Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is 'n God van orde, en Satan verlustig hom weer in chaos. Oral waar daar chaos heers, regeer Satan. Mense en volke wat God liefhet, leef ordelik, maar hulle wat Hom haat ervaar geen orde nie. Kyk maar net wat met ons eie land gebeur het nadat die Christelike grondwet afgeskaf is – nou veel meer as 60 moorde per dag!
BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (3)
083 444 7672)
Nadat Johan sy kortdienstyd klaargemaak het, is hy universiteit toe en het ‘n graad in metallurgiese ingenieuswese behaal. Na ‘n jaar op siwwiestraat as ingenieur by die SAS&H, het hy besef dat die spoke van die verlede hom nie gaan los nie. Die SAW het hom met ope arms verwelkom en na ‘n kort oorbruggingskursus is hy vinnig van luitenant na kaptein bevorder. En nog steeds het die spoke hom nie alleen gelaat nie.
Die ding wat hom die meeste gevang het, was ‘n gebrek aan dissipline en na 1990 het dit vinnig begin swak word. Uiteindelik het hy aan die begin van 1994 die mag verlaat, om te gaan boer op ‘n klein erfplasie naby Tzaneen. Hier kon hy ongesteurd ‘n lewe maak uit harde werk en kundigheid. Hy het feitlik alles op die plaas gemeganiseer, sodat hy later alleen kon boer sonder enige hulp, behalwe dié van ‘n afgetrede sammajoor, wat min of meer dieselfde uitkyk as hy van die wêreld gehad het.
Hy het nooit getrou nie. Nie dat hy nie van vroue gehou het nie, inteendeel. Maar hy verstaan dat die nagmerries en herinneringe aan die Bosoorlog hom nie sou toelaat om sy lewe met ‘n vrou te deel nie. Ter wille van haar. So, hy het fiks gebly, gekyk wat hy eet, nie gerook nie, selde alkohol gebruik en gesond geëet. Daarom het die Virus hom uitgelos. En natuurlik ook omdat hy wesenlik afgesonder gewoon het. Maar dit het wel vir Oom Wikus gevat. Die Oom het dorp toe gegaan vir vars kosvoorraad en het nege dae later siek geword en gesterf.
En toe kom die regering beslag lê op sy plaas. Sonder teëstribbeling het hy vertrek. Net hy, sy weermag-kit en sy ou Land-Rover. Hy het ‘n kampplek hoog in die uithoeke van die uitstulpings van die Drakensberge gekry, by ‘n smal, helder waterstroom. Dis nie ver van sy plaas af nie, sowat dertien kilometer en op sononder die derde nag na sy aankoms, het hy sy mes gevat. Dis ‘n Cold-Steel OSS mes met ‘n ses duim, oftewel honderd en vyftig millimeter lem. Dis nie ‘n mooi mes nie, met ‘n swart rubber hef en kruisstuk, ‘n pikswart lem met ‘n naald-skerp punt.
Hy het sy eie plaashuis binnegesluip, verby die nuwe baas-van-die-plaas se mense en die man se lewe geneem. Nie deur sy keel af te sny nie, maar hy het die mes diep in sy skedel ingedruk, net waar die nek en kop bymekaar kom, in die man se medulla oblongata, net soos die instrukteur hom donkiejare gelede geleer het.
Terug by sy kampplek, met die bloedversnelling van die gehardloop in sy are onder beheer, tref die adrenalien hom en hy begin bewe. Hy huil en die spoke van 1976 en later probeer hom uitmekaar skeur. Uiteindelik raak hy en die nagmerries saam aan die slaap.
*
Linda Naudé leun uitgeput en uitasem op die graaf se handvatsel. Dan word beide die moeg en die harsteer te groot en sy sak op haar knieë teen die kant van die hopie losgrond van die graf.
Die ander twee graffies langs hierdie een is ook nog redelik vars en die gras en onkruid het net hier en daar begin om groen blaartjies uit te stoot. Linda loop om die graf na die kleineres toe, gebukkend soos ‘n baie ouer vrou, al is sy nou maar ses en veertig jaar oud.
