ERFENISPROJEK VERDER UITGEBOU
Frikkie Strauss
Dit is vir ons by Suidland Media 'n voorreg om inligting te verstrek aangaande die verdere uitbouing van ons historiese erfenisprojek in die vorm van die toevoeging van 'n reeks van tien nuwe DVD’s tot ons versameling. Dit bring ons totale aantal titels nou op 100 te staan. Ingeslote die volledige lys.
Sommige van die nuwe toevoegings is heeltemal onbekend aan die publiek en slegs enkele individue weet van die bestaan daarvan. Dit dek persone en gebeurtenisse waarvan baie hedendaagse Afrikaners nog net gehoor het en vul op dié wyse belangrike leemtes in ons historiese kennis aan. Hieronder volg die besonderhede:
- Die Geskiedenis van Pretoria
Pretoria, eers hoofstad van die ZAR en later van die RSA, was die stille getuie van groot gebeurtenisse in ons geskiedenis. Op hierdie DVD verskyn videogrepe van baie van hierdie gebeurtenisse, sommige wat opgeneem is in die beginjare van die filmindustrie, ‘n onderwerp waaroor daar op sigself baie interessante inligting verstrek word. Enige Pretorianer of ander persoon wat op een of ander stadium in Pretoria gewoon het, sal hierdie DVD baie geniet. Die DVD is in Afrikaans en Engels, maar die twee tekste dek nie deurgaans dieselfde gebeure nie. Prys R80
- Die Dorsland Trek
Die Dorsland Trek is n gebeurtenis in ons geskiedenis waarvan die meeste Afrikaners baie min weet - dit wil sê as hulle hoegenaamd al daarvan gehoor het. Dit vertel die verhaal van die groep Transvaalse Boere wat, uit ontevredenheid met President Thomas Burgers se liberale staatsbeleid, Transvaal tussen die jare 1874 en 1877 verlaat het en Weswaarts getrek het totdat hulle uiteindelik in die Suide van Angola beland het, vanwaar hulle in 1929 na Suidwes-Afrika verhuis het. Die trek het deur die dorre Kalahari gegaan en dit vertel ‘n verhaal van byna bo-menslike lyding en ontberinge. Die vertelling word op ‘n boeiende en lewendige wyse deur die akteur wyle Pieter du Bruyn gedoen. Prys R80
- Ladybrand Konsentrasiekamp
Ladybrand is in die Oos-Vrystaat geleë. Hier was ‘n deurgangskamp vanwaar vroue en kinders uitgeplaas is na permanente konsentrasiekampe. Dit is nie bekend hoeveel vrouens en kinders hier gesterf het nie, maar die grafstene is getuienis van sterftes. Die begraafplaas is in ‘n vervalle en gehawende toestand. Baie van die grafstene het omgeval en lê in stukke tussen die gras. Die videobeelde, geneem deur Rudie Rousseau, vervul ‘n mens met diepe hartseer by die gedagte aan die totale gebrek aan enige wil by hedendaagse Afrikaners om die nagedagtenis te eer van hulle wat gely en sterf het om vir ons vryheid en ‘n lewensruimte te verwerf.
