BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (16)

Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672

Korff en sy mense het laat die oggend eers kamp opgeslaan. Alhoewel hulle angstig is om by hulle bestemming uit te kom, is daar iets wat hulle effens terughou. Miskien is dit die onsekerheid oor wat of wie hulle daar gaan vind. ‘n Mens wat immers sy hoop op iets gebou het, daarna uitsien en alles inspan om dit te bereik, is gewoonlik bang dat jou drome en hoop in duie kan stort. Dis makliker om ‘n bietjie langer aan ‘n onsekere droom vas te hou as om met sekerheid te sien hoe dit alles op niks uitloop.

Daar word met sorg gekyk dat die tente netjies skoongevee, opgevou en versigtig gebêre word. Die vuur brand nog, waarop die ontbyt van flussies gemaak is. Een van die vroue het vars water opgesit vir koffie net voor hulle vertrek.

Die voertuie word nagegaan; die banddruk, die pype tussen die enjins en die verkoelers, die olievlakke en dié van die koppelaar en remreservoirs. Die brandstoftenks word uit die kanne opgevul. Niemand sê meer as die nodige nie.

Uiteindelik is daar niks meer om te doen nie, behalwe om die vuur finaal te blus, die bekers uit te spoel en te bêre, die ketel in sy plek te sit en te ry.

“Almal op hulle plekke?”

Daar is geen antwoord nie, maar dis onnodig om te vra. Korff het vyf minute gelede al gesien dat elkeen op sy sitplek is. Hy kyk vir die soveelste keer op die GPS en sien steeds dat die vlaggie wys hulle is feitlik op hulle bestemming. Sê nou net dis nie die regte plek nie? Sê maar daar is ander mense, of dat dit verniel of ingeneem is deur die onvriendelikes?

Korff draai die ontsteking en wag ‘n paar sekondes dat die enjin warm word voor hy die sleutel draai. Die groot General Motors Diesel vat met die eerste draai. Amper ‘n antiklimaks, dink hy.

“Nou ja, mense, hier gaan ons.”

Hy laat die koppelaar uit en die Nissan draai af met die klofie, die grondpad aan die onderkant binne. Drie kilometer verder sal hulle van die pad afdraai die veld in, berg-op.

*

Dit is bitterlik koud, met reën af en toe. Daar is min plekke waar ‘n mens so blootgestel is aan die elemente as op ‘n trapfiets, dit maak nie saak hoe oud of modern die ding is nie. Percy het ‘n stuk dik, blou plastiek gekry, ‘n gat vir sy kop in die middel gesny, dit oor sy kop getrek en dit om sy middel met ‘n stuk binddraad vasgemaak. Hy het ‘n Jockey-onderbroek oor sy kop getrek, met die linkerbeen se opening voor sy oë en mond, en die agterkant by sy hare. Dit hou darem sy ore effens warm. Sy broek word nat as dit reën, maar die beweging van die spiere hou die ergste koue weg.

Hy ry deur die veld, naby die grondpad, al met ‘n voetpaadjie langs. Dit val hom op dat die paadjie skoongetrap is, maar hy steur hom nie baie daaraan nie. Waar ‘n Afrika-mens loop, groei die gras en bossies immers nie maklik weer nie.

Die paadjie kronkel tussen die gras en struike deur. Hy ry ‘n effense bultjie uit en sodra hy bo kom, ruk hy die handvatsels effens op, gee ‘n harde trap en lig die voorwiel. Dis baie pret en hy ry ‘n paar treë so, en kom eers op die voorwiel af as hy die verskrikte uitroep hoor.

“Hau, wêna! Wat maak jy hiersô?”

Met die wind wat suis en met die onderbroek oor sy ore het hy niks gehoor tot hy tussen hulle is nie, maar nou sien hy ‘n groot groep manne, goed gewapen en met stukke uniform aan. Die vier kookvure is oor ‘n stuk aarde sowat ‘n honderd vierkante meter verprei.

