Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hy wat op homself vertrou is verlore; hy wat op God vertrou is tot alles in staat. Maar waarom is ons vertroue so swak dat ons elke liewe dag van voor af moet leer om God te vertrou? Het Hy dan nie gister sy betroubaarheid bewys nie? En eergister? En die dag tevore? Vertrou op God met jou hele lewe en spring aan die werk!
BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (6)
083 444 7672)
Juda, wat nou voor ry, hou op elke bultjie stil en soek eers die pad voor hulle deur vir enige beweging. Natuurlik gebeur dit dat daar groepe mense voor hulle in die pad is, en dan moet hulle afdraai op sekondêre en selfs plaaspaaie, wye draaie moet ry en dan terugkeer na die hoofroete.
Hierdie ompaaie maak dat hulle dikwels meer op ander paaie moet ry as op die roete. Baie keer is daar nie ‘n afdraaipad nie en moet hulle omdraai, kilometers terugry voordat hulle so iets kry, en heel dikwels selfs deur die veld moet ry, as daar nie paaie is nie. Gelukkig het al die voertuie vierwieldryf. Daarsonder sou hulle moes uitklim en loop, soos die grootste persentasie mense in Suid-Afrika.
Dit het drie keer gebeur dat hulle nie betyds kon stilhou nie en het in ‘n bende vasgery. Dan was die enigste uitweg om ‘n pad oop te skiet. Die meeste van hierdie bendes was met stokke en messe bewapen, en die geveg kon gou in ‘n vlug ontaard, maar vanmiddag was dit anders.
Die groep van dertig of so, is nog half in uniform geklee. Dit wil sê, baie van hulle het nog ‘n hemp, broek of baadjie aangehad wat bestaan uit weermagkamoeflering, blou polisie-uniforms en selfs een of twee taakmagdrag. Hulle is gewapen met outomatiese gewere, R4’s R5’s en pistole. Die afgelope tyd se min eet het die oortollige vet laat minder word en die manne is gedissiplineerd. Dit blyk uit hulle vinnige optrede dat hierdie die hoeveelste keer is wat hulle reisigers aanval.
Voordat Juda besef wat gebeur, tref vier vyf punt vyf-ses rondtes die windskerm van die Jeep. Dit maak dat die glas versplinter, bars en aan vlarde val. Die een rondte sny ‘n brandpyn aan die bokant van sy oorskulp. Dan volg nog ‘n sarsie en Kobus du Toit, wat langs hom sit, val agteroor op die sitplek, dood voordat hy tot verhaal kan kom.
*
Juda se Jeep swaai regs uit, deur ‘n vlak sloot aan die kant van die pad, deur ‘n doringdraadheining en daarna oor die veld. Die Jeep J2000 volg hom, en ook die kinders se karretjie. Die twee Land Rovers en Nissan swaai na die ander kant uit.
Aan die linkerkant is ‘n baie skuins wal en die drie voertuie sukkel daaruit. Nie een van hulle het die vryloopnawe losgedraai nie en die oorskakeling van twee- na vierwieldryf maak dat hulle groot wiele teen die los oppervlak grawe.
Die Land Cruiser staan vir ‘n oomblik stil, terwyl die voorwiele teen die stuur heen en weer indraai soos hulle vastrapplek soek. Dit gly ‘n meter agteruit, kry ‘n groterige klip onder die wiel en beur voorentoe. Die stof en klippe spat rond en dan is al drie voertuie bo.
Waar Juda en die ander ‘n ent weg gery het, draai die linkerkantse groep hulle voertuie net dwars en dan spring hulle een na die ander uit en soek skuiling teen die walletjie. Linda bly in die Land Rover sit, vanwaar sy die aanvallers duidelik kan sien. Terwyl die ander mense nog skietplek soek, trek haar Sako los en die vinnige, klein rondte tref een van die manne op sy heuppotjie. Dit versplinter die gewrig en met stukke been, vel en vleis tref dit ook die een agter hom in die bo-been.
