Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Wat maak jy, Percy?”
Die seun hou ‘n kombuismes met sy linkerhand so stewig as moontlik op die stoep se lae muurtjie vas, terwyl hy met ‘n ou vyl die ding probeer skerp maak. Dis ‘n besonder moeilike taak, want al is die mes nie baie hard nie, is dit nie veel sagter as die vyl nie. Dis ook moeilik omdat die mes ‘n ronde punt het en nie ‘n spits een nie. Dit gly ook rond op die ongelyke baksteen-oppervlak. Jack, sy pa, kan sien dat hy al lank daarmee besig is, en daar is hier en daar ‘n stukkende plek op die kind se hande. Hy antwoord nie vir Jack nie. Hy kyk net vir ‘n oomblik op en dan gaan hy aan met die werk.
“Jy wil revenge vat, nê, Boetie?”
Percy se oë word vol trane. Hulle het baie gesukkel om sy ouma se liggaam terug te kry en uiteindelik, na baie mooipraat, is hulle uiteindelik toegelaat om haar te begrawe. Daar was eintlik nie veel tyd om aan Percy se trauma aandag te gee nie. En al sou hy dit kon probeer, weet Jack hopeloos te min van berading af.
“Pa, jy weet, toe ek daar in die selle was, het ek baie gebid dat onse Heretjie my moet red en beskerm. Maar Hy het nie. So, ek is nie meer ‘n kerkmens nie. Ek sal nou myselwers help.”
“Met ‘n stomp mes?”
“Dis maar so.”
“En jy weet daardie manne het gunne?”
“Nou wat wil jy hê ek moet doen?”
Jack sit nog so ‘n ruk lank vir Percy en dophou, waar hy met die mes werk. Dis asof hy mooi moet dink wat hy moet doen en sê. Uiteindelik sug hy diep, soos iemand wat ‘n berg afskud van sy maer skouers af.
“Los daar, en dan loop jy ‘n yntjie met my saam.”
In die middel van die klein agterplaas-tuintjie staan ‘n jong boompie. Dis nie die eerste een wat Jack daar begrawe het nie en elke keer as een verdor, plant hy ‘n nuwe een. Dit is in ‘n pot begrawe, gelyk met die grond. Jack gaan kry ‘n stuk tou met twee hake aan die punte, wat hy in gaatjies aan weerskante van die pot se rand indruk.
“Toe, help my trek!”
Met Percy se hulp trek hy aan die tou en die pot begin uitlig uit die grond uit. Dis nie baie groot nie, maar die sand maak dit swaar. Hulle sit die pot met die boompie eenkant en dan, terwyl hy op sy sy gaan lê, reik Jack diep in die gat in. Hy trek ‘n stuk seil uit wat vol ghries gesmeer is.
Die twee dra dit na die huis toe, waar Jack die slaapkamerdeur agter hulle toetrek en met ‘n skuifslot grendel. Hy sit ‘n klein vloermatjie op die bed neer om die beddegoed teen die sand te beskerm en dan sny hy die toutjies wat die seil toehou. Aan die binnekant is ‘n dik rioolpyp van wit plastiek wat aan weerskante toegeskroef is.
Hy haal die deksel af en skud die inhoud uit. Dis ‘n baie ou 1904 model Winchester .22 enkelskoot geweer. Die loop is korter gesaag, maar die tromp is dunner, met skroefdraad op. Saam met die geweer het ‘n buis uitgeval, wat Jack aan die punt vasskroef. Daar is ook drie pakkies van vyftig subsoniese rondtes in. Die voor en agter visiere is op ‘n kru, maar effektiewe manier hoër gemaak om te kompenseer vir die dikker-as-die-loop knaldemper.
Met die res van die familie uit die huis, maak hulle die gangdeure oop. Vanaf die punt van die hoofslaapkamer, tot aan die ver kant van die sitkamer is dit maar tien meter. Jack maak ‘n dik plank voor ‘n sandsak staan en dan leer hy vir Percy hoe om te skiet. Dit neem veertig van die honderd en vyftig rondtes, voordat Jack tevrede is.
