083 444 7672)
Willemien Brummer skryf op 29 April in Netwerk 24 oor Covit-20 as ons volgende "virus".
Covit-20 is Suid-Afrika se grootste bedreiging. Diegene wat my ken weet ek is nie 'n pessimis nie. Dis eenvoudig realisme.
Covit-20: is werkloosheid, honger, geweld.
Covit-20: is die onkeerbare golf van woede en anargie waarvoor daar nasionaal hopeloos te min polisie en soldate is.
Covit-20: is die onvermoë van hierdie magte om skarebeheer toe te pas sonder teengeweld (onvoorstelbare hoeveelheid mense verloor hulle lewens).
Covit-20: is as die regering voorbeelde van ander lande, byvoorbeeld VSA volg.
VSA pak Covid-20 aan met "grootste en sterkste ekonomie en laagste werkloosheid ooit" volgens Trump. SA moet Covid-20 aanpak met hoogste werkloosheid, sosio-ekonomiese nood, finansiële rommelstatus, onbehoorlike verryking van minderheid in mag (in der waarheid diefstal van armes) – die gevolge van dieselfde ANC-regering se wanbestuur, korrupsie, diefstal oor 30 jaar op alle vlakke van regering.
Covit-20: feitlik alle SA banke het afgegradeer na rommelstatus, hoofsaaklik oor (gedwonge) ondersteuning van regering se enorme skuldlas (meer nog nou die nasionale toelae vir armes). BESEF ONS DIE GEVOLGE HIERVAN ALLEEN VIR DIE PAD VIR EKONOMIESE HERSTEL?
Covit-20: in die korttermyn binnekort oral, as drankverkope weer toegelaat gaan word, ‘n onbeheerbare stormloop.
Ons ALMAL moet ons staal hiervoor. Gereedmaak. Beplan. Dis feitlik onafwendbaar Covit-20.
Tensy daar met buitengewone wysheid, goeie kommunikasie en bestuur deur die regering opgetree word... Maar in 'n groot mate is dit reeds te laat. 'n Dekade al te laat.
Hoe sal die regering hierdie boodkap hoor en Covit-20 ernstig neem? Want, Fase 4 is heeltemal te min. Die ekonomie moet nou oop, anders is Covit-20 ‘n ver groter bedreiging as Covit-19.
*
Hy is heeltemal onkant gevang. Inderdaad is die leuse van die infanterie (sommige sê dis net Lohatla Gevegskool s’n) “as jy vrede wil hê, maak reg vir oorlog”, maar hierdie keer was hy nie reg nie. Miskien het die afgelope tyd se adrenalienbruis en die herstel daarna iets hiermee te doen, hoe sou hy weet. Maar minder as ‘n uur later, net sodra hy oor ‘n hoogtetjie ry, is hy binne in ‘n hinderlaag.
Dit bestaan nie uit grootliks-ongewapende mense soos voorheen nie, maar uit ‘n roofbende wat hulle beslag gekry het uit gewapende magte. Behalwe vir handwapens, is daar manne met AK’s, R4’s, R5’e, jaggewere en haelgewere. Die feit dat hy nog met die ruit oop gery het, het waarskynlik vir die oomblik sy lewe gered. Net as hy die hinderlaag binne ry, kry hy met die pistool ‘n paar skote af. Dit het van hulle waarskynlik van stryk af gebring, maar nogtans klap die skote van hulle kant af.
Die 7,62X39mm AK 47 rondte tref die B-pilaar van die Nissan, verloor momentum, maar bars steeds deur die lae metaal, skram effens ondertoe af en tref vir Korff reg in die middel van sy regterkantse ribbes. Dit breek deur die vel, skram van ‘n grootrib af en steek in die tussen-ribspier vas. Dis asof hy ‘n hou met ‘n krieketkolf teen die kant van sy bors kry.
Die skok is erg, maar dit veroorsaak ook dat, alhoewel hy besef dat hy raakgeskiet is, daar nie onmiddellike pyn is nie. Die liggaam het ‘n natuurlike manier om terug te veg indien so ‘n trauma plaasvind en die aanvanklike reaksie is ‘n gebrek aan pyn en ‘n oormaat adrenalien, wat jou in staat stel om te veg of vlug. Later sal dit seer word. Baie, baie seer, maar nie nou dadelik nie.
Alhoewel Korff van die skok aan die stuurwiel pluk, kry hy die swaar voertuig weer onder beheer. Hy trap die brandstofpedaal weg en die groot diesel brul om gehoor te gee. Korff skakel oor na vierde rat en dit help om die snelheid te vermeerder.
