BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (14)

Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)

Danny is weerloos. Hy probeer regop kom, deur met sy hakskene in die modder te grawe en sodoende agteruit te kan kom en daarna regop. Die deurweekte kleigrond is egter te glad en al probeer hy met sy hande onder reguit arms help, besef hy dadelik dat hy nie betyds gaan regkom nie. Hy besef ook dat hy nie aanstaltes moet maak om sy rewolwers te probeer bykom nie. Soos ‘n man wat sy kar rol en wag dat dit tot stilstand kom om die skade en seerplekke te ervaar en bepaal, wag hy vir sy onsekere, maar definitief onaangename lot.

Een van die swartmans kom nader. Die ou is baie donker van velkleur, met tande wat nie die loop van tyd goed hanteer het nie, met een van die voorstes weg, die ander donker gekleur, soos net die gebruik van ‘n oormaat tabak en min borsel kan doen. Hy het ‘n lang litteken wat vanaf die onderkant van sy linker oog se hoek afloop tot by sy mondhoek. Was hy in ‘n rolprent, soos in “Trader Horn”, sou Danny kon sweer dis ‘n mensvreter.

 

Die man buk af tot waar Danny lê, vat sy hand en help hom op.

“Hau, wêna! Waarom jy is bang vir ou Titus? Nie almal die swartmense is sleg of wil jou doodmaak nie.”

“Jy bedoel?”

“Ja, ek hy badoel ons gaan jou niks maak nie. Ons is baie honger, die kar het gaan staan daar anderkant die bult, so ons loop hom met die voet verder.”

Danny is vir die oomblik uit die veld geslaan. Die man is baie maer en selfs met die verbleikte en effens geskeurde, verweerde denimbroek, geel T-hemp en skoene sonder veters, kan hy sien die man is verwaarloos en erg uitgeteer. Hy kyk na die ander mense in die groep en hulle almal maak dieselfde prentjie, net jonger, ouer, vroulik en kleuterklein.

“Watse kar?”

“My Corolla, Meneer.”

“Julle het almal in ‘n Toyota Corolla gery?” vra Danny half ongelowig.

“Ons hy het. Corolla station wagon. Maar nou onse petrol isse klaar en ons loop hom met die voet.”

Na ‘n paar sekondes waardeur die gedagtes in sy kop maal, antwoord hy:

“Ek het vir julle petrol. My bike lê in die modder net hier anderkant, maar so vier of vyf kilos terug is daar ‘n tenker met nog baie petrol in. Kom help my, dan vat ek jou soontoe, Titus.”

*

“Gaan jy niks sê nie, Herrie?”

“Wat kan ek sê?”

“Wees nou eerlik. Het jy saamgekom omdat jy bloot verveeld is in die kamp, omdat jy avontuur soek, of omdat ons dalk net naby – wat is haar naam nou weer – Tertia? se blyplek gaan verbyry?”

“Miskien ‘n bietjie van alles. Ek probeer nou al lank om haar uit my sisteem te kry, maar dit werk nie. Ek dink steeds ek en sy kan nie ‘n lewe of selfs ‘n deeltjie daarvan saam maak nie, maar ek moet weet of sy veilig is. Dis al.”

“Is jy seker?” vra Maya sag.

“Nee, ek is nie seker nie. Maar die Here weet, dis nie in my hande nie.”

Maya vat aan Herrie se linkerhand waar dit op die stuurwiel rus. Die dik are staan op die rugkant van sy hand uit, met groot, breë kneukels en ‘n klompie donker hare wat nog naby sy duim pryk. Sy besef hoe dik sy gewrigte is en hoe sy hand effens bewe.

“Nou, as dit in die Here se hande is, waarom los jy dit nie daar nie?”

*

Dit neem ses ritte per motorfiets vanaf die tenkerwa na die Corolla en terug, maar uiteindelik is die tenk van die kar vol genoeg en hy kan hy die Suzuki ook weer volmaak. Die paar manne het nie baie gesukkel om die fiets uit die moddergat te stoot nie.

Daar is ‘n amper vrolike luim onder die drie manne en die kinders. Hulle praat in een of ander Afrikataal, wat Danny maar net kan raai Zulu of Pedi is.

Een van die kinders maak asof hy die fiets ry, steek dan vas, terwyl hy met sy regterhand ‘n denkbeeldige versneller draai, “vroem-vroem” die enjin namaak, “kwaa!” vassteek en dramaties op sy bors val, arms wydgestrek en mond skeefgetrek. Die ander lag vir hom. Selfs Danny lag vir die kaskenades, wat duidelik daarop gemik is om met hom die draak te steek. Hy besef dat dit nou maande is vandat hy laas gelag het.

