BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (8)

 083 444 7672)

Korff Röhm se hart klop nog onstuimig as hy die Yaris agter die rye skeepsvraghouers trek. Hy is seker niemand het hom agtervolg nie, maar hy mors nie tyd nie.

Die vraghouers word uitverhuur aan mense wat bergingsplek soek vir goed waarvoor hulle nie plek tuis het nie. Hy sluit die een houer, die derde laaste een aan die linkerkant oop. Die Nissan Patrol – ook ‘n “Safari” in Suid-Afrika genoem – staan wyd genoeg dat hy nie by enige van die kantdeure kan inkom nie. Hy sluit die agterdeur oop, klim oor die agter binnekant en dan tussen die twee voorste sitplekke, tot op die bestuurder s’n.

Die voertuig het vir ‘n maand gestaan en hy is bekommerd dat die batterye dalk afgeloop het. Met die draai van die sleutel gaan al die liggies op die paneelbord aan en dan, na tien sekondes, draai hy die aansitter. Die enjin gee ‘n draai en ‘n half en dan brul die groot diesel. Hy trek uit die houer, en dan, terwyl die voertuig luier, ry hy die Yaris tot binne-in, sluit die deur.

Korff het die voertuig jare gelede gekoop. Dis ‘n 1985 model, en het oorspronklik ‘n twee komma agt liter petrol enjin gebruik. Hy en Mara het dit gebruik as ‘n toervoertuig en het groot dele in die land daarmee platgery.

Op ‘n stadium het hulle al die moeilike passe in die land gery, Van Stadens, Sani, Bobbejaans, Swartberg, almal wat bekend en onbekend was. Hulle het die agtersitplek uitgehaal en ‘n dubbelbedmatras ingesit. Later kaste onder die bed ingebou.

Toe Mara begin ernstig siek word het Korff die skrif aan die muur gelees. Hy het, wanneer hy kans gekry het, aan die voertuig gewerk. Die enjin was na sy mening ‘n bietjie effentjies en hy het besluit om dit op te gradeer. Uiteindelik het hy ‘n GM 6,5 liter turbo diesel ingebou, met ‘n ou BMW 7-reeks vyfspoed ratkas. Dis nie ‘n baie vinnige enjin nie, maar met enorme wringkrag en goeie dieselverbruik. Twee langafstand dieseltenks het die kapasiteit opgestoot na twee honderd en vyftig liter.

Die bande is vyf en dertig duim Cooper Discoverers, die beste wat hy kon kry. Maar, na sy mening die bruikbaarste, is dat onder die kas waarop die matras lê, rus sy wapens en ammunisie. Al twee en veertig wapens uit sy versameling en meer as tien duisend rondtes van verskillende kalibers. Saam met die watertenks en kos, weeg die voertuig amper drie ton. Hy het genoeg geld om ‘n nuwe voertuig te koop, maar uit ondervinding weet hy hierdie Patrols het baie sterk onderstelle, en die sterkste aste in ligte voertuig-aanwendings wat ‘n mens kry.

Skielik, na die opwinding, die planne wat tot uitvoering gekom het, en nou die afwenteling na die adrenalienbruis, voel Korff moeg, uiters en heeltemal gedaan. Hy buig af en knip die laaitjie onder die sitplek oop, haal ‘n .44 Magnum Desert-Eagle en vier magasyne uit. Dit sit hy in ‘n spesiaalgeboude houer op die middelste konsole neer.

Sonder huiwering volg hy die GPS sisteem, wat vooraf gestel is om die swakker paaie te neem na die Drakensberge toe.

*

Dis hoog waar Juda en Boesman-hulle nou kamp. Hulle het bloot per toeval die plek gekry, nadat hulle ‘n twee-spoor paadjie gevolg het op die plaas. Hier en daar was dit selfs vir hulle vierwieldrywe moeilik begaanbaar en moes hulle die wen-as voor aan die Jeep gebruik.

