Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is twee soorte mense in hierdie wêreld: diegene wat die werk doen, en dié wat die krediet daarvoor neem. Dis beter om in die eerste groep te val – daar is baie minder kompetisie...
BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (4)
083 444 7672)
Boesman het vroegoggend met die ou Gladiator vertrek. Dis een wat hy korter gemaak het, die verkorte laaibak aan die kajuit vasgesweis en die dak afgesny, sodat dit ‘n bonkige, oop voertuig is, breed, maar met groot bande op. Hy ry vinnig by die hek uit en is verby Badeleng voordat die mense van hom behoorlik bewus kon word.
Hy geniet die rit. Dis vir hom sleg om so lank ingeperk te bly en eintlik, as hy eerlik wil wees, het hy ‘n verskoning gesoek om uit te kom. Die klomp mense by die huis is vir eers veilig. Die ou groot vierspoedratkas sing rustig agter die vier punt een liter Chev enjin; dis nie vinnig nie, maar het baie wringkrag van lae rewolusies af.
Na vyf ure se ry is hy deur Grootvlei, deur Balfour en oppad Heidelberg toe, om sy neef en dìe se vrou te gaan soek. Hulle is al van skooldae af vriende en het ‘n pakt gemaak om mekaar te beskerm indien die ergste gebeur. Hy ry Heidelberg binne, is geskok oor die toestand van die terrein by die Leërgimnasium. Die geboue se vensters is selfs op ‘n afstand duidelik gebreek of uitgehaal, die slagboom is verwyder en die bossies groei uit die teerpad.
Sy neef, Andries, is nie tuis nie. Dis inderwaarheid duidelik dat niemand vir ‘n geruime tyd tuis was nie. Onder die dik rubbermatjie by die voordeur kry hy ‘n stuk karton.
“Neef, ons het gery. Gaan kyk of ons by jou gaan kan uitkom. A.”
Boesman wonder of hulle iewers op pad is, miskien hulp nodig het, of het hulle dalk intussen by sy huis aangekom? Buite staan Andries se vrou se Audi. Dis duidelik dat iemand die voertuig probeer brand het, maar die vlamme het net die voorkant verteer. Hy kry ‘n leë twee-liter koeldrankbottel, maak die petrolpyp onder die kar los en tap tydsaam veertig liter petrol daaruit. Dis amper soveel as wat hy uitgery het.
Twee ure later se gery op meestal plaaspaadjies, is hy gedwing om grootpad toe te gaan – die pad wat oor die brug by Villiers moet gaan. Naby hom is ‘n man en vrou in ‘n ou Land Rover en aan die ander kant van die pad ‘n man met twee kinders langs ‘n deurlose, bontgeverfde Jeep Grand Cherokee.
*
“Ek kan nie, Johan.”
“Jy kan, Linda. Dis net ‘n teiken.”
“Ek kan nie. Ek kan nie so koelbloedig wees nie.”
“Nou gee my jou geweer. Ek sal dit doen.”
Na ses dae se vrugtelose gesoek na ‘n brug waaroor hulle kan ry, is hulle by Villiers, die klein dorpie in die Noord-Oos Vrystaat. Selfs dìe een, nie baie kilometers van hulle af nie, oor die N1, is sodanig beskadig dat hulle nie daaroor of daardeur kan ry nie. Nou is hulle presies aan die noordekant van Villiers.
Tussen hulle en die ou staalbrug is daar ongeveer drie honderd en vyftig meter. By die brug is daar ‘n groep van sowat twintig mense wat vanaf die plakkerskamp aan die rand van die dorp, tot by die brug gestroom het.
Die sandsteenmure van die ou geboue het die brand oorleef en hier en daar ‘n stukkie dak. Aan die regterkant van hulle af, is ‘n besigheid wat voorheen trekkers verkoop het, maar daar staan nou net uitgebrande wrakke. Agter die klomp aan die oorkant, staan vier taxi’s. Dit word gebruik om die pad af te sper as ‘n soort mobiele tolhek. Diegene wat daardeur wil gaan, moet al hulle besittings opoffer as tolgeld. Eers dan word die taxi’s weggetrek en kan daar ‘n deurgang wees oor die brug. Die leier van die groep is ‘n forsgeboude man in sy laat veertigs. Hy is die een in beheer en net hy besluit wie deurgelaat mag word. Johan, wat lank gelede ook ‘n paar maande in onlusgeteisterde gebiede deurgebring het, weet hoe dit werk.
“Hier. Doen dit dan.”
Sy gee vir Johan die geweer aan en hy gaan staan soos sy gedoen het; effens wydsbeen, gebuk agter die Land Rover se voorste modderskerm en vat dooierus oor die spaarwiel. Die fris man met die rooi hemp verskyn in die kruishare van die teleskoop. Johan druk die veiligheidsknip vorentoe, haal diep asem, laat dit uit en dan begin sy vinger om die sneller krul.
