IN HERINNERING AAN DIE AANKONDIGING OP 29 JANUARIE 1940
Dr JP Botha
Die veelbewoë tydperk wat die stigting van die Herenigde Nasionale Party vooraf gegaan het, het ek persoonlik beleef. Ek het in 1939 en 1940 as jong onderwyser skoolgehou op generaal Hertzog se plaas Waterval, op die tweeman-skooltjie wat destyds daar bestaan het. Die hoof was Bennie Botha (nie familie nie) . Ons twee het loseer by tannie Belmont Hertzog, die vrou van generaal Hertzog se tweede seun Charles. Charles het geboer en die groot plaas met sy meer as ‘n dosyn bywoners bestuur. Ons het vir hulle kinders skoolgehou, ongeveer 40 tot 45 in getal. Ek het ook twee van Charles en Belmont se kinders in my klas gehad, Barry en Jannie. Die derde een, klein Charlesie, het nog nie skoolgegaan nie.
Die skooltjie was vlak by Charles se huis en het uit twee klaskamers bestaan wat hy uit ou buitegeboue omskep het. Van Charles hulle se huis af het ‘n paadjie ongeveer 300 tree ver tussen soetdoringbome geloop na generaal Hertzog se huis. Generaal Hertzog was gewoonlik hier op die plaas wanneer die parlement nie in sitting was nie.
Intussen het die onweerswolke gedurende 1939 al duideliker oor Engeland en Duitsland begin opsteek. Waar ek en Ben en Charles saans voor die groot Atwater Kent-radio gesit en luister het hoe die twee omroepers uit Londen en Zeesen mekaar al hoe heftiger aanval en slegsê, het ons geweet oorlog is onvermydelik voor die deur.
Generaal Hertzog het ons meegedeel dat hy by die parlementsittng aan die begin van September 1939 gaan voorstel dat Suid-Afrika, in geval daar oorlog in Europa uitbreek, nie daaraan gaan deelneem nie, maar neutraal sou bly. Trouens, hy het as Eerste Minister ‘n dokument gehad waarin die adjunk Eerste Minister, generaal Jan Smuts, belowe het om hom te ondersteun.
Onderwyl generaal Hertzog hom toe gereed maak, breek die Oorlog toe uit. Was dit 3 September 1939? Die aand voordat Charles die Generaal die volgende dag na Pretoria sou bring om vir die sitting na Kaapstad te gaan, sien ek hulle twee met die paadjie afstap na die Generaal se huis en ek hoor Charles sê: “Vader, ek sê vir vader, generaal Smuts gaan ons verneuk!” Ek hoor die Generaal se effens dieper stem: “Nee Charles, ek ken vir generaal Smuts; hy sal by my staan.” Maar ek hoor Charles is nie tevrede nie en so ver as wat hulle loop, hoor ek hoe hoe hy vir generaal Hertzog beduie dat generaal Smuts hulle gaan “verneuk”.
Nou ja, dit is toe ook wat gebeur het, soos wat ons almal weet. Die stemming het 67 opgelewer vir neutraliteit en 81 vir deelname aan Engeland se kant. Generaal Hertzog het bedank as Eerste Minister en Smuts het sy plek ingeneem en oorlog verklaar teen Duitsland.
Daardie aand sit ek en Ben en Charles weer met opgewonde kloppende harte voor die radio en hoor die nuusomroeper sê: Generaal Hertzog vertrek môrevroeg per trein na Pretoria. Generaal Smuts vertrek vanaand per vliegtuig na die hoofstad. Advokaat Oswald Piro is vanmôre al per vliegtuig na Pretoria...” Toe ons dit hoor, toe juig ons drie spontaan, want ons het gedink (en gehoop) Piro gaan Smuts fnuik en ‘n staatsgreep uitvoer. Maar dit het toe nie gebeur nie.
‘n Paar dae later na die segetog by Monumentkoppie saam met dr Malan verby was en die teleurgestelde generaal Hertzog weer by ons op Waterval terug was, vra ek vir Charles of hy nie sy pa verwyt het met “ek het mos gesê!” nie. Hy sê nee, hy kon dit nie oor sy hart kry nie, want hy het gesien die Generaal voel baie sleg oor wat gebeur het.