Haar rug pyn van die lang dag se grawe, die sleep van Cor se liggaam oor die werf na die familiebegraafplaas, waar haar ma en pa ook lê. Cor was nog nooit groot gebou nie. Lank ja, maar van nature maer. As hy veel swaarder was, sou sy ‘n ander plan moes maak.
Die plaag het haar twee kinders, Santa en Petrus kort na mekaar geneem, minder as ses maande gelede. Eers Santa en twee weke later vir Petrus. Cor het ook siek geword, maar was aan die herstel toe die aanval gekom het.
Dit was nie die eerste keer dat honger, desperate mense hulle wou doodmaak nie, maar nou al die derde keer. Die eerste twee maal het Cor saamgeveg, maar eergisternag was hy te swak. Linda het vir ure lank van die een venster na die ander beweeg en hulle probeer weg hou. Sy het minder as ‘n handvol ammunisie oorgehad voordat die laaste een die aftog geblaas het.
Sy buk by Santa se graffie en trek die jong onkruid-plantjies uit. Sy staan op, en met die graaf in haar linkerhand vat sy haar geweer met die regter en loop huis toe. By die agterdeur loop sy om die liggame van twee rowers en oor ‘n derde een wat half op die stoeptrappie lê.
Die al herfs, maar dis ongewoon warm en die lyke begin ruik. Sy het eenvoudig nie die krag om hulle weg te vat nie. Binne die kombuis vat sy die ketel van die koolstoof af, gooi vir haar ‘n koppie swart koffie met die laaste van die suiker in en gaan sit by die kopkant van die tafel.
Eers haar pa se plek en na sy dood, dié van Cor. Nou is sy die hoof van die huis. Dis vreemd, en hierdie gedagte maak dat sy uiteindelik in trane uitbars. Sy vat ‘n slukkie koffie, maar dit brand haar mond en sy laat dit val. Sy hou haar ken in die bakkie van haar gevoude hande en later laat gaan sy net, lê met haar kop op haar regter voorarm en raak van uitputting snikkend aan die slaap.
Sy word vroegdonker wakker, kners op haar tande, pak ‘n tas klere, haar geweer, vat water en soveel kos as wat sy oor het na die ou kort-bak Isuzu KB 250 Diesel. Sy ry noord-oos, later oor die Vaalrivier en nog later verby Lydenburg, ver weg van haar geboortedorp, Ladybrand af.
*
Johan Fourie lê op ‘n lae bultjie langs die pad, met sy elmboë gestut onder die verkyker. Hy het die wit Isuzu sien aankom, en wens hy kon vir die drywer skreeu om te stop.
Weerskante van die pad, minder as twee honderd meter van hom af, lê tien manne, vyf elk, weerskante langs die kant van die pad in ‘n afvoersloot.
Die eerste groot klip spat ‘n groot spinnerak van gebreekte glas op die windskerm van die bakkie. Hy sien hoe die bestuurder die bakkie rem, sò hard, dat dit skeeftrek op die grondpad en in ‘n stofwolk tot stilstand kom.
“Nee! Jaag aan, moenie stilhou nie!”
Selfs al sou die bestuurder hom kon hoor, is dit steeds te laat. Die tiental swerm oor die bakkie, slaan die kantruit uit en pluk die deur oop. Die passasierskant se deur vlieg oop en ‘n vrou met ‘n lang blonde poniestert spring daaruit, hardloop met lang, sterk bene ‘n paar treë, draai dan om en rig die geweer op een van hulle. Die knal van die skoot is hard en kras in die vroegoggend.
“Nee, meisiekind, hardloop, moenie wag nie!”
Onmiddellik is hulle rondom haar. Die geweer word uit haar hande geruk en sy word van agter vasgegryp. Johan hoor die vermakerige gelag van onsimpatieke mansstemme en haar angstige gil hoog bo-oor dit. Die feit dat een van hulle makkers so pas geskiet is, maak eenvoudig nie saak nie.