Hy het nie veel om met hulle te deel nie, maar met ‘n pakkie koekies, ‘n stuk biltong (wat hy baie swaar afgee) en die meel wat oor is, is hulle tevrede. Dis belangriker om wiele te hê en ‘n driekwart tenk petrol. Kos sal hulle wel iewers vorentoe langs die pad kry.

Danny voel vreemd eensaam wanneer hy van die groep af vertrek.

*

“Skeermes en sy mense was nie werklik lus om om te draai, ‘n pad soek tussen chaos en verval deur en julle hier te kom haal nie.”

“Is hulle hier?”

“Nog nie, maar hulle behoort nie lank te vat nie. Miskien môre-aand op die laatste.”

“Hoe weet julle van hulle? En...”

“Dis nie vreemd nie. Baie van ons groepe wat terug baklei weet van mekaar en is in wedersydse kontak.”

Die kos is eenvoudig, maar smaaklik en Max waardeer elke happie daarvan. Met ‘n laaste stukkie korsie van die tuisgemaakte brood, vee hy ‘n ewe laaste paar druppels van die vleissous op. Sy maag is nie gewoond aan die kos nie en hy bring ‘n wind op, voordat hy dit kan keer.

“Askies!”

Nadat die gelag bedaar het, praat George.

“Nouja, ek hoor julle twee het ‘n paar wilde ervarings gehad?”

“Hoe weet julle dit?”

“Ons weet meer as wat jy weet, maar dit maak nie nou saak nie. Wat belangrik is, is dat julle veilig aan Skeermes en sy mense oorgegee word. Soos julle kan sien, is ons baie versigtig en verwag enige oomblik moeilikheid.”

“Sê net waar ek kan help.”

“Sodra Skeer-hulle hier is, sal julle die pad na die Weste moet oopskiet. Daar is ‘n menigte mense wat hulle tuisgemaak het in die Bosveldsentrum en die plekke daar rondom. Julle kan miskien eers suid gaan en dan wes, maar ons sal bly wees as julle ons kan help opruim voordat julle gaan.”

*

Spiergeheue. Die Engelse noem dit “muscle memory”.

Waar Amos Burger (die jongmense noem hom steeds Rambo Bob) agter die stuur van die enkelkajuit Land Cruiser sit, met Lara langs hom, laat hy sy gedagtes gaan, iets wat hy indringend vermy die afgelope jare.

Voordat hy as semi-hawelose gaan woon het op Pretoria se strate, en nadat hy uit Angola teruggekeer het, was hy van plan om iets behoorlik van sy lewe te maak. Tog was dit nie vir hom beskore nie. Dit het hy skielik en met ‘n skok beleef toe hy in Brooklyn polisiestasie se aanhoudingselle gesit het. Spiergeheue –

Amos was in die klein inkopiesentrum in Lynnwoodweg toe ‘n vrou angstig gil, haar vuis half in haar mond druk en met wydstarende oë in Amos se rigting kyk. Op daardie oomblik voel Amos iets hard wat in sy rug gedruk word. Instinktief weet hy dis ‘n handwapen en nog voordat hy enigsins kan dink aan die gevolge, draai hy blitsig om met sy lyf teen die man agter hom, sy linkerhand wat oor die man se kop vlieg, sak en met sy voorarm die man se elmboog na binne kap.

Met die pistool nou agter Amos en die man half hulpeloos en geskok deur hierdie onverwagte wending wat gebeure nou aangeneem het – hy is half hulpeloos, met sy regterhand nou half lam - stamp Amos met ‘n oop hand en vingers reguit, soos ‘n dolk of assegaai, na die man se keel, reg waar sy adamsappel sit.

Onwillekeurig laat val die man sy pistool om na sy keel te gryp, Amos buk af om die wapen, ‘n Tokarev, op te tel. Uit die hoek van sy oog sien hy ‘n tweede rower omdraai van die kasregister af, waar hy besig is om die winkeleienaar te beroof. Voordat hy sy eie wapen kan rig, skiet Amos hom twee skote in die bors en een in die kop.

Die rower by sy voete kom hortend orent en Amos, voordat hy kan dink en met sy opleiding nog vars in sy geheue, trek ‘n skoot na die man se bors. Net een skoot, maar een wat sy hart tref. ‘n Dooie vyand is een wat geen gevaar inhou nie.

Sodra die polisie opdaag, het hy die wapen op die grond neergesit, op sy knieë neergesak het, soos die manne beveel het en sy hande agter sy kop gevleg.

‘n Dag later is hy borgtog gegee, en die hofdatum drie weke later. Sy regsverteenwoordiger het hom gewaarsku dat sy saak nie goed lyk nie en Amos Burger, oudsoldaat en die man met hoop op die toekoms, maar min hoop op die regstelsel, het nooit opgedaag vir sy verhoor nie.

