OKTOBER, BEGIN VAN DIE TWEEDE VRYHEIDSOORLOG
9 OKTOBER 1899 – 31 MEI 1902
Jeanette Koekemoer
Dit is weer Oktober, en soos ons dikwels gebeure in ons volksgeskiedenis in herinnering roep sodat ons dit aan ons kinders kan oordra om nooit te vergeet nie, is die herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog een van die heel belangrikste in ons verlede. Die rede daarvoor is omdat ons nooit die onreg teen ons volk gepleeg, mag vergeet nie. Maar meer belangrik, is die redes wat daartoe aanleiding gegee het, en die heel belangrikste, is die lesse wat ons daaruit moes leer. Een daarvan is dat ons volk uit daardie totale verwoesting kon opstaan en met moed en deursettingsvermoë Suid-Afrika weer opgebou het tot 'n vooruitstrewende Eerste Wêreldland. Waar ons vandag in nagenoeg dieselfde as van vernietiging lê en verstik moet ons deur ons geskiedenis onthou dat ons met die genade van ons God weer hieruit kan opstaan.
Reeds in 1896, kort na die berugte Jameson-inval, het die Britse regering teen bepalings van immigrasiewette van die Suid-Afrikaanse Republiek geprotesteer. Engeland het ook die Republiek valslik gewaarsku dat hy nog steeds volgens die Pretoriase Konvensie onder susereiniteit van Engeland staan en gerieflik vergeet dat die susereiniteit deur die Londense Konvensie opgehef is! Hoe Transvaal ook al die aanspraak op susereine reg weerlê het, het lord Chamberlain met hierdie deuntjie aangehou tot die oorlog in 1899 uitgebreek het.
Engeland kon egter nie net oor die susereinteitskwessie die oorlog begin nie en het deur middel van mynmagnate die uitlanders in Johannesburg en omgewing die vuur laat aanblaas. Voorvalletjies en gebeurtenisse waarmee die regering niks te doen gehad het nie, is doelbewus opgeblaas en die Regering is van wanbestuur beskuldig.
Die laaste middel wat deur Chamberlain as voorwendsel aangegryp is om gewelddadig in die binnelandse sake van die Republiek in te meng, was om aanspraak te maak op gelyke politieke regte vir die uitlanders. Die kieswet van Transvaal het op daardie stadium bepaal dat 'n persoon 7 jaar in die Republiek moes woon voordat hy stemgeregtig word. Chamberlain wou die tyd nog korter hê. Ná talle toegewings van die Regering het net die susereiniteitskwessie in die pad van 'n ooreenkoms gestaan, want die Transvaalse regering het geweier om sy absolute vryheid, soos deur die Londense Konvensie bepaal, prys te gee. Die Regering was egter bereid om 'n gesamentlike ondersoek oor sy kieswetgewing te laat instel, soos wat die Britse regering voorgestel het, maar toe die Britte daartoe uitgenooi word, was dit glo skielik te laat!
Intussen is voortgegaan om groot troepemagte na Suid-Afrika te bring. Dit was duidelik dat Groot Brittanje met niks minder as 'n wapenstryd tussen Boer en Brit in Suid-Afrika tevrede sou wees nie. Daaroor was president Paul Kruger korrek toe hy stel dat dit duidelik geword het dat Engeland nie stemreg wou hê nie, maar sy land.
Die Regering het toe besluit om Engeland binne bestek van 'n paar uur te laat kies tussen vrede of oorlog, deur die terugtrekking van die dreigende troepemagte te eis. Die ultimatum is op 9 Oktober 1899 deur die regering aan die Britse agent te Pretoria oorhandig.
Chamberlain het op 10 Oktober laat weet hy soek oorlog.
Die Republikeinse troepe het in die nag van 11 Oktober Natal binnegetrek. Terselfdertyd het generaal De la Rey oor die grens van Betsjoeanaland, 20 myl suid van Mafeking gegaan. Die eerste geveg tussen Boer en Brit het naby Kraaipanstasie plaasgevind waar genl De la Rey die oorwinning behaal het. Die Republikeinse magte het onder kommandant-generaal Piet Joubert Natal binnegetrek. Die Engelse is by Glencoe en Dundee verslaan. Ladysmith is beleër en in die weste ook Kimberley en Mafeking. By Magersfontein, Graspan en Modderrivier het die gevegte ten gunste van die Vrystaters verloop. In die Kaapkolonie het generaal Grobler by Stormberg vir generaal Catacre verslaan. Op 15 Desember 1899 het generaal Buller by Colenso een van sy grootste neerlae gely. Ladysmith se bestorming deur die burgers op 6 Januarie 1900 was 'n mislukking, maar by Spioenkop het die Boere een van die skitterendste oorwinnings van die oorlog behaal.
Lord Roberts het op 28 Mei 1900 die Vrystaat as Britse gebied geproklameer. Sy magte het Johannesburg op 31 Mei en Pretoria op 5 Junie sonder teenstand binnegetrek. Die oorlog is toe voortgesit deur kommando's onder De Wet, Botha, De la Rey, Steyn, Beyers, Hertzog en kommandante wat oral in die distrikte rond geopereer het. Die kommando's het 18 maande lank oral in die Kolonie teen die Britse magte, wat grotendeels bestaan het uit kolonialers, Swartes, Hottentotte en Boesmans, geveg. Afrikaners in die Kolonie wat nie by die Boeremagte aangesluit het nie, selfs jongmeisies, is beskuldig van deelname aan Boerekant, en is tronktoe of doodgeskiet. Rebelle wat in die hande van die Britse owerheid beland het, is gehang of doodgeskiet.
Die Brit was vasbeslote om die Boer uit te delg. Vroue en kinders op die plase is oop waens vervoer na konsentrasiekampe of dae en nagte lank soos vee soontoe aangejaag. Duisende wonings is afgebrand en alles op die plase is verwoes. Die vee is vermink, op hope doodgesteek en sommige weggevoer. Landerye is afgebrand. Daar was geen perk aan die vervolging en smarte van die Afrikanervolk nie. Duisende vroue en kinders wat bevrees was om in die hande van die Engelse te val, het maande lank kaalvoet en beseer op die ruwe velde rondgevlug en in spelonke geskuil, maar uiteindelik tog maar in die moordende kampe beland waar hulle verhonger en die meeste siek gesterf het. Die gekerm en geween van siek moeders, die gesmeek van honger, siek, sterwende kindertjies in die koue tente, het gedurig hemelwaarts gestyg. Die lyding was onbeskryflik groot. Geen volk op aarde het nog ooit donkerder dae beleef as die Afrikanervolk, in sy meedoënlose stryd teen die Engelse nie. Dit was asof die volk deur God verlate was.
Die strydkragte van die Boere in die veld was en die lyding van die hulpelose vroue en kinders het die Boere noodgedwonge tot vredesluiting gebring. In die konsentrasiekamp-kerkhowe lê 26 370 vroue en kinders begrawe, as slagoffers van Britse tirannie.
Die oorlog het Engeland £250 000 000 en twintigduisend lewens gekos. Die Boere het 3 000 burgers en 26 370 vroue en kinders verloor. Engeland het beloof om £3 000 000 aan die herstel van die verwoeste land te bestee, maar nie hul woord gehou nie. Die krygsgevange en verbanne burgers in Ceylon, die Himalayagebergte in Indië, St Helena en die Bermudaeilande, het teruggekeer nadat hulle aan die Britse koning trou moes sweer.
Die oorlog met wapengeweld, was verby...