Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer
Wêreldkampioen in die Kryt
Londos het op 5 Oktober 1936 in Kaapstad geland om hier 'n stoeireis te onderneem as deel van 'n wêreldreis. Verskillende wedstryde is vir hom gereël. Op 12 Oktober het hy vir Ali Bey — "die kaalvoet Turk" — in Durban platgeloop, op 17 Oktober vir Harry Mamos in Johannesburg, op 22 Oktober nog 'n keer vir Ali Bey, hierdie keer in Kaapstad. Op 31 Oktober sou hy met Johannes van der Walt in Durban kragte meet. Voor sy vertrek uit Kaapstad om teen Johannes op te tree, het Londos in 'n onderhoud verklaar:
"Ek beken sommer rondborstig dat ek allesbehalwe gretig is om teen Van der Walt te stoei. Jy moet begryp, elke stoeier in die land is daarop uit om 'n sport in die leer te styg oor my liggaam, want, al sê ek dit self, dit is 'n prestasie om vir Londos te klop en dit word van belang gereken in die stoeiwêreld. Ek het Van der Walt al self ontmoet, maar hom nog nie sien stoei nie. Nogtans het 'n vriend van my in Johannesburg, op wie se oordeel ek weet dat ek peil kan trek, my gewaarsku dat hy 'n bra gevaarlike stoeier is — die gevaarlikste in die land op die oomblik. Vir my is daar weinig uit te haal — afgesien natuurlik van my aandeel in die hek-ontvangste — as ek vir Van der Walt klop. Dit is eenvoudig wat van my verwag word en wat ek moet doen as ek my reputasie wil handhaaf. Maar vir Van der Walt is dit gans 'n ander saak. As hy my nou op die vooraand van sy voorgestelde Europese reis kan klop, het hy onmiddellik internasionale status in die stoeiwêreld."
Die wedstryd het in die opelug plaasgevind en is deur sowat 6,000 mense bygewoon.
Johannes het hom besonder goed van sy taak gekwyt teenoor die wêreldberoemde stoeier. Hy was daarop uit om die Griek niks toe te gee nie en daarom het hy ook van die eerste klokslag af sy beste uitgehaal en voortdurend getrag om sy teenstander op die een of ander manier te betrap ten einde hom op die mat beet te kry. Londos was in die eerste gedeelte van die geveg nie in staat om sy bedrywige teenstander in toom te hou nie en Johannes het hom na hartelus met pynlike armslotte en skêrgrepe gekarnuffel. Eers in die derde rondte het die Griek sy teenstander vir die eerste keer in die moeilikheid gebring deur sy arm driemaal agtereenvolgens in kort-armskêrgrepe vas te vat. Tweemaal het Johannes touetoe gekruip, maar die derde keer het hy horn losgewoel en Londos se bene in 'n goeie been-spleet agteroorgebuig. Toe was dit egter weer Johannes se beurt om uit 'n beenspleet, wat sy teenstander hierdie keer op hom toegepas het, te moet loskom: die Griek was daarop uit om hom te pynig — maar toe kom die klok tussenbeide.
Johannes se bekende kopstampe het hom in die vierde ronde byna in troebel water gebring, want tweemaal na mekaar het Londos voor hom weggekoes en het Johannes deur die toue gevlieg. Hierdie taktiek het hy toe afgewissel met volstruisskoppe — wat Londos soms buite die toue laat veiligheid soek het. Voor die vierde rondte egter om was, het die wêreldkampioen sy teenstander se bene weer oopgerek — met sy bekende "beenbreek"-greep. Hy het kort-kort vir Johannes gevra of hy toegee, maar 'n besliste "nee" was al wat hy as antwoord gekry het. Die klok het Londos gebied om te los.
