Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer
Van hier af het Johannes sonder die masker opgetree en aan verskeie stoeigevegte deelgeneem voordat hy oorsee sou gaan. As 'n voorbeeld van hierdie gevegte kan dien 'n geveg wat hy op 29 November 1936 met Joe Campbell, 'n geweldige sterk Amerikaner, in Kaapstad gehad het.
Dit was die derde keer dat hierdie twee stoeiers saam deur die toue geklim het; in die eerste geveg het Campbell vir Johannes met een val teen nul geklop, in die tweede het Johannes die bordjies verhang met een val teen nul in sy guns; hierdie keer het hy vir Campbell in vyf rondtes uitgestof met 2 valle teen 0.
Die twee het mekaar uit die staanspoor toegetakel, nooit 'n woord met mekaar gewissel nie en nooit eens na die toue gegryp nie. Daar was in die hele geveg nooit 'n oomblik dat Johannes aan sy teenstander vrye teuels gegee het nie.
Campbell het dadelik afgehaak met 'n reguit-armslot totdat Johannes blou in die gesig geword het, maar laasgenoemde was eindelik instaat om hom uit die greep te bevry, en toe sluip hy gehurkend nader, keer die Amerikaner in 'n hoekie vas en peil toe reguit op hom af — om hom in 'n hamerslot mattoe te bring.
In die tweede rondte het Johannes sy vuiste onder Campbell se kinnebak ingedruk en hom met 'n donderslag teen die mat neergevel. Onmiddellik hierna het Campbell egter rats oor Johannes se kop gewip, sy twee arms netjies agter sy rug vasgewoel en hom in 'n duikplankgreep vasgevat. Dit het 'n hele tydjie geduur voor Johannes homself kon bevry; maar toe het hy onmiddellik die knipmesgreep op sy teenstander toegepas — waaruit alleen die klok vir Campbell gered het.
In die derde ronde het Campbell vir Johannes bestorm asof hy kleingeld van hom gaan maak, hom vier keer agtereenvolgens geweldige nekslae toegedien sodat hy op sy maag te lande kom, en skaars was hy op sy been of Campbell loop hom in dolle vaart onderstebo dat dit dreun. Eindelik het Johannes neergesak en dit het gelyk of dit klaarpraat is. So het dit blykbaar ook vir Campbell gelyk, maar toe hy hom kom kry ontvang hy 'n geweldige volstruisskop, opgevolg deur ‘n tweede — teen sy kin, en dit was die genadeslag: Johannes het die eerste val behaal.
In die vierde rondte het hulle min of mecr gelykop gestoei, hoewel Johannes hom nooit lank op een plek laat pynig het nie. Selfs die armslotte, waarvoor Campbell so 'n voorliefde gehad het, het nie meer gehelp nie.
In die vyfde rondte het die einde gekom. Campbell het vir Johannes met 'n paar nekstampe mattoe gebring en op hom volstruisskoppe probeer uitvoer. Die eerste was mis en met die tweede het Campbell buite die toue beland. Toe hy sy kop weer in die kryt steek, gryp Johannes hom, slinger hom na die anderkant en dien hom drie geweldige skoppe toe. Campbell het katswink gelê, en toe lig Johannes hom op, gooi hom neer en druk hom vas.
Hierdie gevegte in Suid-Afrika het hul hoogtepunt teen die einde van 1936 bereik toe Jim Londos — 'n Griek — wat in besit van die wêreld-kampioenskapsgordel was, Suid-Afrika besoek het.
Vervolg...