Die DVD bevat ook interessante vertellings oor die rol wat ene Genl Jan Crowther gespeel het in die opbouing van die gemeenskap na die Tweede Vryheidsoorlog asook inligting oor Ds Schalk van Heerden wat die inisiatief geneem het met die oprigting van ‘n kinderhuis vir oorlogswesies. Die bekende Robey Leibrandt is ook in die begraafplaas begrawe. Prys R60
- Die Slag van Helvetia
Tydens die Tweede Vryheidsoorlog was Helvitia ‘n strategiese Britse stelling naby Lydenburg in die Oos-Transvaal. In hierdie veldslag het die Boeremagte die stelling verower en die bekende Lady Roberts kanon as buit geneem. Die video-opname op hierdie DVD is deur Rudie Rousseau gemaak tydens die herdenking van hierdie veldslag en die verteller is Kol Piet Schoeman, ‘n nasaat van die Schoeman-familie wat van die eerste Voortrekkers was wat hulle in hierdie geweste gevestig het. Prys R60
- Die Slag van Moedwil
Die Slag van Moedwil het kort voor die einde van die Tweede Vryheidsoorlog plaasgevind en was ‘n poging van Genl Koos de la Rey om ammunisie en ander voorrade by die Engelse te buit. Die DVD vertoon ‘n nabootsing van die veldslag deur ‘n aantal amateurs. Dit was ‘n poging van die Rapportryers van Rustenburg om skoolkinders op ‘n aanskoulike wyse by die belewenis van ons geskiedenis te betrek. Prys R60
- The Guest
Hierdie DVD bevat ‘n film wat gemaak is oor ‘n kort episode in die lewe van Eugene Marais. Dit dek die tyd wat hy op ‘n plaas in Noord-Transvaal deurgebring het om te herstel van malaria wat hy opgedoen het. Dit fokus onder andere op die invloed wat sy verslaafdheid aan morfien op sy lewe gehad het. Dit bestaan onder andere uit gesprekke wat sterk filosofies van aard is. Dit sal meestal mense met ‘n besondere belangstelling in die lewe van Eugene Marais wees wat in hierdie DVD sal belangstel. Dit word nie vir kinders aanbeveel nie. Prys R80
- P J Schoeman : ‘n Lewensskets
Mense wat in hulle kinderjare die jagverhale van P J Schoeman gelees het, sal dit baie geniet om na hierdie DVD oor die lewe van Schoeman te kyk. Dit dek ook minder bekende fases in sy lewe, soos die tydperk as professor in Volkekunde aan die Universiteit van Stellenbosch en die die periode wat hy hoof van Natuurbewaring in Suidwes-Afrika was. Prys R80
- N P van Wyk Louw : Sy lewe
Vir persone wat ‘n liefde het vir die poësie en drama van Van Wyk Louw sal hierdie DVD baie interessante kykstof uitmaak. Dit dek sy hele lewe sedert sy vroegste kinderjare op Sutherland, deur sy skool- en studentejare, sy gesinslewe, sy jare as dosent aan die Universiteit van Kaapstad en ook in Amsterdam, sy verskil met Dr H F Verwoerd oor rasseverhoudinge tot en met sy dood in Johannesburg in 1970. Die DVD bestaan hoofsaaklik uit fotobeelde van sy lewe asook vertellinge deur sy gesinslede, vriende, studente en ander digters en skrywers. Prys R80
- Kerkplein-vergadering
Kort voor die referendum van 1992 is ‘n groot vergadering op Kerkplein in Pretoria gehou om stemme te werf teen die beplande grondwetverandering van mnr F W de Klerk. Die drie bekendste Afrikanerleiers van daardie tyd, naamlik mnr Jaap Marais, Dr Andries Treurnicht en mnr Eugene Terre’Blanche, onderskeidelik leiers van die Herstigte Nasionale Party, die Konserwatiewe Party en die Afrikaner Weerstandsbeweging het by dié geleentheid opgetree. Veral die rede van mnr Jaap Marais het uitgestaan. Op sy tipiese sistematiese wyse het hy die keuse wat voor die kiesers gelê is aan die hand van die bewoording van die stembrief ontleed en met byna profetiese visie die gevolge van ‘n Ja-stem uitgespel. Dit wat vandag voor ons oë afspeel in Suid-Afrika is die getuienis van sy besondere insig in die politiek. Prys R80
- Grepe uit die Lewe van Eugene Terre’Blanche
Na mnr Eugene Terre’Blanche se vrylating uit die Rooigrond-gevangenis het die radioman Rian van Heerden ‘n onderhoud met hom gevoer. Baie reguit en indringende vrae is aan hom gestel. Onder andere word die gebeure in Bophuthatswana, toe een AWB-lid doodgeskiet is, bespreek. ‘n Aantal van sy gedigte wat onder andere handel oor sy kleuterjare, sy hoërskooljare aan die Hoërskool Heidelberg en oor sy moeder en sy vrou word ook voorgelees. Die inhoud van die DVD gee ‘n baie meer gebalanseerde beeld van hom as persoon as die bekende openbare beeld wat baie Afrikaners van hom het. Prys R80
NEEM ERFENISBEWARING NA VOLGENDE VLAK
Ons het in September 2009 met hierdie historiese bewaringsprojek begin. Ons is dus nou vir vier jaar lank daarmee besig. Die ontwikkelingsfase van die projek is op hierdie stadium min of meer afgehandel, aangesien die grootste gros van films en klankbande wat oor verskillende dekades oor ons volk se geskiedenis gemaak is nou in ons versameling is. Die projek het groot offers in die vorm van tyd, energie en geld geverg. Dit is egter maar net die begin van die proses van bewaring van hierdie historiese erfenis van ons. Die erfenis sal slegs op ‘n blywende wyse vir die nageslag bewaar kan word as hierdie skyfies uiteindelik hulle weg tot in elke Afrikanerhuis kan vind. Om dit te vermag, moet die projek wyd bekendgestel word en Suidland Media beskik nie oor die hulpbronne om dit te doen nie. Daarvoor het ons die ondersteuning van mede-Arikaners nodig.
