BROKKIES UIT DIE BOEK – MAX (2)

Cornelle Maritz ervaar ‘n mengelmoes van gedagtes in haar normaalweg presiesgeordene gedagtegang. Soos enige ingenieur ‘n proses stap vir stap uitredeneer en verwerk, in werking stel en in die verloop daarvan die probleme wat opduik, die hoof bied, so is sy uiters prosesmatig in haar denke en optrede. Maar nie vandag nie. Sy weet dat vandag anders sal wees.

Waar sy altyd in totale beheer was, met die een na die ander eksperiment wat resultate opgelewer het; soms soos sy verwag en gehoop het, maar soms negatief, het sy selfs dan geweet hoe die ding nié gaan werk nie. Inderdaad het sy gelees Thomas Edison het 10 000 eksperimente gemaak, waarvan hy telkens gesê het hy weet wat nie gaan slaag nie, tot hy uiteindelik die wolfram in ‘n vakuum geplaas het en siedaar!

Sy drink stadig aan haar melkskommel, haar mooi mond getuit, soos sy aan die strooitjie suig. Die melkskommel is lekker dik, romerig, soet en net reg gegeur. Gewoonlik sou sy eerder ‘n cappucino of latté verkies, maar na soveel laat aande, soms deurnagte, waarin sy ‘n oormaat swart, sterk koffie gedrink het, rebelleer haar liggaam tans daarteen.

Sy hoop sy het nog genoeg geld in haar bankrekening om vir die geroosterde kaas en hambroodjie, nou nog net half-geëet, en die lemmetjiegeur melkskommel te betaal en ‘n bekommerde frons verskyn vir ‘n oomblik op haar gesig.

Cornelle het geen grimmering aan nie en haar lang, donker hare, wat teen haar spierwit gelaatskleur afsteek, is skoongewas, maar nie salonversorg nie. Hier en daar, ten spyte van haar jonkheid, slaan grys strepe teen haar slape uit.

Sy is lank en skraal, miskien té skraal, maar dis die gevolg van maande se harde werk, vandat sy bedank het by haar vorige werkgewer, Hi-Core Industries, en sy het net genoeg geëet om aan die lewe te bly. Soms in die vroegoggend ‘n bord halfgekookte hawermoutpap – sy het nie tyd vir lank kook nie - ander kere net ‘n geroosterde broodjie. Die meeste middagetes sou sy oorslaan en as dit nie was vir die besorgde oom langsaan nie, wat van sy vrou se gekookte maaltye met haar deel nie, sou sy saans ook met die minimum kon regkom.

Nou is haar projek voltooi en sy kan asem skep. As John tog net met goeie nuus terugkom. Sy het nege dae laas van hom gehoor…

Hy het die teiken vinnig en professioneel geëien, die dungeslypte Uzi-bajonet, waarvan die punt letterlik naaldskerp gevyl is se hef onder sy duur, maar nie uitspattige baadjie nie, in die pasgemaakte skouerskede, sodat die hef na onder hang, behoorlik vasgevat. Hy glimlag vir die ander mense wat, soos Cornelle, op die stoep van die halfintieme restaurant sit, maar die meeste van hulle ignoreer hom, soos mense maar maak in die stad.

Malcolm loop tot agter Cornelle en lig haar hare amper liefdevol op met sy linkerhand, soos ‘n geliefde met sy meisie sou maak as sy vir hom sou wag, terwyl hy die dolk geluidloos uit die skede trek. Met die agterkant van sy linkerhand druk hy haar kop vorentoe, sò vinnig, dat sy kwalik ‘n uitroep van skok kan gee. Met ‘n geoefende beweging bring hy die dolk op om haar in die sagte kol net onder haar skedel te steek, waar die bajonet die medulla oblongata sal binnedring.

Uit ervaring weet hy sy vorentoe sal sak en haar hare sal die klein bietjie bloed lank genoeg verberg, totdat hy vinnig en ewe geoefend sal verdwyn. Die mense sal later van hom onthou, dat hy vriendelik, beleefd en mooi aangetrek was, maar min mense sal hom werklik kan beskryf, of hy lank of kort is, ‘n baard of snor het, en sommige sal selfs sy ras verkeerd hê.

Voordat die polisie ‘n behoorlike verklaring van die spul sal kan afneem, sal hy reeds op sy vlug wees, terug Europa toe.

Nog voordat Malcolm Heaney die beweging kan voltooi, val die dolk uit sy hand en hy kyk vir ‘n vlietende oomblik geskok na waar dit op die grond lê. Hy verstaan nie wat gebeur het nie en voordat die besef tot hom kan deurdring dat hy sterwend is, syg hy soos ‘n teddiebeer wat uit ‘n kind se greep val, op die grond neer.

Cornelle voel hoe die greep aan haar hare verslap en in blote reaksie, soos normaal sou wees by alle mense, vlieg sy op om te sien wie so ongevraagd aan haar vat. Sy kan die stoel net so ‘n ent agtertoe skuif voordat dit teen iets vasdruk, maar stamp die tafeltjie vorentoe, sò hard dat die glas omval en die groen, lemmetjiegeur melkskommel se reste oor die tafel loop.

Sodra sy regop is, kyk sy af na die man wat op die vloer lê, met ‘n gat aan sy regterslaap, waaruit ‘n straal bloed loop, maar waar aan die linkerkant ‘n pienkerige massa bloederigheid lê, wat sy onmiddellik en instinktief as mensharsings eien. Twee mense, ‘n man en vrou aan haar linkerkant, het intussen opgevlieg en die twee spring rats oor die lae staalheininkie om weg te kom. ‘n Vrou gaan aan die gil.

‘n Sterk hand gryp haar aan die regter bo-arm.

“Cornelle, as jy wil bly leef, kom saam. My naam is Max en ek het nie tyd om te redekawel nie!”

Daar is iets sterk en outoritêr aan die man se greep en stem, wat dringend, maar nie hard is nie. Sy kyk vir ‘n oomblik na sy sterk gesig en die Walther P38 (sy besef net dis ‘n handwapen) met die dik, swart knaldemper aan die voorkant, weer na die potensiële sluipmoordenaar by haar voete en gaan dan gewillig saam met hom. Ten minste vir nou. Later sal sy begin vrae vra.

Die deurmekaar gedagtes van netnou is nou nog meer deurmekaar.