JOHANNES VD WALT - DIE MENS (7)

Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer

JOHANNES SE SPANNENDSTE STOEIGEVEGTE

Later gevra wat hy beskou as sy spannendste gevegte, het Johannes geantwoord: "Wel, dit is eintlik twee gevegte wat altyd weer in my gedagtes terugkom as ek terugdink — die een teen die Turk, Hűiseyin, in Stamboel, en toe die een daarna teen Jim Londos, 'n maand later in Athene... Ons het so pas in Athene aangekom, waar Jim Londos toe reeds was. Ek het op die toneel verskyn net toe die moontlikheid van 'n stoeigeveg tussen Londos en Hűiseyin,  deur al die nuusblaaie bespreek is. Die wêreldkampioen het kort tevore in Athene aangekom en almal wou hê dat hy sal kragte meet met Hűseyin, die Turk, wat nog nooit verloor het nie en kort tevore afgereken het met stoeiers soos Zhyszko, Magnimus Como, Vincent Lopez (gewese wêreldkampioen), die Rus Kwariani, die Fransman Henri Deglane. en Jack Sherry. Geeneen van hulle het langer as nege minute teen hom staande gebly nie en selfs die beroemde Jack Sherry is binne drie minute deur hom geklop.

"Dit het egter gou geblyk dat die stoeibeheerrade van Turkye en Griekeland nie juis lus vir so 'n geveg was nie.   Daar het destyds 'n taamlike mate van wrywing tussen die Grieke en Turke bestaan en hulle wou maar liewer so 'n geveg vermy. Nietemin het die Griekse stoeibeheerraad tog verklaar dat, as Hűiseyin teen Londos wou stoei, hy daarvoor na Athene moes kom. Die geveg het egter nooit plaasgevind nie.

"So ongeveer was die toedrag van sake toe Henry Irslinger en ek op die toneel verskyn. Toe die Turke verneem dat daar 'n nuwe stoeier in Athene is, en veral 'n man wat al gelykop teen Londos gestoei het, het hulle dadelik pogings aangewend om my na Stamboel te laat kom om kragte teen hul kampioen te meet. Die mening was dat, as Hűiseyin my kon klop, hy ook ten minste die vertroosting sou hê dat hy ook 'n goeie kans sou gehad het om Londos te klop."

Johannes verklaar verder dat hy maar skrikkerig vir die geveg was; die goeie vertonings wat die Turk so kort tevore teen die ander uitblinkers gemaak het. was genoeg om enige stoeier maar 'n bietjie te laat huiwer. Nietemin het hy hom na Stamboel begeef en voorbereidings vir sy afrigting begin tref. Groot was egter sy verbasing toe hy gedurende sy eerste oefening 'n reus van ongeveer 265 pond onder die toeskouers sien en aan hom meegedeel word dat dit niemand anders is nie as Hüiseyin, sy teenstander.

Johannes wou nie met die oefenwerk voortgaan nie; want nêrens is dit vir 'n stoeier gebruiklik om te gaan kyk hoe sy teenstander oefen om te sien wat sy sterk eienskappe of sy planne is nie. Daar word gewoonlik spioene gestuur, maar so openlik gebeur dit nooit. Johannes het toe by die stoei-owerheid beswaar gemaak, maar daar is eenvoudig aan hom gesê dat dit in Turkye die gebruik is.

"Wel, wat kon ek daaraan doen?" het Johan­nes voortgegaan. "Maar toe die Turk die volgende dag gaan oefen, was Henry en ek ook daar, en ons het gou 'n hele klompie dinge omtrent my teenstander uitgevind; ek moet erken dat dit ook my behoud was. Ek het onmiddellik opgemerk dat ek hom nooit sou kan klop as ek van die begin af aanvallend sou optree nie. Ook het ek bemerk dat hy gedurende sy oefening van ongeveer 'n halfuur met sowat ses of sewe skermmaats klaargespeel het en daarna betreklik moeg was. Wat my egter die meeste getref het, was die oormoedigheid van die kêrel. Maar hy het rede daartoe gehad, want na my sin het hy darem glad te gou met die ander manne klaargespeel."

Johannes en Irslinger het na hul hotel teruggekeer en hul planne vir die geveg agtermekaar-gesit. Hulle kom toe tot die gevolgtrekking dat die ander stoeiers teen Hüiseyin verloor het omdat hulle probeer aanval het; hulle wou die Turk sommer vasdruk, maar daarvoor was hy te sterk, met die gevolg dat dit hulle was wat gou in die stof moes byt.   Daar is dan besluit dat Johannes so lank as moontlik buite die reus se bereik sou bly en hom sou probeer uitput, en hom daarna probeer vasdruk.

