Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesaja kla dat Juda slegter as diere is: “’n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jes.1:3,4). Wat ‘n ongelooflike verval! Soos ons volk vandag?
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (6)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Jan het iewers gedurende die nag ingesluimer en as hy wakker word, dink hy vir ‘n kort oomblik dat hy alles gedroom het. Hy besef egter sy linkerarm is half lam en as hy nog meer wakker word, voel hy die gewig van die meisie daarin. Half geskok kyk hy na waar sy in sy arm lê. Selfs in die vroegoggend lig, wat nou net effentjies deur die watent se seil skyn, kan hy haar gelaatstrekke sien. Sy moet van iets droom, want sy maak ‘n enkele sagte kreungeluidjie, soos iets wat pyn ervaar.
Vir ‘n oomblik flikker haar oë oop en dan slaap sy verder. Die oë is daardie donker helderblou, wat hy gisteraand gesien het. Hy besef dat hy baie verlig is dat sy nie gedurende die aand gesterf het nie en terselfdertyd ervaar hy ‘n diep skuldgevoel. Hy het nog nooit langs ‘n vrou geslaap nie.
Versigtig, sonder enige vinnige bewegings, trek hy stadig sy arm onder haar kop uit. Vir ‘n oomblik lyk dit asof sy weer wakker gaan word, maar draai dan om op haar linkersy en slaap verder. Die spierwit van haar skouers en rug maak hom onrustig op ‘n vreemde manier. Ewe versigtig kruip hy na die voorkant van die wa, waar hy sy klam langbroek en hemp van die wakis af optel en aantrek. Sy skoene is nog agter die wa, en hy loop, versigtig vir dorings of skerp klippe, daarheen, trek hulle aan, tel sy hoed op en sit dit op sy kop. Die oggendlug het nog ‘n byt daarin en die klam klere help niks.
As hy langs die agterste wa kom, sit Sie en Sa op ‘n stomp wat hulle aangedra het en die ou, vuurgebrande ketel kook dat die stoom uit die tuit staan. Hy kry sy beker uit die agterste wa se wakis en maak vir homself koffie.
“Het julle manne al ietsie geëet?”
“Ja, meneer Jan. Ons het ook van die Engelse se pap gemaak en ‘n sousie daarby. Ons het vir meneer daarvan gespaar.”
Jan kom agter dat iets by die twee skeel. Die son is nou heeltemal op en die omgewing is skoongewas, helder en ruik lekker. ‘n Piet-my-vrou roep uit een van die doringbome en ‘n troppie tarentale trippel vinnig naby verby, die beentjies maal so vinnig, dit lyk soos klein wieletjies wat onder hulle draai, met groot, swart oë wat agterdogtig na die drie manne kyk.
Oubaas spring op en jaag hulle, met groot ore wat flap en hulle skarrel nog ‘n paar tree, waarna hulle getjier-tjier vinniger kom, hulle vlieg op, maar gaan land weer so ‘n ent verder, as hulle seker is van hulle veiligheid. Daarna hardloop hulle totdat hulle iets kry om na te pik, maar met koppies wat draai en kraalogies wat agterdogtig na Oubaas kyk.
“Het julle vir Goliat afgedroog en geroskam?”
“Ja, Meneer,” sê Sie, sonder om op te kyk. Wat gaan met die twee manne aan vanoggend?
Jan draai om en kyk na die voorste wa, waaruit hy so flussies geklim het. Die punt van die blou rok se soom wapper effens in die koel oggendwindjie. Jan voel hoe hy bloos. Hy draai om en praat kwaai, om sy verleentheid weg te steek.
“Dis nie wat julle dink nie!”
“Ons dink mos niks nie, Meneer Jan,” sê Sa, maar daar speel glimlagte oor hulle monde.
“Nou-ja, drink nou klaar, daar is werk om te doen! Maak die osse staan en sorg dat die skeie nie iewers druk nie, anders is dit ek en julle en die sambok vandag!”
Sie en Sa kyk albei gelyk verby Jan en as hy omdraai, sien hy ‘n skraal, bleek hand die rok gryp en in die wa intrek. Aarselend loop hy terug na sy wa toe en maak keel skoon as hy nader kom. As hy by ‘n huis was, sou hy aan die deur geklop het, maar hier is uiteraard nie ‘n deur nie.
“Uhh, dame?”
Na ‘n kort pouse kom ‘n stem van binnekant.
“Gee tog net ‘n oomblik, Meneer!”
Die oomblik is meer as tien minute, waarin die twee touleiers die osse se name roep en hy hoor hoe die rieme kraak as hulle styf getrek word en hier en daar bulk een van die trekdiere saggies. Goliat proes effens, stamp ongeduldig met een voorpoot op die grond en skud sy groot kop heen en weer. Sy nek tril van die beweging en sy donker maanhare flap heen en weer oor die gespierde nek.