“Daars hy ou seuna. Gaan vat hulle aan.”
“Waar het Pa geleer om te skiet?”
Jack staan ‘n bietjie meer regop en stoot sy onderkaak effens uit: “Ek was lankal ‘n vol korporaal in die ou Suid-Afrikaanse Weermag, seun. In wat hulle eers genoem het die Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps. Later het hulle, om politieke redes, dit verander na die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps.”
“Hoekom het Pa daar geloop?”
“Jy sal later verstaan.”
*
Die massas wat verbybeweeg het, het hulle grootliks laat begaan. Goed wat aan die beweeg is, hetsy gas, water of mense in ‘n groep, sal gewoonlik die maklikste roete kies. Die woord versprei op straat waar mense maklike teikens kan vind, en waar iets liefs vermy moet word. Dis amper soos ‘n rivier wat om ‘n groot klip of rots vloei. Dit probeer weldra nie die impediment saamsleur nie, maar vorm ‘n roete daarom. Die klompie op die plaas laat die verbytrekkers ook begaan, sonder magsvertoon of om hulle besittings te adverteer.
Om te voorsien vir die toekoms het almal wat bekwaam is om ‘n trekker te bestuur, pompe reg te maak, te help met waterleiding of enigiets prakties, gehelp om die lappie koring en mielies te plant. As die reën op die regte tyd kom, sal dit natuurlik bepaal of hulle ‘n oes sal hê of nie. Die paar skape en beeste word versorg en getroetel. Die laaste varke is lankal geslag en die vleis verwerk. ‘n Onrustige rustigheid, as daar so iets kan wees, het op die plaas neergesak. Daarom was die aanval so onverwags.
Dit was nie ‘n klompie loslopers wat op hulle toegesak het nie. Omdat daar weerstand verwag is, is dit ook nie lukraak uitgevoer nie. Die aanvalsgroep bestaan uit meer as sestig manne en dis mettertyd duidelik dat sommige van hulle die een of ander opleiding gehad het.
Oudok Jacobs en Dawid het, soos gewoonlik, van voor sonop op die stoep gesit, pyp gerook en koffie gedrink.
Toe die gryserigheid van die voordag-breek ‘n effense lig oor die vlakte tussen die huis en die heining gooi, sien Oudok beweging in die gras. Dis nie ruig of hoog nie, maar yl wintersgras en bied nie veel dekking nie. Oudok kom so vinnig uit die wiegstoel, dat hy warm koffie oor sy been mors. Hy voel dit egter nie in die haastigheid nie, maar hy en Dawid storm die huis binne.
“Moeilikheid! Kom, hier is groot moeilikheid!”
Hy gryp sy ou Lee Enfield uit die geweerrak, druk ‘n rondte in die loop terwyl hy uitstorm en, as hy ‘n onduidelike maar identifiseerbare teiken sien, trek hy los. Die stoffie slaan regs en laag van die aanvaller vas. Dis asof ‘n miernes met ‘n stok gekrap word, soos die klomp opspring en aangehardloop kom. Geweerskote klink van hulle kant af op en ‘n koeël slaan naby Oudok teen die huis se voorste muur vas. Aan sy regterkant is daar nou ook knalle soos Korff, Tant Ralie en die ander huisbewoners hulle wapens gryp, en begin skiet.
“Met my God en my Mauser,” sê Dawid ernstig en begin skiet
Korff skiet met sy 7,62mm Heym so vinnig as wat hy teikens opgelyn kan kry. Die teleskoop se groot, vyftig millimeter objektiewe lens versamel die bietjie lig wat beskikbaar is en hy maak seker van sy skote.
Die aanvallers het nou met ‘n duidelike vuur-in-beweging taktiek begin, waar hulle die bietjie dekking wat die oneweredige land, die gras en die walle maak, gebruik om dekvuur te verleen terwyl die ander nader beweeg.
