Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die meeste mense verkeer in angs as hulle dink dat hulle hul geliefdes aan die dood moet afgee. Natuurlik laat die dood van 'n naasbestaande 'n groot leemte; maar het jy al só daaroor gedink: om my seun of dogter of eggenote aan die dood af te gee - God het alreeds ter wille van mý daardie pyn en angs verduur – ons hoef dit nie só te ervaar nie! Hy het sy eie Seun aan 'n kruisdood afgegee, 'n veel aakliger dood as meeste van ons. En dan wag nog die blye weersiens in die hiernamaals waar ons weer ons geliefdes sal sien.
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (12)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Hulle ry stadig met die Kaftan-heining langs. Miskien is daar mense in Messina wat vir hulle ‘n veilige hawe bied. Maar onverwags, naby die Madimbo-hek, is daar skielik ‘n Land Cruiser agter hulle. Die bakkie het uit die bosse anderkant ‘n koppie verskyn en dis duidelik op kwaad uit.
Die drywer breek so vinnig die pad binne, dat die voertuig neig om buite beheer te raak, dit slinger ‘n paar keer dronkerig oor die pad en dan kry die agterwiele vastrap en die voertuig beur vorentoe.
Voor in sit twee manne met uniforms en agter-op is daar vier met gewere. Die lope van die AK’s steek onbeskaamd bokant die kajuit uit. Die Touareg is baie kragtiger, met permanente vierwieldryf, dis baie meer padvas as die Toyota, en baie vinniger en Basjan trek met gemak onder die Land Cruiser uit.
En dan is daar nog twee karre wat van vooraf kom. Basjan merk ‘n baie nou paadjie wat afdraai na ‘n statjie langs die pad. Hy rem vinnig en onvermydelik het hy geen ander keuse as om daarin te draai nie en hy gee die kar vet, sodra hy van die pad af is. Die paadjie loop nie meer as veertig meter in nie, en daarna is hulle tussen die rondawels in.
Twee van die hutte is van rousteen en gepleister met modder, wat hier en daar afgeval het om drie en ‘n halwe rye stene te wys. Die grasgedekte dakke lyk darem min of meer heel. Aan die ander kant is daar twee hutte van dekgras. In die middel is daar ‘n lae vuurmaakplek van een ry stene. Basjan kies koers tussen die twee steen-hutte, bo-oor die vuurmaakplek en dwarsdeur een van die gras-hutte. Die kar wip en spring twee maal, totdat die skokbrekers die beweging onder beheer bring en uiteindelik, so ‘n tagtig meter verder, vat hy ‘n skerp draai in ‘n ander paadjie in.
Die twee bakkies volg hom, maar in die stof van die Touareg kan die bestuurder van die voorste een nie die linkerkantse steenhut betyds sien nie en ploeg daarin. Die Cruiser agter hom is gelukkiger en volg die kar die ander paadjie in. Die pad sluit weer by ‘n groter toegangspad aan en hulle draai daarin. Die Volkswagen is baie meer padvas en vinniger as die Toyota en hulle maak die gaping tussen hulle groter. Ver vorentoe is egter ‘n slagboom van die ou staatsveearts se bek-en-klouseer beamptes, en alhoewel onbeman, kan hulle nie net deurjaag sonder baie skade aan die voertuig nie. Basjan kom in ‘n stofwolk tot stilstand.
“Bly julle sit!”
Hy spring uit met die .416 en sodra die bakkie binne ‘n honderd meter van hulle is, trek hy eers die linker en dan die regterloop af. Selfs vir hom, wat die skop en die knal van die geweer gewoond is, is die lawaai oorverdowend. Die twee skote tref eers die drywer en dan die enjinblok van die Land Cruiser. Die bakkie trek die veld in, tref ‘n groterige rots, vlieg die lug in en draai onderstebo voordat dit grond tref met ‘n geskuif. Dit draai dwars en rol nog twee keer om. Die manne agterop het gedurende die eerste rolslag afgeval. Niemand roer nie. Basjan lig die slagboom op en wys vir Jona om deur te ry. Asof niks pla nie, klim hy in terwyl Jona oorskuif na die passasiersitplek. ‘n Paar kilometer verder is die Pafuri-Tshipisepad. Hier hou Basjan stil en loop rondom die kar om te kyk vir skade. Behalwe vir ‘n paar krapmerke is daar niks nie. Hy skop die een voorwiel.
Die teerpad is na weerskante verlate. Hy draai regs op die pad na Tshipise toe en ry teen ‘n bestendige spoed. Weerskante van die pad is die ruïnes van eens vooruitstrewende boerderye. Heinings is platgedruk, die huise verbrand en hier en daar lê die karkas van ‘n dooie dier; beeste, donkies en selfs ‘n perd. Niemand praat nie. Dis asof die verwoesting en die verlatenheid hulle stom slaan. By Tshipise is die heining eweneens platgedruk en afgehaal.
