083 444 7672)
Onder-korporaal Bokkie Setedi is net effens dronk. Drank raak al hoe skaarser en die bietjie wat hy vandag afgeneem het, is nie veel beter as die outydse skokiaan wat die mense van lankal gebrou het nie. Hy weet nie eens of dit giftig is nie, maar as die ou by wie hy dit afgevat het, daaraan kon drink, dan kan hy ook. Dis ook nie al rede nie. Die gevoel van mag maak hom eintlik dronker as die alkohol in die brousel.
Hy is deel van ‘n vier-man patrollie wat hier in die agterstrate van die Plein diens doen. Oor ‘n halfuur sal hulle omdraai en teruggaan basis toe, hulle “beat” verby. Bokkie Setedi het nie die gedempte knal gehoor nie, nie die skut gesien nie, en al wat hy ervaar is dat sy hele lyf soos ‘n sak stronke wat gelos word, grond toe val. Die sub-soniese vyf en veertig grein .22 koeëltjie het hom hoog op die brug van sy neus getref, sy brein binne gedring en alles afgeskakel.
Sy makkers is daaraan gewoond dat Setedi so af en toe “uitpaas” van te veel alkohol en hulle aanvaar dis sulke tyd. Hulle loop verder. Die volgende patrollie vind hom lê en eers as hulle hom optel, sien hulle die ronde gaatjie tussen sy oë.
*
Percy was in sy lewe nog nie so bang nie. Selfs nie eens toe hy in die sel was nie. Al is hy nog maar ‘n jong seun, besef hy dat wat hy nou beplan, geen kans het op terugdraai nie. Hy hurk tussen twee plakkershutte, agter ‘n hoop rommel.
Die lang steeg agter hom is nie reguit nie, maar loop skeef soos ‘n hond se agterbeen. Daarom is die uitsig van agter versper en kan hy nie gesien word nie. Die spul stink verskriklik en hy wonder waarom mense so leef. Is daar geen manier wat hulle van die stinkende spul letterlik op hulle agterdeur ontslae kan raak nie?
Hy het ‘n stuk ou mat tussen die stukke gemors uitgetrek, dit bo-op die hoop gesit en die geweertjie daarop laat dooie-rus vat. Hy staan en wag so vir meer as twee ure. Soms sak hy af en sit op sy boude, net sodat sy knieë kan rus. Dan wag hy weer, geweer op die spasie gerig. Die eerste partollie het so veertig minute gelede aangedrentel gekom, maar daar was nie kans om die sneller te trek nie.
Onder-korporaal Bokkie Setedi is tegnies in bevel van die vierman-patrollie. Dis vervelige, sielsvretende werk om in hierdie plek te sorg dat mense in hulle huise bly. Die enigste pluspunt is dat hy so af en toe iemand kan rondbeveel, ‘n paar houe of skoppe kan inkry en natuurlik die zolle en drank. Sodra jy mense daarvan ontneem, het hy agtergekom, sal hulle wel ‘n plan maak.
‘n Uur gelede het die vier manne twee middeljariges voorgekeer. Die twee het verduidelik dat hulle van die winkel afkom en gaan kos koop het. Die Checkers-sak is as bewys vertoon. Setedi is egter nie so dom as wat hy lyk nie en het gesien die ouer man steek iets onder sy baadjie weg, aan die linkerkant, onder sy okselholte.
“Wat het jy daar, my bru?”
“Niks my ou vriend. Dis sommer maar niks nie, gehoor jy?”
Natuurlik was dit iets. ‘n Ou twee-liter Fanta bottel met ‘n grys-bruin vloeistof binne. Nadat dit as “bewysstukke” gekonfiskeer is, is die man ‘n skop onder die agterent toegedien en nadat hy hande-viervoet ‘n paar meters ver gestrompel het, het hy en sy vriend padgegee huis toe, sonder die bottel en sonder die kruideniersware.
Terwyl die ander drie die brood en blikke vis deel en sommer met die vingers in die mond afdruk, het Setedi die bottel geproe. Sy eerste reaksie is om die amper ondrinkbare spul uit te spoeg, maar die wete dat dit alkohol bevat, laat hom dit sluk.
Die tweede mondvol is beter. Wie ookal die brousel gemaak het, was nie skaam om enigiets by te gooi wat sal gis nie. Behalwe vir gefermenteerde aartappels en druiwe, is daar brouersgis in, en net vir die sekermaak, ‘n honderd milliliter metielalkohol en handreiniger. Genoeg daarvan sal ‘n mens doodmaak, en ‘n paar slukke jou laat slinger.
