BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (13)

 083 444 7672)

‘n Koue front het oor die Oos-Kaap beweeg en effens noord-wes gedraai. Dit stuur ‘n nuwe vlaag sneeu oor die hoogste pieke van die Drakensberge. Waar Boesman en sy bende (soos hulle hulleself nou noem) ingegrawe is, is dit bitterlik koud.

Partymaal oorweeg hulle dit om uit te ry, ‘n pad te soek noorde toe, waar dit natuurlik heelwat warmer is, maar elke keer stel hulle dit uit. Soos alle mense met hoop op wat die toekoms bring, wag hulle vir warmer dae en vir die land om na normaal terug te keer. Wat dit sou behels, weet hulle nie werklik nie.

Die regering het totaal en al beheer verloor, die veiligheidsmagte het ontaard in roofbendes met wapens en uniforms, maar sonder hoëvlak bevelvoerders. Die meeste van hulle maak soos hulle goed dink in die omstandighede en, bygesê, hou van die mag wat hulle nou oor die bevolking uitoefen. Mense gee feitlik voor die voet pad vir enige soort uniform, hetsy polisie, weermag en selfs sekuriteitswagte.

*

Die laagwaterbruggie het krakend en skouspelagtig padgegee onder die gewig van die Saracen. Korff is eerste deur met die Nissan, net vir die wis en onwis, maar dit maak hulle posisie uiters benard. Die bruggie is die enigste oorgang deur die rivier vir baie kilometers en hulle het gesukkel om selfs dìt te kry. Dis gebou van stewige bloekomstompe en dik planke, met driehoekversterkings waar nodig.

Korff, Dawid en Oudok het eers uitgeklim en die struktuur nagegaan. Soos ‘n mens maar maak het hulle in die middel op en af gespring, gehoor of die ding kraak of nie en het dit uiteindelik veilig verklaar om oor te ry. Korff het sy ruite oopgedraai om na die brug te luister terwyl hy oorgaan, en niks het verkeerd of gevaarlik geklink nie. Anderkant die brug het hy ver genoeg teen die bult opgery sodat daar plek vir die swaarder pantserkar kan wees.

Alhoewel die Saracen se gewig oor ses wiele vesprei is en nie net vier soos die Patrol nie, is die sewe ton voertuig, gelaai met toerusting en mense, se meer as agt en ‘n half ton net te veel. Die brug het aan die regterkant begin kantel net toe die middelste stel wiele daaroor beweeg en daarna breek toe ook die linkerkant. Dawid het so vinnig as moontlik die ou, swaar ratkas in tru-rat gedruk, maar dit was te laat.

Nou staan die groot voertuig se neus tot by die voorwiele in die water. Niemand kon weet dat die hoofstutte deurgevreet was deur termiete nie.

Met die Nissan se wen-as, domkragte en die hulp van stewige pale as hefbome, kon hulle weldra die neus uit die water gelig kry en die voorwiele op die voorkant van die stukkende brug. Met die Nissan se hulp, seswieldryf geskakel in die Saracen, met klippe en modder, stukkke brughout wat spat, gepaardgaande met dik dieselrook uit beide voertuie se uitlate, kom die swaar kar uiteindelik die oorkantse wal uit. Anders as in Amerikaanse films waar almal vuiste in die lug hou en juig, kom ‘n gevoel van blote verligting oor die groep. Die oponthoud het hulle ‘n volle dag en nag gekos.

*

Honderde kilometer na die suide dreun die wiele en enjin van die groot White oor die pad. Percy het min geslaap die vorige nag. Die koue was net te veel en sy klere te min. Die sinkplaat het wel die huilende wind van hom af weggehou en hy is gewoond aan koue, soos enige vlaktekind, maar die vrees, onsekerheid, gepaardgaande met die koue het sy slaap min gemaak. Nou, in die warmte van die groot kajuit, die strelende gedreun van die voertuig en die wete dat hy vir eers veilig is, maak dat hy agteroor lê op die sitplek en diep aan die slaap raak.

Hoe lank hy geslaap het, weet hy nie. Toe hy wakker word, is dit sterk skemer en die gedreun het stil geword. Hy voel iets aan hom vroetel en toe hy heeltemal wakker is, besef hy dat die drywer voor hom staan. Die man is besig om Percy se broek los te maak. Hy het reeds die gulp oop, en probeer die gespe van sy belt loskry. Die man se eie broek is reeds uitgetrek en Percy walg vir dit wat hy sien. Hy gryp na die man se hand om dit weg te klap, maar die ou lag net. Hy is baie groter en sterker as Percy en dis duidelik dat hierdie nie die eerste keer is wat hy so iets met ‘n ryloper aanvang nie.

“Kom, los nou maar mannetjie. Geniet dit en ons is kiets. Ek het jou van die poelieste gered en jy gaan vir my ‘n bietjie ietsie teruggee.”

“Nou, wag net. Ek sal self losmaak.”

Die drywer laat gaan en Percy vat met sy linker en regterhand onder sy windbreker in, na waar sy belt is. Die gevoel van die dik polimeergreep van die pistool bring ‘n groot verligting oor hom en hy pluk die Z88 uit, druk die veiligheidsknip af en druk die loop teen die drywer se vet maag.

“Wag nou, mannetjie!”

Die drywer gryp na die pistool en onwillekeurig druk Percy die sneller. ‘n Uitdrukking van totale verdwaasdheid kom oor die man se gesig. Agter hom is daar ‘n gat deur die windskerm, bloedbespat, helderrrooi.

“Jy het my geskiet, jou klein donner!”

