083 444 7672)
Voordag het die SAPD en die SANW die afgebakende gebied afgesper, stoppergroepe uitgeplaas, padblokkades opgestel en die res beweeg weereens deur die gebied. Elke huis, buitekamer, motorhuis, sink-kaya, Wendy-huis; elke boom, boord, struik en geut word ondersoek. Dit vat lank, maar die forensiese deskundiges wat ingeroep is, kwyt hulle goed van hulle taak.
“Percy, staan op! Die poelieste is oppad hierheen, en ek dink hulle weet van jou.”
Jack hou ‘n ou skoolrugsak, gepak met water, kos en ‘n stel skoon klere, die skerpgevylde mes, ‘n stuk verweerde kombers en twee pare kouse vir Percy uit. Die geweertjie is uitmekaar geskroef, en die drie dele pas binne in. Sy oë is vol trane as hy sy seun ‘n drukkie gee.
“Maak lat jy wegkom! Ek sal hulle so lank ekke kan hier probeer keer. Gaan loop verby Oupie Joe se winkel en dan tussendeur sy garage en die spares-shop verby. Daar moet jy oor die fence klim en dan maak jy gatskoon na die taxi rank. Moenie stilhou voordat jy op die grootpad is nie. Bum ‘n lift as jy kan, hier by onsuit. Ek is lief vir jou myse kind. Die Here seën jou.”
Percy maak presies soos sy pa gesê het, maar dit is te laat. Die net het vinniger en stywer gespan as wat hulle gedink het. Net voor Oupie Joe se spaza shop sien twee konstabels hom.
“Waar dink jy gaan jy, boetie? Bring hier daardie back-pack dat ons kan kyk!”
Percy vlieg om en hardloop in die rigting waar hy vandaan gekom het. Dis pure instink, maar vyftig meter van die huis af, swaai hy links tussen twee sinkhuise in, ‘n dertig meter in die stegie af en dan regs, met die effense bultjie op.
Skielik is ‘n konstabel voor hom en hy gee ‘n uitroep van angs en skok. Uit die niet verskyn Jack langs hom en wys vir Percy om hom te volg. By die doodloopkant van die stegie, gooi Jack hom oor die verwaarloosde sinkheining.
Die konstabel is nou by Jack en deur ‘n skrefie tussen twee sinkplate kan Percy sien hoe sy pa die konstabel kaalhande aanvat, die pistool in die man se hand ten spyt.
Percy kan nie glo hoe vinnig sy pa die man oor sy heup gooi, hom onder die neus slaan met sy handpalm, en dan, as die bloed in dik strale by sy neusgate uitloop, die man se nek breek. Hy vat die wapen en twee magasyne by hom en spring dan rats – vir ‘n sestigjarige – oor die heining.
‘n Stokstil-verbaasde Percy wag hom in.
“En daai moves, Pa?”
“Ek het jou mos gesê ek was in die army.”
“Maar…”
Jack maak hom stil.
“Gee vir my die gun.”
Woordeloos haal Percy die drie stukke van die geweer en die ammunisie uit die rugsak, vee dit vinnig skoon en Jack gooi dit in ‘n rioolsloot. Die vuilgoed spoel dit feitlik onmiddellik toe. Jack span die konstabel se pistool, wys vinnig vir Percy min of meer hoe die Z88 werk en druk dit agter die seun se gordel, onder sy windbreker in.
“Vat hierdie gun. Kruip deur daar agter in die jaart deur en dan hardloop jy reguit grootpad toe. Ek dink hulle is nou verby ons. Pasop net by die crossings. Daar sal karre wees.”
“Pa…”
“Nou, dadelik en moenie terugpraat nie.”
*
Na ‘n paar kilometer hou die Saracen stil.
“Waarheen nou?”
“Wel, my GPS werk nog en, al is ons ‘n paar maande laat, wat van ons gaan daarheen waar ek oorspronklik beplan het?”
“Enige plan is beter as geen plan nie, het my pa altyd gesê. Ry jy voor. Ons kom.”
Hulle ry stadig en versigtig. Daar is immers geen haas nie. Korff dink daaraan dat dit een goeie ding is wat uit hierdie hele gemors gekom het: niemand haas meer van een plek na ‘n ander nie. En as hy terugdink, wonder hy oor die sin daarvan.
Elkeen het ‘n ander mening oor wat suksesvol is. Natuurlik wil niemand armlastig wees nie en daar is baie waarheid in die beginsel van werksetiek, maar waarheen is ‘n mens in elk geval op pad? Om van een maand tot die volgende te spook om rekeninge te betaal? Om skuld aan te gaan om ‘n nuwe ryding aan te skaf, net om van vooraf ‘n paaiement te hê?
Hy ken soveel mense wat jaag na aftrede, sodat hulle in armoede hulle laaste paar jaar kan slyt, uiteindelik in die aftree-oord beland en voete eerste daar uitgestoot te word. Dis soos ‘n man wat van die werk af huis toe jaag, die verskeersreëls oortree, sy lewe en ander s’n in gevaar stel, om vyf minute vroeër by die huis te kan wees en te gaan sit en verveeld wees.
Hy onthou dat daar in die sestigs of sewentigs ‘n skrywer was, John D Mc Donald, wat ‘n reeks geskryf het oor ‘n soort privaat-speurder wat elke keer as hy genoeg geld gemaak het, afgetree het totdat sy geld op is. As hy wat Korff is, terugkyk oor sy eie lewe, dan maak ‘n groot deel daarvan nie sin nie. Ja, hy is nou bly dat hy genoeg geld kon hê om hierdie voetuig en die wapens te kon aanskaf, maar as hy alles wat hy besit – en dis hier, op vier wiele, bymekaar sit, dan is dit seker nie eens ‘n halfmiljoen rand werd nie. Die res van dit wat hy bymekaar gemaak het, die huis, die duur Duitse karre, die meubels, alles wat nie gebreek, verbrand of weggedra is nie, is weg. En daarmee saam ‘n groot deel van sy lewensjare, waarmee hy vir alles betaal het. En dìt kan jy met niks terugkoop nie.
