— 'n verhaal uit die Tweede Vryheidsoorlog
Lees reeks by Jeughelde
'n Bedompige hitte laat die wolke in stapels teen die dreigblou lug saambondel. 'n Tipiese Hoëveld-donderstorm is besig om op te steek. Binne 'n paar minute gaan die eerste druppels begin val. En as dit hard genoeg reën, gaan die spruite kort voor lank in uitbundige rivierstrome verander.
Van waar sy in die opening van die kombuisdeur staan, is die plaasvrou vinnig besig om bevele aan 'n jong, opgeskote seun te gee. "Gideon, draf daar na September toe teen die spruit en sê hy moet die koeie dadelik op stal kry. Toe gou, voor die reën kom!" "Ja, Ma ..."
Die seun was egter skaars weg, of hy maak weer sy verskyning in die kombuis — ten aanskoue van sy verbaasde moeder. "En nou?"
Die diep plooi tussen haar oë vra net een ding: wie gaan die beeste haal? Die seun laat sy kop sak. Hy skop-skop na die tafelpoot. Sy hande hou hy agter sy rug versteek. Mens sal kompleet glo dat die botter wat sy ma besig is om te karring sal vries as dit in sy mond beland! Maar dan is dit asof die moeder se kwaai houding meteens verslap. Daar is nie verniet 'n besondere hegte band tussen moeder en seun nie. "Ai, Gideon, jy en jou streke darem!" merk sy gemaak-ontsteld op. En tog, as sy skrams uit haar oog deur die kombuisvenster loer, kan sy reeds September met die melkkoeie sien aankom.
"Ma, kan ek maar vir Pa van die lande af ook roep? Die son gaan nie meer lank hou nie ..."
Toe die seun by die deur uit is, skud die ma haar kop. Ai tog, die kind met sy spieëltjies darem!
Daardie dag was dit net 'n onskuldige seinspeletjie, maar 'n klompie jare later sou die prentjie anders lyk. Toe sou dit donker oorlogswolke wees wat in 'n broeiende politieke storm saamgepak het. En dié keer sou dieselfde seun moes uitspring om nie 'n paar stuks vee nie, maar 'n ganse volk teen die dreigende gevaar te help beskerm. Hierdie seun was Gideon Scheepers van Roodepoort...
Teen die einde van die vorige eeu het die oorlogswolke dig aan die Transvaalse horison begin saampak. Die twee Boererepublieke, Transvaal en die Oranje-Vrystaat, het hulle stadigaan op 'n oorlog teen Brittanje begin voorberei. Teen 1896 is daar in alle erns met die werwing en opleiding van Republikeinse troepe begin. In dieselfde jaar het President Paul Kruger 'n belangrike uitnodiging aan alle jeugdige seuns gerig. Die President het naamlik belowe dat elke seun wat hom daardie jaar by die Staatsartillerie aanmeld vir opleiding, die geleentheid sou kry om verder te studeer. Dit was 'n geleentheid waarop elke avontuurlustige seun gewag het! Een van daardie seuns was die sestienjarige Gideon Scheepers — 'n op-en-wakker Hoëvelder met 'n paar lewendige, helderblou oë waarvan niks ontglip nie.
Baie opgewonde het hy op die werwingsbeampte se vrae geantwoord. Volle naam?" vra die stem saaklik.
"Gideon Jacobus Scheepers," kom die antwoord onmiddellik. "Geboortedatum en plek van geboorte?"
"4 April 1878 — op die plaas Roodepoort tussen Middelburg en Belfast." "Rigting waarin rekruut graag wil spesialiseer? Kies tussen ..." "Veldtelegrafie!" val Gideon Scheepers die lywige beampte met die welige snor in die rede. En as dié hom gesteurd aangluur, sê hy vinnig as toegif: "Asseblief!" Gits, netnou plaas hulle hom by administrasie of iets dalk nog veel erger — as daar ooit is.
Veldtelegrafie! Vandat hy kan onthou, wou hy al met spieëls en seinapparaat. werk — nou kan hy eindelik gespesialiseerde opleiding ontvang ...