Hy gaan sit agteroor, met sy agterstewe op die paneelbord en kyk geskok na die bloed wat uit die blou-pers wond loop. Percy gryp na sy rugsak wat tussen die voorste sitplekke lê, pluk die deur oop en spring uit die vragmotor. Hy mis die trappie en val sy wind uit op die grond. Dan besef hy dat hy nie die pistool het nie, vlieg die voertuig binne en tel die bloedbesmeerde wapen van die vloer af op. Sonder om die deur toe te klap, verdwyn hy die pad af.

Hy begin snik en sy maer seunskouers ruk daarvan.

“Waarom maak die mense so met my, liewe Heretjie?”

Indien Forensies die doppie ballisties sou ontleed, sou hulle vind dat die wapen wat dit gevuur het, verbind kon word met ‘n bendeskietery etlike maande vantevore. Die verlore wapen van die polisieman met die gebreekte nek, is nooit teruggevind nie, nie asof dit vreemd is vir een wat weggeraak het in die Plein, waar letterlik honderde duisende ongelisensieerde wapens rondswerf nie. Die gestruktureerdheid van die SAPD het inderdaad ook nou verdwyn en niemand soek daarvoor nie. Suid-Afrika is ordeloos.

*

Dis nog bitter koud. Hulle sit so na as moontlik aan die vuur. Die aande en nagte is baie lank en, alhoewel hulle bedags almal hard werk, is die slaaptyd hopeloos te veel en te lank. Hulle sit daarom saans so lank as moontlik en gesels.

“Oom Juda, oom het nog nooit gesê waar oom grootgeword het nie?”

Juda kyk diep in die vuur. Dis nie iets wat hy gewoonlik doen nie, want dit maak dat jou nagvisie vir ‘n paar sekondes versteur word. Hy bly lank stil, staan dan op en krap ‘n paar kole oop. Hy sit nog ‘n stomp op die vuur en gaan sit weer.

“Naby Pretoria en toe Magaliesburg. My ouers het daar op ‘n kleinhoewe gebly nadat my pa afgetree het. Hy het die huis so goed as moontlik beveilig, maar een aand, nie vreeslik lank gelede nie, het ‘n klomp inheemse manne daar opgedaag. Hulle het seker geweet hy het ‘n hele paar wapens gehad en hulle was voorberei. Hulle het die honde vergiftig en moes seker van binne hulp gekry het, want die sekuriteitskameras was buite werking, en die alarmstelsel ontkoppel. Dit lyk asof Pa eers wakker geword het toe hulle binne die heining van die werf was.

“Ek was later die dag daar en as ‘n mens kyk na die oorblyfsels, kan ek die prentjie aanmekaarsit. Hy het deur die skuifdeur en veiligheidshek van die slaapkamer begin skiet op hulle. Ma het, soos hulle afgespreek het, na die hoofslaapkamer se badkamer toe gevlug. Hy het altyd gesê sy moet in die bad klim, want dis die veiligste daar.

“Ja, hy het geskiet. Baie. By die deur was daar dosyne doppies. Hy het ‘n hele paar magasyne vir sy CZ gehad. Maar eers moes hy losgetrek het met die haelgeweer, ‘n semi-outomatiese Franchi. Die ongeluk van die geweer is dat dit stadig was om te herlaai. Tog lyk dit my, ook aan die hoeveelheid doppies, dat hy ten minste twee keer herlaai het. Dus, hy het daarmee vyf en twintig skote geskiet. Toe met sy nege millimeter. Baie skote – ek weet nie hoeveel nie. Daar by die deur is hy sleg gewond en het agteruit beweeg, al skietende. Daar het doppies al die pad gelê, tot by die badkamerdeur. In die opening het hy ten minste nog ‘n halfuur na ‘n driekwartier bly skiet, as ek sien hoeveel bloed daar gelê het. Daar is hy weer raakgeskiet. Tog het hy aangehou, later met die ou .44 Smith&Wesson. My pa het baie van wapens gehou. Hy is weer en weer raakgeskiet en tog het hy bly terugbaklei, selfs nadat hulle die veiligheidshek afgebreek het. Hoe weet ek? Daar was twee dooie manne binne die slaapkamer. Uiteindelik het hy daar aan bloedverlies neergesak en doodgegaan.”

Juda bly lank stil. Hy het nog nie ‘n oomblik opgekyk uit die vuur nie.

Uiteindelik waag Linda om te vra:

“En jou ma?”

“Hulle het afgespreek wat sy moes doen, as dit sou gebeur. Pa se grootste vrees was dat hulle haar sou martel. Sy het in die bad gesit met ‘n kleiner pistool. Toe die eerste ou verby Pa kom, het sy haarself geskiet. Sy was ‘n dapper vrou. En Pa… hy was ‘n taai ou man. Toe die polisie uiteindelik daar opdaag, was daar dertien van die indringers dood en, as mens moet raai aan die bloedspore, ten minste nog ‘n hele paar ernstig gewond”.

Niemand sê iets nie. Dan praat Juda weer:

“En my ma, sy was ‘n klein, tingerige vroutjie. Liefdevol, altyd opgeruimd. Hulle was meer as veertig jaar lank getroud. Sou nooit iets skade aandoen nie. Maar die pistool in haar hand was leeg. Die magasyn hou dertien rondtes en met een in die loop, is dit veertien. So, sy het ook haar kant gebring.”

“Ai, ek is jammer, Juda!”

“Dis okay. Pa was ‘n ou soldaat en het gesê hy sal eerder sterf as om hulle in sy huis toe te laat. Hy het altyd ‘n sê-ding gehad: “Rather die with your boots on, than beg on your knees.”

Vir ‘n hele paar minute sê niemand iets nie. Dan staan Boesman op.

“Kom mense, môre is weer ‘n dag.”