Dan is hy buite bereik van die geweervuur. Hy weet nie watse skade aan die kar gemaak is nie, maar tot sy verligting gaan daar geen waarskuwingsliggies aan nie. Hy besef hy is dalk ernstig gewond en voel die warm bloed teen sy sy afloop. Geleidelik kom die lewe terug en meteens skiet die pyn so erg deur sy lyf, dat hy amper flou word daarvan.
Weereens moet hy konsentreer om die voertuig op die pad te hou en sy oë oop. Daar is ‘n tinteling in sy regterhand, met later ‘n lamheid en hy laat die stuurlwiel los. Met sy linkerhand wat stuur, wens hy nou dat hy eerder die outomatiese ratkas-opsie gevolg het.
Stadigaan begin die pyn hom oorweldig. Hy begin opnuut bewe as sy liggaam weereens adrenalien vrylaat om die pyn en skok teë te werk. Hy haal so diep asem as wat hy kan, maar elke asemteug is ondraaglik seer. Later sou hy nie kon onthou hoe lank hy gery het nie. Al wat hy wel kan onthou is dat hy heeltyd gebid het.
Na, wat vir hom ‘n ewigheid voel, sien hy ‘n effense skynsel aan sy linkerkant, asof daar lewe kan wees. Hy los die stuurwiel ook met sy linkerhand, skakel derde rat en gryp die wiel weer, voordat hy beheer verloor.
Té vinnig is hy van die pad af, en mis amper die oop hek. Hy tref die hekpaal skrams met die buffer en die voorste modderskerm. Die voertuig bokspring effens en Korff kan net-net dit onder beheer hou. Dis so al asof die ding meer en meer sy eie kop volg en links trek. Dan is daar nie meer krag oor nie en hy haal sy voet van die versneller af, trap effens rem en gee homself oor aan die welkome donker van bewusteloosheid.
*
“Waar is ek? Wat…?”
Dis laatskemer. Korff het lank gevat om by te kom. Dis so al asof hy opswem na die oppervlak van ‘n donker dam. Soms weet hy nie watter kant bo is nie en dan laat gaan hy maar, dat hy kan dryf. Die water is ook vol onbekende en half-bekende voorwerpe. Hy herken vir Mara, maar as hy aan haar wil raak, verdwyn sy in die newels hy probeer agter haar aanswem, maar besef gelyktydig hy kan nie, hy moet boontoe, hy moet asem kry.
En daarna kom die pyn. Dit kom nie in vlae soos hy al gehoor het nie, maar in ‘n lompsom. Die regterkant van sy lyf is so seer, dat hy sy asem ophou. Hy probeer sy oë oopmaak, maar dis asof iets hulle vashou. Hy wil met sy regterhand daaraan sleep, maar as hy sy arm beweeg, skiet die pyn op, asof dit in die bokant van sy skedel vasslaan. Hy hyg daarvan en kreun hardop.
“Stadig nou, boet. Ons het jou amper verloor.”
Die stem is by hom en duidelik. Hy probeer praat, maar ook sy lippe sit aanmekaar vas. Hy voel hoe ‘n bietjie water oor sy lippe drup en dan loop ‘n straaltjie teen wang af en in sy nek. Hy voel hoe iemand ‘n lappie daarteen druk en die water afvee. Met sy tong lek hy vir ‘n bietjie van die vog.
“Nog…” kom sy stem uiteindelik skor en effentjies bewerig.
Weer loop water oor sy lippe en hy maak sy mond oop. Dit loop te vinnig in sy mond af, tot in sy keel en hy stik daaraan. Die onwillekeurige gehoes is ontsaglik pynlik. Dit voel asof sy ribbes gebreek is en hy kry nie asem nie.
“Kan jy nou weer ‘n bietjie drink? Wees net versigtig, daar’s hy nou…”
Hierdie keer kan hy die water sluk en die brand en droogheid in sy keel is minder.
Met moeite sleep hy sy oë oop. ‘n Ouerige man sit langs hom. Waar hy is, weet hy nie, maar dis darem nie koud nie.
“Die Ruiter in Swart het, elke keer as hy gewond is, wakker geword en ‘n mooi meisie het hom versorg. Met my ‘luck’ kry ek toe vir jou.”
“Wel, as ‘n man so lank kan slaap en wakker word met ‘n grappie, dink ek hy sal lewe.”
*
Johan sal partymaal vir dae weg wees. Niemand sal hom hoor vertrek nie, maar net wakker word en sien hy is weg. Hy, sy geweer, waterbottel en mes. Aanvanklik het die kinders oor hom uitgevra, maar ook later nie meer nie. Linda sal in die rigting van die paadjie weg van die waterval kyk, kort-kort, totdat sy seker is hy kom nie vandag terug nie.