Vanuit die staanspoor was Gideon se instrukteurs beïndruk met sy vlugheid van begrip, helder verstand en sy aanvoeling vir die krygskuns. Die seun was 'n gebore soldaat en het vroeg reeds bewys dat hy 'n belowende toekoms as veldtelegrafis tegemoetgaan ...
Teen die einde van daardie jaar, op 30 Desember 1896, ruk 'n begeesterde Leander Starr Jameson vanuit Charterland (Zimbabwe) op "om die weerlose vroue en kinders van Johannesburg uit die barbaarse hande van dieBoere te red".
Die uitgeslape President Kruger het egter gou besef dat dit slegs 'n set van die Engelse was om die ryk Witwatersrandse goudmyne te annekseer. Intussen het die oprukkende Jameson niksvermoedend voortgegaan om ‘n verwoestende spoor van afgeknipte telegraafdrade agter hom te laat —vas oortuig dat hy in die proses die Transvaalse regering se kommunikasienetwerk gesaboteer het. Ongelukkig vir Jameson, is die hulp van die Staatsartillerie ingeroep om die stukkende telefoondrade met 'n stelsel van veldtelegrafie te vervang. Die gevolg? Toe Jameson Krugersdorp wou binnery, moes hy summier, sonder slag of skoot, die witvlag hys. Nodeloos om te sê, tussen die uitsoekspan heliografiste was dié een van Roodepoort: Gideon Scheepers. Sy reputasie wat hy as knap veldtelegrafis en strateeg opgebou het, het hom selfs in die Vrystaat vooruitgeloop. Dit was onafwendbaar dat die naam Gideon Scheepers ook die ore van generaal Christiaan de Wet sou bereik.
Op agtienjarige leeftyd word 'n oorstelpte Gideon juis deur generaal De Wet versoek om ‘n Veldtelegrafie-eenheid in die Vrystaat op die been te bring. Die doel daarmee was om beter kommunikasie tussen die Transvaalse en Vrystaatse Boeregeneraals te verseker. Onder generaal De Wet se bekwame leiding het Gideon ongekende opgang getoon. In Mei 1898 word hy tot kaptein van sy eie klein verkenningskommando bevorder. Niemand was beter vir die taak geskik as Gideon Scheepers nie, want hy het die Hoëveld soos die palm van sy hand geken. Op negentienjarige ouderdom word Gideon as die bevelvoerder van die OVS-Veldtelegrafie aangestel; daarna het hy hom op die opleiding van jong Afrikanerseuns as veldtelegrafiste toegelê.
Ses weke voor die amptelike uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, speel Gideon ook 'n belangrike rol in die oprigting van 'n heliograafverbinding tussen Bloemfontein en Pretoria.
Die vindingrykheid van die Boere om met mekaar in verbinding te bly, het op daardie stadium byna geen perke geken nie. Volgens 'n Vrystaatse wet moes elke plaas omhein wees. Dit het dus 'n uitstekende netwerk lyne verskaf waarlangs die veldtelegrafiste boodskappe deur middel van vibratortrillers kon stuur. Die drade het lieflik gegons soos die boodskappe oor die plaasheinings trek! Op plekke waar daar onderbrekings was, soos 'n trop beeste wat die drade plat geloop het, het die kommando van Gideon Scheepers maar uitgespring om die onderbrekings met die nodige seinapparaat aan te vul. Op dié manier kon die Boeregeneraals gedurig vasstel waar versterkings oral in die veld nodig was. Of wanneer daar dalk 'n groot Engelse mag op pad was. Slim, inderdaad!
Gideon Scheepers se dienste word ook in die Kaap benodig en hy steek die Oranjerivier op 15 Desember 1900 met vyf en twintig manskappe oor. Sy opdrag: die mobilisering van 'n sterk Kaapse Boeremag en die ontwrigting van vyandelike aktiwiteite. Britse voorradetreine sou ontspoor en die beweging van Tommies vertraag moes word, sodat die Boere in die binneland teen die groot oormag kon uithou.
