Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer
'N BOER KYK NA DIE WêRELD
"Nadat hy nou ook deur Duitsland gereis het, beskou hy Duitsland "as ongetwyfeld die mooiste, beste en ook die skoonste land, waar ek tot dusver was. Daar is geen werklose nie. Hulle het geen agterbuurtes nie Jy sal nie eers 'n papiertjie in die strate sien nie; tot selfs die kinders sal 'n hele blok ver loop om 'n tremkaartjie nie op straat te gooi nie."
Op sy stoeireis oorsee leer ons Johannes nie alleen as kampioenstoeier in die kryt ken nie, maar ook as 'n Boer wat wil kennis opdoen van die wêreld, vir wie die reis 'n geleentheid bied om die wye wêreld te sien. Inderdaad skyn dit uit die briewe wat hy gereeld aan sy familie geskryf het, asof hy meer belangstel in die tonele wat hy om hom heen aanskou as in die stoei — of die stoei nie hoofsaak is nie, want van die stoei self vertel hy maar min terwyl hy graag uitwei oor die plekke wat hy besoek. Hy het graag poskaarte gestuur met die een of ander interessante stad — soos Wene, met die Donou-rivier — of 'n belangrike gebou of berg agterop.
Toe hy uit Tafelbaai vertrek was dit met gemengde gevoelens — weens die afskeid van sy dierbares aan die een kant en die groot avontuur wat vir hom wag aan die ander kant. Dit het hom egter nie lank geneem om homself reg te ruk nie en spoedig was hy besig om aan boord reëlings te tref vir sy oefeninge. Hy het die voordeel van 'n moderne gimnasium op die skip gehad, maar waar moes hy skermmaats kry? Hy het gou ''n plan gemaak: matrose is mos sterk en rats! Hy het toe die kaptein van die skip genader en hom vriendelik versoek om 'n paar van sy sterkste matrose beskikbaar te stel vir oefening in die gimnasium. Die kaptein wou egter nie daarvan hoor nie! Johannes sou sy matrose seermaak! Al Johannes se mooipratery dat hy saggies met hulle sou werk, het niks gehelp nie.
By die oorsteek van die ewenaar moes hy ook maar soos alle passasiers voor 'n "hof" verskyn — en hy is gevonnis om 'n stuk van die dek te skrop en boonop moes hy uit 'n emmer seewater 'n stuk appel eet sonder om sy hande te gebruik!
Nadat hy by Dakar aan was het hy na Gibraltar oorgesteek, en toe is hy langs die Spaanse kus op na die suidkus van Frankryk omvan Marseilles af oor die Europese vasteland na Engeland te reis. Nadat hy in Engeland aangekom het, skryf hy: "Londen is wonderlik opgedoen (vir die kroning van die koning). Die Engelse het seker duisende ponde gespandeer om al hul winkels en geboue en strate te versier, en dit alles vir 'n mens."
"Op Sondae is die bioskope in Londen oop, skryf hy verder, en "hulle stoei hier ook op Sondae; hulle wou hê ek moet stoei, maar ek wou nie; dadelik was hulle teen my gekant — ek bedoel die "promotors" — maar die publiek is nou vír my."
Oor die reis skryf hy: "Langs die Spaanse kus op kon ons die bomme hoor dreun."
Dit was nl. gedurende die Spaanse burgeroorlog.
"Ek dink Frankryk is die mooiste land wat ek nog gesien het; amper elke duim grond is bewerk; water het hulle oorvloedig; dit is te pragtig om al die riviere en spruite en fonteine te sien."
Geskiedkundige oorblyfsels en monumente trek ook sy aandag. In Frankryk het hy die ou koninklike paleis van Versailles gaan besigtig. Hy meld dat hy nog 'n guillotine uit die tyd van die Rewolusie ook gesien het, "maar die werklike mes wat in die guillotine was, is nou in Engeland se museum in Londen."
In Engeland het die "Tower of London" sy aandag getrek. "Dis daar waar koningin Elizabeth 'n ander koningin laat onthoof het, en koning Henry sy eie niggie, wat al sewentig jaar oud was en haar twee of drie seuns se koppe laat afkap het Hulle sê dit was 'n aardigheid om te sien hoe hulle haar kop afgekap het. Sy wou nie haar kop op die blok gaan lê het nie... Net soos hulle wil kap, dan draai sy haar kop
Eindelik vat hulle haar toe aan die hare en onder aan die voete en trek haar toe so oor die blok."
