BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (13)

Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)

“Ons kan ‘n dag of wat hier bly, naby die baken, as jy wil. Dis gevaarlik, want ‘n mens is veiliger as jy aan die beweeg bly, maar ek kan ook doen met ‘n bietjie rus vir ‘n tydjie.”

Cornelle kyk verbaas na Max. Sy het nie gedink hy kan ooit moeg word nie. Tog is hy ook maar net mens en mense is feilbaar, psigies, sowel as fisies. Nie dat hy enige simptome getoon het van geestelike uitputting nie, nie woede teenoor haar, irritasie, frustrasie of iets dergliks nie.

Hulle het die afgelope tyd in nie-konsentriese sirkels geloop om naby die baken te bly, maar nie op een plek nie. Soms sou hulle in ‘n soort ovaal noord en suid loop, ander kere meer wes, maar nooit op hulle eie spore nie.

“Ek sal baie bly wees. Ek is regtig baie moeg en my voete is seer.”

*

Danny Boyd wonder of hy ‘n gat in die onderkant van die tenker kan skiet om ‘n plek te kry waaruit hy petrol kan tap. Sal dit dalk ontplof, of wat? Hy het reeds een van die luike aan die bokant afgehaal. Dit was in elk geval los en hy weet dis omdat die “locals” reeds die meer beskibare petrol uitgesuig het.

As hy met sy flitsie in die binnekant kyk, sien hy dat aan die agterkant, heel onder, is ‘n dammetjie van die kosbare voggies, wat sy Suzuki so dringend nodig het. Dis eintlik vir hom half onverstaanbaar dat die lorrie nie ook, soos die meeste ander, uitgebrand is nie.

Hoe dik is die tenk se staal? Drie millimeter, vyf? As hy teen die onderkant skiet, moet hy onder hom lê, of sal ‘n skramsskoot dalk deurgaan? Skielik voel dit vir Danny asof die tenker net sowel ‘n honderd myl weg kan wees, vir al wat dit hom gaan help.

Na ‘n vrugtelose gesoek na ‘n geskikte stuk plastiek of rubberpyp, gaan sit hy om te dink. Na ‘n paar minute, die tyd wat dit sou neem om ‘n sigaret te kan rook, indien hy nog sou rook, haal hy sy ou militêre knipmes uit en oorweeg dit om die lem in tenk te probeer druk. Die lem is maar effentjies en hy besef hy sal die lem net dalk breek. Die skerp pennetjie van die els? Miskien, maar ook nie.

Nie baie ver van hom af nie, is ‘n doringdraadheining. Na ‘n bietjie huiwering loop hy daarheen. Daar is nie juis iets wat hy kan gebruik nie, of is daar? Een van die dunner staaldroppers was op ‘n stadium in die grond gekap, maar na jare se erosie en verwering het die onderkant uitgekom en as hy daaraan trek, sien hy die punt is effens skerp gemaak. Oftewel dit was.

Hy woel en karring aan die stukke binddraad wat die dikker doringdraad vashou en na ‘n paar minute, waarin hy baie van sy eertydse weermagtyd se geswets onthou en gebruik, kry hy die dropper los. Behalwe vir ‘n paar skrape waar die dorings van die draad hom gekrap het, is hy grootliks ongedeerd.

Dit neem hom ‘n verdere vyftig minute waarin hy die punt op ‘n plat klip skerper skuur. Dis nou alles goed en wel, maar as hy die ding deur die bodem van die tenk kan kap, waarin vang hy dit op? Na lang oorweging besluit hy om die laaste water uit sy twee-liter bottel te drink en die laaste vog met ‘n swaaibeweging uit te skud.

Gewapen met ‘n plat klip as hamer, val hy die tenk van onder af aan. Na ‘n paar harde slaanhoue, is die tenk geduik en uiteindelik maak dit nie ‘n ronde gat, soos hy gehoop het nie, maar ‘n fyn skeurtjie. Die petrol loop ook nie reguit af nie, maar eers met die tenk se kant af en dan in ‘n straaljie, wat hy opvang met die bottel.

Hy gooi so vinnig hy kan, die twee liters petrol in die fiets se tenk, voordat hy hom terughaas na die tenker. Uiteindelik is die fiets vol en hy maak die bottel weer vol, dankbaar dat hy die prop gehou het.

Wanneer hy van die tenker af wegry, is dit met ‘n jammerte in sy hart dat daar nog soveel uitloop. Hy draai om, soek ‘n geskikte stukkie hout en nadat hy dit gekerf het, gepas, weer gesny, pas en weer, kry hy uiteindelik dat die stukkie hout in die gaatjie geslaan kan word. Dit word stadig nat, drup langs die kante verby, maar sodra dit van die petrol swel, hou die straaltjie op loop en later is dit dig geseël. Nie dat Danny maklik gaan terugkeer nie, maar darem.