Die naam Gideon Scheepers het by die Engelse generaals begin spook. Dit het gelyk of die man oral was, bewus van feitlik elke Britse beweging. Maar dit was die karakter van hierdie Boereheld wat die jeug se verbeelding aangegryp het. Vir hom was die oorlog 'n beginselsaak. 'n Afrikanersaak. En dit was hierdie saak wat Gideon Scheepers wou dien. Soms op 'n onverskrokke wyse, ander kere weer ernstig, vasbeslote en koel berekend. Ja, partykeer selfs op 'n humoristiese wyse. Die mens Gideon Scheepers kom duidelik na vore in opgetekende staaltjies van hierdie trotse Boere-artilleris.
Op 'n keer het Gideon die dorpie Uniondale met sy kommando binnegery, terwyl daar 'n nagmaaldiens aan die gang was. Stil-stil het hy 'n aantal Afrikaners wat op grond van "politieke verskille" deur die Engelse op gesluit was, bevry. In die magistraatskantoor het hy alle dokumente wat teen Afrikaners gerig was, verbrand. Toe 'n ou omie van meer as tagtig jaar oud vir Gideon vra waarom hy dit doen, het die galante Boerekryger vir die oudstryder 'n stoel nadergesleep en gesê: "Oom sien, in die Vrystaat en Transvaal ontsien die Engelse niks — nie eers ons Bybels en woonhuise nie. Dan jaag hulle nog weerlose vroue en kinders op die vlakte uit ... Hoekom sal ek dan nie die rekords van alle veroordelings teen lojale mede-Afrikaners vernietig nie?"
Die omie het toe hoogs tevrede toegekyk hoe die kommandant se swaar wenkbroue kort-kort lig as hy iets interessants lees, terwyl 'n amusante glimlag deurentyd op die vriendelike dog vasberade gesig speel. Ja, selfs die kommandohoed was eenkant windmakerig opgeslaan. Dog, wanneer hy die dag in 'n omgekrapte bui was oor die onreg teen sy volk, het Gideon Scheepers maklik 'n paar dinamietlonte te voorskyn gehaal en 'n hele plek in sy peetjie geblaas.
By 'n ander geleentheid het Kommandant Scheepers opgemerk dat een van die jong penkoppe in sy kommando onbewapen was. "Wil jy graag 'n geweer hê, ou grote?" het die kalm selfversekerde kommandant gevra. Die jong seun het skaars sy kop geknik of die kommandant wink met sy hand. "Stap saam!"
Saam met 'n paar ander burgers is die penkop aan die sy van Gideon Scheepers daar weg om sy geweer — waar ook al — te gaan haal. Naby 'n spruitjie agter 'n klompie doringbome het die kommandant sy perd ingehou en beduie waar die manne stelling moes inneem. Ook nie lank nie of 'n Engelse verkenner het houtgerus op 'n swart perd aangery gekom. Kommandant Gideon Scheepers het sy hand op die penkop se skouer geplaas en gefiuister: "Nou gaan jy jou geweer kry." 'n Enkele skoot later kon die oorstelpte penkop opspring om sy beloofde geweer te gaan opeis! Dit was sulke onvoorspelbare optredes wat van Kommandant Scheepers 'n heldefiguur gemaak het.
Kommandant Gideon Scheepers het ook 'n sin vir humor gehad — hy was 'n ware platjie. So vertel sy twee susters Ellen (Elly) en Katherina (Kitty) ná die oorlog die volgende verhaal:
Gideon het een aand in Murraysburg by vriende aangedoen om oorlogsverslae uit ander dele van die land te bekom. Terselfdertyd wou hy darem ook aan sy verloofde, mejuffrou Johanna Scheepers — die dogter van Groot Koos Scheepers — 'n groeteboodskap vanaf die hotel stuur. Toe hy egter 'n groepie Engelse offisiere aan etenstafel aantref, het Gideon 'n blink plan gekry. Hy kan mos nie verniet so flink Engels praat nie! 'n Paar sekondes later stel hy homself voor en begin doodluiters saamgesels oor die Engelse troepesterkte en -bewegings. Om van die Tommies se bewondering vir die Boereverkenners en heliografiste nie eers te praat nie! Lank het die Engelse offisiere by die joviale "oorlogskorrespant" gespog oor hul roemryke veldtaktieke, totdat die belangstellende joernalis weens "werkdruk" moes verdaag. Sy deel van die rekening het die heer sommer onder sy servet gebêre. Toe die blinkgegêspede offisiere die rekening moes betaal, kon hulle met 'n veertjie omgetik word, want toe hulle die besoeker se servet oplig, lê daar 'n visitekaartjie voor hulle op die tafeldoek. Die naam van hul gas word in groot, swart letters gegee: "Kmdt. GJ Scheepers, veldtelegrafis." O ja, en 'n een pond fooi as toegif vir die aand se waardevolle inligting!
