Volgens alle aanduidings, is daar ongeveer 400 generaals in die weermag. Van hulle is 97 aan die skerpkant, en die res in ‘n nie-gevegsrol. In die lugmag met sy 11 eskaders is 27 generaals en in die vloot 17 admiraals vir 24 skepe. Die verhouding militêre generaals teenoor ander range in Suid-Afrika is 1:185. In Amerika is dit 1:1600 en in Brittanje 1:1300.
In die polisie is dit nog meer skeefgestrek – as ons die brigadiers as sogenaamde generalestaf daarby tel is dit 1:230.
Dit is waarom ons in Suid-Afrika met ‘n wanfunksionele weermag en polisie sit – omdat baie MK-Kaders in hoë poste aangestel moes word.
*
Robyn onthou dat sy iewers ‘n resep gehad het vir tuisgebroude napalm, of iets soortgelyks. Dit was eenvoudig, maar sy het destyds nie opgelet toe haar man daarvan gepraat het nie. Pleks dat sy geluister het na al sy raad en voorspellings! Met wie sou hy ook daaroor gepraat het? Het hy dit miskien iewers neergeskryf?
Na ‘n urelange soektog kry sy niks onder sy aantekeninge of instruksies nie. Hoe kon hy iets so belangrik vergeet het? Na ‘n paar ure gee sy moed op en tog knaag dit hier in haar binneste. Sy onthou dat hy gesê het jy moet petrol met iets anders en miskien nog iets meng, sodat dit nie net afloop nie. Petrol self brand blykbaar nie – dis die gasse wat dit afgee wat brand. Miskien seep? Sy neem een van die blokke seep wat Wanda vir haar gegee het, breek ‘n blokkie daarvan af en meng dit met ‘n bietjie petrol. Dit brand, maar gaan maklik dood. Dis nie die regte resep nie. Sy wil ook nie meer van die kosbare petrol mors nie en besluit dis nie die regte roete om te loop nie.
Middagete kom en onderbreek haar eksperimente. Na ete word die diere versorg, die skottegoed gewas en teen drie-uur gaan sit sy op haar bed-stoel. Sy sluimer diep in en skrik skielik wakker. Polistireen! Hy het polistireen genoem, maar weereens is sy onseker wat om daarmee te doen.
Daar is nog genoeg daglig om te eksperimenteer met die goed. Is dit net die petrol en die polistireen, of is daar nog iets anders? Sy kan werklik nie onthou nie. En presies wat maak ‘n mens daarmee? Sy kry ‘n halwe blikkie vol petrol en gooi ‘n sukkie van die wit krakerige goed daarin.
Dit begin dadelik oplos en as sy meer en meer ingooi, word dit ‘n dik pasta en later die struktuur van gekookte kondensmelk, maar effens ligter in kleur. Versigtig, want sy weet nie werklik hoe stabiel die spul is nie, skep sy ‘n lepelvol uit, sit dit op die braaiplek, met die res van die mengsel ver genoeg weg, sodat dit nie per ongeluk aan die brand kan raak met die lepelvol nie. As dit sou ontplof, nog verder.
Uiteindelik, na haar moed bymekaar geskraap is, sit sy ‘n vuurhoutjie aan die punt van die braaivleistang, steek dit met ‘n ander een aan en hou dit naby die toffie-agtige mengesel – of is dit brousel? Die ding vat vlam, steker as wat sy verwag het, maar nie met ‘n slag nie.
*
Cas Blake het baie seer gekry. Die kabel het hom van die fiets afgeruk, twee van sy ribbes gebreek, en sou deur sy leerbaadjie sny, as dit nie was nie vir die lang mes en die magasyne van die pistool wat skuins, soos ‘n bandolier oor sy bors hang.
