Dr JP Botha
Lees reeks by Derdepoort
Die tragedie by Kaya-se-put
Die Bagatlas bly steeds ‘n bedreiging
Die suksesvolle straftog wat die Boere in die middel van Desember 1899 teen Linchwe se Bagatlas onderneem het, sodat hulle “een vreeslijken afschrik” vir die wraak van die Boere gekry het, het hulle net tydelik gedemoraliseer. Na mate hulle Engelse bondgenoot uit Rhodesië, met sy pantsertreine en sy krygsmag al verder suidwaarts in die rigting van Mafeking gevorder het en ‘n doring in die vlees van die Boerekommando’s op die grens geword het, het die Swartes weer moed geskep om met nuwe vyandigheid teen die Boere, hulle Engelse makkers te ondersteun.
Plumer bedreig die Boere by Krokodilpoel
Kolonel Plumer het op 27 Desember 1899 met 400 manskappe en twee kanonne vanaf Tuli sy opmars suidwaarts begin, nadat hy met verligting ontdek het dat die Boere dié gebied verlaat het. Op 10 Januarie 1900 was hy reeds naby Mochudi, waar hy met Nicholson se pantserafdeling verenig het. Sy mag was toe meer as 1 000 manskappe sterk, met ‘n 2.5-duim kanon, ‘n seweponder, twee maxims en twee gepantserde treine.
Plumer het sonder versuim met die spoorlyn langs suidwaarts opgeruk en op 15 Januarie Gaberones bereik, waar hy 240 manskappe van Bird se Rhodesiese Regiment in die koppies langs die spoor laat stelling inneem het, onder-wyl die Railway Volunteers besig was om die vernielde treinbrug te herstel.
Swart en Van Rensburg is te bang om die Engelse aan te val
Bird se afdeling het nou kontak gemaak met die Rustenburg- en Maricoburgers wat deel van kommandant Swart se krygsmag gevorm en die hoë rant langs die Notwanirivier by Krokodilpoel beset gehad het. Swart het nie
Op 20 en 23 Januarie het daar klein skermutselings tussen die twee magte plaasgevind, maar verder het dit nie gekom nie. Swart het uiteindelik darem 75 man as versterking vanaf Derdepoort onder generaal Van Rensburg self ontvang, maar hy het nie tot ‘n grootskaalse aanval op Plumer se mag oorgegaan nie. Bird het intussen geleentheid gehad om sy troepe op die koppies deeglik te verskans, sonder dat Swart en Van Rensburg hom lastig geval het. Van Rensburg het ‘n week later weer na Derdepoort teruggekeer en aan die Regering laat weet dat dit ‘n onbegonne taak sou wees om die vyand te Krokodilpoel aan te val. Hy
Dit was duidelik dat Van Rensburg te bang was om die Engelse aan te val. Hy was boonop as aanvoerder heeltemal onbevoeg. Generaal Snyman was verbaas dat die offisiere by Krokodilpoel vir hul taak teruggedeins het. Hy het gerieflikheidshalwe vergeet dat hy self te lafhartig was om met sy groot beleëringsmag Baden-Powell se troepemag in
Die Regering betig die bang offisiere
President Kruger was ook bitter teleurgestel om te hoor “dat de offisieren daar zoo zeer wan-kelmoedig zijn. Het schijnt of onze menschen te Krokodilpoel niet op den Heer en zich zelf vertrouen, maar op kanonnen en dan gaat het verkeerd.” Hy het beveel dat alle burgers van Marico en Rustenburg wat met verlof tuis was, opgeroep moes word om onmiddellik die kommando te Krokodilpoel te hulp te snel.
Alhoewel die kommando op 7 Februarie 1900 reeds 200 burgers van Mafeking af gekry het en veggeneraal Van Rensburg met 50 bur-gers vanaf Derdepoort in die laer by Krokodilpoel aangekom het, is daar geen aanstaltes gemaak om die vyand aan te val nie. Daarom het Bird by wyse van ‘n paar nagtelike aanvalle op die burgers se skanse teen die rant, probeer om die Boere tot aksie aan te spoor. Hy het egter nie sukses behaal nie, maar sy aanvalle is darem telkens met sukses afgeslaan.