‘n Kilometer verder is die afdraai na regs vir Messina. Van hier af kan hulle egter sien dat die brug oor die Sandrivier opgeblaas is. Langs die brug is daar egter ‘n skuinste gemaak en hulle kan daarmee tot binne die bedding van die rivier ry. Reg voor is daar nie ‘n manier om die rivierbedding te verlaat nie en hulle moet ‘n ent terugry met die rivier self, voordat hulle ‘n skuinste kry, waardeur hulle tot bo kan kom.
Die voertuig draai gevaarllik met die helling na die een kant toe, lig een van die voorwiele op en vir ‘n paar sekondes hang die voertuig so. Bella onderdruk ‘n uitroep van vrees en Jona gryp die paniek-handvatsel teen die dak met albei hande vas.
Dan gee die vierwielstelsel al die krag na die wiele met die meeste traksie en die voertuig klim die laaste meter en ‘n half maklik uit. Hulle is nou in ‘n ou landery, maar verwaarloos en die heining is stukkend. Hulle ry met ‘n plaaspad totdat hulle weer by die T-aansluiting kan kom. Twee kilometer verder is daar ‘n hoë bult en daarna ‘n pad wat regs uitdraai. Op ‘n verskroeide bord kan nog die woord “Klein Tshipise” gelees word. Basjan hou by die uitdraai stil.
“Wat dink julle ouens. Sal ons dit probeer?”
Die twee knik net instemmend, Jona langs Basjan en as hy in die truspieël kyk, sien hy ook Bella se koppie knik. Hulle ry stadig vir ‘n paar honderd meter en dan, voor ‘n klipheining, staan twee spookagtige figure uit die gras op. Jona skrik hoorbaar.
“Toemaar. Dis net ouens met ghillie-suits aan.”
Die twee manne het elkeen oorpakke aan, waarop lang repe goïngsak gewerk is. Wanneer hulle in die gras plat lê, is hulle amper onsigbaar. Dis eers wanneer hulle opstaan, dat hulle sigbaar is. Hulle hou elkeen ‘n geweer op die insittendes gerig. Basjan hou stil en dan, wanneer hy die venster afdraai, word hulle nie onvriendelik nie, maar met beslistheid beveel om uit die kar te klim. Die twee manne wys hulle moet eenkant staan, en terwyl die een die voertuig deursoek, hou die ander een sy wapen op hulle gerig.
“Skoon, Gawie, behalwe vir drie vuurwapens, maar dit lyk nie na terrosriste s’n nie.”
“Meneer, wat soek julle hier?”
“Ons het nie regtig beplan om hierheen te kom nie. Ons is van ver af, oppad na Messina toe en ons het maar op die ingewing van die oomblik hierheen afgedraai.”
“Ek sou aanraai dat julle maar omdraai en teruggaan waar julle vandaan kom. Messina is ‘n nou-go area. Julle sal niks kry wat julle daar soek nie.”
“Ons het hier onder deur die rivier gekom, en ek dink nie ons sal weer daardeur kan kom nie. Die anderkantste wal is baie hoog en skuins.”
“Meneer, jy kan so ‘n ent hier aanry, dan kry jy ‘n afdraai. Daar is nie meer ‘n padbordjie nie, maar by die eerste pad links, ry jy aan. Dis ‘n hele klompie kilometer, maar uiteindelik sal julle by die oorblyfsel van die N1 uitkom. Daar draai julle links en dan, oor die berg, is Louis Trichardt. Daar is ‘n klompie mense wat julle dalk kan help.”
Die hek agter hulle, by die klipmuur, gaan oop en ‘n bakkie kom aangery.
“Gawie, wat gaan hier aan?”
“Oom Johan, dis maar net mense wat plek soek. Ek het vir hulle gesê ons kan hulle nie help nie en vir hulle pad beduie Louis Trichardt toe.”
“Dankie, Gawie. Meneer, wie is julle en wat soek julle?”
Die man is nie onvriendelik nie, so in sy vroeë sewentigs. Hy is medium lengte, ongeveer so lank soos Basjan, maar fris en bruingebrand. Hy het ‘n kortbroek, kortmouhemp en ‘n paar velskoene sonder kouse aan. Bo-op sy grys hare het hy ‘n breë-rand hoed.
“My naam is Basjan Jones. Hierdie is my kinders, Jona en Bella. Ons kom baie ver en as ons julle ons storie vertel, sal julle ons nie glo nie.”