Dosyne skote tref die muur waaragter hulle skuil, die huis se muur en natuurlik die vensters. Glas en splinters trek oral. Ten minste een van hulle is ‘n bedrewe skut en Joop, sowat ‘n meter van Korff af, val agteroor, met ‘n skoot wat sy kop breek. ‘n Volgende koeël mis Korff net-net. Dit vat hom meer as vyftien sekondes en ‘n skoot wat die muur onder hom tref, om die skut te eien.
Die man lê op ‘n effense walletjie na Korff se regterkant. Hy het een of ander jaggeweer by hom en hy weet hoe om die ding te gebruik. Korff sak af agter die stoepmuur en herlaai sy magasyn. Die geweer vat maar vyf rondtes en dis vinniger klaar as wat ‘n mens in so ‘n situasie besef.
Hy beweeg na waar Joop geval het en kom dan regop, vat dooie rus oor die stoepmuur en soek die man in sy teleskoop. Die ou het intussen ook effens van posisie verander en hy skiet voor Korff hom mooi in die kruishare het. Dis net-net te hoog en Korff voel hoe die koeël verbyvlieg en ‘n stuk sandsteen uit die muur ruk. Dan, vir ‘n vlietende oomblik, voordat die skut kan wegtrek, word die donker van sy kop in vier gedeel en Korff trek die sneller. Dis te ver om te kan sien of hy getref het, maar na ‘n tyd kom hy nie weer te voorskyn nie en Korff moet aanvaar dat dit ‘n raakskoot was.
Na wat ‘n ewigheid voel, val die aanvallers terug. Daar is nie baie van hulle dood nie en Korff is erg onrustig oor die beweging. Niemand gee so gou tou op nie, as daar nie heelwat gesneuwel het nie. Op die ingewing van die oomblik hardloop hy na die regterkant van die huis en sien, soos hy verwag het, dat ‘n aantal manne hulle huis van die lae koppie, so skuins agter die huis, benader. Die situasie is nou benard. Die manne aan die voorkant het op bevel in twee groepe verdeel, wat in flanke nou om en nader aan die huis beweeg.
“Kom! Ons kan nie meer hier bly nie!”
Die naaste van die aanvallers is nie meer as honderd en vyftig meter weg nie en die aan die agterkant van die huis is die ander ongeveer net so ver. Korff spring op, spring oor die lae stoepmuur en land net as een van die voorste manne regop staan om ‘n skoot te trek. Korff skiet hom amper in die hardloop. Die res van die huismense volg hom na die waenhuis toe. Riekert, die oudste van die seuns, hardloop by die waenhuis se sydeur in en maak die groot skuifdeur oop. Don help hom.
“Waar is Lisa?” roep Tant Ralie.
Hulle is reeds in die twee voertuie as Korff besef hy sien vir Lisa nêrens nie. Hy gooi sy geweer in die Nissan, pluk die .44 uit en hardloop by die skuifdeur uit, terug na die huis toe. Twee manne verskyn naby en hy trek haastig drie skote in hulle rigting.
Sonder om te kyk wat die uitwerking is, hardloop hy verder. By die stoep sien hy vir Lisa in ‘n bondeltjie getrek, opgekrul van angs, in die hoek tussen die voorste en kantmuur van die sroep lê.
Sonder om te huiwer, hardloop hy na haar toe, pluk haar effens orent aan haar arm en gooi haar soos ‘n sak mielies oor sy linker skouer. Daar is nie nou tyd om te pleit of redeneer nie. Met die pistool in sy ander hand, hardloop hy terug waenhuis toe.
Hy trek weer ‘n paar skote in die rigting van die aanvallers, slaan een met die leë, swaar wapen teen die kant van die kop en dan is hy by die Nissan. Hy gooi Lisa sonder seremonie of geduld in die voertuig in, spring in die bestuurdersitplek en draai die sleutel.
Die groot diesel vat dadelik en dan jaag hy agter die Saracen aan, wat voor die Nissan geparkeer is, by die deur uit. Hy is bly hy is nie eerste uit nie, want ‘n hele paar geniepsige “klange” skram van die pantserplaat af. ‘n Man wat nie vinnig genoeg uit die pad spring nie, land voor die Saracen se groot linkerwiele en verdwyn onder die kar.