Met die herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag 138 jaar gelede plaas ons graag hier ook sy eie kort skets oor sy geboorte en die tragiese omstandighede daaromheen toe sy moeder, Rachel, net na sy geboorte gesterf het. Hierdie feite is deur sy aangenome pa vir wie hy Pappie genoem het, aan hom meegedeel. Dié skets het Langenhoven in 1932 geskryf.
"In die nag tussen 12 en 13 Augustus 1873 is ek gebore, 'n ou dingetjie wat so swak en tengerig was dat hy nooit kon lewe nie en tog geleef het. Vyf dae ná my geboorte is my moeder Rachel dood. Ek het geen portret of skets of handskrif van haar nie; maar tog darem, vandag nog, 'n lokkie goue hare wat Mammie afgeknip en vir my bewaar het."
Toe Pappie met Mammie getroud is (hulle het nooit eie kinders gehad nie) had sy by haar in die huis haar baie jonger suster Rachel. Anderpa (dis nou Langenhoven se eie pa en ook die broer van "Pappie") het van Hamelkop af by hulle kom kuier op Hoeko, somtyds maande lank daar gebly en gehelp met die boerdery. En hy was op Rachel verlief en sy op hom, en so is hulle getroud ( die twee broers met die twee susters getroud). Anderpa het met sy bruid na die ou plaas Hamelkop teruggegaan en 'n woning aangelê oorkant die diep rivier, net so 'n steilte uit en 'n entjie anderkant af by 'n skilderagtige bekie tussen die houtbosse. En daar is hulle eerste kind gebore, my oudste broer Philip en die enigste volbroer wat nog leef (in 1932). Hy woon en boer nog daar in die diep rivier; ons paaie het ook maar nooit saamgeloop nie en selde mekaar gekruis. 'n Beter man as sy jonger broer, wat nou hier skryf...
En daar, terwyl daardie eerste kind nog 'n suigeling was, het die groot brand van êrens in die sestigs hulle oorval. By die ou opstal op Hamelkop was die heuwels en vlaktes met groot gras dik begroei maar sonder bome. Onder die berg langs, by George verby en tot by Knysna, was dit een houtbos aanmekaar van reusebome, geelhout en stinkhout en assegaaihout en olienhout en al die ander wat nog in Knysna te sien is. Maar daardie jaar, dit was seker uitsonderlik droog, het die ontsaglike brand in een dag die hele woud tot by George vernietig. Anderpa het my 'n beskrywing van die vuur gegee; ek wens ek het sy woorde aangeteken. Daar was 'n gedreun soos van 'n geweldige storm en 'n gebreek en gekraak deur die digte houtbos van wilde diere en mak diere wat wanhopig vlug – om tog maar om te kom. Geen perd kon die voortjagende vuur voorbly nie; waar hy oor 'n rant kom, brand hy nie duskant af tot in die kloof en oorkant uit nie; vuurhope word met die orkaan van wind deur die lug geslinger om 'n nuwe vatplek te kry teen die volgende helling. Anderpa was opsy by sy werk; hy hardloop huistoe toe die vuur die bult oor kom; voor hy daar was staan die dak in volle vlam. En die moeder en die suigeling was nêrens te sien nie. Sy het die riviertjie ingevlug, en daar, soekende deur die rook en die as en die kole, het hy haar gekry. Al sy boerdery-gereedskap en al wat hulle in die huis gehad het, is vernietig – net sy groen wakis het hy op die wa gesit en die wa op die afdraande werf aan die loop gesit tot in 'n groen mielieland waar dit behoue geby het. Daarvandaan te voet deur die verbrande wêreld, kom die twee die aand by die oumense op Hamelkop aan met die suigeling en die klere wat hulle aan hulle lywe gehad het, hy in sy onderbaadjie. En dit was nie die laaste vuurramp wat hulle getref het.
Daarná het hulle teruggetrek Hoeko toe en op 'n stuk van 'n plaas wat Pappie intussen bygekoop het aan die westekant van die rivier onder die bronsloot gewoon, waar Anderpa van voor af opnuut begin te boer het. Pappie het toe regoor aan die oorkant van die rivier gewoon, in een van die oorspronklike groot opstalle van die plaas.
