083 444 7672)
Percy Jackson is gewoond aan swaarkry. Niemand wat in Mitchel’s Plain grootword, het ‘n maklike lewe nie. Ja, miskien die manne wat vroeg al by een van die bendes aangesluit het, of iemand wat toevallig ‘n ietsie gekry het, maar dan sal so ‘n ou mos uit die plek padgee, of hoe? Nee, Percy ken swaarkry.
Die ou plekkie wat hulle vyf kinders met Ouma en die Ouvrou en Outoppie deel, is maar erg klein en slaapplek en kos maar baie effentjies. Percy is egter ‘n kerkkind en hy glo dinge sal die een of ander tyd beter word.
So tussen-in die werkies en takies wat die grootmense uitdeel, en die gebrek aan ‘n behoorlike plek waar hy kan leer, doen hy gereeld sy huiswerk, hou sy boeke skoon, leer sy somme en grammatika, sodat hy eendag, as die tyd kom, ‘n beter lewe vir homself kan maak.
Ja, dis maar erg swaar hier op die Vlakte, hoor! Behalwe dat hulle ‘n klein huisie deel, deel hulle ook ‘n SASSA-geldjie van ouma. Pa en Ma is nog nie daar nie en Pa probeer maar met odd-joppies ‘n ietsie bybring elke maand. Maar nou, met die Lockdown, sit hy ook maar by die huis rond. Gelukkig is die SASSA ‘n bietjie meer met die verhoogde grants nouse dae. Hulle het gehoor van die kospakkies, maar nog niks gekry nie.
Percy en Magret, sy ouma, is oppad terug van die uitbetaling van hierdie maand se toelaag, toe die twee soldate voor hulle inloop.
“En waar dink julle tweetjies gaan julle? Seker gaan sigrets koop, skelm, nê? Julle weet mos julle moet binne bly met die lockdown.”
“Nee, meneer. Ek het my ouma SASSA toe gevat. Dis mos daardie tyd. Ons is nou oppad huis toe.”
“En waar is julle huis nogal?”
“Daar, net twee strate weg, aan die linkerkant. Die geel huis met die blou palisade-fence.”
Percy wys met ‘n uitgestrekte arm huis se kant toe.
“Nee, hel. Julle lieg vir my. Staan bietjie diékant toe dat ek julle kan deurvoel!”
Percy en Magret staan gedweë nader. Hulle verdra maar die vernedering van die twee soldate wat hulle nie net deursoek nie, maar sommer betas ook. ‘n Uitdrukking van blydskap kom oor die een wat Magret deursoek se gesig.
“En wat is hierdie Antie? Ek sê mos julle het gaan sigrets koop!”
Hy hou ‘n nip voor haar oë.
“Ai, meneer, dis mos nie ‘n pakkie of iets nie? Dis maar ‘n sigret wat ek al dae gelede begin rook het en elke keer nip. Dis my laaste een van die pakkie, ek sweer!”
“Jy lieg mos, Outannie. Julle almal is die ene liegbekke!”
Sy wil nog antwoord, dan praat hy weer:
“Moenie altyd teëpraat nie, ek is nie jouse ma nie!”
Sonder om verder tyd te mors, slaan die soldaat haar met die geweerkolf in die maag. Sy krul van die wind wat uitgeslaan is en as sy vooroor buig, skop hy haar in die gesig. Percy wil help, maar hy is klein gebou en die ander een hou hom maklik vas. Uiteindelik kry hy ‘n hou met die geweerloop deur die gesig. Sy neus breek en twee strale dik, swart bloed loop daaruit.
“Toe, laat ek kyk wat steek jy nog weg!”
Terwyl Magret op die grond krul, druk hy sy hand voor by haar rok in en triomfantlik haal hy die pakkie note uit, wat sy daar wegsteek.
“Mos gesê!”
Die twee los die kind en sy ouma net daar en loop weg. Die geld word sommer so in die loop gedeel en die stompie aan die brand gemaak agter ‘n bakhand.
Na ‘n paar minute kry Percy sy ouma op. Sy sukkel om te loop, en kreun van die pyn terwyl sy haar maag vashou.
Na ses ure daag ‘n ambulans by die geel huis met die blou heining op. Dis te laat vir Magret. Haar milt het van die hou gebars en sy het inwendig gebloei. Haar dood word opgeteken as een van die Wes-Kaap se Covid-19 sterftes.
*
Korff het stadig, maar seker, sy krag teruggekry. Hy het eers begin loop, elke dag ‘n rapsie verder, natuurlik opstote gedoen, optrekke teen die kosyn van die ou huis se hoë deure, hurke en toonstrekke. Veral die optrekke is nog seer, maar hy byt op sy tande en doen dit in elk geval.
In die waenhuis het hy die leë huls van ‘n ou motorkar se agtersas gekry en dit as ‘n gewig gebruik vir bo-arm krulle en vir sy gewrigte. Tant Ralie het gesorg dat hy ‘n bietjie groter porsies as die res van die mense kry, veral as daar proteïne ter sprake is. Hy besef later dat hy die oefeninge geniet, nie net omdat hy sy krag herwin nie, maar ook omdat dit sy frustrasies en nagmerries onder beheer kry. Daar is natuurlik ook werk om te doen. Hy gaan die Nissan mooi deur, maak al sy wapens skoon en sorg dat die ammunisie behoorlik droog en verpak is. Soms laat hulle hom help met die Saracen. Hy besef later dat hy miskien nie so fiks is as wat hy was in sy weermagdae nie, maar hy is beslis sterker.
