JOHANNES VD WALT - DIE MENS (5)

Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer

LIEFDE VIR SY MEDEMENS

As Calvinis was Johannes ook deel van die samelewing, voel hy sy verantwoordelikheid teenoor met 'n hart vir sy medemens. Tipies was sy vrygewigheid in 'n dorpie in Griekeland, waarvan hy skryf dat dit daar baie armoedig is en "Ek skryf nie hierdie dinge met 'n verslae oog nie, maar om julle 'n voorbeeld te gee van hoe dit hier lyk. Ek het baie geld weggegee — tot ek naderhand sien ek sal nooit daarby uitkom nie, want ek alleen kan tog nie die hele dorp se armes onderhou nie; toe moes ek naderhand ook maar maak soos hul eie nasie — maak of ek hulle nie sien nie, maar dit gaan swaar."

Baie merkwaardig was ook die sienswyse van die kragtige, gesonde kampioenstoeier, oor gebreklikes; na aanleiding van 'n mededeling wat hy ontvang het dat 'n kindjie gebreklik gebore is, skryf hy uit Balti­more, Amerika: "Ons almal, wat welgeskape is, moet baie dankbaar wees dat die Here goedgedink het om ons sonder liggaamlike gebreke te skep; laat ons dan die gebreklikes en blindes, ja, die minderbevoorregtes, met 'n uitgestrekte arm behulpsaam wees na ons uiterste vermoë."

Johannes van der Walt is op 1 November 1908 op Witkoppies, naby Johannesburg, gebore. As kind het hy reeds tekens van geweldige krag gelewer. Toe hy omtrent nege maande oud was het hy tegelyk agt tandjies in die kaste gekry — vier oogtande en vier kiestande — met die gevolg dat 'n geneesheer moes ingeroep word — dr. Van der Merwe van Krugersdorp — en dié het toe verklaar dat dit die sterkste kind vir sy ouderdom is wat hy nog ooit gesien het.

Namate hy groter geword het, was Johannes dan ook baie aktief met speletjies, hardloop, voetbal, ens; in wedrenne het hy 'n hele aantal eerste pryse verower. Toe hy 'n seuntjie van omtrent 10—11 jaar was, het hy met redelike gemak gevulde sakke steenkole op sy rug van die wa na die bergplek gedra, en selfs so met 'n sak meel die trappies van die huis bestyg.

Maar in sy elfde jaar het hy aan sy maag begin ly, waardeur hy liggaamlik verswak het.

Hy het weldra as 'n leerling by die tremwese aangesluit en so swak was hy, dat hy die lang afstand van sy werk na die ouerlike woning nie met 'n trapfiets kon aflê nie: hy het liewer geloop, rus-rus; een aand toe hy so huistoe wandel, het hy 'n pyn op die hart gekry en langs die pad gaan lê; ook het hy een nag in die bed so 'n kwaai aanval op die hart gekry, dat hy sy arms feitlik nie kon beweeg nie. Teen hierdie liggaamlike swakheid het Johannes eers medisyne gebruik, maar toe hy omtrent 23 jaar oud was, het 'n mede-trembestuurder, wat 'n amateurstoeier was, hom aangeraai om liggaamsoefeninge te doen. Die eerste keer kon hy nie langer as ?n paar minute volhou nie, maar hy het volhard, meer en meer toegeneem in krag, en uiteindelik kon hy die maats wat hom leer stoei het, opdraende gee.

In 1932 — d.ws. toe hy 24 jaar oud was — het hy hom vir die proefwedstryde vir die Olimpiese Spele laat inskryf; hierin het hy aan Percy Foster 'n nederlaag besorg, maar in die finale wedstryd is hy deur Piet Venter uitgestof. Omtrent 'n halfjaar later het Johannes van der Walt egter vir Sanders platgeloop en daarmee die amateur-swaargewigkampioenskap van Suid-Afrika verower.

Johannes se ideaal was egter om beroepstoeier te word en daarom het hy in beroepstoeiwedstryde opgetree as skermmaat; so kon hy baie leer. Spoedig het hy ook die geleentheid gekry om in die gimnasium teen beroepstoeiers op te tree. So het hy vir Emil Dusek in 40 minute platgeloop, en daarna vir Judson en Tom Alley. Ook teen Bullet Meyers het hy opgetree, maar kon hom nie onderwerp nie — hoewel Meyers ook nie met Johannes sy sin kon kry nie. Nou het hy versoek om teen kampioene van oorsee te veg, maar die promotors kon nie oortuig word dat die publiek in gevegte van 'n doodgewone Boer belang sou stel nie.

Johannes het egter 'n indruk op Henry Irslinger gemaak, maar dié wou homself eers ten volle van Johannes se bekwaamheid oortuig en het gevolglik twee keer met hom gestoei — die eerste keer in Durban, waar Johannes met 'n onverwagte volstruisskop sy toekomstige promotor buite geveg gestel het; die tweede keer in Port Elizabeth, waar Johannes nie toegelaat is om die volstruisskop te gebruik nie en nogtans die oorwinning behaal het. Nou was Irslinger oortuig, en voortaan het hy as Johannes se bestuurder opgetree.

Daar was nou egter nog moeilikhede in die weg, wat dit wenslik gemaak het dat Johannes se identiteit voorlopig geheim moes bly. Irslinger en Johannes besluit toe dat Jn masker die oplossing bied. Johannes moet dan bekendgestel word as die "Masked Marvel."   En so het Johannes van der Walt die nuwe skof van sy loopbaan begin as die "Gemaskerde Wonder."