Totdat die Groot Moeilikheid begin het, het hy op straat geleef.

“Wat is dit, oom Amos?”

Hy word deur Lara se woorde na die hede en werklikheid terug geruk. Hy besef sy tande is opmekaar gekners en hy moet konsentreer om te ontspan.

“Ai, Lara, dis sommer niks. Net ou gedagtes wat weer kom kuier het.”

Hy gee ‘n bietjie meer vet om op te vang met Skeermes se voertuig voor hom.

“Pasop, Amos!”

Hulle het pas om ‘n klein koppie gery, of hulle is tussen die voertuie in. Wie ookal hierdie rooflokval opgerig het, sal niemand nou weet nie, maar dit bestaan uit ‘n paar unieke voertuie, vanaf taxi’s waarvan die kante oopgesny is, sodat die insittendes maklik in en uit kan kom, maar ook kan skiet na buite, tot bakkies sonder kajuite en selfs twee groot vierwieldryf trekkers, met platforms aan die agterkant waarop van die manne kan sit.

Die skote klap nog voordat Skeermes, Amos en die ander tot stilstand kan kom.

*

Danny Boyd vleg letterlik tussen die groter klippe, slote, gate en modderkolle deur. Die fiets begin die misbruik wys; dis inderdaad nie nie ‘n doelgeboude veldfiets nie, maar ‘n afleweringskoeter, wat Danny gebruik as ‘n veldfiets, oftewel “scrambler”. Die voorwiel is al effens gebuig en as Danny te vinnig ry, is daar ‘n duidelike vibrasie aan die hele ding.

Aanvanklik wou Danny nie erken dat sy voertuig nie so goed is as wat hy aanvaar het nie, siende dat ‘n mens aan enige rytuig of voertuig geheg raak, amper soos ‘n perderuiter vanouds, maar nou begin hy onwillekeurig uitkyk vir iets meer geskik as die Suzuki.

Daar is skielik ‘n nat kol in die veld reg voor hom en hy swaai uit, net om ‘n groterige klip met die reedsbeskadige voorwiel te tref en die hele velling buig eenkant toe, so erg dat dit aan die voorvurk vasslaan. Danny tref die grond, maar siende dat hy nie baie vinnig ry nie, is die slag nie so hard nie en hy kan dadelik opstaan.

Met sy bagasie, wat nie te veel is om te dra nie, sy geweer in die hande en moedeloosheid in sy gemoed, loop hy aan, sonder om terug te kyk na die ou, getroue fiets. ‘n Paar honderd meter voor hom is ‘n laerige koppie met ‘n effense plat kruin, en soos dit maar in ‘n mens se aard is, mik hy onwillekeurig daarheen.

Daar is nog sowat twee ure se daglig oor as hy die koppie se kruin bereik en as hy oor kyk, is daar ‘n aantal vreemde voertuie vanuit die Weste aan die kom. Danny gaan lê tussen twee rotse en bekyk die spulletjie met nuuskierige aandag. Sy oë is nog goed en al het hy nie ‘n verkyker of teleskoop nie, kan hy uitmaak dat dit bestaan uit vervormde en misvormde taxi’s, bakkies en self, ja, selfs ‘n trekker of twee. Hy besluit dat dit nie sy probleem is nie en hou homself onsigbaar tussen die rotse.

Die nag sluip verby as Danny hoor die nuwe aankomelinge het hulle voertuie afgeskakel en hulle maak vuur, drink, rook en eet minder as honderd en vyftig meter van hom af.

Teen ‘n moeë dagbreek, met seer in sy lyf, waar hy op sy rug, maag en sye onderskeidelik gelê het, tussen klippe en bossies wat hoe later, hoe seerder maak, sluip hy die meter en ‘n half nader, sodat hy weer kan kyk waar die manne ook ontwaak, raas en vuurmaak vir die oggend se ontbyt.

Terwyl hy kyk, kom drie van die manne in sy rigting geloop. Hy maak seker daar is ‘n rondte in die Rossi se loop en dat die los rondtes in sy sakke beskikbaar is. Tot sy verligting maak hulle broek los teen die onderkant van die koppie, lag en loop dan terug kamp toe. Hulle is skaars by hulle makkers as hy die geluid van ‘n paar enjins aan sy agterkant hoor.

Danny kruip agteruit, tot hy kan sien dat ‘n aantal voertuie aan die kom is vanuit die oostekant. Aan die voorkoms van die voertuie reken hy dit is blankes. Hulle is reguit op pad na die koppie toe.

Hy hoor die taxi’s, bakkies en trekkers se enjins word aangeskakel en besef sy mense is reguit op pad na ‘n hinderlaag toe.