DERDEPOORT (8 - SLOT)

Dr JP Botha

Lees reeks by Derdepoort

Die swart vloedgolf oor Transvaal

Die Engelse het deur die plasing van Plumer se troepemag aan die noordwesgrens van die Republiek en deur die besetting van Mafeking uitmuntend daarin geslaag om die bewondering en lojaliteit van die swart stamme in dié gebied vir hulle te verseker, waardeur hulle in staat gestel is om dié stamme tot vyandigheid teen die Boere te beïnvloed en vir hulle op hierdie wyse goeie bondgenote in die stryd te verseker.

Plumer se suksesvolle aksies op die grens en die Boere se neerlaag te Mafeking het die respek wat die inboorlinge in dié streke vir die Boere gehad het, afgetakel sodat hulle nie gehuiwer het om gemene saak met die Engelse te maak en Transvaal binne te val nie. Dit het feitlik gelyktydig met die inmars van die Britse leërs in Transvaal plaasgevind, sodat al vroeg in Junie 1900 die Engelse joernalis, CJ Weir, beweer het dat native looters seem to have overrun the Transvaal.

Die Engelse het nie weer probeer om soos by Derdepoort hierdie feit te verdoesel deur te beweer dat die Swartes alleen maar die rol van gidse, ossedrywers en perdeoppassers vervul het nie. Hulle is gebruik om die Boere se vee bymekaar te gaan maak en na die Engelse kommando’s te bring.

Toe die plaasafbranding begin, moes hulle die Engelse help om die huise te plunder en aan die brand te steek. Hulle moes help om die gesaaides te verniel en af te brand.  Hulle moes help om die pluimvee op die verlate werwe te vang en dood te maak.  Hulle moes vir die Engelse die vroue en kinders wat teen dood en lewe probeer wegvlug het, gaan vang en soos diere na die kampe toe aanjaag. Hoeveel verkragtings het nie plaasgevind nie! Hulle het bendes gevorm wat met die goedkeuring van hulle Engelse bondgenote, stroop- en plundertogte op die plase uitgevoer het.

Generaal Jan Smuts skryf in Januarie 1902 in ‘n brief aan president Kruger: “Toe die mishandeling van vroue en kinders geen ander uitwerking op die Boere gehad het as om nog harder te veg en te volhard in hul regverdige stryd nie, toe wend die vyand ‘n nog fataler middel aan om ons te beveg, die bewapening en die gebruik van gewapende naturelle.”  Hy skryf dat toe die vyand in 1901 Nylstroom en Pietersburg ingeneem het, het hulle geskenke en wapens aan die swart kapteins van Waterberg en Soutpansberg gegee. Kort daarna het onverwags die vreeslikste moorde op vroue en kinders en oumense gevolg.

GD Scholtz sê in Generaal CF Beyers dat die stryd in Noord-Transvaal tot aan die einde van die Oorlog, “tussen Boer aan die een kant en Brit en Swarte aan die ander kant” gegaan het. Ds RD McDonald skryf in In die skaduwee van die dood dat hierdie Swartes in die woonhuise gegaan het en met geweer in die hand uiters brutaal en beledigend teenoor die vroue opgetree het. Hulle het eenvoudig brood, botter, melk, klere, perde en enigiets wat hulle wou hê, geëis en wee die vrou wat dit nie gou vir hulle gegee het nie.

Ewald Steenkamp skryf in Helkampe: “Op die 10e September 1900 is die swartes deur die vyand in Reitz rondgestuur om al die vrouens, kinders en oues van dae te arresteer, wat nie toegelaat is om in die dorp agter te bly nie.  Later het die berede swartes hulle deur die strate aangejaag en gedurig uitgevloek. Ten spyte van hul hewigste proteste en beroepe op menslikheid van die vyand, is talle vroue se trouringe van hul vingers geruk. Magteloos moes die vroue hierdie vernedering verduur, terwyl die blanke vyand meer gedoen het om die swartes in hul brutaliteit te sterk as om hulle teen te gaan.”

Vir die arme weerlose vroue en kinders op die plase was hierdie “swart bemagtiging” en die toepassing daarvan ‘n geweldige skok.  Mevrou  Aletta de Jager van Pietersburg beskryf sommige van  haar ervarings in  Mag ons vergeet? van mevrou  E Neethling, as volg:

“Ons het nooit kon dink dat die Engelse die swartes sou toelaat om ons te molesteer en om sulke gruweldade jeens weerlose vroue en kinders te begaan nie. Die swartes het vir ons mans beloof dat hulle ons geen kwaad sou doen nie.  Maar hulle is ‘n valse nasie!  En wat het ons gesien?  Binne agt dae nadat die troepe Pietersburg ingetrek het, het al die swartes Brits geword. En toe is hulle uitgestuur om al die vee wat nog op die plase by die vroue was, af te neem.  En nie net alleen het hulle die vee afgeneem nie, maar het die eiendom van die vroue op vyandige manier verniel en gesê dat hulle dit doen op bevel van die Engelse.”

