BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (14)

083 444 7672)

Indien die blankes en die ANC tot ‘n vergelyk kon kom aangaande die begin van die “nuwe demokrasie”, sou Suid-Afrika heel moontlik ‘n voorspoedige land kon wees, waar elkeen ‘n aandeel aan die welvaart sou kon geniet. Ongelukkig was dit nie bestem om te wees nie. Soos een van die senior ANC-lede (Smuts Ngonyama) opgemerk het: “I did not struggle to be poor”.

Die teenoorgestelde was eerder waar. Na die verkiesing in 1994 is die land geleidelik, maar ook soms in ondenkbare groot bedrae leeg gesteel. Die enigste oplossing is om uiteindelik buitelandse lenings aan te gaan met die spesifieke wete dat dit nooit terugbetaal sou kon word nie. Die gevolg is dat al meer en meer geld in die mislukte Semi-staatsbeheerde Entiteite ingepomp is, sodat dit weer net leeggesuig kan word in die swart gat van gierige en gulsige kaders.

Behalwe dat die mense saam met die land bankrot gaan, het dit ‘n dieper uitwerking as bloot die finansiële aspek. Dit bring ook mee dat wrewel by mense begin posvat. Tesame met hierdie wete, wat nou stadigaan die gedagtes oorheers, word die skeidingsvlakke ook al groter. Uiteindelik word die gewone mens deur die politici in kampe verdeel en rassespanning begin oplaai. Selfs in die inperkingstyd gebruik die woordvoerder van die EFF dit om die skuld op blankes te laai. Rassespanning gaan oor in agterdog. Op sy beurt weer, veroorsaak dit stadig maar seker dat die groepe mekaar begin haat.

Ten spyte van die kerke se vermaning om te vergewe, blyk dit uiteindelik dat dit nie gaan gebeur nie. Die swartmense word voortdurend aan die apartheidsverlede herinner, en veral deur politici wat hetsy nie die mas opkom nie, òf wie se vingers te diep in die geldlaai vasgeslaan word. Dis makliker om apartheid die skuld vir jou tekortkominge te gee, as om verantwoordelikheid daarvoor te neem.

Op 6 Junie 2020 sê Blade Nzimande, die SAKP se hoofsekretaris: “Die ekonomie word steeds hoofsaaklik deur wit mense oorheers, nie net wat die eienaarskap betref nie, maar ook die vaardighede wat belangrik is vir die ekonomie.”

Hierdie haat, saam met die ander faktore, soos die gebrek aan voedsel, die onsekerheid te midde van die pandemies, die faksiegevegte binne die heersende party, die toenemende aanvalle op plaasboere en selfs blanke stedelinge, wette wat skreiend teen blankes diskrimineer, die rassistiese optrede van die polisie en die weermag en les bes, vrees vir jou medemens, veroorsaak onvermydelik dat die pot nie net oorkook nie, maar dat dit oopbars en saam met die ellende vloei die bloed ook die warm kole in.

*

Percy raak fietsfiks. ‘n Mens gebruik ander spiere wanneer jy fietstrap as om te hardloop of loop. Kuite, die bobeenspiere net bokant die knie, skouers en voorarms word gou moeg as jy nie daaraan gewoond is nie. Maar, na ‘n week, is dit vir hom asof hy al jare lank elke dag fietsry. Natuurlik tel jeugdigheid ook aan sy kant.

Hy waag dit nie op die hoofpad nie, maar ry soveel as moontlik op tweede en derderangse paadjies so na as moontlik daaraan. Hy vrees papwiele en bly uit die veld uit. Soggens, voordat hy begin ry, pomp hy die wiele. Hy wens hy het iets om die ketting en ratte mee te olie. Sy hande kry bitter koud, al het hy ‘n paar sokkies oor hulle getrek om as handskoene te dien.

Hy is voortdurend op die uitkyk vir water en kos, en tot dusver het hy net twee aande honger gaan slaap. Hy huiwer om die pistool weer te gebruik, nie net omdat dit aandag trek nie, maar ook omdat sy ammunisie baie beperk is. Hy hou dit vir noodgevalle, soos hy mos al meer as een keer ervaar het.

Groot groepe mense loop op die N1. Sommige beweeg noord, in die rigting van die Vrystaat en sekerlik na Gauteng, met die hoop om iets daar te kry, ander loop weer suid na die Kaap en die see, om dieselfde rede. Hy kry ook dat baie ander sommer net rondsit vir ‘n paar dae, heeltemal verward. ‘n Mens sonder rigting is iemand sonder hoop.

Partymaal vind hy dat ‘n plek erg stink en dan weet hy daar is half-ontbinde lyke naby. Aanvanklik het hy dit nader gewaag, uit nuuskierigheid of om te kyk of daar nie iets bruikbaar naby die liggame is nie, maar het vinnig agtergekom dat alles, dikwels selfs die klere, van die dooies verwyder is.