Niemand het werklik geweet waarheen die pad lei nie, en dit was ‘n verrassing om hierdie plek te kry. Aan die Westekant is daar ‘n loodregte krans van meer as tagtig meter, ‘n smal watervalletjie loop teen die rotse af en maak ‘n klein, maar diep en helder poel teen die basis van die krans. Aan weerskante is daar effense natuurlike walletjies en aan die voorkant, soos hulle gekom het, ‘n baie ou bloekomplantasie. Die voordeel is dat hulle net van een kant af aangeval kan word, deur die plantasie, maar dis ook ‘n nadeel. Dis hulle enigste ontsnappingsroete, sou dit wel gebeur.

Soos te verwagte, kom die nagmerries en die onderdrukte trauma saam met die rustigheid. Een van die redes waarom oud-soldate dikwels die geselskap van ander veterane opsoek, is om skuiling te soek in die gedeelde ervaring van die ander.

‘n Mens sal ook ver soek om ‘n klompie van hulle bymekaar te kry en daar is nie drank betrokke nie. Die rede daarvoor is dikwels nie soseer om dronk te word nie, maar om die skanse af te breek, sodat hulle die gevoel van kameraadskap kan herleef. Dan kan jy maar vrye teuels aan die spoke van die verlede gee, want jy weet jy gaan nie geoordeel word nie, en jy kan jou laste deel met die ander.

Dit gebeur selde dat iemand sal vertel van sy worsteling met die werklikheid. Daar sal eerder gepraat word oor manne uit die verlede: “Onthou jy vir korporaal sus of so?” “onthou jy toe…” Daar maak range nie soveel verskil nie, en alhoewel hulle mekaar uit beleefdheid so sal groet, kom die kameraadskap vanself uit na ‘n ruk. Dis asof die werklikhede van die siwwie-lewe vir ‘n paar uur opsy geskuif word.

Juda, Boesman en Johan se groepie skuif onwillekeurig nader aan mekaar. Natuurlik om nader aan die vuur te sit, maar ook om nader aan mekaar te kom.

Juda merk op dat nie Boesman of Johan ooit direk vir die vuur staar nie, maar eerder elke paar minute verby die ander kyk na die donker om hulle. Sonder om die sagte gesoem van die gesels stil te maak, sal hulle konsentreer op die geluide buite in die donker. Hulle sal hulle ore spits as ‘n jakkals skielik ophou tjank, as ‘n voël opvlieg of net sy vlerke ritsel. As daar ‘n steuring is by die paddas wat stroom-af kwaak, of as die krieke stilbly. Elke kwartier of so, sal een van hulle ongevraag sy wapen vat en in ‘n rigting verdwyn, na ‘n paar minute terugkom, kom sit en aangaan, asof niks gebeur het nie.

Linda en Jessica is deesdae dikwels saam en nou sit hulle styf teen mekaar. Linda hou die jonger meisie se hande styf in hare vas, terwyl haar jong lyfie bewe van die spanning wat uiteindelik losgelaat word. Linda weet waardeur Jessica gaan. Sy weet van die gesigte wat in die agtergrond dryf – gesigte van mense wat sy die ewigheid ingestuur het. Sy weet van die ongeopperde vrae, soos: wie of wat was hy/sy? Het hy wesies agtergelaat, ‘n ma, ‘n meisie, ‘n vrou? Wat was die man of vrou se drome of ideale? Wat het gebeur dat hy juis op daardie tydstip daar was? Maar net soos wat die begeerte opkom dat die man weer moet lewe, dat hy kon teruggaan na sy kinders of ouerhuis toe, net so vas staan die voorneme dat sy weer die sneller sal trek as haar lewe of die lewe van haar mense – soos sy nou aan hierdie groep dink, bedreig word.