“Toe dit donker word, het ons almal in die huis gegaan en die deure toegesluit.  Maar pas het ons dit gedoen of daar word geweldig op die deure geslaan. Die deure het oopgevlieg, en stukke glas uit die vensterruite het in ons gesigte gespat. Swartes met byle en sabels spring ons huis binne en gryp alles wat hulle in die huis kon kry.  Hulle het vir ons niks oorgelaat nie as net die klere wat ons aan ons lyf gehad het.”

“Die swartes het gesê dat ons die volgende dag ons huis moes verlaat, anders sou hulle vir ons met geweld daaruit kom haal, want die Engelse het gesê hulle moes dit doen en ook die Boere vang, want dan sou hulle die Boere se plase kry.”

Mevrou Betty Hofmeyr van Marabastad, Pietersburg het op 8 September 1902, in ‘n hartroerende  brief in die selfde boek haar ervarings beskryf, toe sy en haar huisgesin na die konsentrasiekamp vervoer is.  ‘n Paar fragmente daaruit lui as volg:

“Wat was ons ontsteltenis toe ons hoor dat die Engelse die swartes opgeroep het om hulle te help met die gevangeneming van die Boere en hul families.”

“Die Engelse het regdeur na Louis Trigardt getrek. Honderde gewapende swartes het met hulle meegetrek.  Die swartkapteins het self vir ons vertel dat Magato se volk bymekaar geroep is en orders ontvang het om burgers, vroue en kinders te vang en na die Engelse te bring.”

“Dié nag kom die swartes van alle kante op die stasie bymekaar en die oggend was daar tussen ses-tot agthonderd bymekaar.”

“Watter vreeslike angs het ons gedurende dié dae gely! Omring deur honderde barbare, wat ons uitgeskel en gedreig het om ons met hulle asgaaie te steek – rondom ons niks as woedende vyande nie!”

“Die swartes het orders gekry dat hulle al ons vee en die waens na die Engelse toe moes bring, en dus kon ons in ons eie waens reis.”

“So baie swartes het op ons waens geklim dat ons skaars plek vir onsself kon kry.”

“Die waens het hulle naby aan mekaar getrek en honderde swartes het rondom ons wag gehou. Tot twee-uur in die oggend het hulle aangehou met dagga rook, vloek en rumoer.”

“Meer as een nag het ons niks anders verwag as om vermoor te word nie.  Saans het die swart vroue vir die swart mans bier gebring, en dan het hulle gedrink tot hulle erg beskonke was.  Dit was aller-aakligs om hulle taal dan aan te hoor.”

“Partykeer was dit ondraaglik in die waens; hulle was vol swartes, en die reuk was genoeg om mens siek te maak.  Onder hulle was ook dié wat aaklige en besmetlike siektes gehad het.”

“Baie van ons het siek gelê aan die malaria-koors, en ons het die nag in ellende en angs deurgebring, maar tog was God naby ons.”

Al die gruweldade wat volgens hierdie getuienisse in Noord-Transvaal gebeur het, het ook in die res van die Republiek en in die Vrystaat gebeur en skrikwekkend voortgeduur tot aan die einde van die Oorlog.  Dit het grootliks bygedra tot die onbeskryflike beproewings, smart en ellende wat die geteisterde Boerevolkie in hierdie ongelyke stryd teen sy twee verenigde vyande, die Britte en die Swartes, moes verduur.

Die tragedie wat in die vroeë oggendure van 25 November 1899 by Derdepoort aan die Transvaalse wesgrens plaasgevind het, was die eerste openbaring van die hegte bondgenootskap wat die Engelse in die Tweede Vryheidsoorlog met die swart volke van Suid-Afrika gesluit het, in hul gesamentlike pogings om die Boere van die aarde af te verdelg.  Die Engelse en hul swart makkers se volgehoue aanslag teen die Republieke tot aan die einde van die Oorlog, vorm ‘n groot, donker skandvlek op die Engelse militêre geskiedenis van die vorige eeu. Engeland het altyd ‘n bondgenoot nodig gehad wat hom moes help om sy oorloë te wen, maar daarna het die Britse leeu altyd sonder beloning vir die hulp wat hy ontvang het, alleen met die geroofde buit weggestap.