JOHANNES VD WALT - DIE MENS (8)

Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer

WêRELDFIGUUR

Oorsee het Johannes aan 37 stoeigevegte deelgeneem. Hiervan het hy 34 gewen, twee gelykop gestoei, en een verloor.

Sy eerste geveg was in Plymouth, Engeland, waar hy "Bulldog" Garnon, 'n Amerikaner, rnet 2 valle teen 0 geklop het. Sy tweede geveg was in Manchester teen die Engelsman Dave Arm­strong, en dié het hy na 27 minute ook met 2 valle teen 0 uitgestof. Hy het nie juis 'n danige hoë dunk van die Engelse stoeiers gehad nie. Aan sy familie skryf hy uit Londen: "Die ou Engels-mannetjies beteken niks nie. Ek loop hulle almal plat in die gimnasium."

Van Engeland is Johannes na Parys, waar hy in die Palais de Sport teen Henri Deglane van Kanada opgetree het. Johannes het hom met 1 val teen 0 uitgestof. (Op die Vasteland is die wedstryd op 1 val beslis). Van Parys is hy na Brussels, waar hy Dan Koloff platgeloop het. Daarna het hy vakansie in Boheme gaan hou by Irslinger se broer, en toe is hy na Italië, waar hy die baasvolstruisskopper, "Jumping" Joe Savoldi, beetgepak en kleingeld gemaak het.

In Stamboel, die hoofstad van Turkye, het hy teen Hüseyin, die Turkse kampioen, opgetree en met hom gelykop gestoei. In Patras het hy ook gelykop geveg teen Kalagmah, in 'n wedstryd wat 90 minute geduur het. Op hierdie reis het hy ook met 'n Neger, Siki, afgereken. Omtrent die geveg met die Neger skryf Johannes o.m. dat dit een van sy swaarste gevegte was, maar naderhand het hy die Neger in 'n skergreep vasgevat. "Ek het geweet ek kon geen kanse vat nie — Toe sit ek dit net so hard aan as ek kon. Ek het nog nooit gehoor dat iemand so hard skree soos hy nie. Al die spiere in sy skouer is geskeur. Toe hy so skree dink ek: Ja, jy sal in my land harder skree. Wat sukkel jy met Boer se kind, jou swart nerf!"

In Griekeland het hy teen sy ou vriend, Londos gekom. Teen Londos het hy nou die een nederlaag opgedoen. Ook is Johannes na Koetaria in Klein-Asie, Mouliyam oormeester het. Na sy terug-keer het hy oor die Swartsee gevaar, deur Suid-Europa gereis, en toe na Amerika vertrek, waar hy met sommige van die wêreld se beste stoeiers slaags geraak het, maar nie een van hulle kon 'n oorwinning oor hom behaal nie. In Indianopolis het hy Rube Wright uitgestof, en daarna vir Red Ryan in Terre Haute, Tom Mahoney in Chat­tanooga, Jim O'Connor in Knoxville, die gevaar-like Zaharias in Baltimore, en Patterson in Phila­delphia.

Toe is hy terug na Engeland, waar hy die Poolse kampioen, Nowina (Zbyszko), 'n nederlaag besorg en daarna teen Londos gelykop geveg het in 'n wedstryd wat 60 minute geduur het. In hierdie laaste geveg moes hy, as gevolg van 'n bloedvint, verskriklike pyne verduur. Na die geveg skryf hy dat sy knie in die geveg seergekry het, "en ek het ook 'n bloedvint aan die binnekant van my linkerbeen gehad, net langs my knie. Dit was amper ryp en het my gedurende die geveg baie gepla." Die eerste twee nagte na die geveg kon hy van die pyn nie slaap nie. "Londos het gesien ek het 'n pleister op my knie. Toe het hy die hele tyd probeer om my aan daardie been te vang. Hy het dit 'n paar keer gedurende die geveg reggekry. In die laaste ronde het hy my in die "leg break" gekry; die bloedvint was toe baie seer, en nou daardie greep aan dieselfde been. 'n Paar maal wou ek ingee, maar dan dink ek weer: nee!     Ek het uitgehou tot op die einde. Toe die klok lui, kon ek amper nie op my been staan nie — So kon ek maar weer net gelykop stoei."

Voor sy terugkeer na Suid-Afrika, wou hy egter eers sy motorkar in Amerika gaan haal, en om die reiskoste te dek het hy daar nog sewe maal gestoei. Dit was in een van hierdie gevegte dat hy Vincent Lopez, wat vierde in die wêeld-ranglys gestaan het, ná 17 minute die onderspit laat delf het, en ook nog 'n keer vir Tom Mahoney.

 

Laasgenoemde het van al die  Amerikaners die langste teen Johannes uitgehou — 55 minute.

Vervolg...