In die vyfde rondte moes Johannes andermaal geweldige pyn verduur, totdat hy hom kon bevry deur Londos se rug te "kielie". Toe hy op sy voete was, het hy 'n geweldige volstruisskop na die wêreldkampioen gemik, maar nie getref nie en self hard op die mat neergeslaan. Londos was dadelik op horn en druk sy skouers plat — vir die enigste val van die geveg.
Die sesde en laaste rondte is teen 'n geweldige vaart voortgesit. Johannes het die wêreldkampioen laat swoeg om uit 'n beenspleet los te kom en het daarop 'n knipmesgreep toegepas, wat Londos egter verwissel het met 'n beengreep.
Eindelik het Londos daarin geslaag om die Suid-Afrikaanse kampioen deur die toue te slinger, maar, terwyl hy nog met 'n toeskouer woorde wissel, klim Johannes terug in die kryt en plant 'n volstruisskop op Londos se kin, wat hom vir die res van die geveg katswink maak.
Nou is dit .die Griek wat alles in sy vermoë moet doen om sy skouers van die mat af weg te hou — slegs een keer slaag hy nog daarin om vir Johannes deur die toue te slinger. Toe die einde aangekondig word, was Johannes nog besig om die wêreldkampioen te karnuffel, sonder dat hy egter die begeerde val kon bewerkstellig. Londos het na die toue aangesukkel, daarteen geleun en toe stadig neergesak grondtoe waar hy bly lê het, en so, met die wenner — Londos — plat op die naat van sy rug op die mat, in so 'n toestand dat hy stellig nie met die geveg sou kon voortgegaan het nie, en met die verloorder (Johannes) nog op sy voete, het die skitterendste stoeigeveg wat daar nog in Suid-Afrika gelewer was, tot 'n einde gekom. Londos het gewen — met 1 val teen 0.
Op 8 November het Londos voor 'n skare van 10,000 in Johannesburg twee van die beste swaargewigte, Jim Atlas en Joe Campbell, binne agt rondtes dieselfde aand kafgeloop. Londos se gewig was 196 pond, Campbell s'n 205 en Atlas s'n 212 — Londos was nie 'n katjie om sonder handskoene aan te pak nie. Hy het dit nou ook feitlik nie meer die moeite werd geag om in Suid-Afrika te stoei nie — behalwe met Van der Walt. Op 16 November het hy andermaal met Johannes in Durban gestoei en horn weer gewen met 1 val teen 0. Van hierdie geveg het Ali Bey, wat dit bygewoon het, egter gesê dat Johannes se stoei-metodes reeds baie verbeter het; Londos het hom wel geklop, maar hy was nie die beste van die twee nie. Hy was gelukkig om 'n val buite die toue te verkry. "Jan" het homself driemaal behendig uit Londos se gevaarlike windmeuldraai bevry. "Jan is nie meer vandag se kind nie," het hy gesê. Ali Bey was egter teen hierdie tyd baie vies vir Londos omdat dié dit nie die moeite werd geag het om hóm in 'n derde geveg te ontmoet nie.
Op 6 Desember het Johannes vir die derde maal met Londos slaags geraak, nou voor 8,000 mense in die Wanderers, Johannesburg. Johannes het hierdie keer die beste vertoning van die twee gemaak. Sy volstruisskoppe het vir Londos baie benoude oomblikke besorg. Die Griek het een skoot tot op die perstafel weggehardloop om die skoppe te ontwyk en die toeskouers het hul misnoeë op onmiskenbare wyse laat hoor. Dit was een van die taaiste gevegte wat nog in Johannesburg plaasgevind het.
In die eerste rondte het Londos merendeels aangeval, maar Johannes het spoedig getoon dat hy darem uit die vorige gevegte met Londos geleer het. Johannes het nl. Londos se disnis-greep op horn toegepas en eers toe hy half katswink was, het hy daarin geslaag om los te kom, maar Johannes het horn toe van 'n kopklem anderkant die toue gegooi.