Die agterflap van die wa gaan oop en Jan snak na sy asem. Sy moes seker sy eie haarborsel in die wakis gekry het – die een met die ingelegde perlemoen aan die agterkant, waaroor sy ma so heilig was. Jan pluk sy hoed af, ongemaklik met die gedagte dat sy eie bruin krulle wild en ongekam staan.
“Môre Dame. My naam is Jan Verwey…”
“Ek weet wie jy is, Meneer! Jy is al aan my uitgewys in Pretoria. Jy het immers arme ou meneer Epstein so verrinneweer.”
“Die bliksemse ou skelm! Hy…”
Jan ervaar ‘n begeerte om homself aan hierdie vrou te verduidelik, maar skielik gaan dit teen sy grein en hy bly stil.
Sy kom effens nader en hy sien nou dat sy inderdaad baie mooier is as wat hy onthou. Die oggendson vang haar hare wat krullerig blink in die strale. Haar oë… dis groot en blou, donkerder as wat hy gedink het, met donker wimpers en wenkbroue. Haar neus is nie klein nie, maar reguit en smal. Haar mond is nie groot nie, maar haar lippe is vol en hy kan dink sy lag baie. Soms, maar beslis nie nou nie.
“Meneer, wie het my rok gisternag uitgetrek?”
“Ek het. Dit was nat en jy…
“Het u geen skaamte nie, meneer Verwey?”
Skielik is Jan woedend. Hy het immers haar lewe gered, daarvan is hy baie seker en nou kom sy en maak aantygings?
“Ja, ek het jou nat rok uitgetrek en jy was verkluim. Ek het jou heelnag warm gemaak met my eie lyf, maar as jy sou dink dat ek…”
Hy loop nader aan haar, terwyl hy probeer om die woede wat in hom oorkook, onder bedwang te bring.
“En waar kom jy vandaan? ‘n Vrou allenig in die wildernis? Vir wie vlug jy… seker van daardie gemors van ‘n Hans Koster, aan wie se arm jy so gehang het daar in die strate. Is dit wat jy is, Hans se houvrou?”
Sodra die woorde uit is, kan Jan homself skop. Hy sê wat hy nie werklik dink nie, en dink beslis nie wat hy sê nie, maar dis die kwaad wat praat en nie hy, Jan Verwey nie.
Tog, so min as wat hy die koeëls kan terugtrek in die bek van die gewere, waarmee hy so kwistig onder die Zulu’s ingeskiet het, net so min kan hy hierdie woorde terugtrek. Die meisie word, indien moontlik, nog bleker.
“Jou arrogante, verbrande armblanke stuk…!”
Sy stap vinnig en doelgerig, met ‘n regop houding en stywe rug verby Jan, na die voorkant van agterste wa, waar sy die lang osdrywersweep uit sy plek langs die wakis uithaal, draai om en voordat Jan werklik kan begryp wat gebeur, swaai sy met geoefende arm die sweep agteruit en slaan dan na hom toe, waar die voorslag hom oor sy linkerarm tref, wat hy beskermend oor sy gesig pluk.
Die hou is seer en brand oor sy arm. Vir ‘n oomblik krul dit om sy voorarm en hy gryp dit vas, trek die lang sweep met albei hande, tot sy by hom is. Sy het nie vir ‘n oomblik laat gaan nie, maar hou nou met albei hande vas en probeer eerder om dit uit sy hande te ruk.
Sy het haar hand deur die houriem aan die agterkant van die sweep gedruk en sy kan in elk geval nie nou laat los nie. Jan trek aan die sweep totdat sy by hom is, en as sy uitdagend na hom opkyk – sy is selfs nog korter as sy vyf voet vier duim – is haar gesig nie ‘n ses duim van syne nie.
“Nou wat gaan jy met my doen, Jan Verwey?!”
Hy weet nie werklik wat om te doen nie, maar op die impuls van die oomblik sit hy sy regterarm om haar dun middeltjie, trek haar nader, lig haar ken met sy linkerhand se gekromde wysvinger en soen haar vol op die mond. Dis so onverwags dat sy nie kan wegruk of haar lippe styf maak nie. Sy was op die punt om nog iets te sê, en haar mond is effens oop as hy sy lippe oor hare sit. Die skok van haar soet, sagte lippe trek deur sy lyf. Dan laat hy haar los en staan ‘n treë terug.
“Ek is jammer. Dis nie my gewoonte nie… ek maak nie altyd so nie.”
Skok en vrees vertrek haar houding en sy word stoktyf. Haar oë rek so groot, dat hy die wit daarvan rondom die blou oogrokke kan sien. Hy besluit dat hy nooit ooit weer die oorsaak of rede van hierdie angs in haar oë sal wees nie.