“Nee. Dis reg - dis my geweer, en ek sal dit self doen.”
Die ander mense by hulle het stil geraak. Die enjins van die Jeep Grand Cherokee van Juda Kruger en die sessilinder een van die ander, ouer Jeep is afgeskakel.
Johan druk die veiligheidsknip weer in plek, staan terug en gee die geweer vir Linda. Na ‘n paar sekondes se aanlê, knal die skoot en Rooihemp gee ‘n halwe treë agteruit en val dan op die teer.
Die groep mense drom rondom die man saam, soos ‘n trop tarentale wat nie die skoot gehoor het wat hulle vriend neergetrek het nie.
Die vier taxi’s staan steeds in die middel van die brug getrek en daar is geen manier waarop hulle verby kan skuur nie. Skielik vuur die ses silinders van die ouer Jeep Gladiator en hy trek stadig verby die ander twee voertuie. ‘n Meter weg van die voorste taxi stop hy vir ‘n oomblik.
Die ou vier-spoed ratkas – waarvan eerste ‘n baie lae, donkierat is – knars in rat en die groot oordrakas word na laestrek vierwieldryf geskakel. Die ou voertuig versnel net vir ‘n halfsekonde en dan tref die dik buffer, gemaak uit ‘n warmgerolde kanaalyster, die taxi. Die voorkant duik weg en dan beweeg die bussie agteruit.
Die agterwiele, wat gesluit is met die handrem en die enjin deur eerste rat, fluit oor die teer. Sy agterste buffer tref die taxi tweede in die ry, en hy beweeg ook, al is dit stadiger. Ook sy bande fluit in protes. Die Jeep J2000 se vier groot wiele begin nou ook rook draai uit die teerpad. Oomblikke daarna is Johan se ou, kortasafstand Land Rover teen sy agterkant en nog ‘n paar sekondes later die Grand Cherokee van Juda Kruger teen hom. Die vier taxi’s beweeg nou asof hulle aanmekaar vasgemaak is, agteruit.
Paniek ontstaan onder die drywers. Twee van hulle hardloop na hulle voertuie toe. die agterste man kry sy voertuig aan die gang en begin wegtrek. Hy is egter so ontsenu dat hy die kar na ‘n paar meter laat stol. Hy is net verby die brug as die ander drie, wat nou sonder hom meer momentum kry, hom weer tref en dit draai skuins van die slag. Hy is teen die skermstroke. Die voertuie tref hom weer en hy is nou op die gras langs die brug en, ten spyte van die wiele wat maal om vastrapplek te kry, gly hy teen die wal af en in die rivier in. Dit verdwyn vir ‘n oomblik onder die vuil water en dan pop dit weer op van die lug wat nog in die voertuig is. Vir ‘n lang drie minute dobber dit saam met die stroom af en dan duik eers die neus, en daaarna die res van die voertuig onder die water in.
Lugborrels merk die plek waar hy verdwyn. Die tweede een van agter is skielik los en hy vlieg reguit agteruit, die dorpsplein binne, waar dit teen ‘n muur bots. Die ander twee ry links en regs agteruit, verby die kant van die brug, en kom tot stilstand. Die laaste een, die een waarteen die Jeep gedruk het, se verkoeler het gebars en die stoom spuit aan die bokant by die sierrooster uit, terwyl water op die grond stroom.
Die drie vierwieldrywe ry om die plein. Die oproermakers is sodanig onkant gevang dat hulle nie daaraan dink om hulle te probeer voorkeer, klippe te gooi of enige ander onbeskaafde gewoonte nie. Hulle staan bloot verbaas en kyk as die voertuie met hulle insittendes na die Vrede-Frankfort aansluiting se rigting verdwyn.
Ses maande vroeër
Die virus het stadig maar seker begin om te versprei. Dit herinner aan die Spaanse Griep van 1918-20. Die groot probleem was die hoeveelheid vals gerugte en die uiteindelike verdwasing wat dit meegebring het. Baie navorsers het gevra waarom daar so ‘n bohaai van juis hierdie virus gemaak word, as die wêreld se regerings telkens sê dis nie so ernstig nie, die gewone griep eis dan baie meer lewens as hierdie een, en sterftes is eintlik gering, gemeet aan TB, hartsiektes, diabetes en bloot net self-aangehelpte toestande soos longkwale as gevolg van rook of vetsug, as gevolg van ooreet.
En tog… en tog het baie mense gevoel iets word van hulle weerhou. Is dit maar die ou laai van die owerhede om die sampioen-taktiek te volg, waar die gepeupel in die duister gehou en mis gevoer word? Die meeste mense sou eerder die harde waarheid wou hoor, hulle self daarvan vergewis en intelligente besluite wou neem. Dit sou wees soos om ‘n uiters bekwame, maar onidentifiseerbare vyand aan te durf, eerder as een wat jy niks van weet, of nie eens weet of hy regtig bestaan nie.