Hy kan nie onthou dat hy die verkyker neergesit het of opgestaan het nie. Die afstand tussen hom en die klomp onder hom lê hy ewe vinnig af. Hy hou die mes nie soos wat ‘n mens ‘n swaard sou hou nie, dit wil sê met die lem vorentoe nie. Hy is nie so geleer nie. Hy het die wapen in ‘n greep waarin die lem al langs sy voorarm lê, met die snykant weg van sy arm af. Op hierdie manier kan dit nie uit sy hand geruk word nie, en kan hy ‘n ander voorwerp afkeer met die lem. Hy kan met ‘n vorentoe beweging sny, met die terugtrek steek, weer sny.
Skielik is hy tussen hulle. Niemand het hom gehoor of gesien aankom nie en hulle eerste gewaarwording van ‘n vyand is wanneer hy soos ‘n besetene tussen hulle is. Hy sny, steek, slaan, skop, sny weer, kele, lieste, mae. Hy is nie vir ‘n oomblik stil nie, maar soos ‘n rooikat wat in ‘n kamer vasgekeer word, is dit kille, woedende geweld wat losbreek.
Binne sekondes is dit verby; wie nie dood is nie, is òf besig om dood te bloei, òf is genoeg gesny of gesteek om die aftog te blaas, al is dit hinke-pink, met een hand wat die bloed probeer keer.
Linda staan geskok, nie net van die skielike aanval van die rowers nie, maar ook die berekende geweld van die skraal man met die grys hare en die bloed teen sy hande, arms en klere. Sy loop onwillekeurig agteruit, totdat sy die harde, koue metaal van die bakkie se modderskerm agter haar voel. Sy druk met albei handpalms agter haar, daarteen.
“Wie is jy!”
“Ek is jammer, dame. My naam is Johan Fourie. Ek sal jou nie seermaak nie.”
Hy vee sy hande teen sy broek af, sit die mes in sy skede, loop na haar geweer toe en tel dit op. Die slot is nog oop, soos sy angstig probeer het om dit weer oor te haal. Hy druk die boonste rondte van die magasyn met sy linkerduim af en dan maak hy die slot op die leë kamer toe. Dan draai hy die wapen op sy kant en lees die naam en kaliber.
“Sako de Luxe. Caliber .243 Winchester”.
Hy hou die wapen uit en Linda neem dit outomaties en woordeloos by hom.
*
Die ou Series 2 Land Rover is nie gebou vir gemak nie. Johan s’n is amper sestig jaar oud, maar die klein diesel enjin is vervang met ‘n 2,5 liter Chevrolet enjin, basies dieselfde kragbron as waarmee die Eland pantserkarre toegerus was.
Die ou ratkas sing deur al die ratte en Linda, ten spyte van die afgelope tyd se trauma, is half verwonderd oor die slapheid waarmee die rathefboom werk. Dis amper asof die oorskakeling lukraak gebeur. Eerste sit ver en wyd na die linker bokant, en tweede ewe ver onder. So ook derde en vierde op hulle eie plekke. As Johan trurat moet skakel, soos wat nou twee maal gebeur het, vra hy vir Linda om verskoning, aangesien hy amper aan haar been moet vat om dit te doen.
Die voertuig ratel en raas, skommel en spring deur die ongelyktheid. Die kort bladvere het nie veel meegee nie. Daar is nie ‘n dak of kantvensters nie, en die wind waai alles vol stof.
Die voertuig ruik soos alle ou Land Rovers. Die reuk is onbeskryfbaar – nie sleg nie, inteendeel, maar dit het sekerlik te doen met die feit dat die grootste deel uit aluminum gebou is. Dit is seker ook die rede waarom alles klink of hulle hande klap vir mekaar. Die spoedmeter werk net so af en toe, en dan spring dit skielik van nul tot veertig of vyftig myl per uur.