Wat kan u doen om ons te help? Die elektroniese media is ‘n kragtige hulpmiddel. Daar is vandag baie min Afrikaners wat nie oor ‘n rekenaar beskik nie en data-pakkette vir die verspreiding van inligting op die internet is baie bekostigbaar. Die belangrikste bydrae wat u nou kan lewer, is om hierdie inligtingstuk aan soveel moontlik Afrikaners op u poslys te stuur.
BOU DIE MURE VAN DIE VOLKSLEWE WEER OP
Die mure van ons volkshuishouding is afgebreek. Dit het geskied deur ‘n berekende geestelike, ideologiese en politieke aanslag waardeur ons geloof aangetas is en ons van ons identiteit, ons historiese bewussyn en ons vryheid beroof is. Die mure moet weer opgebou word, soos wat Nehemia en sy medewerkers die mure van Jerusalem opgebou het. Hy kon daarin slaag om die afgebreekte en verbrande mure van die stad in slegs 51 dae weer op te bou en die poorte in te sit. Die mure moes opgebou word om die stad se inwoners teen hulle vyande te beskerm.
Ons geskiedenis is die mure van ons volk. Dit is die mure van:
- Ons geloof , want ons geskiedenis lewer getuienis van die ingrype van ‘n Almagtige en Getroue God wat ons voorouers uit doodsgevare gered het.
- Die beginsels waarop ons volkslewe gebou is, wat van ons ‘n sterk en gerespekteerde volk gemaak het en ons deur vele voortbestaanskrisisse gedra het.
- Die feite basis omtrent die verkryging van ons land en ons verhoudinge met ander volkere in Suid-Afrika.
- Ons historiese ervaring, omdat dit getuienis lewer van die wyse waarop ons voorouers bedreigings en uitdagings hanteer het en waaruit ons baie kan leer.
- Volkseenheid, vanwaar ons op ‘n eendragtige wyse die sprong na die toekoms kan waag.
Ons geskiedenis lewer voorbeelde van manne en vroue wat gewillig was om die offers te bring wat die vryheidsideaal gevra het en wat deur hulle gelowige en verbeeldingryke dade vir ons as hulle nageslag ‘n land aan die wildernis, barbarisme en imperialisme ontruk het. Ons geskiedenis is die geestelike, feitelike en ideologiese mure wat ons weerbaar maak teen subtiele sielkundige oorlog wat teen ons gevoer word en dit bied ‘n veilige basis van waar ons ‘n toekoms vir ons kinders kan skep.
In die boek Nehemia lees ons hoe die volk tot op voetsoolvlak entoesiasties deelgeneem aan die herstelwerk. Elkeen het gebou aan die stukkie van die muur waaragter hy gewoon het – vandaar die spoed waarmee die werk voltooi is. Netso sal elke Afrikaner moet deelneem aan die herstel van ons historiese mure en ons het nie onbeperkte tyd daarvoor nie. Ons is oortuig dat ons geskiedenis, soos vasgelê in beeld en klank op die DVD’s en CD’s wat Suidland Media versprei, saam met ander middele ‘n baie geskikte hulpmiddel daartoe bied.