BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (15)

Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)

“Vertel my weer waarom gaan julle Weskus toe?”

Wynand se mense het aan hulle ontbyt verskaf, die voertuie nagegaan en vol brandstof gemaak.

“Ons het al jare gelede begin voorberei vir ‘n dag soos hierdie. Ek het geweet dat Eskom nie volhoubaar bedryf kan word nie en dat die domino’s eendag sal begin val, vanaf Eskom, deur SASSA se nie-uitbetalings, die ekonomie wat heeltemal ineenstort, gevolglik met honger, plundery, desperaatheid, verset, bendes en uiteindelik oorlog. Maar julle is op soek na inligting?”

Arno en Skeer maak beurte om vir Wynand en sy leierskap in te lig oor die feite wat hulle het, maar ook die leemtes.

“’n Vriend van my, Charl Scheepers, het vir ons iets. Of dit die kolletjies aan mekaar gaan verbind of nie, en ‘n duideliker prentjie gaan maak, sal ons eers moet sien as ons daar kom.”

“Julle besef die toutjietrekkers kan onder geen omstandighede toelaat dat julle heel terugkom nie?”

“Ons weet. Maar dit sal nie die eerste keer wees dat ons ‘n kruitvat saamdra en hoop niemand gooi ‘n vuurhoutjie daarin nie. En dan is daar nog Cornelle met haar waterstofenjin.”

“Ja, ek het so verlangs daarvan gehoor. Persoonlik dink ek dis nog gevaarliker as om die wêreld te vertel wat julle teorie oor Mandela en Hani is.”

“So, hoe ry ons hiervandaan?”

“Ek het berig gegee aan al die boere, bewoners en bywoners al langs die Oranje af. Julle kan uiteraard nie oral reg langs die rivier afry nie en dis in elk geval nog in vloed, maar hulle sal vir julle die hekke oopmaak en wag tot julle deur is. Ons kan nie waarborg dat julle nie in gewapende groepe gaan vasry nie, maar ons doen wat ons kan.”

“Dankie. Ons kan julle nie nou betaal vir die petrol en diesel nie, maar as ons eendag terug is by ons dorp en dinge het bedaar, dan stuur ons.”

“Julle kan ons betaal wat julle kan, wanneer julle kan. Tot dan, vrede vir julle. Ek moet sê, julle klomp karre is die vreemdste rygoed wat ek nog bymekaar gesien het.”

Wynand dink so ‘n rukkie, asof die houtjies in plek val.

“En jy is Max? Mad Max?”

*

Die tyd wat die rit duur is die aangenaamste twee dae van die afgelope tyd. Oral waar hulle langs die rivier kan ry, het die boere vir hulle oopgemaak en waar dit nodig is, word die pad aan hulle verduidelik. Hier en daar sal die boere ‘n plukkrat (wat moet dien as ‘n mandjie) met kos en drinkgoed vir hulle by ‘n hek aangee.

Kakamas, Pofadder, en dan die hele ent na Vioolsdrif toe. Hiervandaan na Steinkopf, waar hulle die pad vra.

Hulle word aangeraai om nie op die grootpad (indien ‘n mens sit so kan noem) te ry nie, maar eerder reguit deur die sandveld.

“Het julle ‘n kompas? Ry reguit suid-wes. Die sand is dik, maar as julle nie bang is daarvoor nie, kan julle daardeur kom. Het julle genoeg water en brandstof? Baie mense het al daar doodgegaan omdat hulle sonder petrol of diesel gaan staan het en mettertyd van die dors omgekom het.”

Nêrens is daar ‘n oop vulstasie nie en sommige van die voertuie trek swaar in die sand, met verhoogde brandstofverbruik.

Daar is geen ander plek op aarde soos die Richtersveld nie en Skeer neem hom voor dat, indien hy oorleef, hy eendag hierheen gaan terugkeer en die plek mooi bekyk.

Aanvanklik is daar ‘n grondpad wat mettertyd al meer sanderig word en later verdwyn dit onder die woestynsand. Met die kompas wat al rigtingwyser is, ry hulle in ‘n suid-westelike rigting. Dit gaan stadig, want nie net is hulle soms onseker van waar die “pad” is nie, maar daar is soveel om te sien.

Die twee oop voertuie ry nou vooraan die konvooi, sodat, indien daar sagte sand is, hulle daaroor kan gaan, eerder as daardeur, soos die swaarder voertuie agter.

Laatmiddag, met nog genoeg lig om kamp te maak en hout te gaan soek vir ‘n kampvuur, hou hulle stil by ‘n eienaardige koppie, wat lyk asof iemand ‘n vrag massiewe rotse daar afgelaai het, opgestapel en sommerso gelaat het.

Maya loop teen die koppie uit en gaan staan bo-op. Sy kyk na alle kante toe, maar daar is niks wat sy as bedreiging kan sien nie. Sy weet dat al mense wat nog hier ‘n bestaan maak, ‘n klompie Namas is en die enigste diere is wat by die biodiverse omgewing aangepas het. Lank gelede was hier olifante en woetynleeus, maar niemand het hulle die afgelope jare gesien nie. Gemsbokke en kleiner boksoorte wel. En natuurlik geitjies, slange en ander reptiele.

Sy gaan sit op die hoogste rots en kyk na die son, wat nou nie ver bokant die horison hang nie. ‘n Dassie kom versigtig uit sy skuiling en hou haar dop. Sy neusie beweeg kant tot kant, soos hy die vreemde gevaarte beruik. Skielik spring hy om en verdwyn buite sig, asof hy skrik. Maya vat haar geweer en luister vir enigiets wat vir haar gevaarlik kan klink. Na ‘n ruk hoor sy voetstappe en ‘n effense gehyg en wanneer sy omkyk, kom Arno aan. Vir ‘n man van sy jare is hy nog fiks en sterk.

“Is hierdie ‘n privaatvergadering, of kan ek maar inkom?”

“Arno, jy is altyd welkom. Kom sit,” wys Maya en gaan sit weer.

Hy sit ‘n hele ruk in stilte langs Maya, en is vir die oomblik, net soos sy, meegevoer met die vreemde prag van die omgewing.

“Jy mag maar jou arm om my sit.”

“Ek het gehoop jy nooi my.”