Maar seker die menslikste eienskap van hierdie Boereheld, was sy troue liefde wat hy deur die loop van die hele oorlog vir sy ouers bly koester het. Veral sy liefde vir sy moeder, want aan haar het hy gereeld briewe uit die veld geskryf. In een van talle briewe aan haar skryf hy uit Pretoria: "Ik heb zeer veel te doen, maar het valt my niet zwaar." En so het die SVK (Scheepers Veldtegrafie-kommando) se manskappe hom geken: altyd meer gehad om te doen as wat die tyd wou toelaat ... sonder om ooit 'n woord oor sy sware las te kla.
In 'n ander brief wens hy sy moeder op 17 Januarie 1898 geluk met haar verjaarsdag. Ironies genoeg, op dieselfde dag drie jaar later, word Gideon Scheepers ter dood veroordeel...
En so het hierdie volksheld — enig in sy soort — ook op hierdie manier sy lewe vir sy land afgelê. Maar Gideon Scheepers wou nie oorlog maak om andere goedsmoeds voor sy Lee Metford te sien val nie. Nee, vir hom was die Driejarige Oorlog 'n behoudende oorlog, 'n Afrikanersaak wat gedien moes word, 'n Boererepubliek wat behoue moes bly! Te midde daarvan het hy nooit sy menslikheid verloor nie. Soos die keer wat hy 'n gewonde Engelse offisier ná 'n skermutseling in die veld met die mees beskikbare hulp laat opneem, laat verpleeg en toe teruggestuur het dorp toe. Op sy beurt weer het die offisier uit dankbaarheid aan Gideon Scheepers 'n wa vol verbandlinne, wondwater en ander medisyne — vir gebruik deur die Boereleier se eie mense — gestuur, Net die volgende dag was die wa terug in Uniondale met 'n brief van kommandant Scheepers daarby — net om dankie te sê.
Selfs die vyand het die hoogste respek vir hom as kryger, as heliograaf, as leier en as mens gehad.
En tog was dit nie genoeg om te verhoed dat Gideon Jacobus Scheepers op drie en twintigjarige leeftyd voor 'n vuurpeleton sou sterf nie. Hy is nooit gevange geneem nie, maar is gedwing om homself weens 'n baie ernstige maagkoorsaanval oor te gee. In 'n oop stuk veld naby die Sondagsrivier het Gideon nog vir oulaas met sy geboeide hande teen sy hoed aangedruk — asof 'n laaste saluut aan die lewe self. Teen sy hoed het die onderskeidingsteken van 'n genie gepryk, onderaan die woord: LIEFDE.
Onder sy eie mense het Gideon Scheepers binne drie jaar 'n simbool van Afrikaner-nasietrots geword. Vir die Engelsman was hy 'n sogenaamde oorlogsmisdadiger. Ver buite die dorp is hy ook soos een gefusilleer. Uit pure wraak het die Coldstream Guards daardie dag nie die gebruiklike "Dodemars" uit Saul gespeel nie, maar die spotliedjie "More work for the undertaker ...", asof hulle daardeur die bydrae van Gideon Scheepers tot die voortbestaan van die Afrikanerdom deur bespotting wou wegwens. Dog, tevergeefs, want daardeur het die vyand juis Scheepers se grootsheid erken. Die herinneringe aan hierdie held sou as lewende bron van inspirasie dien in die heropbou van die Afrikanerkarakter vir die toekoms.
Kommandant Gideon Scheepers sal vir altyd onthou word in die waar woorde van 'n medestryder, Assistent-hoofkommandant Kritzinger: "Ja, ja," het hy eenmaal gesê, "Scheepers was 'n uitmuntende seun, 'n besonder uitmuntende jong man," en sy stem het gedaal totdat dit byna 'n fluistergeluid was, "Hy was ons jongste, nouliks drie en twintig jaar ... hy was 'n uitnemende seun."