‘n Ry stoffies slaan voor die voertuie teen die grond vas, en dan beweeg dit op en ‘n reeks gaatjies verskyn in die Cruiser se bakwerk, tref die kantruite en staak vir ‘n paar sekondes voordat die volgende sarsie vanaf die aanvallers se kant kom.
“Dekking! Dekking! Dit klink vir my soos een of ander tipe masjiengeweer!”
Oombliklik sien Boesman die stoffies en effense rook waar die man met die wapen lê.
“Johan, Juda daar op eenuur, so honderd en vyftig meter weg. Dis iets op ‘n tweepoot.”
Hy druk sy kop plat teen die grond as die volgende sarsie skote opklink. Daar is weer stilte vir ‘n halfminuut. Die geweer begin weer met sy dodelike geknetter.
“As jy my vra, dink ek dis ‘n swaarloop R1! Na twintig skote moet hy herlaai.”
Johan skuif grondlangs tot hy skuiling kry agter ‘n natuurlike hopie aarde. Skuins voor hom is ‘n kleinerige struik en hy gebruik dit om te kyk waar die skote vandaan kom.
Die man met die wapen is opgelei en sodra hy daarmee dekvuur gee, storm die ander manne nader. Dis duidelik ‘n taktiek wat iemand hulle lankal geleer het, en hulle het heel moontlik dit al ‘n paar keer vantevore gebruik.
Ten spyte van die opslag van die koeëls wat ‘n paar meter van hom af klap, weerstaan Johan die impuls om sy kop plat te hou. Hy kan nou sien waar die man met die geweer lê. Hy wag totdat die magasyn leeg is, en as die ou ‘n paar grade skuins draai om ‘n vol magasyn uit sy gevegsbaadjie te haal, suig die voorvisier op hom vas. Die agterste gaatjiesvisier is iets waaraan ‘n mens gewoond moet raak, of jy nou ‘n teleskoop of ‘n “V” visier ken. Die ou R1’s en R4’s waarmee Johan oorlog gemaak het, het almal gaatjiesvisiere en dit is nie vir hom vreemd nie.
Ten spyte van die feit dat hy al amper sestig jaar oud is, is sy oë nog goed. Die Timney sneller van die nege-drie breek suiwer en presies. Die twee honderd grein koeël, teen amper drie duisend voet per sekonde tref die masjiengeweeroperateur net onder die rant van sy hoofbedekking en ruk sy kop agteroor.
Die manne wat onder dekking al nader begin beweeg het, lê so plat as moontlik as hulle besef dat die dekvuur opgehou het. Een ouerige stafsersant spring op en hardloop terug na die masjiengeweer toe. Juda volg hom ‘n paar sekondes en dan trek hy die sneller. Die twee honderd en veertig grein sagte lood-projektiel tref hom in die holte van sy rug en hy vou grond toe.
In die half-stilte wat daarop volg is die klap van die punt twee-twee geweertjie duidelik. Jessica het haar merk gevind en nog een lê stil. Vir ‘n kwartier is daar sporadiese uitruil van geweervuur. Dan is daar ‘n uitroep:
“Ons surrender! Moenie skiet nie, ons hensop!”
“Staan op en los julle wapens. Kom uit, met hande in die lug!”
Nege manne staan op, sonder wapens, met hulle hande hoog. ‘n Man kom van die ver linkerkant van die grond af op en in die knielhouding trek hy los op Juda. Die volwassenes is onkant gevang en niemand is gereed hiervoor nie. Dan klap drie vinnige skote. Plat en amper gedemp. Twee skote tref die man in die bors, in sy lyfpantser, maar die derde een tref hom in die kuiltjie van sy nek, reg onder sy ken. Hy los die wapen, gryp sy keel vas, terwyl die bloed uit die wond stroom.
“Ek het hom Oom!”