Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer
JOHANNES DIE BOER
Vanaf omstreeks die helfte van 1934 het daar in die stoei-arenas van Suid-Afrika 'n forse gestalte opgetree omtrent wie se werklike naam en nasionaliteit die publiek in onwetendheid verkeer het, want hy het in 'n masker opgetree: hy is aan die publiek voorgestel as die "Masked Marvel" of "Gemaskerde Wonder." Hierdie geheimsinnige persoon — wat al hoe meer die publieke belangstelling gaande gemaak het — het in November 1935 die masker afgehaal, nadat hy dit sowat agttien maande gedra het, en sy verskyning gemaak as Johannes van der Walt — 'n Boer. Daar is toe pogings aangewend om die naam "Johannes" te verengels tot "John"; herhaaldelik sien 'n mens toe in die Engelse koerante dat "John van der Walt" weer gaan stoei met die of daardie beroemde stoeier. Terwyl Van der Walt — die voormalige "Masked Marvel" — self ook 'n beroemde figuur geword het, was dit vir die Engelse pers die natuurlikste ding van die wêreld om hom voor te stel as 'n Boer.
Maar Johannes van der Walt was nie net 'n stoeier nie — nie net 'n kampioenstoeier nie — hy was in die eerste plek 'n Boer — 'n kampioen-Boer, 'n Boer in murg en been, wat in staat sou wees om die Boeretradisie tot ver oor die see, in Europa en Amerika, te handhaaf en verder uit te bou. Agter die masker van die "Masked Marvel" was daar die kalme, rustige brein van 'n Boer wat weet dat hy 'n volk verteenwoordig — dat hy 'n volkskampioen is, wat die naam van sy volk moes hooghou. Die hart, wat binne in daardie magtige borskas geklop het, het warm geklop vir 'n veelverguisde Boerevolk.
Daar was iets in hierdie forse Boergestalte wat 'n mens herinner aan 'n ander forse Boere-figuur — die kolossus van die Afrikanerdom in die 19e eeu — Paul Kruger. Oom Paul het oorsee gegaan om te pleit vir die vryheid van sy geliefde Boerevolk, maar, terwyl hy daar was, selfs in die paleis van die Britse koningin, het hy die sedes van sy eie volk gehandhaaf. Johannes van der Walt het oorsee gegaan as kampioenstoeier vir die eer van die Boerevolk, en, terwyl hy daar was, het hy ook die sedes van sy eie volk gehandhaaf;
— toe hy bv. in Engeland kom, waar die stoeigevegte op Sondae plaasvind, het hy geweier om op Sondag te stoei — Nie die sedes waarin hy opgevoed was, moes wyk vir vreemde gewoontes nie: die vreemde moes swig vir sy wil tot handhawing en eindelik het die stoeigevegte tog plaasgevind, en wel nie op Sondae nie. Sy weiering om op Sondae te stoei het hom die minagting van die Engelse stoei-promotors op die hals gehaal, maar daaraan het Johannes hom nie gesteur nie. Die Engelse publiek het spoedig sy standpunt gesteun - en wat was dit nie 'n heerlike beginsel-oorwinning nie!
Vervolg...