Setedi slinger dan ook soveel, dat hy amper die outjie agter die vuilgoedhoop miskyk. Hy steek vas en probeer sy oë rek, sodat hy die mannetjie behoorlik kan aankyk. Wat maak die seuntjie dan nou ook daar? Hy maak sy mond oop om iets te sê of skeeu, maar die koeëltjie, wat sy grysstof binnedring, veroorsaak dat daar geen geluid uitkom nie.
*
“Oom Juda, julle het ons nou vertel van die manier waarop die regering die land stelselmatig afgebreek het. Ek en Jessica verstaan dit. Maar hoe het ons so vinnig hier gekom?”
“Jy bedoel, hier hoog in die berg, of op hierdie plek in die geskiedenis?”
“Ek bedoel in die geskiedenis, Oom.”
Die groepie sit knus om die vuur. Boesman en Johan het beurte gemaak om die perimeters te gaan verken. Dis nou Boesman se beurt en hy is iewers of êrens, niemand weet werklik waar nie. Dis nou al ‘n hele ruk dat hulle niemand van buite af gewaar het nie en al hoe hulle die tyd om kry is om bedags elkeen se take te doen, die kamp netjies te hou, te gaan soek vir wildsvleis, hout bymekaar te maak en die voertuie in stand te hou. Maar sodra die son sak, en aandete is verby, dan is daar heelwat ure oor voor sonsopkoms.
Ligte geselsies sal mettertyd opdroog, en dan probeer die grootmense die kinders (en mekaar) moed inpraat, maar ook stories vertel. Soms, soos nou, probeer die groep die gang van gebeure aanmekaar sit en ook om sin daaruit te probeer maak. Vroeër het hulle twee-twee of drie-drie gesit en praat om die ander nie te ontstel nie, maar nadat Linda gesê het hulle wil alles weet, want as jy al die inligting het, dan maak die onbekende jou nie bang nie, word die situasie openlik bespreek.
“Julle moet onthou,” sê Juda. “Ek weet ook maar net wat ek self kon uitwerk, met die bietjie inligting wat mettertyd uitgesyfer het, en ek het nie al die antwoorde nie. Maar kom ek sê julle wat ek weet.
“Dis waar wat jy sê, Fanie; die regering van die dag het binne dertig jaar niks opgebou nie, maar alle infraskruktuur opgebreek en die stukke onder mekaar verdeel. Eskom, Denel, Prasa, die Poskantoor, Telkom, SAL, alles was tegnies bankrot voor die uitbraak van Corona. Die regering het die virus as verskoning gebruik om die Radikale Ekonomiese Transformasie ‘n hupstootjie te gee. Hulle het vyf honderd miljard rand gaan leen om kamma die virus hok te slaan, maar eintlik was dit net nog meer geld om te verduister.
“Intussen het besighede swaar getrek, jy kan dink hoe dit gaan as mense nie ‘n produk kan lewer nie, omdat hulle by die huis ingeperk is, en daar is geld beskikbaar gestel om die besighede te help. Dit het feitlik onmiddellik aan die lig gekom dat dit net swart besighede is wat gehelp word. AfriForum en Solidariteit het die konstitisionele hof genader om dit ongrondwetlik te verklaar, maar dit het nie gebeur nie. Die KH het die besluit van die regering gesteun. Ek dink, alhoewel dit nie vreeslik opslae gemaak het in die media nie, is dit waar die blankes se koppe uiteindelik begin draai het. Dit het uiteindelik by hulle deurgedring dat hulle alleen is. Die Afrikaner-mentaliteit van laertrek, wat so dikwels in die verlede ‘n negatiewe ding was, het positief begin uitdraai. Laer is figuurlik en letterlik getrek. Duisende besighede het hulle deure toegemaak, hulle werkers afgedank en ‘n maand of drie uitgesit, terwyl die regering die inperking vanaf vlak vyf na drie verminder het. Toe maak hulle die besighede op nuwe name oop, maar met dieselfde produk. Hierdie keer, egter, het hulle net blankes in diens geneem. Die kanse om regeringskontrakte ter wille van BEE-akkreditasie te kry, was in elk geval nie veel werd nie. Plaasboere het hulle swart werkers afgedank en later blankes in diens geneem, meer gemeganiseer en ‘n groter produk gelewer. ‘n Groot boer in Mpumalanga het sy buurman se plaas gekoop, dit opgedeel in tien-hektaar dele en twintig klein, maar behoorlike twee-slaapkamer huisies gebou. Toe het hy twintig blanke gesinne ingeneem, vir elkeen vyf hektaar grond gegee, hulle gehelp om te begin plant en hulle gehelp met kos en ander benodigdhede. Die eerste seisoen het hy hulle gehelp met die plant. Dié wat hulle kant gebring het, het hy nog vyf hektaar gegee en hulle moes van hulle gewasse aan hom begin teruggee. Die wat nie wou werk nie, is gevra om te gaan. Die kinders het daar op die plaas skoolgegaan, soos in die ou dae. Die bure was sò beïndruk met die poging, dat hulle aanvanklik ou trekkers en implemente geskenk het en van hulle het later dieselfde begin doen.”