*
Dis koud, hier hoog in die berge. Die kinders sien vir die eerste keer in hulle lewe sneeu. Dis nie baie nie, maar dis vir hulle ‘n heerlike ervaring om, soos alle kinders ter wêreld dit doen, sneeumanne te bou en sneeubalgevegte te begin met almal wat dit naby genoeg waag.
Vir die eerste keer vandat hulle van Slechtfontein vertrek het, is die gelag uitbundig en onbeteuel. Jessica se wange is rooi van die koue en dit steek af teen haar wit vel, blonde hare en blou oë. Linda het vir die twee handskoene geprakseer uit dubbellaag sokkies en kouse. Die manne het met stompe en klippe tydelike mure teen die kante van die tente gebou om ‘n bietjie meer hitte binne te hou. Hulle leer om ‘n groot klip naby die vuur te hou en dan, toegedraai in ‘n laken of kussingsloop, te gebruik vir ‘n warmwaterbottel. Saans en soggens is die kosvure ‘n bietjie hoër as gewoonlik, maar terselfdertyd moet hulle ook waak teen die sigbaarheid daarvan.
Ten spyte van die koue, is Johan weer gereeld aan die patroleer rondom die kamp, maar hy beweeg nou in kleiner sirkels. Saans word daar stories vertel en selfs Johan ontdooi stadig. Hy vertel ook ou weermagstories, soos alle oudsoldate, maar die mense let op dat hy net die snaakse staaltjies vertel en niks verder nie. Hy slaap ook nie in ‘n tent nie, maar onder ‘n skuins afskorting wat hy van houtpale en ‘n stuk seil gemaak het, met digte struike aan sy agterkant om die wind te keer.
*
Met die dreigende oorlog tussen Rusland, China en Amerika – en natuurlik die res van die wêreld wat moet kant kies - is daar min mense wat moeite doen om die situasie binnelands te monitor. Indien iemand sou moeite doen, sou hulle merk dat die meeste mense nog iewers heen beweeg. Dit wissel van klein groepies, so rondom vyftig mense na tot meer as ‘n duisend. Van hulle loop in ‘n lang ry, met die sukkelaars aan die agterkant, ander meer in bondels.
Sommige is bloot misplaaste mense, op soek na kos en veilige blyplek, ander is op die jag uit. Sporadiese gevegte breek telkens uit, maar met ‘n polisie en weermag wat geensins meer operasioneel is nie, is dit elkeen vir homself.
Diegene wat te swak, te oud of te jonk is, betaal vir beskerming met alles wat hulle het, en uiteindelik met hulle liggame. Hulle leer om die “harde plekke”, waar mense hulle ingegrawe het en hulle plek met geweld beskerm, grootliks te vermy. Tog besef hulle ook dat dit die plekke is waar die mense vir hulle voorberei het, en dis daardie plekke waar jy kos en medisyne, drank en tabak en laaste, maar beslis nie die minste in hierdie tyd nie, wapens en ammunisie kan kry.
*
Percy het polisiestasie toe geloop om sy ouma se dood te gaan aanmeld. Hy staan vir meer as ‘n driekwartier voor die toonbank, voordat ‘n oorgewig kaptein sy teenwoordigheid erken.
“Ja, wat wil jy hê?”
“Ek kom meld die dood van my se ouma aan, meneer.”
“Meneer? Wie is jou meneer? Weet jy watse uniform hierdie is, knapie?”
“Ja, meneer, dis die poelieste.”
“Nou, hou op vir my sê ‘meneer’! Ek is ‘Kaptein’, verstaan jy my?”
Percy knik net met sy kop.
“Nou, laat ek die boek gaan haal. Staan jy net hier.”
Die kaptein verdwyn agter die toonbank. Na ‘n verdere halfuur sien Percy hy is besig om gebraaide hoender te eet en bier te drink. Uiteindelik vee hy die vet van sy mond af met die agterkant van sy hand en kom weer nader. ‘n Bekende onderkorporaal in ‘n weermag-kamoefleeruniform kom die aanklagkantoor ingeloop. Hy kyk na Percy en draai om om uit te loop.
“Dis hy, meneer, Kaptein, dis hy! Hy is die een wat my ouma doodgeslaan het!”
“Klein liegbek!”
Die soldaat gryp hom aan die arm en sleep hom toonbank toe.
“Kaptein, dis een van die outjies wat die lockdown ignoreer. Hy en hy se ouma het ons gevang dat hulle op straat loop en rook.”
“Hy lieg, Meneer! Hy en sy pêl het my ouma en ekke beroof en toe haar geslaan totlat sy dood toe gegaan het!”
Sterk, dik hande gyp hom vas. Hy kry ‘n harde klap teen sy kop en voel skoon naar daarvan. Die kaptein kom ook nou van agter die toonbank af, pluk sy hande agter sy rug in en boei hom. Dis asof dit in ‘n droom, in ‘n oogwink gebeur. Percy word in die aanhoudingselle gegooi, waar daar minstens dertig ander manne ook wag. Hulle lyk soos ‘n klomp hiënas wat op ‘n gewonde skaap afkom.
Sewe ure later word die seldeur oopgemaak. Die polisieman loop na hom waar hy in die hoekie opgekrul lê, in ‘n plas van sy eie bloed. Hy word hospitaal toe gevat agter in ‘n vangwa, en na ‘n kort gesprek tussen die polisie en ‘n portier, word hy nog meer kurories ondersoek, ‘n handvol anti-retrovirale middels gegee en huis toe gestuur.
Hy praat niks vir drie dae lank.