Die spul sit in kleiner groepies om of naby die vure. Die meeste van hulle het hulle gewere in ‘n piramide gemaak staan, met die kolwe op die grond, effens skuins na bo en die lope bymekaar. Dit maak dat die wapens stewig staan, en kan maklik gegryp word. In ‘n noodsituasie is dit egter so dat nie elkeen sy eie wapen sou kry nie, wat eintlik nie regtig saakmaak as jy sommer net sneller wil trek nie.

Percy swaai woes uit om nie die naaste man raak te ry nie en dan is hy tussen die groot groep in. Hy gooi esse, trap so wild hy kan en maak wye draaie om tussen hulle deur te vleg. Drie, vier, vyf van die manne gee instinktief pad vir die fiets, maar die ander is vasgenael en geskok vir die seun en fiets by hulle.

Een van hulle spring voor hom in. Dis ‘n sterkgeboude man in sy dertigs, met ‘n diep bors en kaalgeskeerde kop. Selfs vir ‘n Afrikaan is hy besonder donker, met fyner gelaatstrekke as byvoorbeeld Zulu’s, Pedi’s en Xhosas. Percy swaai om by hom verby te kom en skop na die man se been in die verbygaan. Die Afrikaan kry egter die stuk plastiek wat Percy dra teen die elemente aan die agterkant beet en ruk amper die seun van sy fiets af. Die plastiek skeur en hy staan met ‘n stuk in sy hand.

Dadelik laat hy dit val, pluk ‘n Tokarev uit sy gordel en trek los. Percy swaai op daardie oomblik vir ‘n ander makker uit en die koeël vlieg skadeloos verby. Die tweede misskoot tref een van sy eie manne in die maag, maar die derde een tref Percy skrams teen sy kop. Hy voel hy verloor sy bewussyn, maar dan is hy by die kant van die kamp en ‘n effense walletjie is voor hom.

Voordat hy van die fiets kan afval, is hy daaroor en daarna teen ‘n agt meter hoë wal af. Aan die onderkant van die wal vloei ‘n smal, maar sterk spruit, gevoed deur die gesmelte sneeu van hoër op in die berg. Dit veroorsaak ‘n twee meter diep poel, waar dit ‘n draai maak.

Die laaste ding wat hy weet is dat die yskoue water die lug uit sy longe slaan en dan verloor hy sy bewussyn. Hy dryf gesig eerste die water af. Bokant hom, op die wal, staan die man wat geskiet het. Hy sien die lewelose liggaam onder hom, die bloed wat die water om sy kop rooi kleur, en neem aan die kind is dood. Hy is glad nie daaroor gepla nie, ook nie oor sy makker wat diep en ernstig gewond is met die tweede misskoot nie.

*

Die laagwater bruggie is breed genoeg vir twee voertuie. Dit lê ver ondertoe, af met die bult en voor die volgende opdraand begin.

“Ons afdraai berg-in is net so ‘n ent anderkant die bruggie. Ek gaan daar stilhou, en dan sê jy vir Oudok hy moet ons volg”.

Korff hou aan die regterkant van die brug stil, sodat die Saracen langs hom kan inkom. Onwetend het hierdie besluit miskien van hulle se lewens gered. Die groot pantserkar trek naby genoeg dat hulle kan praat, maar dan skram die eerste skoot van die pantserplaat weg. Dit fluit kermend die lug in en dan klap die ander feitlik aanhoudend teen die kar en langsaan verby; sommige skote bo-oor. Korff wil net begin wegtrek, as Betsie, wat regs, agter hom sit uitroep:

“Wag! Daar is iets in die water. Ek dink dis ‘n mens!”

“Ons kan nie nou wag nie, Bets. Daar word op ons geskiet, as jy nie agtergekom het nie!”

Intussen het die mense binne die Saracen begin terugskiet na die malende menigte wat weerskante van die lae afgrond aan die linkerkant begin afstroom. Die hoefyster-vormige gate wat hulle met soveel sorg gesny het aan die kant van die kar maak, soos hulle beplan het, goeie dooieruspunte vir hulle gewere, terwyl hulle nouliks bokant die kante blootgestel is.