Die tweede rondte was taamlik gelykop. Johannes het sy teenstander dikwels laat kerm. met seer kortarmskergrepe, wat Londos egter spoedig soveel moontlik in eie munt terugbetaal het. Gedurende die vierde rondte was die skare dikwels op die been vanweë die ywer wat die twee stoeiers aan die dag gelê het; hulle het mekaar gestamp en gestoot en geskop dat dit 'n naarheid was. Eindelik het Londos besluit dat sy teenstander se aanvalle darem te gevaarlik is, en tot groot misnoeë van die toeskouers het hy elke keer as Johannes hom bestorm, deur die toue geklouter.
Londos het egter daarin geslaag om 'n pynlike toonklem op Johannes toe te pas en also 'n bietjie op te maak vir die vernedering wat hy ondervind het toe laasgenoemde hom gesmyt het dat hy tussen die toue van die kryt vasgesit het. Die Boerseun het egter die toonklem verduur tot die klok gelui het, sonder om toe te gee.
Londos het die tweedelaaste rondte in 'n lyfskêr deurgebring, waarmee Johannes hom elke keer plat op die naat van sy rug neergevel het nadat hy gesukkel het om op die been te kom. Eers na 'n hewige gesukkel kon die Griek hom uit hierdie greep bevry.
In die laaste rondte was albei so kapot, dat hulle alleen deur taaie volharding kon volhou.
Hierdie keer het hulle gelykop gestoei, maar iemand wat die geveg bygewoon het, het daarna verklaar: "Londos het Saterdag 'n nederlaag teen Johannes van der Walt in Johannesburg voorkom omdat hy goed wegkruipertjie agter die toue kan speel en vinnig genoeg kan hardloop. In die laaste rondte was Londos skoon pootuit van die geweldige knoue wat die sterk Afrikaner hom toegedien het, en dit was alleen die klok wat Van der Walt van 'n gewisse oorwinning beroof het."
So groot het die belangstelling in die stoeigevegte tussen Johannes en Londos geword, dat 'n vierde geveg in Johannesburg gereël is vir die aand van 19 Desember. Weer was daar 'n reuseskare. Dit was 'n pragtige geveg, vol van spannende oomblikke en 'n gedurige verwisseling van grepe. Londos het in die begin vir al wat hy werd was probeer om sy teenstander te uitoorlê, maar Johannes het te veel uit sy vorige botsings met die Griek geleer, want hy het baie van Londos se eie grepe op hom toegepas.
Londos het tevergeefs geprobeer om die Suid-Afrikaanse kampioen met 'n kopklem uit die kryt te slinger. Inteendeel het Johannes hom so met volstruisskoppe bestook, dat hy soos 'n warrel-wind in die kryt rondgehardloop het. Kenmerkend van hierdie wedstryd was die manier waarop Johannes hom van die gevreesde "boston crab" bevry het — deur Londos met blote krag in die lug op te stoot. Johannes het luide toejuigings ontvang. In die laaste rondte het sy volstruisskop die Boerseun byna weer duur te staan gekom. Na 'n aantal elmboogstampe van albei stoeiers het Johannes hom klaargemaak om 'n geweldige volstruisskop toe te dien — maar Londos was daarop voorbereid: hy het eenvoudig net padgegee en Johannes het soos 'n pyl deur die toue getrek en onder op die vloer te lande gekom.
Hy het half disnis in die kryt teruggekeer. Die toeskouers het hulle hees geskree van spanning en opwinding. Binne in die kryt teruggekeer, het Johannes egter sy man nogmaals gestaan totdat die klok gelui het.
In hierdie wedstryd is ook geen val aangeteken nie en so het Johannes twee van die vier gevegte met Londos, die geweldige wêreldkampioen, gelykop gestoei en in een daarvan selfs die beste van die saak gehad hoewel dit nie formeel as 'n oorwinning aangeteken kon word nie.
Johannes van der Walt was nou op die toppunt van die leer in Suid-Afrika. Die tyd het aangebreek dat hy oorsee moes gaan.
Vervolg...