Percy waak teen mismoedigheid en eensaamheid. Gelukkig kan hy aan die einde van elke dag sien hoe ver hy gery het. Hy moet ‘n wye draai rondom Colesberg en Beaufort-Wes ry, omdat hy nou ten alle koste mense vermy. Waarheen hy op pad is, weet hy nie regtig nie. Al wat hy weet is dat hy iewers ‘n plek moet kry waar daar kos en skuiling is, waar die polisie niks van hom weet nie en waar hy veilig kan wees. Onwillekeurig mik hy na die berge toe. Dis oer-oue instink by die mens.

*

Korff se GPS wys dat hulle nou baie naby die plek is waar hy glo hulle veilig en beskut sal wees. Hy was nog nooit daar nie, maar iets maak dat hy glo dis die regte plek. Hulle bly nou van alle paaie af, sover moontlik.

Die Nissan se groot wiele en uiteraard die veldbande van die Saracen, beweeg oor veld, deur ruigtes, oor koppies en soms deur vleie. Saans sorg hulle dat hulle kampplekke goed verskuil is en dat dit niemand se aandag trek nie. Die groepies mense wat hulle teëkom, vermy hulle net soveel as wat hulle weghou.

“Ons sal môre-oggend daar wees. Dis nie meer as tien kilometer weg nie. Ons sou seker vanaand daar kon kom, maar ek is bang dat ons òf nie die plek in die donker gaan kry nie, òf daar is dalk iemand anders.”

“Hoe bedoel jy? Jy het dan vir ons gesê dis moeilik om daar te kom en daar sal nie ander mense wees nie.”

“Ek het gesê dis moeilik om daar te kom, ja, maar ek weet mos nie of daar iemand anders al is nie.”

“En as daar is?”

“Dan hang dit seker af of dit vriend of vyand is.”

Daar is ‘n klein, blinde klofie aan hulle regterkant en die voertuie trek daarin. Dis lekker en beskut, maar daar is nie water nie. Hulle het nog genoeg voorraad vir die afsienbare tyd, maar sal binnekort moet aanvul, as hulle veel langer met die voertuie moet bly. Nadat hulle kamp opgeslaan het en ‘n vuur vir kos en teen koue, is daar nog daglig oor.

“Kom, Lisa, dat ek jou wys hoe werk die geweer.”

Onder die vloer van die Nissan is ‘n honderd millimeter-diep kompartement. Daarin is heelwat wapens, en onder andere die Ruger Mini-14 met vyf ekstra magasyne en ‘n hele paar honderd rondtes.

“Ons sal die teleskoop net eers effens agtertoe moet skuif, anders gaan jy sukkel.”

Dit neem nie lank nie. Daar is vier Allen-tipe skroewe wat losgedraai word en dan skuif Korff die teleskoop so ver agtertoe as wat die monterings en die teleskoop se buis dit toelaat.

Hy laat Lisa by ‘n kamptafel sit, laat die geweer rus op ‘n groot sak mieliemeel en wys haar hoe om aan te lê met die geweer stewig in haar skouer, haar linker elmboog (na ‘n ruk lank se gesukkel vind hy uit sy is links) gestut en haar nek gebuig, sodat sy ‘n duidelike aanlê-prentjie kan vorm met die teleskoop.

“Sien jy duidelik, sonder swart stukke aan die kant?”

“Ja, en ‘n swart kruis, wat bymekaarkom in die middel. Die onderste balkie van die kruisie is dikker as die ander drie.”

Korff maak seker die vertikale lyne van die kruisie staan mooi regop, en draai dan die skroewe vas. Hy waarsku die ander mense dat hulle gaan skiet, sit dan ‘n papierbord met ‘n swart koki-pen kol in die middel teen ‘n boomtak vas en kyk dan eers self waar die geweer skiet. Die teleskoop, ‘n stewige Schmidt&Bender 4X40, skiet nou links en laag en hy stel dit agt “clicks” op en ses regs.

“Nou jou beurt.”

“Is jy seker hy gaan my nie skop nie?”

“Ek belowe. Hou net die kolf stewig in jou skouer en konsentreer. Haal drie diep asems, hou dan die laaste een in en sorg dat die kruisie presies in die middel van die kol is.”

“Dis bietjie uit fokus”.

Korff draai die agterste lens totdat dit vir haar jonger oë goed gefokus is.

“Nou reg?”

“Ja.”

“Skiet nou drie skote, dan kyk ons.”

Ten spyte van die gerusstellings is Lisa steeds ‘n bietjie skrikkerig, maar trek drie skote af. Dit klink hard en helder in die stilte en die kranse laat die knalle eggo.

“Moenie die sneller ruk of trek nie. Moenie skrikkerig wees vir die lawaai nie. Dit sal maak dat jy jou oë gaan toemaak voordat jy die sneller druk. Maak jou hand toe en die skoot sal self afgaan.”

Sy maak soos hy sê.

“Was dit soos ek gesê het?”

“Ja, dit maak nie seer nie.”

“Kom ons gaan kyk.”

Dis duidelik dat Lisa nog steeds gekompenseer het vir die terugskop, en die skote is ver uitmekaar. Al drie is darem op die bord. Hulle loop terug, sy skiet nog en nog, en uiteindelik, na dertig skote, is die groepering baie klein, met drie van die vyf wat aanmekaar raak, een net bokant en een “flyer”, sowat twintig millimeter onder en regs.