BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN (12)

Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)

“Jy weet, die eerste keer dat ek jou kar gesien het, het ek gedink dis vreemd dat die ding so ver gekom het. Ek het altyd gehoor die goed is onbetroubaar, lek olie, word warm as jy oor sestig ry, en jy is eintlik nie veronderstel om in een te klim sonder die selnommer van ‘n goeie insleepdiens nie en daarby moet jy ook nie verder ry as waar jy jou huis se dak kan sien nie, of so nie moet jy ‘n goeie paar stapskoene en ‘n bottel water byderhand hê.”

“En nou?”

“Nou wil ek ook een hê, maar een presies soos hierdie, nie die goed wat uit die fabriek kom nie.”

“So, jy dink nie meer ons gaan jou skoeter moet gebruik nie?”

“Na alle waarskynlikheid nie. Ek hoop in elk geval nie so nie.”

Hulle het vanoggend weer begin ry, nadat die reën genoeg bedaar het. Dit kom nog sterk af, maar dis asof die woede daaruit gevat is.

Die dak van die Land Rover lek nog, maar nie so baie nie en die enkele windskermveër beweeg weer genoeg dat Calvyn kan sien waar hulle gaan. Die plek is vir hom totaal onbekend en aangesien hulle nou al vir dae nie die son of die sterre kan sien nie, is hy nie so seker oor die rigting waarin hulle ry nie.

Die grondpad loop ook nie die heeltyd in dieselfde rigting nie, maar swaai en draai, soos ‘n bosveldpad maar maak. Hy hou in die middel van die smal pad, sodat, as hulle gly, hulle nie in die diep modder langs die kant ingly en vasval nie. Die kanse dat ‘n ander voertuig van voor af sal kom, is uiters skaars – geen regdenkende mens sal dit op die pad waag in hierdie weer nie en dit laat hom wonder of hy en Cas compos mentis is

“Kom ons hou onder daardie knoppiesdoring stil, dat ons diesel uit die jerriekanne kan tap.”

Cas loer oor Calvyn se skouer en sien die naaldjie is net so onder driekwart.

“Dink jy dis nodig? Ons het nog baie in. Is daar fout met die meter, of het ons werklik so min gebruik?”

“Ek weet nie en dis waarom ek dink ons moet maar ingooi. As ons sonder diesel gaan staan, sal ons sukkel om die dieselpomp gebloei te kry. Glo my, ek moes dit die eerste keer doen.”

Terwyl Cas ‘n reënjas oor hulle hou, sodat daar nie dalk water in die tenk kom nie, gooi Calvyn een kan leeg in die tenk en ‘n tweede een net meer as driekwart.

“Kan hy so lig wees op diesel?”

“Wel, dis nou weer vol. Ons het nie so ver gery nie, dit het net so lank gevat.”

*

Sy het hom lank dopgehou deur die Mauser se teleskoop. Eers net ‘n stippeltjie hoog teen die kruin van die berg en ver na haar linkerkant. Stadigaan word die stippeltjie groter en Robyn, wat nou niemand behalwe die bure vertrou nie, druk ‘n rondte in die geweer se loop, vat dooierus oor die heiningmuur en wag dat hy binne skootafstand kom.

Sy draai die teleskoop se vergroting van maksimum en probeer die afstand bepaal. Dis baie ver en sy vertrou nog nie haar skietvermoë so baie om die skoot te waag totdat hy baie nader is nie. Sy kan sien hoe hy teen die gladde afdraand loop, gly en soms amper struikel en is onwillekeurig verbaas oor sy klimvermoë.

Die reën het nou heeltemal opgehou, maar die wolke hang nog swaar en hier en daar is ‘n sweempie wolke wat oor die kruin van die berg val. Die kolletjie word ‘n man en uiteindelik kan sy aan sy houding en manier sien dis nie iemand wat deel van ‘n groep is nie. Wat sal ‘n enkele man op so ‘n tyd in die berg maak?