Johan staan ‘n halfminuut en dink.
“Kom vertel julle storie hier binnekant. As ons julle glo, kan ons verder dink.”
Die twee hekwagte verdwyn weer in die veld en Basjan ry agter Johan se bakkie deur die nou oop hekke. Hy is bly hulle het niks ongerymds probeer nie: agter die heining is ‘n tiental manne en vroue, elkeen gewapen met jaggewere en handwapens.
Hulle parkeer die Touareg in die parkeerterrein en klim versigtig uit. Daar is ‘n hele aantal huise, wat wissel van eenslaapkamer vakansiehuise, tot dubbelverdieping permanente wonings. ‘n Klompie mense, ook dié wat by die hek was, kom hulle tegemoet. Almal is vriendelik, blank en praat net Afrikaans. Alle kennisgewings op en langs die terrein is net in Afrikaans, behalwe dié wat aan die buitekant van die heining aangebring is, met waarskuwings in Afrikaans, Engels, Venda en Pedi, wat waarsku dat oortreders summier geskiet sal word. Hierdie kennisgewings is met krusoriese, maar duidelike simbole vergesel.
“Julle is betyds vir middagete. Moet nog nie afpak nie, julle kan julle storie vir al die mense vertel. As ons julle glo, goed. As ons nie, dan moet julle dadelik julle ry kry.”
Rondom ‘n warmwater swembad is daar rye stoele, maar hulle almal loop ‘n saaltjie binne, langs die ontvangskantoor en die mense gaan sit in die gehoor. Voor, by ‘n tafel is daar ‘n paar stoele. Dis duidelik dat die inwoners aan hierdie tipe ontvangs gewoond is. Johan gaan staan agter die tafel en gee vir Basjan en die kinders ‘n geleentheid om hulle verhaal te vertel.
Die mense kyk eers vir hulle aan met ongeloof in hulle oë en houding, maar as hulle die kinders vra om op hierdie of daardie punt duidelikheid te gee, is dit later sigbaar hoe hulle geloofwaardigheid aanvaar word.
Dan kom groet almal en stel hulleself voor. Nie dat hulle almal se name sal onthou nie, maar darem.
“Een van ons gesinne het gister besluit hulle wil nie meer hier bly nie. Hulle huis staan leeg en julle kan daar gaan bly vir eers. Dis die derde huis agter die swembad, aan die linkerkant, die een met die windpompie voor die voordeur.”
*
Die gemeenskappie het hulle aanvaar en geleidelik begin die kinders uit hulle doppe kruip. Hulle is steeds maar ongemaklik in ander mense se geselskap, maar daar is ‘n laat-middeljarige vrou wat saam met haar man in een van die groter huise bly. Sy is ‘n opgeleide sielkundige en die twee neem haar geleidelik in hulle vertroue. Sy ryg die afgelope maande se storie stukkie vir stukkie uit hulle uit.
Natuurlik gaan dit gepaard met trane en trauma, veral die herlewing van die aanvanklike moorde op hulle ouers, maar dis ook terapeuties en sy laat hulle prentjies teken, speel musiek en help hulle om sover dit moontlik is, heel te kom.
Sy gesels met Jona oor die mense wat hy geskiet het, en tot haar verbasing kom dit uit dat Bella ook twee geskiet het. Daar is egter ‘n vasberadenheid wat oor die meisietjie kom as sy daaroor praat. Miskien sal dit iewers, in die toekoms, vir haar nagmerries besorg, maar nie nou nie.
Wat haar die meeste tref is die insette wat Basjan gelewer het. Hy, anders as die kinders, het na die oorspronklike vertel van hulle verhaal, so toegeslaan soos ‘n klei-os se neusgate. Catryn, die sielkunde tannie, kry niks verder uit hom uit nie.
Basjan staan elke oggend vroeg op en gaan hardloop. Dan gaan was hy en na ontbyt werk hy en die ander in die land wat hulle aangelê het. Dis groot, sowat dertig hektaar en hulle het mielies, koring, sorgum en groente geplant. Alhoewel daar baie water is, moet dit aangery word en dis harde werk. Elkeen in die oord werk, van die klein kindertjies tot die ou mense, man en vrou.
Jona en Bella steel die mense se harte, nie net omdat hulle weeskinders is nie, maar omdat hulle mooi en oulik is. Die tannies kompeteer uiteindelik openlik om Bella se hare te versorg, te was, en te kam. Wanneer daar rusperiodes is – dit word baie warm Noord van die berg – ontspan die meeste mense rondom die swembad, wat onder ‘n groot skadunet is.
