AMAJUBA... SPITSKOP...

LAND VAN ONS VADERS

(Lees reeks by Land van Ons Vaders)

Dr WJ de Kock

Amajuba... Spitskop... Berg van die Duiwe... Colley se kop. Hoe veraf klink dit nie in die lang bloedspoor van ons geskiedenis nie? Blaai terug, laat ons lees van Brit en Boer en hoe hulle eens met die wapen in die hand teenoor mekaar gestaan het. Só was dit in Andries Pretorius se dae by Kongella, só was dit by Swartkoppies daar onder in die Vrystaat; en by Boomplaats; en toe, 'n geslag daarna, in Transvaal – die dae van Shepstone en sy anneksasie, die vreemde vlag wat oor Pretoria in 1877 gehys is; die jare van protes, van mooipraat, tot mooipraat 'n einde gekry het – by Paardekraal, Dingaansdag 1880. Met die wapen in die hand dan, as praat nie meer wou help nie. Hoe moet jy anders die vryheid kry wat van jou gesteel is? Watter antwoord  moet jy gee aan mense wat 'n ryk wil bou wat deur Voortrekkerhande oopgemaak is?

Hoog dan met die Vierkleur. Dra hom na Heidelberg. Hys hom daar as simbool van die nuwe vryheid. Keer vas die Engelse in Pretoria, in Potchefstroom, in Rustenburg.

  Keer hul voor by Bronkhorstspruit. Stuur Piet Joubert na die pas by die Drakensberg; Laingsnek. Daar moet hul deur, die Rooibaadjies uit Natal en dié wat van agteraf oor die see nog sal kom. Daar is die poort na Transvaal waar Langenek se lae rante dwars vasloop teen die laaste punt van die Drakensberg; die groot kop wat geskiedenis gaan maak.

'n Nuwe jaar begin met bloed. Die jaar 1881. Die Januariemaand van Laingsnek se slag. Sir George Pomeroy Colley, generaal-majoor, goewerneur van Natal, ly sy eerste neerlaag teen die steil groen bulte waar Buffelsrivier sewaters begin. Dit word Februarie. Colley sal weer probeer: hierdie keer is dit Skuinshoogte – of Indogo, die slag wat Nicholaas Smit se naam in die Boeregeskiedenis laat leef. 'n Tweede nederlaag vir die jong goewerneur van Natal, wakkere Colley, 45 jaar oud, soldaat van sy jeugjare af, op die Kaapse Oosgrens, in Sjina, in Ashanti, in Natal, in Afghanistan, weer in Suid-Afrika. Kyk agter die berg – daar aan Transvaal se kant staan die tente en die waens. Dis Piet Joubert se laer vlak langs die grootpad van Transvaal en Newcastle, vlak onder die skaduwee van die groot berg met sy donkergroen kolle – Amajuba, Spitskop, berg van die duiwe.

Februarie 1881. Wat gaan die jong Ier doen? Nog 'n aanval, 'n derde probeerslag? In sy tent skryf Piet Joubert moeisaam 'n verslag aan Paul Kruger wat in Heidelberg die Vierkleur gehys het. Ons wag om te sien wat hy doen, hy of Evelyn Wood, die nagwolf wat ons graag in die donker aanpak. Sal hy wag vir Wood om nader te kom of sal hy self die Boere takel? Self die oorwinning gryp?

Saterdag 26 Februarie 1881: Colley het sy besluit geneem. Hy sal dit self doen. Uit sy kamp in Mount Prospect sal hy vannag sluip, stilweg na die weste beweeg, teen die steilte van Inkwela uit, al met die hoë rante langs, al met die nek langs, tot by Majuba se suiderkruine: opklouter in die nag om môre vroeg bo te wees. Dwarsdeur die nag – klim en klouer, kanontrek, val, opstaan, weer klim teen die pikdonker steiltes uit, vasklou aan boomwortels, ophys aan kranse – altyd nader aan Majuba. Moeg en flou op die kruin. Gehawend en vaak – maar bo – terwyl die Boere daar onder nog slaap of die eerste koffieketeltjies begin rook.

Dagbreek op Amajuba: Sondag, 27 Februarie 1881. 'n Skone môrestond vir hulle wat van bo-af kyk: wye vlaktes van Transvaal – hul mikpunt. Regs – Laingsnek se rante, omkeerplek van Januarie, vesting van die Boere. Ver onder en agter, hul eie kamp by Prospect, daar waar verlede nag se opmars begin het. Daar waar hul makkers nog wag. Daar waar hul generaal en baie ander volgende week in die graf sal lê.

Wat 'n pragtige gesig: al die liggies in die Boerekamp daar onder. Maar nou – nou eers rus – uitrus in die vlak pannetjie waar volop lêplek is vir Rooibaadjies en Skotse bruinbaadjies en die bloubaadjies van die skip Dido se seesoldate – byna 400 altesame.

En daar onder in die Boerelaer op hierdie vroeë Sondagmôre? Stomme verbasing. Verwarring. Rooibaadjies op die kop? Wie het dit ooit verwag? Wie sal hulle nou daar gaan afhaal?

Die uur van nood en krisis lewer ook sy manne. Daar ry hulle – haas sonder bevel – byna vanself kry hulle koes na Spitskop se voet: Stephanus Roos, Joachim Ferreira, Dawid Malan. En by hulle, Stephanus Trichardt, die Rasse, Andries Pretorius – Andries Kombuis uit die Waterberg, en klein Bekker van Middelburg, die enigste Boer wat teen Majuba se hang sal sneuwel. Vyf-en-sewentig jong Boere wat die onmoontlike gaan aandurf.

Wie sal hierdie voormiddag se werk beskrywe? Wie sal saam met Stephanus Roos soos 'n wildebok van een krans na die ander klim, sy manne saamroep, verder klim na die kruin 2 000 voet daarbo, met Trichardt en Malan aan die een kant en die dapper Joachim Ferreira aan die ander punt?

Die eerste skote val. Wat doen die soldate daarbo? Sommige rus in die pannetjies, sommige skiet oor die kranse omdat Boere-koeëls hier en daar begin klap. Niemand sien 'n Boer nie.

As die son op die middaguur hoog staan, storm Stephanus Roos en sy manne vir die Noordekruin. Vir Colley en sy soldate het die ongelooflike en die onmoontlikgebeur – die Boere is bo!

Verwarring en paniek – wilde vlug, angs en die Dood op die plat gelyktetjie van die Spitskop. Tussen die dooies lê hy wat die laaste gestaan het en geen voet gewyk het nie – George Pomeroy Colley. Spitskop – Colley se kop.

Dis verby. Piet Joubert skryf weer in sy tent: Onze God die ons de overwinning gaf en ons bewaarde deed zoo een heerlijk daad die alle wonder aan moed en beleid te booven gaat.

Majuba – donker berg van die duiwe – simbool van vryheidsdrif, Wagter by die poort na Transvaal, teken van die Boer se skitterendste wapendaad.