*

Hoe nader hy aan die dorp kom, hoe versigtiger is Hermaans. Hy kan die hele plek van hier af sien, al is die gedeelte waar hy self gebly het, nou aan sy linkerkant, nog steeds in ‘n effense mistigheid gehul. Hy weet nie werklik waarom hy juis nou weer afkom dorp toe nie, maar iets sê vir hom dat hy nie meer so aktief gejag sal word nie.

Aan sy linkerkant is die oostelike kant van die dorp en hy mik daarheen, miskien om te kan hoor of iemand meer inligting het oor wie gesoek word en wie nie. Sodra hy reg langs die gedeelte is wat na benede gestort het, gaan sit hy, haal die lang geweer van sy skouers af en kyk aandagtig deur die teleskoop na die gedeeltes wat duiselik sigbaar is. Hy het haar amper misgekyk, aangesien net haar kop, ‘n gedeelte van haar skouers en nog iets sigbaar is – en daardie iets is ‘n geweer, glo hy en dis reg in sy rigting gemik.

Iets anders trek sy aandag. Hy sal seker eendag moet bely dat dit nie was dat hy so paraat was nie, maar skielik sien hy die mens se geweer van teiken verwissel, van hom af na iets aan sy regterkant en ver na die onderkant. Hy kyk ook daarheen, tel dan weereens die geweer op en kyk deur die teleskoop.

*

Sy het in die stilte die klap van stewels gehoor, nog voordat sy hulle gesien het. Na haar linkerkant is iets aan die kom. Deur die teleskoop kan sy die vyftigtal manne sien aankom. Hulle is almal geklee in weermag-kamoefleerdrag, en minstens helfte van hulle het ‘n rooi-perskleurige beret op. Elkeen is toegerus met een of ander militêre geweer, maar sy kan nie uitmaak wat dit is nie en in elk geval weet sy nie genoeg van wapentuig om dit te kan identifiseer nie.

Robyn slaak ‘n sug van verligting; sy is seker dit is die regering wat begin om beheer oor die situasie te neem, want wie anders sal so georganiseerd aankom? Die besef laat haar amper weemoedig, soos wanneer baie soldate tuiskom na ‘n oorlog. En tog laat iets haar huiwer om op te staan en haar posisie prys te gee.

Skielik klap ‘n skoot, en nog een, gevolg deur ‘n sarsie vol-outomatiese geweervuur. Robyn besef tot haar innige skok dis gemik na die bure se huis, waar Wanda, Jaap, die twee seuns en die nuwe aankomelinge bly.

Die weermaglede kom in ‘n formasie aan, wat selfs vir haar, as leek, vreemd lyk. Hulle bly naby mekaar, maar stamp voete soos mynwerkers wat staak of toyi-toyi, met gewere wat in alle rigtings gewys word. Nog vreemder is dat nie net diegene wat na die huis mik, skote afvuur nie, maar ook die ander, asof daar oral vyande aanwesig is.

Robyn is baie seker hulle het haar nog nie gesien nie, maar van die koeëls klap teen die grond naby haar, teen die heiningmuur en selfs agter haar, teen die avokadoboom se stam vas. Haar eerste reaksie is om plat te val agter die muur, maar net soos haar verligting van minute gelede haar gevul het, so stoot ‘n nuwe woede in haar op.

Die man aan die voorkant van die klomp vermoed sy is die leier, of bevelvoerder, of so iets. Sy weerstaan die impuls om plat te val of te vlug, hou die kruishare op sy bors en trek die sneller. Sy haal die slot oor nog voordat die geweer weer op teiken is, en sy sien aan die onderkant van die teleskoop dat die man bly lê. Die ander gaan vir ‘n paar treë aan op hulle soort marsjeerdery en dan val hulle plat. Nie een is werklik seker waar die skoot vandaan gekom het nie, aangesien hulle niks kon hoor bokant hulle eie volgehoue vuur nie.

*

Instinktief koes Hermaans toe die eerste skote begin klap en val ook plat agter ‘n groterige klip of jong rots in, afhangende van hoe ‘n mens dit sou beskou. Hy stoot die lang .338 skuins verby die rots, rus die kruishare op een van die agterste manne, haal diep asem en druk sy hand toe. Die geweer skop nogal, veral as jy agter hom lê, maar Hermaans is nie daarvan bewus nie. Al is die afstand tussen hom en die groep bykans vyf honderd meter, klap dit nie net die een op wie hy gemik het om nie, maar ook die een voor hom, soos die swaar, vinnig-bewegende koeël dwarsdeur die man vlieg.