Plumer het besef dat die onaktiewe Boerekommando by Krokodilpoel tog daarin slaag om hom van Mafeking af weg te hou en daarom het hy ’n nuwe roete beplan in ‘n poging om die Boere te ontglip deur te probeer om oor Kanya die hand aan Baden-Powell en die beleërde dorp te reik.
Die Bagatlas slaan weer toe
Aan die begin van Februarie 1900 het daar egter ‘n paar gebeurtenisse in die distrikte Rustenburg en Marico plaasgevind wat nuwe bekommernis aan die Regering van die Republiek besorg het. Met die straftog wat teen die Bagatlas van Sekwani aan die einde van Desember 1899 uitgevoer is, is nie daarin geslaag om die Republiek se wesgrens van alle gevaar van invalle van vyandiggesinde swart stamme te sui-wer nie. Deur middel van militêre vertoon en ander druk deur Plumer uitgeoefen, het die Engelse dit reggekry om die meerderheid van die swart kapteins in Betsjoeanaland langs die Republikeinse grens, soos Khama, Mpefu, Linchwe, Bathoen, Magoia, Pilaante, Sebele, en ook ander, teen die Boere op te rui, sodat Swart, Van Rensburg en Du Plessis nie net aandag aan Plumer se bewegings langs die treinspoor moes bestee nie, maar ook nog op hul hoede moes wees vir die aanvalle van swart kommando’s wat meesal deur Britse offisiere aangevoer is.
Die ramp by Kaya-se-put
Die Bagatlas van Betsjoeanaland was op hierdie tydstip ook al weer volkome slaggereed. ‘n Groot impi van naastenby 1500 krygers het daarin geslaag om noord van Derdepoort ongesiens die Republikeinse grens oor te steek en was besig om doelloos in die ruie bosveld, ongeveer 40 kilometer suidoos van Derdepoort rond te luier. Op Sondag 18 Februarie gewaar hulle vyf waens wat, swaar belaai met meel en ander voorrade vir die Derdepoortse laer bestem, besig was om onder sorg van 10 burgers moeisaam met die grootpad aan te kruie. Daar was net drie perderuiters onder hulle, ‘n sekere Olivier, Dreyer en Willem Gouws.
By Ganskuil het hierdie drie ‘n entjie vooruit gery tot by Kaya-se-put, waar hulle deur die Bagatlas aangeval is. Olivier en Dreyer het egter daarin geslaag om te ontvlug en berig van die gebeure na die laer te Derdepoort te bring. Willem Gouws se perd is onder hom doodgeskiet, maar omdat hy ‘n goeie naelloper was, kon hy wegkom en ontkom.
Daarna het die hordes op die waens toegesak. Vyf van die sewe burgers het ook daarin geslaag om te ontvlug, maar M Kilian en Marthinus Ras kon nie ontsnap nie en is albei op wreedaardige wyse om die lewe gebring, onderwyl die waens geplunder is.
By die ontvangs van hierdie berig het veldkornet Roos met 60 man vanaf Derdepoort teen die impi opgeruk en ‘n verbete geveg teen die Bagatlas gevoer. Hulle was in staat om hulle self ‘n geruime tyd lank te handhaaf, aangesien hulle van vuurwapens voorsien was en ‘n groot oormag uitgemaak het. Daar het dan ook sewe burgers gesneuwel voordat Roos uiteindelik daarin geslaag het om hulle in die rigting van Tweedepoort te verdryf. Daarna moes Roos noodgedwonge na Derdepoort terugval omdat dit vir sy ontoereikende krygsmaggie te gevaarlik sou wees om die vyand te agtervolg.
Toe kommandant Du Plessis, wat op hierdie tydstip met 150 burgers van die Derdepoortse laer by Krokodilpoel was, berig ontvang van die slag wat Roos teen die Bagatla-impi gelewer het, het hy met 100 ruiters deur die rante van Rampapaan na Jan-se-kop opgeruk om die vyand voor te sny. Hulle het hom egter betyds gewaar en noordwaarts geswenk, en is die laaste keer gewaar toe hulle ‘n entjie bo-kant die samevloeiing van die Krokodil- en Maricorivier weer in Betsjoeanaland verdwyn het.