Basjan steur hom nie aan die jonger vroue se flirtasies nie. Hy het meer as genoeg moeilikheid, dink hy, as om dinge nog verder te kompliseer. Hy weet diep in sy hart dat hulle verblyf hier maar tydelik is. Hy weet nie waarom hy dit weet nie, maar dit is so. Hier is tog alles wat hy en die kinders nodig het: kos, water, verblyf, liefde en opvoeding. Hier is ‘n opgeleide sielkundige wat sorg dat die kinders se spoke hulle nie rondjaag nie. Hier is veiligheid, buitelug, gesonde leefstyl, mense wat omgee.
En tog… soms oorweeg hy om die kinders hier te laat in ander mense se sorg en saggies een nag te verdwyn. Hy het dit met Catryn bespreek en sy het ingestem dat die kinders onbepaald by haar en haar man kan bly. Maar dan kom vra Jona vir hom iets vertroulik, of Bella sit in sy arm en slaap as sy na haar ma verlang. Sy het ‘n manier aangeleer om, seker soos sy in die ou tyd met haar eie pa gedoen het, as sy afklim van sy skoot af, hom ‘n vinnige soen op die mond te gee. Hy ervaar dan ‘n liefde wat hy laas as klein seuntjie geken het, voordat hy self ‘n weeskind geword het, en soortvan daarvoor gekompenseer het gedurende sy jare as soldaat. Voordat hy en sy makkers deur die ou regering verraai is. Voordat hy ‘n smokkelaar geword het.
He who hath wife and children…
Catryn kom sit langs hom op die bank langs die swembad. Hy hou van haar. Sy is heelwat ouer as hy en daar is geen sprake van ‘n man-vrou aangetrokkenheid nie. Maar sy is mooi en skraal en goed versorg. Hy dink daaraan dat sy ‘n baie mooi jongmeisie moes wees.
Hy trek sy hemp oor sy kop. Alhoewel hy skraal en sterk en deesdae bruingebrand is, is daar ou letsels en littekens, party nog effens rooi en die een oor sy regterblad waar die skrapnel uit ‘n Kubaanse drie en tagtig millimeter mortier hom getref het, is dik van die littekenweefsel. Hy kry nie skaam daaroor nie, maar hy wil nie daaroor praat nie. Net so min as wat hy sou uitwei oor die handvol medaljes wat onder in ‘n ammokas onder die houtplanke in sy kliphuis lê. Behalwe ‘n Pro-Patria vir grensdiens, vyf- en tienjaar diensmedaljes is daar nog vir oorgrens-operasies en dan die een wat maar net ‘n klein persentasie soldate ontvang het, die kruis van die Honoris Crux.
“Basjan, wat beplan jy vir die kinders?”
“Catryn, dis eintlik nie ‘die kinders’ nie, maar ‘my kinders’. As alles verby is, sal ek probeer om hulle familie op te spoor, indien daar is. So nie, sal ek hulle grootmaak na die beste van my vermoë”.
“En as ‘alles oor is’, soos jy dit stel, waarmee gaan jy hulle onderhou? Waarmee gaan jy vir hulle sorg, ‘n huis vir hulle gee, vir hulle kos en klere koop en uiteindelik vir hulle opvoeding betaal?”
“Ek het ‘n klompie goed wat genoeg werd is.”
“En as jy verlief raak? Sal dit op iemand wees wat ‘n ma vir hulle kan wees? Sal jy tot dan ‘n pa en ‘n ma kan wees, al is jy nie eens hulle familie nie?”
“’n Vrou? Nee. Julle geslag pas nie nou of later in my beplanning in nie. Wat familie betref, die feit dat hulle nie bloed is nie, is dit al kriterium om kinders lief te hê?”
“So, is jy lief vir hierdie kinders?”
“Ek glo so. Ek het nog nooit iemand lief gehad nie, behalwe my eie pa en ma, en hulle is dood in ‘n karongeluk toe ek kleiner was as wat Bella nou is. So, ek weet nie regtig wat liefde is nie. Ek was seker lief vir die makkers wat ek in die weermag geken het. Ons manne praat mos nie daaroor nie. Maar dis nou anders met hierdie twee. Is dit liefde as jy banger is dat hulle iets sal oorkom as vir die dood? As jy hulle sien speel, soos hulle nou daar doen in die water, en jy weet dat jy nooit van hulle geskei wil wees nie? As jy jou lewe sal opoffer sodat hulle kan lewe? As jy hulle wil beskerm teen enigiets en enigiemand? As jy saans wakker lê om te luister of een van hulle nie huil in die donker nie, as jy hulle wil druk en vashou en nooit laat gaan nie?”
“Ja, Basjan, dit klink vir my asof jy hulle liefhet.”