Twee aande later was Charles-hulle en Bennie êrens heen. Ek was alleen tuis in die huis, wat ook as Gousberg-poskantoor gedien het. Toe begin die telefoon lui en moes ek telegramme ontvang en neerskryf. Ek onthou dit was ‘n stuk of vyf, ses, almal in Engels en almal aan generaal Hertzog gerig, elkeen nog meer beledigend as die vorige. Ek het uitgemaak dat die jingos wat dit gestuur het, baie boos was omdat generaal Hertzog nie die Mother Country se oorlog wou ondersteun nie.
Die volgende oggend toe die skool aan is, hoor ek ‘n huiwerige klop aan my klaskamerdeur. Hier staan generaal Hertzog en bedank my hartlik vir die telegramme wat ek vir hom ontvang het, net asof hulle die wonderlikste goeie nuus bevat het! So was hierdie wonderlike man: Altyd vriendelik en bedagsaam en waarderend vir elke gunsie wat aan hom bewys word.
Ons het ‘n bedrywige tyd op Waterval beleef. Generaal Hertzog se politieke ondersteuners het hom aanmekaar besoek en een middag het ek vir dr Malan ook daar gewaar. Charles het my op die hoogte gehou van die onderhandelinge in Bloemfontein, wat tot die stigting van die Herenigde Nasionale Party gelei het. Ons was jammer dat generaal Hertzog hom aan die onderhandelinge onttrek het, maar was bly toe hy hom permanent op Waterval kom vestig.
Hy het die gang van die Oorlog nougeset gevolg. As dit radio-nuustyd was, het hy in sy studeerkamer gesit en luister en die troepebewegings noukeurig op ‘n kaart aangeteken.
Hy het ook nog dikwels besoek van sy vorige politieke ondersteuners ontvang. Op ‘n sekere dag sien ek hy kry besoek van ‘n man in ‘n bakkie, met ‘n bloekompaal agterop, waaraan ‘n rooi vlaggie gebind is. Charles vertel my toe dat dit advokaat Oswald Piro was, die vorige Minister van Verdediging, wat graag sy besoeke aan generaal Hertzog ongesiens wou hou, want hulle het ontdek dat Smuts ‘n spioen of meer in die omgewing geplaas het om die Generaal se bewegings te monitor. Later het Charles my vertel dat hulle vasgestel het dat Smuts se spioen een van die bywoners op die plaas was, Willem Botha. Toe dink ek, ja, generaal Hertzog het jarelank vir jou verniet verblyf hier op die plaas gegee en nou wil jy hom daarvoor met kwaad vergeld!
Ek en Ben het gedurende die loop van 1940 geleentheid gehad om die liewe generaal Hertzog as mens baie beter te leer ken. Hy het ons dikwels saamgenooi op sy wandelings in die veld. Dan het hy nooit politiek gepraat nie, maar met ons gesels oor diepsinnige filosofiese dinge, wat meesal bokant ons vuurmaakplek was.
Tydens hierdie wandelings in die veld, wat meesal Sondae plaasgevind het, was generaal Hertzog met sy kierie gewoonlik gekleed in ‘n wit hemp en broek, wit skoene en ‘n wit strooihoed. Een Sondagmôre het Charles saam met ons gestap en toe ons later sit en tee drink op die stoep, sien ons dat op die Generaal se wit broekspype dit wemel van die klein rooi bosluisies. Hy het seker tydens ons wandeling in ‘n graspol getrap waar hulle pas uitgebroei het. Charles gaan haal toe ‘n “dodenbossie”-spuit en ook gif en ék kry die voorreg om die Generaal se broekspype skoon te spuit en hom te verlos van die plaag wat hom getref het.
Ek wil nog één episodetjie oor hom vertel. Toe hy nog Eerste Minister was, kom hy op ‘n dag van die Kaap af tuis en bring vir my en Ben elkeen ‘n pikkewyneier. Hy beduie dat hy reeds vir Kleinbooi, tannie Belmont se kok, vertel het hoe hy dit die volgende oggend vir my en Ben vir ontbyt moet gaarmaak. Dit gebeur toe so, maar ek en Ben kon daardie eiers nie eet nie. Ons het dit nie vir generaal Hertzog gesê nie. Gelukkig het hy ons nooit weer daarna gevra nie.
Nouja, hierdie is ‘n relaas van my ervarings van gebeurtenisse wat gedurende die twee jaar, 1939 en 1940 die stigting van die Herenigde Nasionale Party voorafgegaan het. Miskien is daar iets uit te leer. Ek hoop u sal dit interessant vind.