JOHANNES VD WALT - DIE MENS (3)

 

Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer

NOU VERBIND MET SY FAMILIE

Ook in sy verhouding tot sy familie en sy volk leer ons die kampioenstoeier ken as Calvinis in die ware sin van die woord.

Ten opsigte van sy familie is hy 'n gehoorsame seun en liefdevolle eggenoot, vader en broer. Waar hy horn ookal in die wye wêreld bevind het hy steeds aan hulle geskryf — briewe en poskaarte - sy verlange na en liefde vir hulle betuig en hulle deelgenote gemaak van sy wonderlike ondervindings. So skryf hy uit Stamboel, hoofstad van Turkye, aan sy moeder:

"Ek wil Ma baie bedank vir die briewe wat ek van dierbare Moeder ontvang het... Ek het baie ondervinding opgedoen vandat ek oorsee gegaan het, maar een van my grootste en beste ondervindings is wat jou ouers vir beteken; enigeen weet dit, maar vind dit in werklikheid uit as kind en ouer verwyder is; die eerste een na wie jy verlang is 'Moeder'; ek hoop dan ook dat die Here Ma en Pa nog sal spaar tot in lengte van dae."

So skryf die kragtiggespierde kampioenstoeier van Suid-Afrika op 7 Augustus 1937, kort voor een van sy grootste stoeigevegte, hierdie een met Hüseyin, die kampioen van Turkye en die volgende dag, 8 Augustus, kon hy !n toevoeging tot sy brief maak: "Dis die dag ná die geveg met Hüseyin. Ek voel baie styf en seer en het baie skaafplekke van die mat. Dit is werklik die swaarste geveg wat ek nog gehad het. Ek het darem nie verloor nie: ons het gelykop gestoei in 'n uur."

Die dag van die aand waarop hy hierdie groot worstelstryd moet ingaan, voel hy behoefte aan kommunikasie met sy familie in Suid-Afrika, en dink hy met liefde en dankbaarheid aan die Moeder wat horn in die wêreld gebring het. Ook uit 'n brief wat hy uit Balti­more, Amerika, geskryf het, blyk sy eenheidsgevoel met sy familie baie duidelik: "Geliefde Vader en Moeder, ek voel vanaand baie eensaam — half hartseer van blydskap as ek dink dit sal nou nie meer lank duur nie, dan sal ek weer in my bemindes se midde wees, as dit die Here se wil is.   Dit is nou, wanneer ek so ver verwyder is in 'n vreemde land, en ek sit en dink ver oor die blou see, oor die golwe wat duisende myle uitstrek, wanneer ek in my gedagte my Moeder en Vader, ja my kinders en vrou, broers en susters, vergader sien, as een gesin bymekaar, dan begeer ek om ook in daardie geselskap te wees, in vrede en liefde teenoor mekaar, soos dit was voor ek my land laat staan het om vir 'n tyd in my beroep afwesig te wees van 'n plek waar my hart nog altyd is, ja, waar almal en alles wat my dierbaar is, nog is."

Die familie-bande, wat so tipies is van die lewe van die Calvinis, was ook tipies van die lewe van Johannes van der Walt, die kampioen-stoeier. Die Calvinis leef nie los van sy Skepper nie; hy leef ook nie los van sy familie nie. Hy voel homself organies verbind aan sy God, aan sy familie en aan sy volk.

Vervolg...