“Nou hoe het dit ‘n verandering gebring, Oom?”
“Jy sien, dit het die regering geslaan waar hulle die seerste kry – in hulle sak. Hulle kon nie meer geld leen nie, want die buite-wêreld het hulle eie probleme gehad. Die Internasionale Monitêre Fonds het voorwaardes gestel soos hou op steel en bring die korruptes na die hof toe. Natuurlik kon die regering dit nie doen nie, want daar sou kwalik een van hulle oor wees wat nie tronk toe sou gaan daarvoor nie. Die mense wat geboer het, het dit kontant gedoen, so daar was nie geld vir die belastinggaarder nie. Die mense wat hulle besighede oor begin het, dieselfde. Ruilhandel het plaasgevind. ‘n Mikro-ekonomie is van stapel gestuur.”
“Nou waarom het die opstande begin?”
“Die regering kon nie meer kos bekostig nie. Ook nie elektrisiteit nie en die mense in lae-behuisingskomplekse en plakkerkampe het in opstand gekom. Hulle het uitgebreek en die swakopgeleide polisie en soldate kon hulle nie in toom hou nie. Eeue-oue vetes tussen stamme en etniese groepe het weer posgevat en hulle het onder mekaar begin baklei.”
“Nou waarom het hulle nie vir ons uitgelos nie?”
“Die Vha-Vendas het ‘n spreekwoord dat, waar twee olifante baklei, hulle die gras plattrap. Ons was net, wat die Amerikaners sou noem, ‘collateral damage’.”
*
Nadat Bokkie Setedi se lyk ontdek is, het die polisie en die weermag op die gemeenskap uitgesak. Mense is ondervra, huise is deursoek en baie is vir nietighede gearresteer. In die selle is hulle ondervra en gemartel. Ook die huis van Percy se ouers het deurgeloop, met kaste wat uitgegooi is, laaie onderstebo gedraai, die plafonne en selfs die karre deursoek. Waardevolle, oorgeërfde goed het verdwyn. Die .22 geweertjie was terug in die grond onder die boompie.
Nadat hulle weg is, het drie dae verbygegaan. Percy en Jack het die geweer uitgehaal en Percy is onder gebed en seën van sy pa daar weg. Onder die groot, sterk, geel lig van die gemeenskaplike spreilig het ‘n polisieman sy patrollie-bakkie tot stilstand gebring en gedut.
Na ‘n driekwartier het die drywer uitgeklim om die natuur te beantwoord. Sy passasier, ‘n sersant, is eerste dood met ‘n koeëtjie deur die regterslaap en toe die man met die oop gulp. Sy aflos het hulle twee ure later daar gekry. Waar die gemeenskap die moorde vroeg sou rapporteer, het hulle nou eenvoudig net die gordyne en deure toegemaak.
“Percy, ek verstaan mos wat jy doen. Dis nie die pad wat ‘n kerkmens loop nie, maar jy het mos al gesê jy is nie meer ‘n kerkmens nie. My se probleem is nou, wat gaan jy doen as jy gevang word, hê?”
Percy antwoord nie.
Dis nou die derde keer dat hy een van die gewapende magte skiet, en die ondersoek word uiteraard freneties. Die net span al stywer, al het die ondersoekers nie werklik iets om op te gaan nie, behalwe dat die moorde almal binne ‘n vyf kilometer radius gebeur het.
Die deursoek van die huise word al hoe meer intens en uiteraard is die gevaar al meer. Die koeëltjies is weggestuur vir ballistiese toetse, maar die uitslag is nie eksklusief nie. Die probleem is dat die sagte lood met die trefslag redelik misvorm en dit het ook ‘n nare manier om te maal in die mens se skedel.
Nieteenstaande die probleme met die ballistieke en die feit dat die gemeenskap, wat maar altyd nog skepties teenoor die polisie gestaan het en nou heeltemal vir hulle as vyande beskou, is daar tog leidrade wat hulle kon opvolg: ‘n dowwe, maar bruikbare soolafdruk van ‘n hardloopskoen, ‘n gedeeltelike vingerafdruk teen ‘n bottelstuk, en einde laaste, ‘n .22 Long Rifle patroondoppie met die duidelike fabrikaatsmerk van Swartklip Produkte agterop.