Op Hoeko het my Anderpa, dis nou my eie vader, en my moeder, behalwe die genoemde oudste, twee kinders bygekry, 'n dogter en 'n seun. Die dogter is dood ná die ramp wat nou hier beskryf sal word:
Die seuntjie was 'n paar jaar oud sodat hy met 'n klonkie vir 'n maat kon rondloop en speel. Bokant die opstal was die klonkie se ouers se strooihuis. Speel-speel, hier snuffel en daar kwaaddoen, het die twee opgeloop tot by die strooihuis waar daar nog brandende kole van die oggend se vuur oorgebly het, en wie weet, het hulle probeer om die vuur weer aan die gang te kry. Daar was niemand daar nie; die aia was by die nooi in die kombuis behulpsaam; die jong en Anderpa was besig om te ploeg op land na die rivier se kant toe, 'n hele ent daarvandaan.
Meteens skree die jong daar op die ploegland: "Baas, baas, daar brand die huis af!"
Uit die blote voorgevoel sonder om te weet wat daar gebeur het, hardloop Anderpa na die brand toe. Toe hy daar kom, staan die kleinjong buite, en die strooihuis het inmekaar gestort. Van mense wat nader was as hy, was daar al 'n klompie om die rokende puin versamel; 'n paar vroue was besig om vir Rachel te lawe. Anderpa stap in die vuur in, gooi die brandende sparre opsy sodat sy hande en arms gaar verbrand, en haal die onherkenbare lykie onder die vuur uit.
Die moeder het van die een floute in die ander geval. Die vader was rasend. Eenmaal het hy my iets vertel – hy het nie maklik van daardie dae gepraat nie. Voor die deur van die woonhuis was daar 'n afdraande-kweekwerf met 'n ry aalwynbome op die onderend en die groot bronsloot net agter die heining. (Hoe onthou ek dit nie alles nie – ek het later daar grootgeword!) En daardie een slag het die oukêrel my dan vertel hoe hy voor die deur op die stoep staan, en hy kyk op die werf af, en dan sien hy deur die onderste droë blare van die aalwynbome die wit krulkoppie onderkant die sloot loop. Dan stap hy daarheen om hom te gaan haal – dit kan nie wees nie, hy is mos nie dood nie! En hy kry hom nie en hy kom maar weer huistoe. En aanstons loop hy weer. En al die tyd lê die afsigtelike oorblyfsel van 'n witkoppie binne in 'n kamer in 'n kissie wat die vader self gemaak het, wagtende op die begrafnis...
Die moeder se verdriet het nie lank geduur nie. Onder die skok van die treurspel half besweke, het sy die orige van haar lewe gegee om, voor die tyd, 'n ander lewe in die wêreld te bring, 'n ander kindjie om net te sien en met laaste sien te groet. In die nag tussen 12 en 13 Augustus 1873 is ek gebore, 'n ou dingetjie wat so swak en tengerig was dat hy nooit kon lewe nie en tog geleef het. Vyf dae ná my geboorte is my moeder Rachel dood. Ek het geen portret of skets of handskrif van haar nie; maar tog darem, vandag nog, 'n lokkie goue hare wat Mammie afgeknip en vir my bewaar het.
So het die kinderlose Pappie en Mammie my dan uit die sterwende moeder se arms geneem om 'n kind vir hulle te wees. En nader, sonder om 'n wesentlike kind te wees, kon ek ook met bloedverwantskap sekerlik nie gewees het nie – ek was Pappie se broerskind en Mammie se susterskind...
Ui Anderpa se huis waar ek gebore is, is ek dan na Pappie en Mammie se woning geneem, die ou opstal aan die oorkant van die rivier, 'n groot drievlerk-huis met ontsaglike dik mure en klein vensterruitjies onder 'n rietdak. Daar het ek die eerste sewe, agt jaar van my lewe deurgebring.