DIE GELOFTE: 9 DESEMBER 1838
Nadat ons voorouers alles gedoen het wat menslik moontlik was, het hulle besef dat hulle niks teen die oormag sal kan doen sonder die hulp van die HERE nie. Op Sondag 9 Desember 1838 en ses dae daarna het hulle voor Hom in gebed neergebuig met die woorde:
Hier staan ons
voor die Heilige God van hemel en aarde
om aan Hom 'n belofte te doen,
dat as Hy ons sal beskerm
en ons vyand in ons hand sal gee
dat ons hom oorwin,
ons dié dag en dié datum elke jaar
as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring,
en dat ons 'n huis tot sy Eer sal oprig
waar dit Hom behaag,
en dat ons dit ook aan ons kinders sal sê
dat hulle met ons daarin moet deel
tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.
Want die eer van sy Naam
sal daardeur verheerlik word
dat die roem en die eer van die oorwinning
aan Hom gegee word.
Ons is die opkomende geslagte van wie die Gelofte spreek. Daarom verbind ons ons jaarliks opnuut tot die nakoming van die Gelofte, met gebed en smeking dat God ons sal bystaan en help om dit te volbring. Dit doen ons met dankbare erkenning van die uitkoms van die Slag van Bloedrivier wat vir die voortbestaan van die Afrikanervolk deurslaggewend was. Ons herdenk dit as 'n groot daad van God in ons geskiedenis, 'n daad wat ons nie mag vergeet nie en aan óns opkomende geslagte moet oordra. Daarby gedenk ons dit as 'n groot daad in die gekiedenis van die Kerk van die HERE in ons land en oor die hele wêreld.