*
Percy het onder ‘n sinkplaat weggekruip, moeg en bang aan die slaap geraak en ewe moeg wakker geword. Hy kry koud, is verward en wens hy kon die horlosie terugdraai.
Net voor sonsopkoms hoor hy honde blaf. Hy is daaraan gewoond dat daar baie honde in die omgewing is, hulle s’n, ou Doppies, die bure s’n en dan is daar die afgelope tyd ook die klomp rondloperhonde wat sommer weggegooi is met die inperking. Maar hierdie geblaf is anders. Die honde klink opgewonde en dis asof… ja, dis asof hulle op iets se spoor is.
Dan tref dit hom – hulle kom vir hom, wat Percy is. Hy loer onder die sinkplaat uit. ‘n Ent van hom af kom ‘n man uitgeloop, maak sy gulp oop en Percy kan die straaltjie hoor soos hy op die natuur antwoord. Sonder dat die man omkyk, praat hy:
“Boetie, jy moet maak lat jy daar uitkom en wegkom. Die poelieste en hulle se brakke is op jouse spoor. Daar op die stoeptrappie is ‘n banana en ‘n broodjie. Daar is ook ‘n bottel tee. Vat dit as jy wil, maar maak om vaderswil gou en kry jouself uit die voete.”
Die man draai nie na Percy toe nie, maar loop stadig terug na sy pienkgeverfde huisie. Percy kyk in die rigting vanwaar die honde blaf, en hy kan hoor aan hulle tjank-blaf dat hulle nou naby is.
Hy seil onder die sinkplaat uit, gryp die Checkers-sak op die ou man se trappie en hardloop in die stegie af. Aan die voorkant is ‘n draadheining en hy trap twee keer voordat hy oor is. Daarna draai hy links die straat-af en bo-oor die aansluitingspad. Die getjankery van die honde is nou verder weg. Hy maak die sak oop, gryp die broodjie en wurg dit af. So ook met die piesang. Die tee is swart, lou en baie soet, maar dit smaak heerlik.
Die skool is nou voor hom en hy is bly die hek is afgebreek, sodat hy daardeur kan gaan. As dit nie so was nie, sou hy om die lang heining moes hardloop en in die proses vir ‘n hele ent sigbaar wees. Hy hardloop langs die klaskamers af, onder die deurgang by die duikweg en dan regs af, na die verkantse heining. Ook hier is die heining platgedruk, soos die mense ingekom het om die skool te plunder.
Dit breek sy spoed ’n bietjie om oor die skuinste van die moeë pallisade-heining te kom, en net daarna is hy weer links, straat-af. Dis ‘n goeie drie honderd meter waarin hy heeltemal sigbaar gaan wees. Hy hoop maar dat die heining waaroor hy geklim het die honde en hulle hanteerders gaan briek, en hulle sal ook die honde oor die pallisade moet dra, want hulle pote sal deurgly.
Hy hou die pistool aan die greep vas, sodat dit nie uit sy broek se gordel val nie en dit breek sy spoed effens. Dan hoor hy die hond agter hom aankom. Daar is ‘n goeie honderd meter voor hom tot by die grootpad.
Hy draai om en hardloop-struikel agteruit. ‘n Groot, bruin en swart herdershond is losgemaak van sy leiband af en hy lê plat van die hardloop agter Percy aan. Daar is geen manier waarop hy die pad betyds kan bereik nie en selfs al haal hy die pad, wat dan?
Hy gryp die pistool uit sy gordel, druk die veiligheidsknip op en vorentoe, soos Jack hom gewys het en trek ‘n skoot af in die rigting van die hond. Die hond steek vas, sy spits ore nou vertikaal en eweredig bokant sy kop, soos hy vraend kyk na die seun.
Agter die hond het die polisieman skuiling by ‘n vuilgoeddrom gesoek, sy pistool uitgepluk en op Percy losgetrek. Dis egter ver en die skote is meters verby hom. Die hond hoor nou die skietery agter hom, gee ‘n benoude tjankie en spring kant toe.
Percy hardloop pad toe, haal dit en draai dan regs, in die rigting weg van die Kaap. Sy asem jaag en sy bors brand. Die hond staan steeds stil en wag vir sy hanteerder, wat dit nie weg van die drom waag nie. Dis nie in sy posbeskrywing om raakgeskiet te word nie.
Percy hoor die brul van ‘n groot diesel en draai half om. ‘n White voorhaker en verkoelingsleepwa kom aangery. Percy staan amper in die pad, hy onthou die wapen en steek dit vinnig onder die windbreker in. Die lorrie swaai effens uit om hom te mis en dan skreeu die sleepwa se bande soos hy rem. Grys rook kom uit die rubber.
Sowat sestig meter verder kom die voertuig tot stilstand en Percy hardloop daarheen. Hy klim op die trappie, terwyl die deur oopgaan. Voor hy nog behoorlik sit, hoor hy die sis van die remme en met ‘n ruk trek die vragmotor weg.
“Waarheen, Boetman?”
“Daarnatoe, Oompie.” Percy wys met sy linker wysvinger.
“En hoe is dit dat jy so moeg is, Boetmannetjie? Jy hol nie dalkies vir die poelieste weg nie?”
Percy sê niks. Hy kyk in die groot tru-spieël, en sien die polisiehond agter die vragmotor aanhardloop. Daar is egter nog geen teken van sy hanteerder nie.