Na die moorde by Kaya-se-put het die Regering die oorblywende burgers in die distrikte Rustenburg en Marico gekommandeer om die twee distrikte teen die nuwe gevaar te gaan beskerm. Daar was egter feitlik geen reserwes meer beskikbaar nie en daarom het die Regering 250 burgers wat vroeër uit hierdie omgewing onder kommandant Steenkamp na Colenso gestuur is, teruggeroep. Hulle het Rustenburg op 9 Maart bereik, gereed om behulpsaam te wees met die verdediging van die twee westelike distrikte.
Verskuiwing van die laers
Berigte oor nog Bagatla-impi’s wat op ver-skeie plekke gewaar is, het die burgers in Swart se laer by Krokodilpoel soveel bekommernis oor die veiligheid van hul gesinne besorg, dat ‘n aantal van hulle sonder verlof huiswaarts weggeglip het om hul wonings te gaan beskerm. Swart se laer is daardeur soveel verswak dat hy die Regering versoek het om hom toe te laat om sy hele laer terug te trek na ‘n punt waar hy in staat sou wees om die onluste in die distrik te bekamp, terwyl hy nog deur middel van patrollies na die grens die Engelse se vordering langs die treinspoor kon belemmer. Die Regering het toegestem en op 26 Februarie 1900 opdrag gegee om die Derdepoortlaer suidoos-waarts te verplaas na Jan-se-kop, by Bierkraal-spruit, ‘n paar kilometer noord van Pilandsberg, sodat die plase hiervandaan beskerm kon word. Die laer kon nie onmiddellik verskuif word nie omdat daar 220 trekosse kortgekom het, wat eers op Rustenburg, 140 kilometer daarvandaan, gekommandeer moes word.
Valse gerugte en die bang Van Rensburg
Die veiligheid van hierdie laer was tien dae lank ‘n groot bron van kommer vir die Regering. ‘n Groot aantal burgers aldaar het aan Malaria gely en hul kosvoorraad was op ‘n paar slagbeeste na, geheel en al uitgeput.
Velkornet Roos het egter met moeite daarin geslaag om te Rustenburg 800 osse bymekaar te kry, waarmee hy, vergesel van 60 berede burgers, op Vrydag 2 Maart na Derdepoort vertrek het. By Pilandsberg het veggeneraal Van Rensburg met ‘n kommando van 90 burgers, almal voetgangers, by hulle aangekom en hulle meegedeel dat Du Plessis se laer deur die Engelse en ‘n Bagatla-impi omsingel was en dat die koppies rondom Bierkraalspruit van gewapende Swartes gewemel het. Hy, Van Rensburg, het verklaar dat hy onder geen omstandighede kans gesien het om die osse veilig na Derdepoort deur te kry nie en het die burgers beveel om om te draai en die trop na Rustenburg terug te neem. Daarop het hy self met sy burgers na Elandsrivier teruggetrek, terwyl Roos met ‘n paar man voort is na Derdepoort. Gelukkig het hy egter kort daarna vir Jacobus Malan met 30 ruiters raakgeloop, wat vanaf Derdepoort gekom het om met die osse te help. Landdros Brink het intussen daarin geslaag om te belet dat die osse weggeneem word. Hy het Van Rensburg beweeg om saam met Roos en Malan met 100 burgers die trekdiere na Derdepoort te bring. Hulle het die laer op 8 Maart sonder teëspoed bereik en veilig uitgebring.
Alhoewel daar feitlik geen voedsel meer was nie en die meerderheid van die burgers straf aan koors (Malaria) gely het, was Van Rensburg se storie dat hulle deur Plumer se troepe en Linchwe se bendes omsingel sou wees, geheel en al onwaar. Dit het die Regering tot die slotsom gebring dat Van Rensburg “in het geheel niet voor zijn betrekking berekend is,” met die gevolg dat hulle hom ontslaan het.
Aangesien die twee laers, met die oog op die beskerming van die twee distrikte teen aanvalle van swart bendes, verplig was om nader aan die bewoonde plase te verskuif, was daar nou geen Boerekommando meer aan die grens van die Republiek noord van Mafeking wat enigsins ‘n poging kon aanwend om die Engelse se bewegings langs die treinspoor te belemmer nie.
Die wesgrens lê oop en Plumer is op pad na
Toe Plumer te Krokodilpoel gewaar dat die Boere spoorloos verdwyn het, het hy die geleentheid aangegryp om nog ‘n hele entjie nader aan