"Ek was in my lewe nog nooit voor 'n geveg so senuweeagtig as die aand in die stadion in Stamboel nie. Probeer om jouself vir 'n oomblik in my posisie te stel. Daar was 45,000 toeskouers teenwoordig, 'n stoeier, wat 265 pond weeg,  in die ander hoek en daardie einste man het kort gelede nog twee gewese wêreldkampioene geklop! Buitendien kon ek ook nie van my volstruisskop gebruikmaak nie, want die Turke wou dit nie toelaat nie. Henry Irslinger het langs my gestaan en my probeer moed inpraat, maar dit het nie juis baie gehelp nie, want groot sweetdruppels het oral op sy gesig gepêrel terwyl hy sy sigaar se punt flenters gekou het. Wie kon kalm bly as die groot Irslinger self bang was?"

Van die geveg self het Johannes in die onder-houd nie veel meegedeel nie, maar in 'n brief wat hy die volgende dag (8 Augustus 1937) aan sy familie geskryf het, vertel hy meer:

"Dit is die dag na die geveg met Hüseyin. Ek voel baie styf en seer en het baie skaafplekke van die mat. Dit is werklik die swaarste geveg wat ek nog gehad het. Ek het darem nie verloor nie.   Ons het gelykop gestoei in Jn uur.

"Die Turk het in die eerste 40 minute met my gemaak amper wat hy wou, maar, toe hy moeg word, doen ek net die teenoorgestelde met horn. Die tyd was 'n bietjie kort, anders kon ek dit miskien "gemaak" het.

"En nog 'n ding wat teen my was: Hulle het hier niks toegelaat nie. Ek kon nie my volstruisskoppe gebruik nie, en ons kan ook nie mekaar pootjie nie.    Daar is amper niks van ons soort stoeiery toegelaat nie. Ons moes Grieks-Romaanse styl stoei,

"Die Turke is in daardie styl geoefen, terwyl ek in 'n heeltemal ander styl geoefen is. Jy mag ook nie met jou bene stoei nie — net van jou middel af op, en dan weeg hy 50 pond swaarder as wat ek nou weeg; ek weeg nou net 200 pond. Moenie dink dat ek gewig verloor omdat ek miskien verlang nie! Nee, ek oefen so dat ek niks vet meer het nie. My nek het 'n halfduim dikker geword, my bors 'n duim groter en my maag 2 duim dunner: dus is ek in 'n beter kondisie as wat ek nog ooit was."

In die brief verduidelik hy verder dat Hüseyin vir Malayim oorweldig het, wat in 'n wedstryd met Ali Baba, "wat gereken is die tweede-beste in die wêreld," die oorwinning behaal het. "So kan julle sien teen hoe 'n stoeier het ek hier te staan gekom."

Nadat hulle anderhalfuur aaneen gestoei het, het die geveg ten einde geloop sonder dat vir enigeen van die twee 'n val aangeteken is.

Die Turk was so in sy eer gekrenk, dat hy in sy hoek gesit en huil het soos 'n kind. Vir hom was die skande te groot dat hy nie voor sy eie mense kan wen nie. Johannes is deur die toeskouers skouerhoog na die kleedkamer gedra.

Nou wou die Turke hê Johannes moet dadelik teen Londos stoei. Hulle wou sien of hy die goeie vertoning teen Hüseyin ook teen Londos kon handhaaf. Met 'n vurige belofte om teen die wêreldkampioen op te tree het Johannes, vergesel deur Irslinger, van Stamboel na Athene vertrek. "Toe ek 'n maand later teen Londos te staan kom," vertel Johannes, "het ek meer soos 'n verteenwoordiger van Turkye as van Suid-Afrika gevoel. Die Turke het my as hul stoeier beskou, want bale van hulle het groot somme op 'n oorwinning vir my verwed. Vir sommige van hulle was dit net asof dit Hüseyin is wat teen Londos gaan stoei."

Die Turke is egter teleurgestel. Ongeveer 95,000 toeskouers het die dag in die Olimpiese Stadion in Athene saamgedrom om die groot geveg te sien. Geweldige toejuiging het Londos te beurt geval toe hy, vergesel van die Griekse kroonprins, in die kryt verskyn. Aan die anderkant het Johannes van der Walt en Irslinger gesit.

Johannes kon weer nie van sy volstruisskop gebruikmaak nie. Die Grieke wou dit eenvoudig nie toelaat nie. Vir Johannes was dit 'n gevoelige slag, want uit vorige ondervinding het hy geweet dat Londos vir sy skoppe so bang was soos 'n bok vir 'n skoot hael.

Die wêreldkampioen het 1 uur 27 min. lank geswoeg, voordat hy vir Johannes eindelik in sy gevaarlike beenbrekergreep vasgevat het. Laasgenoemde moes toegee, maar hy het met groot eer uit die geveg gekom.

Vervolg...