Van sy verblyf in Engeland het hy gebruik gemaak om 'n bietjie te gaan kyk "hoe Engeland se plase lyk". Hy vind hulle bale mooi. In Cornwall en Devon het hulle "seker deur sowat 20 stede gery net in 75 myl. Die kleinste stad het 'n bevolking van ongeveer 10,000. Dan is daar party dorpe omtrent 10 myl uitmekaar met taamlike mooi veld en boerderye tussen die dorpe. Hul skape is baie mooier as ons s'n; hulle gaan nie in vir wol nie; elke plaasboer hou maar genoeg vee aan vir sy eie gebruik. Ek het nog nie 'n maer koei of skaap hier gesien nie, en dit is nou hul slegste tyd — net na hul winter. Hul velde is altyd groen — winter en somer. Hulle kry vreeslik baie reën oral in Europa".
Die groot katedrale trek ook sy aandag. Daar hy in Suid-Afrika gewoond was om kerktoe te gaan, hoef dit ons nie te verwonder nie dat hy ook in Engeland die kerk besoek het. In verband hiermee vertel hy 'n grap wat hy met sy bestuurder, Irslinger, gehad het. Hy het Irslinger gevra om saam met horn kerktoe te gaan. Eers wou laasgenoemde nie. "Hy sê daar sal seker iets gebeur as hy in die kerk gaan, want hy was nog net eenkeer vantevore in die kerk (toe hy gedoop is?)... Nadat die predikant gebid en 'n Psalm laat sing het, haal Irslinger 'n sigaar uit (Irslinger is bekend as 'n sigaar-roker)... Ek hoor iemand trek 'n vuurhoutjie" en dit was Irslinger.
"Ek gryp hom aan sy arm. Irslinger skrik hom boeglam. Daar sit hy verslae en rondkyk of iemand hom nie gesien het nie, en toe vra Irslinger saggies vir my of 'n mens dan nie daar mag rook nie. Ek kon nie my lag hou nie; ek wou net hard lag...."
Van Engeland het Johannes andermaal oor Europa gereis — nou na Turkye, waar hy die geweldige Turkse kampioen, Hüseyin, sou bydam. Uit Parys skryf hy: "Ek stoei so ver as ek gaan." Hy wil ook nog Holland, België, Noorweë, Swede, Suid-Slawië, Hongarye, Oostenryk, Duitsland en Switserland besoek. "Dit is maar uit nuuskierigheid. Ek sal daar net stoei om onkoste te dek. Dit sal natuurlik moet gou gaan want ek sal nou enige tyd moet vertrek na Griekeland, Egipte en Turkye."
Intussen het hy egter saam met Irslinger op 'n vakansiereis na Boheme gegaan by laasgenoemde se familie — eintlik sy "broer se vrou se suster", soos Johannes later uit Oostenryk skryf. Die gasvryheid van die mense in Boheme het 'n groot indruk op hom gemaak: "Hulle gee hul slaapkamer vir jou — dan slaap hulle op die vloer. Jy durf nie sê hulle moet dit nie doen nie: dan berispe hulle jou en sê dit moet so wees."
Die mans dra daarlangs leerbroeke en die vroue sisrokke, skryf Johannes. "Toe die man, by wie ons tuis was verneem dat ons ou Boere dieselfde gewoontes het en ook leerbroeke gedra het, en dat Pa ook pyp rook, het hy my 'n regte Boheemse pyp en tabaksak van katvel gegee om vir Pa te gee as 'n geskenk van hom."
Gedurende die reise in Europa het hy onder die indruk gekom van die algemene gebruik wat daar in verskeie lande van die Duitse taal gemaak word: "Hulle praat almal Duits in die hele Oostenryk en in Boheme is dit Duits In Switserland is ook Duits en 'n mens kan hulle ook beter verstaan, want dit is meer plat-Duits Ek verstaan nou waarom jy Duits in die Hoërskole moet leer: as jy Duits en Engels ken, kan jy die wêreld deurreis en jy kan altyd geholpe raak."