Eers het Johannes met Tom Alley — wat die volstruisskop goed verstaan het — slaags geraak; maar Johannes het al tevore mooi gekyk hoe Alley dit doen en hom nou in eie munt terugbetaal. Mettertyd het Johannes die volstruisskop — wat by verskillende stoeiers in gebruik was — tot 'n hoë mate van perfeksie ontwikkel. Van die drie gevegte met Tom Alley het die "Gemaskerde Wonder" twee gewen en een gelykop gestoei.

Van die 51 gevegte waaraan hy daarna in die mas­ker deelgeneem het, het Johannes slegs drie verloor — teen All Bey, Harry Mamos en Hank Oswald; vier gevegte was gelykop.

Om die geheim te bewaar — wie agter die masker was — het nogal heelwat moeilikheid gelewer. Johannes het sy werk as trembestuurder nie laat vaar nie en herhaaldelik per vliegtuig vertrek en teruggekeer, sodat sy afwesigheid uit Johannesburg nouliks opgemerk is, maar oral het nuuskieriges probeer om die geheim te ontdek. Soms moes hy selfs in die masker slaap en eet. Sommige het probeer om sy identiteit te ontdek deur hom te terg, sodat hy moes praat — want Johannes was natuurlik ook feitlik spraakloos! In sulke gevalle het die gemaskerde stoeier net na sy promotor gewys en van homself gesê: "No understand." Gesprekke moes maar met Irslinger gevoer word!

In Durban is die geheim egter amper openbaar gemaak—op 'n baie dramatiese wyse. Johan­nes moes daar 'n stoeigeveg voer met Whiskers Blake, 'n Amerikaner met 'n gawe baard. Voor die geveg het Johannes en Blake ooreengekom dat eersgenoemde nie vir Blake aan sy baard sou beetpak nie, op voorwaarde dat Blake nie sou probeer om Johannes se masker af te ruk nie. Blake was 'n reus van heelwat oor die 6 vt. en kon die versoeking om die masker af te ruk nie weerstaan nie. Eensklaps gryp Blake die masker en.... ruk dit af! Op so 'n moontlikheid het Johannes hom egter voorberei, want onder die gewone masker het hy 'n ander een aangehad! So het Blake se aanval op sy masker misluk, maar daarmee was die saak nie afgehandel nie: toe Blake weer gewaar, was daar twee van sy ribbes en 'n vinger af en moes hy weke lank in die hospitaal vertoef.

Tydens die dramatiese gebeurtenisse in die stoeikryt het die publiek baie opgewonde geraak, in twee partye verdeel, en mekaar met stoele toegetakel.

Toe styg die spanning nog hoër, want Whiskers Blake het laat verstaan dat hy nou, nadat hy uit die hospitaal is, hierdie "Masked Marvel" op sy plek gaan sit — en dit sou nogal op 6 Mei gebeur, die koninklike Jubileum-dag. Selfs George Ber­nard Shaw, die beroemde skrywer, het die funksie bygewoon en 'n toespraak gehou. Vir hom was daar   tussen   die   ongeveer 10,000 toeskouers 'n spesiale plek reggemaak.

Blake het nou sy voorwaarde, dat sy baard geëerbiedig moet word, herhaal, maar sy gemaskerde teenstander het daarop nie "ja" en ook nie "nee" geantwoord nie. Aangesien Johannes geen waarde aan die woord van sy teenstander geheg het nie en die tevore sy masker afgeruk het, het hy horn nou sommer uit die staanspoor met albei hande aan die baard gegryp, onder horn ingespring en hom van agter af dwarsoor sy skouer gepluk sodat hy voor hom op die vloer van die kryt soos 'n sweep klap. Blake was woedend. Hy spring op, kom met allerhande draaie nader — en storm dan soos 'n pyl op Johan­nes af, slegs om nog 'n keer beheer oor sy baard te verloor en weer te val dat dit klap. Hierna het Johannes egter Blake se baard laat staan — maar horn tog in die vyfde ronde deur 'n geweldige val op die vloer van die kryt buite geveg gestel. Die noodhulpmense het kom help, maar hulle kon vir Blake nie tot sy bewussyn terugkry nie en moes horn op 'n draagbaar wegneem.

Daar was 'n duidelike voorwaarde met betrekking tot die afhaal van die masker gestel. Johannes het aangebied om die masker af te haal sodra as hy met 2 valle teen 0 uitgeklop word. Niemand kon egter hierin slaag nie, sodat hy dit eindelik in November 1935 vrywillig afgehaal het. Vooraf is die publiek in kennis gestel dat die "Masked Marvel" by die geleentheid van 'n stoei-geveg met Harry Mamos in Durban sy masker sou afhaal. Die stadsaal was dan ook van kant tot kant gepak en daar het 'n doodse stilte geheers toe hy die masker afneem en voorgestel word as Johannes van der Walt, waarop daar 'n geweldige en langdurige toejuiging gevolg het. Johannes moes toe 'n toesprakie hou. Daarna het Irslinger gepraat, en gesê: "Hy is 18 maande lank genoem die 'Gemaskerde Wonder.' Nou sal ons hom 'n nuwe naam gee: 'Die Magtige Seun van Suid-Afrika'."    ("The Mighty Son of South Africa").

Vervolg...