Partymaal sal hy in die laatmiddag terugkom, ander kere eers rondom dagbreek. En so ongesiens en ongehoord as wat hy vertrek, net so sal hy terugwees. Twee maal het hy selfs verby Boesman terug kamp toe gegaan, al was Boesman op die uitkyk vir hom. Dis effens ongemaklik vir die wagte, want as dit iemand anders was, kon hy net sowel hulle dood veroorsaak. Aan die begin het Boeman en Juda met hom hieroor probeer praat, maar dan het hy hulle net aangehoor, omgedraai en aangegaan.
Die klompie in die kamp hou hulle stil en so rustig as moontlik. Die kosvuur is laag en hulle gebruik net hout wat baie droog is. Gelukkig maak die waterval ‘n natuurlike skoorsteen, waar die rook hoog moet trek, voordat dit by die bokant van die krans uitkom. Die manne het aanvanklik oorweeg om die kamp bo-op die krans te maak, sodat hulle hoë grond kan hê, indien hulle aangeval sou word. Nadat hulle egter gaan kyk het, is besluit dat dit onprakties sal wees.
Elkeen, man vrou en kind, het take waarmee hulle hulleself besig hou. Daar moet gereeld opgeruim word, hout moet gesoek en aangedra word en soms gaan iemand uit om wildsvleis te gaan soek.
Vanoggend is Johan terug by die kamp, tot die vreugde van Fanie en Jessica. Linda se gesig straal van verligting, al sê sy niks. Dis eers as die meisiekind hom ‘n drukkie gee, dat Boesman sien hy deins effens terug en as hy sy hand uitsteek om die beker koffie te vat, doen hy dit met sy linkerhand.
Na ontbyt loop Juda en Boesman agter hom aan en as hy regmaak om te rus sien hulle dat hy seer het. Daar is ‘n trek om sy mond, wat die voue langs sy wange dieper maak.
“Kom nou, Johan. Ek kan sien jy het seer. Laat ek daarna kyk.”
“Dis sommer niks. Ek sal self regkom.”
“Moet ons jou nou vasdruk en met geweld help?”
“Dit sal nie so maklik wees nie. Maar nou ja, ek het ‘n effense snytjie teen die skouer.”
Die “effense snytjie” is toe ‘n baie diep een, waarvoor die meeste mense hospitaal toe sou gaan. Dis amper agt sentimeter lank, en diep. Die wond is ook nie vars nie, maar ten minste twee dae oud.
“Gaan jy ons vertel wat gebeur het, of moet ons maar net kyk wat ons kan doen. Dit sal nogal help as ons weet.”
“Dis die dag voor eergister. Ek was oorgerus en in plaas van net vier of vyf, was daar sewe manne. Die een het ‘n vuurwapen gehad, maar ek het hom eerste uitgehaal. Die ander het kieries en pangas gehad, maar hierdie een ou ‘n assegaai. Een soos wat ou Tsjaka vir sy manne laat maak het. Hy het hom ook nie gegooi nie, maar na my gesteek met die ding.”
“En jy het nie geskiet nie, maar net jou mes gebruik?”
“Hulle was baie naby.”
Hy praat nie verder nie en Juda en Boesman kan maar net raai wat met hom en die ander gebeur het. Boesman het lank gelede ‘n ops-medic as vriend gehad en hy weet die een en andere van wonde.
“Jy besef dit gaan seermaak? Ek sal eers die wond moet ontsmet, dan die lippe rou maak, voordat ek dit kan toewerk. Jy weet ook dat ons nie lokale verdowing of so iets het nie?”
“Julle moet doen soos julle moet.”
Ten spyte van die bitter pynlike proses het Johan voor hom bly sit en kyk, sonder dat hy ‘n spier vertrek. Terwyl Juda kyk, het Boesman die wond se lippe met alkohol skoongemaak, met garing wat eers gekook is en ‘n krom seilnaald wat ook steriel gemaak is, die skoon wond toegewerk met ‘n soort kruissteek. Hulle help hom om plat op sy slaapsak te lê, met ‘n kombers oor hom. Eers as hulle ‘n ent weg is, hoor hulle hom binnensmonds vloek.
“Hemel, ek het nie eens geweet hy ken daardie woorde nie, en dan maak hy kombinasies wat ek nie eens ‘n sersant hoor sê het nie!”
“Juda, ek weet nie hoe Johan dit doen nie, maar die wet van gemiddeldes bepaal dat ons skuilplek nou al ontdek moes wees en dat ons reeds sou moes veg. Hou hy alle mense van ons af weg, of wat?”
“Daardie ‘of wat’ laat my ook bespiegel. Hoe ookal, hy is nou vir ‘n paar dae buite aksie en ek en jy sal nou moet gaan seker maak ons is veilig.”
“As jy nie omgee nie, Boesman, sal ek eerste gaan. Ek begin al kajuitkoors kry van net hier rondsit.”