Bewus daarvan dat die skote van ver agter en van voor kom, met Jaap en sy seuns wat nou ook oor die muur begin skiet, hardloop die groep in die enigste oop rigting, naamlik die modder wat ver oor die parkie gestoot het.

Alhoewel dit stewig lyk, is dit nog baie pap, aangesien die son nog nie lank genoeg uit is om die hard te bak nie. Soos ‘n bus wat vasval, kan die groep nie verder as drie meter in die modder inbeweeg nie en dan is die gang stadig en moeisaam.

Die skote wat uit drie rigtings op hulle gevuur word, en veral die aanhoudende geskiet vanuit Jaap-hulle se kant, laat hulle val soos riete in ‘n sterk wind. Die oorblywende vyf en dertig manne hardloop terug in die rigting vanwaar hulle gekom het, maar as Hermaans nog een platskiet, hardloop hulle tussen die oorblywende huise in, waar hulle skuiling vind.

Hiervandaan sal hulle die inwoners van die twee huise nooit met rus laat nie. Eerstens durf hulle nie en tweedens het hulle kos nodig. Hulle steur hulle nie veel aan hulle dooie en miskien gewonde makkers nie – daar is nog baie waar hulle vandaan kom, maar nie kos nie en hulle sal nog kaders en comrades opoffer vir die geleentheid om weer hul mae weer vol te kry.

*

“Waar dink jy is ons nou?”

‘n Mens kan jou baie maklik misgis wanneer jy met ‘n roete sukkel. Sommiges het al vir ‘n dag en ‘n half in ‘n berg, deur dik sand of modder gery en gedink hulle het baie kilometer gevorder, net om uit te vind dis minder as ‘n kwart van die afstand.

‘n Voertuig sal in so ‘n geval ook baie meer brandstof gebruik, omdat die wiele swaarder draai, momentum nie opgebou kan word nie, die voertuig lang ente in lae versnellings en laestrek ry. Indien die roete baie draaie en kronkels maak, kan ‘n mens selfs koers verloor, veral as dit swaar bewolk is, soos nou die geval is met Calvyn en Cas.

“Ek het net so ‘n vae idee. Ek dink as ons reguit, of so reguit moontlik ry, behoort ons al verby Pietersburg te wees, maar ‘n hele ent aan die Westekant daarvan.”

“Het ons al ‘n idee waarheen ons op pad is?”

“Ja, vorentoe.”

“Ek bedoel…”

“Ja, Cas, ek weet wat jy bedoel. Ek weet nie werklik wat ons bestemming gaan wees nie, maar dis beslis nie hier nie. Hier is niks, niemand en geen hoop vir kos of ‘n behoorlike slaapplek nie. Ek weet ook nie of ons selfs in die regte rigting ry nie, maar ons kan nie hier bly nie, waar ‘hier’ ookal mag wees.”

Cas bly ‘n hele ruk stil en al wat hy hoor is die effense geruis van die finale reëndruppels uit die storm teen die ruit, die gesuis van die groot wiele en die gerusstellende gebrom van die kleinerige dieselenjin.

“Ons Boeremense het nog altyd na die berge gemik, is dit nie? Ek bedoel hulle het eers welkom gevoel in die Drakensberge, by die Maluti’s, die Waterberg en miskien die Soutpansberge.”

*

John Donne het gesê: “No man is an island”, waarmee hy bedoel dat elke mens in ‘n interaksie met ander moet en sal leef. Net so is geen moderne land of regering ‘n eiland op sy eie nie. Die hele wêreld leef in ‘n baie komplekse interaksie met mekaar, wat betref handel, wedersydse respek en aanvaarding, reëls wat in internasionale howe bespreek, gepromulgeer en uitgevoer word, diplomatieke bande wat gesmee en gehandhaaf moet word en natuurlik blootstelling aan mekaar, deur die media en al meer toenemend deur amateur-media, soos selfoon-video’s en boodskappe. Niks bly meer ‘n geheim nie, al probeer moonthede ookal hoe hard om dit te doen.

