BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (18)

)

Johan wonder waarvoor wag die man wat skynbaar die bevelvoerder moet wees. Dan dring dit tot hom deur: hulle moet die geveg open met skote na die kampers by die waterval. Hy haal diep asem en lê aan, maar die tweepoot maak dat hy die geweer nie ver genoeg kan sak nie. Hy vou dit op, vat dooie-rus oor ‘n groot, plat klip en dan mik hy na die Nissan se kantspieël, wat nou effens blink in die vroeë son. Met die knal van die skoot spat die spieël aan flarde.

“Sorrie, Korff!”

Patric is woedend. Het hy nie vir Bobby mooi verduidelik dat, as ‘n mens teen ‘n afdraand skiet, jou skote hoog sal wees nie? Nou het hy miskien die belangrikste skoot van die hele geveg verbrou. Nogtans is daar geen keer aan sy manne nie, hulle weet ook dat die skoot van bo af die teken is dat die aanval moet begin en dat daar geen omdraai is nie.

Die middelste groep val eerste aan met ‘n gefluit van lippe en die alewige polisiefluitjies, skreeu, ‘n gejil en voetestamp wat die knal van vol-outomatiese vuur vergesel. Sò begeesterd is die manne dat alle rede en versigtigheid hulle ontval, terwyl hulle bloedlus hulle òòrval.

By die voertuie skiet die verdedigers terug, met ‘n vennynigheid gebore uit die besef dat, as hulle nie almal kan platskiet voor hulle die laer, bestaande uit die sewe voertuie, bereik nie, hulle almal ‘n aaklige dood sal sterf. Veral die vroue sal die ergste deurloop. Linda skiet skoot na raakskoot met die mooi .243, Lisa nou met volle selfbeheer oor die Mini Ruger; selfs die kinders, sonder huiwering.

Na ‘n kwartier lyk dit asof die aanval gestuit kan word, maar dan kom die horde uit die bome aan hulle flanke. Van die aanvallers se koeëls klap naby en teen die voertuie vas en Oudok val eenkant toe, met drie skote uit ‘n AK wat hom in die borsgedeelte tref. Klein Fanie gryp Oudok se .303 en skiet met nuwe ywer, al skop die groot geweer hom hard en seer.

Johan, Korff en Juda het gewag tot Patric homself weer in die oopte waag. Johan tref hom op sy voorkop met die R1 en Patric val sonder dat hy daarvan weet. Die koeël, wat afwaarts trek, verwoes sy frontale lob en trek deur die brein en af deur die medulla oblongat wat alle neuro-motoriese funksies oombliklik afskakel.

Daarna versit Johan sy visier na die groep aanvallers in die middel. Die geweer knal onophoudelik totdat die magasyn leeg is. Hy neem een van die ander, wat hy ook op die klip neersit, ruil vinnig en begin met die volgende twintig goedgemikte skote.

Juda, wat die naaste aan die flank op sy linkerkant lê, skiet so vinnig as wat hy die Rossi kan oorhaal, aanlê en die sneller trek. Op hierdie afstand, minder as ‘n honderd meter, is die trefkrag van die 158 grein .357 Magnum uit die 18 duim loop amper so goed as trompafstand skote uit ‘n vier-duim rewolwer. Hy is versigtig om nie te skiet na die manne met kamoefleer-baadjies nie, aangesien van hulle lyfpanster onder aanhet.

Korff skiet stadig, egalig en met sorg. Elkeen van sy skote uit die Heym 7,62X51 millimeter is dodelike treffers. Hy moet na elke vyf skote herlaai, maar dit doen hy met vinnige, geoefende vingers.

En dan, net so skielik as wat die aanval begin het, is dit verby. Daar is nie nog iemand wat ‘n paar skote aftrek nie, amper asof ‘n duidelike, maar onhoorbare bevel hulle verplig om op te staan en wapens neer te gooi. Hulle doen dit dan ook net so. Van die aanvanklike bykans honderd en tagtig manne, is daar maar skaars vyftien oor.

“Staak vuur! Staak vuur!”

Die oorlewendes draai om en hardloop weg. Nie een van die verdedigers skiet na ‘n vlugtende man nie. Dis verby.

*

“Ons kan nie hier bly nie, om drie redes: die dooies gaan begin stink, die manne wat weggehardloop het gaan vir ander vertel waar ons is, en die derde is dat ons, sielkundig gesproke, nie op die slagveld kan bly nie.”

“Nou, waar gaan ons?”

“Noord. Ons ry na die Noorde toe. Daar in die Bosveld is mense wat hierdie dinge lankal gesien kom het en voorbereid is. Dis ook ‘n klomp harde mense, waarvan die meeste al gejag het, wat onafhanklik in hulle denke is en ek glo hulle sal ons kan help.”

Die voertuie is gelap waar nodig, die brandstof aangevul en, sonder om te wag vir môre, klink die enjins se eggo in die klofie.