Soos dit is, is twee van die magasyne uitgepluk en val agter hom op die teerpad. Die fiets ry nog ‘n hele paar meter aan, voordat die voorwiel heen en weer begin swenk en dit op die gras en grond van die middelmannetjie neerval. Hy dra gelukkig ‘n baie duur valhelm, want met die slag skuur sy kop en lyf etlike meters oor die pad, voordat hy tot stilstand kom.
Sy wind is uit, hy is uiters geskok, maar weet instintief dat hy dadelik moet opstaan, anders sal hy nooit weer daglig sien nie. Hy draai betyds om, sodat hy weerstand kan bied teen die eerste van sy aanvallers, wat nou aangestorm kom.
Hy vergeet om die knippie wat die wapen in die holster hou, los te maak en die eerste man is minder as ‘n meter van hom af as hy die wapen uiteindelik getrek kan kry en ‘n skoot skiet. Hy probeer ‘n tweede een, maar die haan val hulpeloos op die agterkant van die sluitstuk. Met die val het die magasyn losgekom en uitgeval. Cas soek inderhaas na ‘n nuwe een in sy bandolier, maar hierdie twee is deur die kabel uitgeruk. Die valhelm beperk sy sig en hy moet sy kop draai om te sien waar een van die magasyne lê. Sodra hy een sien, en afbuk om daarna te gryp, tref ‘n nuwe aanvaller of twee hom en hy val agteroor.
Die handskoene maak dat sy vingers lomp voel, maar hy kry uiteindelik een van die magasyne in die hande, en ten spyte van die houe wat op sy lyf reën, kan hy dit in die greep van die pistool indruk en met moeite die sluitstuk terugpluk. Hy druk die loop van die pistool tussen hom en die man bo-op hom, trek die skoot af en voel hoe die ou se greep op hom verslap.
Hy wikkel paniekerig weg van die liggaam, soek ‘n nuwe teiken en skiet weer, maar weereens weier die wapen. Daar was nie genoeg spasie tussen hom en die tweede aanvaller nie en die sluitstuk kon nie ver genoeg beweeg nie. Hy pluk dit vir ‘n derde maal agtertoe en die leë doppie spring uit, ‘n volgende nege millimeter rondte gelaai en dan skiet hy wild na alles rondom hom.
Daar is baie mense, maar hy dryf hulle ver genoeg weg om tyd te kry, sodat hy die ander magasyne kan opraap. Hy beweeg agteruit na die fiets toe, skiet weer twee skote en tel die swaar BMW op, druk die aansitterknoppie en tot sy verligting vat die ding dadelik.
In plaas van om te draai en verder te ry, jaag hy tussen die klomp deur, skop in die verbygaan na hulle en as hy sowat vyftig meter van hulle is, draai hy behendig om, hou die wapen in sy linkerhand en jaag weer op hulle af, al skietende na alles wat ‘n teiken bied.
Hulle maak onwillekeurig vir hom pad en hy jaag weer tussen hulle deur, hierdie maal in sy oorspronklike rigting. Sy asem kom vlak, nie net van die inspanning nie, maar ook is dit baie seer as hy enigsins asemhaal, maak nie saak of dit diep of vlak is nie.
*
Hermaans is moeg, koud en seer tot in sy siel. Die somerhitte het skielik plek gemaak vir ‘n vroeë herfs en dis altyd koeler in die berg as daar onder in die dorp. Soos enige voortvlugtige, is hy totaal onseker van sy situasie. Die twee soldate wat hy geskiet het – hoe lank terug is dit nou al? – se dood spook ook by hom. Hoe moet hy weet hoeveel mense is al op sy spoor?
Hy was nog altyd wetsgetrou. Hy het belasting betaal, sy kinders geleer om die reg te respekteer, kerk toe te gaan, behoorlik te lewe en vir ander om te gee. Dit sou nooit in sy wildste drome kon gebeur dat hy homself sou sien as iemand wat in die berge rondhardloop, koud te slaap en voortdurend op die uitkyk te wees vir iemand wat dalk net op sy spoor kan wees nie.