Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer
DIE CALVINIS
Die kampioenstoeier van Suid-Afrika, en metter-tyd van die Britse Ryk, was 'n man van beginsel, en sy grondbeginsel was die Calvinistiese beginsel van geloof in die Almag van God, van Wie se wil ons lewe afhanklik is. Dit is die beginsel wat die grondslag van sy opvoeding was. Hy het voortgekom uit 'n eg-Calvinistiese huis. Daarom skryf hy in Junie 1937 uit Londen: "Pa en Ma moenie oor my bekommer wees nie; ek sal alles probeer om volgens die opvoeding wat ek ontvang het te lewe, dog nie in my eie krag nie."
In 'n ander brief, uit Oostenryk, wens hy sy vader geluk met sy verjaarsdag: "Ek wil Pa gelukwens op Pa se verjaarsdag, dat die Here Pa nog lank sal spaar vir Ma en Pa se gesin. Die Here het Pa soveel jare vir ons gespaar dat Pa en ons dierbare Moeder ons opgevoed het in die vrese, maar meer in die liefde, van onse liewe Here en Saligmaker, dat die Here Pa sal ryklik seen in Pa se amp. Dit is my 'n blydskap om te weet dat daar niks te swaar of te veel vir Pais om in die Kerk te arbei nie, maar dat Pa al hierdie jare getrou gearbei het in die Wyngaard van ons liewe Here. Ek weet Pa voel Pa baie keer nie waardig nie, maar in ons swakheid word die wil van die Here vol-bring. Al is ek ver weg in die ruimte van die aarde, tog is ek naby al my dierbares in die gebed."
Sy briewe getuig steeds van sy geloof in die wil van God. Hy is nog gesond "deur die genade en seën van die Here," hy stoei op dié of dié plek "as dit die wil van die Here is." Fundamenteel is dit hierdie kinderlike geloof in God wat hom in sy stoei met die Dood, ná sy ernstige verwonding in die rug, so moedig en blymoedig gehou het, dat die Superintendent van die Hospitaal verklaar het: "Johannes was gister baie opgeruimd en moedig om die operasie te ondergaan," en die spesialiteit, wat die gevaarlike operasie uitgevoer het, dat Johannes die verwydering van die koeël uit sy rugmurg "besonder goed deurgestaan het en trouens feitlik ononderbroke met hom gesels het onderwyl hy (die geneesheer) aan hom gewerk het, terwyl hy daaraan toevoeg: "Van der Walt is egter so 'n uitstekende pasiënt en werk so pragtig saam, en daarby is sy algemene toestand so verbasend sterk dat hy nie soos 'n gewone geval beskou kan word nie."
By geleentheid van 'n besoek wat skrywer in die hospitaal aan Johannes afgelê het, het hy gesê dat die toestand waarin hy verkeer het, sodanig was "dat dit, menslik gesproke, vir my onmoontlik was om vol te hou, maar ek het geglo in die Almagtige en dat sy Wil sal geskied."
Johannes van der Walt was 'n kampioenstoeier in elke opsig. Hy kon sy man staan wanneer dit op die meting van liggaamskragte en die kunsgrepe van 'n stoeiwedstryd aankom; maar bowenal het hy Johannes van der Walt, die mens, gebly, en hierin meer nog as in sy prestasies in die stoeikryt, as kampioen. Toe hy op 23 Februarie met die Dood in die stoeikryt tree, was dit die mens Johannes, leunende op die sterk Arm van sy Almagtige Skepper, wat die wedstryd aanvaar het — moedig en blymoedig.
Vervolg...