Alhoewel daar vanaf die ontstaan van nasies en volkere vyande was en daarmee gepaardgaande ook bondgenootskappe gesmee is, was dit aanvanklik redelik lukraak en vandag se bondgenoot kan net sowel môre jou wyand wees.

Na die Eerste Wêreldoorlog is ‘n bond gestig om ‘n tweede een te voorkom, te wete die “League of Nations”, maar het weens verskeie onvoorsiene interne probleme klaaglik misluk en die sprekendste uitwerking daarvan was uiteraard die Tweede Wêreldoorlog.

Gedurende en na die Koue Oorlog, wat kort na die Koreaanse oorlog aan die begin van die jare vyftig begin het, is die grootste bondgenootskap gestig, naamlik NAVO (Engels: NATO) – die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie en as uitvloeisel van WO2, die Verenigde Nasies, ‘n organisasie wat wêreldvrede as oogmerk het. Vreemd genoeg, was daar vanaf die stigting daarvan tot vandag nog, nie een jaar wat verby gegaan het, waarin daar nie een of ander gewapende konflik was nie.

Internasionale betrekkinge is afhanklik van ‘n baie fyn balanseertoertjie, waarin regerings en bondgenootskappe dikwels kompromieë moet aangaan, waar dit ‘n neem-en-vat-kundigheid vereis. Baie state en regerings maak dan ook staat op mekaar om vrede te handhaaf en dikwels is daar morele en etiese skuld wat betaal moet word, soos die geld wat die Suid-Afrikaanse regering op verskeie maniere aan Kuba skenk, vir laasgenoemde se hulp gedurende die Grensoorlog. Hierdie skenkings word toegespin in dekmantels van sogenaamde dokters wat hier kom werk, asook tegnici wat weermagvoertuie kom herstel, studente wat daarheen gaan en natuurlik die R50 miljoen wat bloot net gegee is en die regering teen walgooi met swakgeklede ontkennings. Die “heelgemaakte” voertuie is onlangs in ‘n “veldbrand” by Wallmanstal vernietig.

Die grootste diplomatieke flater egter, was die manier waarop die president van Suid-Afrika en die ANC vir Rusland kant gekies het in die oorlog in die Oekraïne. Natuurlik kan ‘n mens dit verstaan, omdat die regering in wese kommunisties ingestel is, al erken hulle dit nie, want dis ‘n driepootpot wat uit die ANC, die vakunie Cosatu en die SAKP die drie pote uitmaak, en die land as kookpot bo-op gebalanseer word. Sou een van die drie bene padgee, val die pot om en gaan die land en regering tot niet. Daarom moes die president natuurlik sy guns aan Rusland toesê, want hulle beskou laasgenoemde steeds as die bakermat van kommunisme, al het Rusland reeds daarvan wegbeweeg.

“The enemy of my enemy is my friend”, lui die gesegde, maar dit kan ‘n onkante uitwerking hê, deurdat “the friend of my enemy is also my enemy” ook waar is. Die vriend van Rusland, naamlik die Suid-Afrikaanse regering, het van die Weste ‘n vyand gemaak, al sou die uitwerking eers later duidelik word.

Toe die land in anargie en chaos verval, het Rusland en China hulle eie skade moes beperk en kon nie aandag gee aan ‘n klein plekkie aan die suidpunt van Afrika nie. Die Weste het hulle ook onttrek, soos dit logies sou wees en het nie ingemeng of hulp gestuur nie. Suid-Afrika het ‘n vyand van die Weste geword.

*

Robyn het nooit geweet sy kan so moeg word nie. Die probleem met weghardloop en wegkruip vir ’n vyand wat sterker is, of in die meerderheid, is dat ‘n mens baie maal kan ontglip en dit maak nie ‘n groot verandering aan die situasie nie, maar ‘n leeu hoef net een maal ‘n bok te gryp, dan is dit verby. Die vyand hoef Robyn en die bure net één maal te verras, dan is die geveg oor. Daarteenoor kan hulle die aanslae baie maal afweer en die vyand kan telkens terugtrek na hulle skuilplek, hulle wonde lek, hergroepeer en nuwe lede kry.

