftog.