DIE "DUTCH COLONISTS" SE GLORIERYKE OORWINNING
Dr JP Botha
Dit is weer tyd om een van die oortuigendste oorwinnings van ons Boerevolk oor die Engelse te herdenk en hierdie naweek sal daar weer duisende Afrikaners aan die voet van Amajoeba uitkamp en in strome die piek bestyg waar daar gesing en vlae geswaai word om ons oorwinning van 130 jaar gelede te vier. Daarom gesels ons vandag weer oor Die Slag van Majoeba wat op 27 Februarie 1881 die gevegte van die Boere se Eerste Vryheidsoorlog afgesluit het. Dit was 'n unieke gebeurtenis wat vérreikende gevolge gehad het. Indien dit vergelyk word met groot veldslae in die geskiedenis, was dit maar 'n onbeduidende geveggie waar 200 Boere die 600 Engelse van die kruin van die berg af verdryf het. Hierdie oorwinning het vir die Boere weer die onafhanklikheid van hul republiek besorg en die dunk wat hulle van die Engelse gehad het, drasties gewysig.
Reeds vanaf die begin van die vestiging van die Engelse in Suid-Afrika by die aanvang van die 19e eeu, het hulle met groot meerderwaardigheid opgetree teenoor hierdie "Dutch Colonists" wat vir die Britse verowerings- en uitbreidingsideale 'n struikelblok was. Daar is verkleinerend neergesien op die leefwyse van die vryburgers, die oosgrensboere en later op die Voortrekkers en die Boere. Die Britse owerheid het hierdie wordende Afrikanernasie altyd bejeën as afstammelinge van 'n volksgroep wat alleenlik oor minderwaardige kwaliteite en eienskappe beskik, in vergelyking met hul trotse Britse meerderwaardigheid, wat hulle wou aanwend om hier vanaf die suidpunt van Afrika na die binneland toe die wêreld om te tower in 'n Britse paradys, waarin daar geen plek sou wees vir hierdie minderwaardige Afrikaners nie, maar wel vir die vinnig vermeerderende swart natuurkinders wat nuttig aangewend kon word om as ongeskoolde arbeiders te help om Britse projekte tot stand te bring.
Waar Britse en Afrikanerbelange gebots het, soos met die anneksasie van die Republiek van Natal, het die sterk militêre hand eenvoudig vir Pretorius en die Trekkers in 1843 uit die pad gevee. Toe die Engelse belange in die Vrystaat deur die Trekkers bedreig word en Andries Pretorius hulle weer militêr te hulp snel, word hy by die slag van Boomplaas in 1848 weer uit die pad gevee.
Hierdie suksesse het by die Engelse die wanopvatting laat groei dat die Boere as lastige struikelblok in die pad van Britse uitbreiding in Suid-Afrika, elke keer maklik uit die weg geruim kon word en daarom het Shepstone in 1877 Transvaal sommer doodluiters gaan annekseer, onder die wanindruk dat die saak nou afgehandel was. Die lydelike verset en agitasies daarna, wat veral deur Paul Kruger gelei is, het die Britse owerheid ontgogel en laat besef dat hierdie minderwaardig gewaande Boere nie maklik in hul lot gaan berus nie, maar hulle het wel geglo dat in geval van oorlog die opgeleide Britse soldate sommer gou sal klaarspeel met die handjievol wat dit durf waag om teen Britse gesag in opstand te kom.
Toe die oorlog dus uitbreek en by die slag van Bronkhorstspruit binne tien minute 75 Engelse soldate sneuwel en kolonel Anstruther self aan sy wonde beswyk, het die gebeurtenis skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur wat tot in Londen weerklink het.
Die Engelse het ontdek dat die Afrikaners ernstig was om hul land te verdedig en dat daar by hulle geen teken van lafhartigheid was om by die eerste tromslag om te spring en weg te hardloop soos voorspel is nie. Daarom het die Engelse leërleiding dit gerade geag om groter erns te maak om hierdie vermetele Boereweerstand soos by alle vorige kere uit die pad te vee. Die man wat geskik geag is om hierdie nietige, maar lastige takie uit te voer, was 'n volbloed Brit, goed opgelei en 'n puik militaris. Hy was die Britse Hoë-Kommissaris en bevelvoerder in Natal, generaal sir Pomeroy Colley, wat ewe rustig en op sy tyd met sy 1400 troepe uit Natal van plan was om Pretoria toe te trek om die Boereopstand te gaan beëindig. Maar tot sy verbasing het die Boere sy deurtog te Laiingsnek gestuit en die Engelse hul tweede swaar neerlaag besorg met verlies van 74 gesneuweldes en 111 gewondes.
Toe Colley in die verdere gevegte by Schuinshoogte en die Ingogorivier nog 'n verdere verlies inboet van 76 gesneuweldes en 67 gewondes, het sy mening aangaande die Boere se aard, inbors en bekwaamheid 'n drastiese ommekeer ondergaan. Sy meerderwaardigheid het 'n knou gekry en hy het skielik besef dat sy hele loopbaan op die spel was en dat hy voortaan as 'n grap in die Britse militêre establishment beskou sou word en dat hulle hom dit nooit sou vergewe dat hy die Britse prestige so 'n slag toedien deur nie in staat te wees om hierdie handjievol Boere uit sy pad te vee nie. Om darem so oortref te word deur 'n klomp onopgeleide Boere, was nou eenmaal te erg en hy was vas van plan om hierdie Transvalers 'n oortuigende neerlaag toe te dien.
Colley het gereken dat sy ongewone plan om sy troepe gedurende die nag van 26 Februarie 1881 die 2000 meter hoë Amajoebaberg te laat bestyg, 'n briljante ingewing was wat hom in besit sou stel van absolute oninneembare stellings. Daarom het hy hom aanvanklik nie eers daaraan gesteur toe hy boodskappe ontvang dat daar op sy troepe geskiet word nie en het hy vol selfvertroue en onbekommerd na sy tent gestap om 'n middagslapie te gaan geniet, juis op die oomblik toe die burgers die berg al klaar bestyg het en gereed gemaak het vir hul finale aanslag op die kruin.
Toe Colley 'n ruk later wakkerskrik, het hy besef dat die onmoontlike gebeur het en dat die Boere besig was om sy onoorwinlike stelling in te neem. Dit het vir die 200 Boere wat in die helder daglig die berg bestyg het, skaars 'n halfuur op die kruin geneem om die 600 Engelse soldate te verdryf. Drie offisiere - Colley inkluis - en 93 manskappe het gesneuwel, 8 offisiere en 109 manskappe is gewond en 7 offisiere en 49 manskappe is gevange geneem. Een Boer het gesneuwel en 5 is gewond.
Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat die onoorwinlike Engelse uiteindelik op hul baadjie gekry het en dit nogal aan die hand van 'n klompie ongeskoolde Boere. Maar die Britse Leeu kon mos maklik 20,000 troepe teen hierdie astrante Transvalers in die veld stoot en oor hulle loop. Trouens, 'n deel van hierdie mag was alreeds op see, verskeep vanaf Gilbraltar. Paul Kruger en die ander lede van die driemanskap was daarvan bewus en het die Engelse outoriteite beweeg om 'n wapenstilstand te sluit voordat hulle behoorlik van hul verbasing oor hul neerlae kon herstel.
Later het Engeland besef dat hy 'n fout begaan het om aan die Boere van Transvaal hul onafhanklikheid terug te gee, al het dit onder Britse susereiniteit geskied. Maar die teruggawe van die republiek aan die Boere was die eerste geleentheid na die Amerikaanse Vryheidsoorlog waar Groot Brittanje verplig was om 'n gebied wat hulle voorheen beheer het, weer prys te gee. Die Britte wat so gewoond was om slae uit te deel, het nou hul eie medisyne baie bitter gevind. Hulle het daarna dikwels beweer dat Transvaal sy onafhanklikheid teruggekry het weens Britse "groothartigheid". Die waarheid is egter dat die Engelse in alle opsigte deur die Boere getroef is. Op die slagveld het generaal Piet Joubert die beste Britse veldheer 'n les of twee geleer en om die onderhandelingstafel het Paul Kruger dieselfde met die befaamde Engelse diplomate gedoen.
Na die Engelse neerlaag by Amajoeba op 27 Februarie 1881 het hulle die Boere nie meer onnosel en lafhartig genoem nie, maar hulle sou nooit erken dat hierdie dapper volkie enigsins hul gelyke op militêre en diplomatieke gebied was nie. Die herinnering aan hul neerlae gedurende die Transvaalse Eerste Vryheidsoorlog het hulle vasberade gemaak om hierdie swart kol op die Britse prestige weer uit te wis en om veral die neerlaag wat hulle by Amajoeba gely het, te wreek. By al die uitlandergriewe teen die republikeinse regering, wat na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand ontwikkel het, en wat deur Chamberlain en Milner as casus belli aangegryp is om oorlog teen die republiek te stook, het die noodsaaklikheid om die neerlaag by Amajoeba te wreek, nog steeds in die Britse onderbewussyn gelê.
Vir die Boere was hul skitterende oorwinning by Majoebaberg oor generaal Colley se uitgelese troepemag 'n geweldige aansporing. Dit het die noodwendige minderwaardigheidsgevoel wat by hulle mettertyd ontwikkel het as gevolg van die feit dat hulle jare lank maar altyd net moes wyk voor die getalsterkere Britte wat klokslag gereeld en meedoënloos hulle na die binneland agtervolg het en gewetenloos hulle grondgebied wat met groot opoffering bekom is, weer met geweld van hulle afgeneem het, vervang met geloof en vertroue in hulself en met die wete dat hulle in geen opsig hoef terug te staan voor Britse effektiwiteit nie.
Gedurende die volgende jare wat as die aanloop tot die Tweede Vryheidsoorlog beskou kan word, het hul oorwinning oor die Britte by Majoeba 'n aangename herinnering in die bewussyn gebly en hulle vasberade gemaak om die nuwe aanslag wat die Britte besig was om teen hulle duurgekoopte vryheid te maak, met moed en vertroue die hoof te bied. Daarom kon hulle ook met die aanvang van die Tweede Vryheidsoorlog verskeie groot oorwinnings oor die Engelse behaal, omdat hulle geweet het hulle is nie net in elke opsig die vyand se gelyke nie, maar ook hul meerdere.
Die geweldige getalsoorwig van die vyand wat die Boere uiteindelik oorrompel het en generaal Piet Cronjé met 4 000 man by Paardenberg op 27 Februarie 1900 aan die vyand laat oorgee het, was vir die Boere 'n bitter beker om te drink omdat hierdie ramp op Majoebadag plaasgevind het. Hulle het gevra waarom Cronjé tog nie maar net nog 'n dag langer teen die oormag kon uithou nie, in plaas van om dit spesifiek op 27 Februarie te doen en daarmee die besieling van Majoebadag te vernietig. Dit toon aan hoe sterk die herinnering aan die glorieryke oorwinning wat tevore by Majoeba plaasgevind het die Boere motiveer het om in die Tweede Vryheidsoorlog die Engelse met selfvertroue en durf aan te pak, maar hierdie selfvertroue is in 'n groot mate afgetakel deur die ramp wat hulle op Majoebadag 1900 getref het. Die Engelse daarenteen, se juigkrete by Cronjé se oorgawe op 27 Februarie 1900, het beteken dat hulle net soos die Boere hierdie gebeurtenis aan Majoebadag verbind het en gevoel het dat hul neerlaag van 1881 uiteindelik in 1900 en daarna voldoende gewreek is.