Robyn het vyf buitedeure om dop te hou en hulle is nie baie naby aan mekaar nie. Dan is daar ook nog die klomp vensters. Sy kan die voorkant bewaak en van die sydeure of van agter aangeval word. Die honde help natuurlik, maar hulle kan net waarsku en niks verder doen nie.

Telkens as sy gaan sit, wonder sy of sy nie van ‘n ander kant bekruip word nie, staan dan op en gaan maak seker alles is veilig. Sy stel geraasstrikke van blikkies en leë kastrolle by die deure en vensters op, met die hoop dat hulle haar sal kan waarsku, maar dis net ‘n effense troos.

Sy het netnou vir ‘n kwartier ingesluimer, toe Bella begin grom en by die sydeur gaan staan en krap. Robyn besef die gevaar van uitgaan om te kan kyk en wag dan met oorgehaalde haelgeweer by die deur, totdat Bella wegdraf, voor die gemakstoel op ‘n kombers gaan lê en aan die slaap raak. Robyn is te gespanne om weer in te sluimer, maar kom agter haar oë is moeg en haar liggaam pleit om rus. Sy wens hulle, sy en die bure, was net genoeg mense om self uit te gaan en die spul te gaan uitrook. Dan is die knuppel in die ander hand. Met dié gedagte raak sy uiteindelik, net voor dagbreek aan die slaap.

*

Hermaans voel vir die eerste keer vandat hy uit die dorp gevlug het, in beheer. Dis onwaarskynlik dat enigeen van die spul daaronder hom kan bekruip; hy het hoë grond, het genoeg ammunisie, drie betroubare vuurwapens en hy voel hy is nou gesout genoeg om so lank uit te hou as wat nodig is. Hy is honger, maar kan sy gordel nog ‘n bietjie stywer trek, het darem baie water tot sy beskikking en waar hy nou is, kan hy bly. Hy sal egter dankbaar wees as dit nie weer kom reën nie.

Laatmiddag sien hy ‘n beweging by een van die huise aan sy linkerkant, net anderkant die stopstraat en ‘n entjie teen die berg op. Die feit dat baie van die luukse huise saam met die modderstorting padgegee het, maak dat hy ‘n oop gesigsveld het tot by die eerste huise anderkant die teerstraat.

Hy is aanvanklik nie seker wat hy sien nie, maar as hy die fokus effens verstel en die vergroting tot op maksimum, sien hy dis een of ander lid met kamoefleeruniform aan, wat stadig by die kanthekkie van een van die huise uitsluip. Die man is baie goed daarmee en Hermaans is stilweg beïndruk. Dis ook duidelik dat die ou al sy aandag aan die twee huise oorkant gee en nie enigsins vermoed dat die skut in die berg hom kan sien nie.

Daar is inderdaad baie skuiling, aangesien die gras lanklaas gesny is en die bossies, onkruid en struike gee vir hom genoeg dekking. As dit nie was dat die beweging, al is dit stadig en bedag, sy aandag getrek het nie, sou dit onopgemerk wees. Nou hou Hermaans die man dop, maar hy is nie seker van sy skoot nie. Voordat hy kan besluit om te skiet, verdwyn die man skuins teen ‘n heiningmuur wat nog bly staan het. Waar kan hy op pad heen wees? Daar is net een verklaring en dit is nie om te ontvlug nie, maar om te gaan moor.

Hermaans tel die man in sy teleskopiese visier op, net voordat hy die smal oprit na een van die bestaande ruïnes moet oorsteek. Voordat hy egter die sneller kan trek, is die man vinnig oor en weg uit sy gesigveld teen die gras op die sypaadjie. Hermaans is gefrustreerd en soek deur die teleskoop waar die man weereens moet verskyn. Die spasietjie is egter klein en hy sal net een skoot inkry.