Daar is net drie meters wat werk, die oliedruk, hitte en brandstof en die rede daarvoor is dat dit klaarblyklik na die tyd aangebring is. Die oorspronklikes, in ‘n reghoekige plaatjie in die middel van die voorste paneel, lê met die wit naaldjies van die meters styf teen die pennetjies, behalwe as hulle deur ‘n groterige knik ry. Dan bewe hulle net effens van hulle lêplekke af. Van die sitpleksponse is nie veel oor nie en Linda weet nie of dit van baie gebruik is dat dit so dun is nie, en of hulle daarmee uitgekom het. Die sitplekgordels is duidelik ‘n latere byvoeging en sy is baie bly daaroor.
Hulle praat nie veel nie en as dit gebeur dat hulle enigsins moet kommunikeer, is dit deur op mekaar te skreeu. Tussen die fluit van die ratkas en oordrakas, die rammel van die groot wiele op die grond, die ratel van die bakwerk en die gedruis van die wind, is dit amper onmoontlik.
Johan ry te vinnig vir die terrein, meen sy. Hulle bly van die grootpad af, ry op smal grondpaaie, langs die pad hier en daar deur die veld en partymaal op smal plaaspaadjies. Die enjinkap is half los, sien sy. Dis nie vas met ‘n knip aan die voorkant nie en die noodwiel, wat daarop gemonteer is, hou dit in plek. As hulle deur ‘n sloot jaag, of bo-oor ‘n bultjie, lig dit op en slaan dan weer plat.
Na ‘n uur se ry hou Johan stil.
“Ek gaan gou brandstof ingooi, uit een van die kanne. As jy ‘n nood het, kan jy agter daardie struik gaan. Ek belowe en sal jou nie pla nie. Daar is ‘n paar beskuite in die kas bokant die passasierskant se agter modderskerm. Daar is ook water en ‘n bottel met koue tee, as jy wil hê, so nie net water. Jammer.”
Natuurlik roep die natuur al geruime tyd. Wie sal dan ook kan uithou as jy in so ‘n skommelkar moet ry? As sy terugkom, is Johan besig om die laaste bietjie petrol uit die jerriekan te gooi. Hy maak die leë kan met ‘n band stewig agterop vas.
“Ons wil tog nie hê die kan moet rondval en ‘n geraas maak nie, wil ons?”
Linda gee ‘n wrang glimlag. ‘n Mens sal dit nie eens kan hoor nie, teen die res van die geraas. Skielik besef sy dis die eerste maal in weke dat sy dit doen. Johan grinnik terug, nie oor die flou grappie nie, maar vir die feit dat haar tande mooi egalig en wit is, behalwe vir die twee boonstes, wat ‘n bietjie prominent staan. Voordat sy terugklim, sien Linda ‘n stowwerige, ronde, bruin seilsak met ‘n naam, Lt JH Fourie en ‘n lang nommer wat met ‘n “76” begin.
“Waar is jou geweer, Johan?”
“Ek het nie meer een nie. As ek een nodig kry, sal ek dit van iemand afhaal.”
Sy merk weer op dat sy klere bloederig is, maar hy het die harde, droë bloed van sy hande, arms en gesig afgewas. Johan draai weer die sleutel as sy terug op haar plek is. Die drie meters spring weer na hulle plekke toe, en ‘n geel en rooi liggie gaan aan. Dan druk hy ‘n knop met ‘n stuk sagte rubber oor en die aansitter draai die enjin vir ‘n oomblik, voordat die gewillige viersilindertjie met ‘n gebrul vat.
Teen laatmiddag hou hulle stil in ‘n holtetjie tussen twee bultjies. Die Land-Rover pas net-net daarin, met ‘n spasietjie aan die voor en agterkant oop. Na ‘n baie ligte aandete van ‘n gedeelde blikkie cowboy-boontjies en rooiworsies, gevolg met louwarm water, maak hy vir haar bed met ‘n kombers en slaapsak, agter en half onder die kar in. Sy merk nie dat hy sonder enige kooigoed aan die ander kant, op die bultjie gaan lê nie. Hy het darem ‘n ou bosbaadjie aan teen die hoëveldse koue.