Hulle vuur, alhoewel akkuraat en dodelik, stuit nie tans vir ‘n oomblik die aankomende massa nie. Die vyand skiet uit die heup, en net hier en daar is iemand wat gaan stilstaan, kniel of platval sodat die skote meer akkuraat kan wees, maar die oorgrote meerderheid ammunisie word op vol outomaties in hulle rigting afgetrek.

Die vyandelikes se spoed word geleidelik minder, soos hulle makkers raakgesiet word. Selfs verwoede mense besef mettertyd dat iets hulle ook kan tref en die voorste manne staan stil, of val plat.

Aan hulle voorkant staan ‘n baie donker man, met kaalgeskeerde kop. Hy skiet skoot vir skoot op die voertuie en alhoewel van sy koeëls naby kom en selfs op die kant van die Saracen vasslaan, is hulle nog hopeloos te ver vir ‘n handwapen om effektief te wees. Dit lyk asof hy nie omgee dat daar op hom geskiet word nie.

“Korff, wat maak julle? Ons moet padgee, daar is te veel van hulle!”

“Maak toe die deur, ek wil ry!” skeeu Korff vir Betsie, maar sy is uit die voertuig en word kort op haar hakke gevolg deur Linda. Korff is vir die oomblik woedend vir die twee vroue. Hy klim haastig uit die Nissan en kyk wat aangaan. Die twee dames het teen die wal van die spruit afgeklouter en trek aan ‘n mensvorm, geklee in ‘n ou, vuilerige denim-broek en, wat lyk na ‘n poncho gemaak uit iets blou, soos ‘n plastiekseil, om hom uit die water te trek. Hy is egter swaar van die koue water en hulle krag is te min daarvoor.

“Kom help!”

Korff huiwer vir ‘n oomblik. Die aankomende vyand is baie en nie meer vreeslik ver weg nie en hy wil sorg dat hulle buite bereik van die klomp kom. Dan spring hy agterna, help om die jongmens uit die spruit te kry en lê hom op die gras langsaan neer.

“Dit help nie. Hy is reeds dood.”

Percy, wat gewoonlik ‘n ligbruin gelaatskleur het, is nou gelerig-bleek. Hy haal nie asem nie, maar lê toe-oog en met blou om sy lippe. Korff druk op sy borskas, meer uit frustrasie en instink as ondervinding. Die jong ribbes onder sy handpalms gee effens mee en hy doen dit weer en weer.

Linda het die kind se neus toegedruk en blaas asem by sy mond in. Nie sy of Korff het opleiding hier-in nie, maar hulle het dit al baie op TV gesien en maak maar soos hulle goed dink. Skielik ruk Linda haar mond weg as ‘n stroom water uit die seun se mond stroom. Hy hoes en kug, roggel en snak na sy asem. Korff draai sy kop kant toe, sodat hy nie in sy eie opgooi verstik nie.

‘n Paar sekondes later begin die kind self, eers hortend en dan, met nog water wat uit sy longe kom, self asem te haal. Korff gryp hom in sy arms, hardloop-val teen die wal op en dan sit hy die kind in die agterkant van die Nissan.

Met die Saracen wat eers langs en daarna agter die sagtevel Nissan dekking gee, jaag hulle weg van die aanstormende massa. Twee honderd en vyftig meter verder is daar ‘n smal, maar goed-uitgeryde pad. Die bossies en gras begin hier en daar op die pad te groei, maar dis duidelik en maklik om te volg. Dit loop meer as ses kilometer teen die berg uit, bereik ‘n plato en kronkel dan deur ‘n ou bloekomplantasie.

Skielik is dit oop voor hulle, die hoë waterval aan die agterkant, maar daar brand ‘n vuur op die plek waar Korff beplan het om te gaan. ‘n Ou Jeep J2000, ‘n Land Rover en ‘n nuwerige Jeep Grand Cherokee, sonder deure en nog ‘n ander onherkenbare voertuig staan reeds daar.

‘Ag nee! Iemand anders is dan reeds hier!”

Skielik is daar vier gewapende manne rondom hulle voertuie. Gewere word op hulle gerig en daar is geen ander opsie as om hulle hande tuis te hou nie.

“Wie is julle meneer, en wat maak julle hier?” vra ‘n skraal, maar sterkgeboude man.