Natuurlik spook Fanie met dieselfde gedagtes. En sonder dat hy dit weet, die grootmanne ook. Eintlik is die situasie vir hulle erger, want nie net het hulle die nuwe nagmerries wat hulle ry nie, maar ook die oues, wat nou weer na vore kom.

Tog vind hulle in mekaar ook vertroosting, al sou hulle nie almal die vrymoedigheid hê om daaroor te praat nie. ‘n Cowboy huil nie voor sy perd of sy vrou nie en ‘n soldaat nie voor sy Ratel of meisie nie. Maar almal weet.

*

Korff begin stadig ontspan. Hy is nou reeds dertien ure aan die ry, en alhoewel hy nog nie regtig moeg is nie, verwerk sy gedagtes die afgelope tyd se gebeure. Die maande, nee, jare se voorbereiding, waar hy toe al begin agterkom het dat daar ‘n geheime agenda is waarmee die regering besig is; die kos, wapens, voertuig, die ure se sit op Google Earth.

Hy het gesien hoe sake op ‘n spits gedryf word met die voortdurende beurtkrag, die skuld wat al hoër word, die verval van Staatsbeheerde Ondernemenings, die groter word van armoede onder blankes en ook ander rassegroepe. Hy het dit gesien op die manier waarop daar al meer drakoniese wette gepromulgeer word, die hand-om-die-blaas houding van die regering en lande soos Kuba, Iran, Rusland en China. Maar hy het dit ook gesien in die duur nuwe karre waarmee jong swartmense mee gery het. Hy het dit gesien in die groot dubbel en drieverdieping huise waarmee die parvenu hulleself bederf het. Hy het geweet dis nie volhoubaar nie en een of ander tyd sou die uitgeholde kaartehuis inmekaar tuimel.

En toe kom die virus. Dit was nog nie die einde nie, maar dit was nie ver nie. En tog, ten spyte van sy fisiese en geestelike voorbereiding, het dit te vinnig gebeur.

Korff is ses voet vier duim lank, en hy weeg negentig kilogram. Hy weeg nog altyd dieselfde, vandat hy vyf en twintig was, tot nou. Hy het elke week gaan oefen in die gimnasium, maar nadat Mara siek geword het, het hy ‘n kamer in die huis ingerig daarvoor. Hy was nog nooit ryk nie, maar tog redelik welgesteld. Genoeg dat hy kon voorberei. Hy sou natuurlik graag dat Mara saamkom, maar het al lankal vrede gemaak dat dit nie sou gebeur nie. Miskien ook maar goed so.

Nadat Krygswet afgekondig is, het hy die Magte enige tyd verwag. Daarom sy voorbereiding – en tog was dit té vinnig. Soos elke mens wat die skrif aan die muur sien, het hy ook vriende en kennisse gehad wat hom gerusgestel het en vertel het hy jaag spoke op.

“Die baie goeie en die baie slegte gebeur nooit in Suid-Afrika nie,” het hulle vir Jan Smuts aangehaal.

Die media het alles versag, selfs toe omstandighede hulle verkeerd bewys het. Dis asof hulle almal verwag het die president gaan ‘n haas uit die hoed pluk en alles regmaak. Hoe het hulle nie groot verwagtinge van hom gehad aan die begin nie! Hy sou die nege Zuma-jare omswaai. Maar ruggraatlose praat-na-die-mond en die vereniging van die regerende party was belangriker en uiteindelik het niemand hom meer geglo of vertrou nie. En hy was te lig in die broek vir die uitdaging.

Maar steeds was Korff, ten spyte van nugtere denke en al die voorbereiding nog half onkant gevang. Gister was hy nog ‘n gerespekteerde prokureur en gesiene lid van die samelewing en vandag? Vandag is hy ‘n voortvlugtige. In die oë van die owerheid ‘n moordenaar en selfs ‘n verraaier.

“Vandag” was ‘n hele paar maande gelede. Nou is Korff op soek vir daardie plekkie in die berge wat hy op Google gesien het.