Omtrent die hoofstad van Oostenryk skryf Johannes: "Wene is 'n bale mooi dorp, maar moet jou nooit hierdie dorpe te mooi voorstel nie..." Die poskaarte (wat hy gereeld stuur) is van die mooiste plekke in die dorpe. Griekeland het maar 'n swak indruk op hom gemaak. Agterop 'n poskaart met 'n portret van Saloniki skryf hy "Moenie dink hierdie stad is so mooi as wat dit op die kaart lyk nie. Die kamera bedek al die vuilgoed en jy sien ook nie die armmense nie. In die bootjies wat jy sien bly families wat byna nooit op die land kom nie; hulle leef van vis en 'n bietjie brood. Die hele Griekeland lyk meer na lokasies as iets anders."
Hulle het driehonderd myl deur Griekeland gery en oral onder die indruk van die armoede gekom en dikwels vroue gesien "wat kaalvoet loop".
Selfs omtrent Athene is hy 'n bietjie teleurgesteld: "Athene is 'n bietjie teleurstellend. Ek het die stad vir my baie mooier voorgestel."
Die Acropolis met die oorblyfsels van Griekse geboue uit die oudheid was egter die moeite werd om te besoek. Hy het ook fotos gestuur wat hy van sommige van die geboue laat neem het met homself voor die gebou.
Griekse stede was vir hom veral interessant in verband met die reise van Paulus, soos hy dit uit die Bybel geleer het. In Athene was dit vir hom baie warm. Dit het horm in die begin baie in sy oefeninge belemmer. Van die Grieke skryf hy verder: "Ek het nog nooit gesien dat mense so nuuskierig is as die Grieke nie." Hy het in 'n winkel ingegaan om 'n reissak te koop. "Toe ek uit die winkel kom, is daar seker 400 mense wat wag om my te sien."
By dié geleentheid het Irslinger 'n grap gemaak; Johannes vertel: "Op ons weg van die winkel af staan daar 'n winkelier in die deur voor sy winkel met 'n koppie koffie. Toe ons, en al die mense wat ons volg, verbykom, stap Irslinger skielik en vat die koppie uit die winkelier se hand en begin drink. Hy drink die koppie leeg, gee dit terug en, sonder om 'n woord te praat, begin hy weer loop — asof daar niks gebeur het nie."
Stamboel het op hom nie juis 'n beter indruk as die stede van Griekeland gemaak nie. "Toe ek in Stamboel aankom, het ek, volgens die plek met sy hoë geboue van die skip af lyk, gedink dat dit hier baie beter is as in Griekeland, maar dis maar amper dieselfde. Die mense hier is darem baie beter-af as in Griekeland... maar hul sedes en gewoontes is amper dieselfde. Jy kan hier aantrek soos jy wil en niemand sal dit opmerk nie, omdat hulle almal slordig is."
Die baie Moskees was indrukwekkend. "Die Turk is baie godsdienstig... As hulle ingaan, was hulle eers hul voete en hande buite die kerk in straaltjies water wat rondom die kerk uit die mure uitspuit. As ek die lewe en gesondheid behou, sal ek en Campbell ('n ander stoeier) Maandag ook in die kerk ingaan, net om te sien hoe lyk dit binnekant. Ons hoef nie ons voete te was nie, solank as ons net by die eerste deur staan en inkyk."
In verskeie briewe het Johannes die hoop uitgespreek om ook die vulkaan Vesuvius in Italië te besoek. Daaromtrent skryf hy mettertyd: "Dit was regtig 'n ondervinding gewees." Hy het die berg bestyg tot so na moontlik aan die kraters. "Ek is nie spyt dat ek die moeite gedoen het om deur Italië te ry nie. Die eerste ondervinding was Pompei wat 79 jaar voor Christus met lawa en swael bedek is deur die vuurspuwende berg Vesuvius... Pompei laat my dink aan Sodom en Gomorra. Die mense het nie kans gehad om te vlug nie, want met die opgrawing het hulle mense gekry wat nog slaap. Party mense was nog op straat. Party is nie heeltemal verbrand nie, maar die mense wat in die huise was, is die meeste net hard gebak deur die lawa wat die huise bedek het..." .
Daarvandaan is hulle toe na die vulkaan. 'n Kabelspoor het hulle hoog opgeneem, maar 'n entjie hoër moes hulle uitklim. "Daar is nou twee openinge waar die rook en lawa uitkom. Die oue, wat Pompei vernietig het, is 300 tree van hierdie nuwe twee af. Ons loop deur die oue: hy is vol skeure en hol van onder die lawa, deur die skeure, kom nog rook en hitte; by party plekke kook die lawa nog uit. Ek het nader gegaan na die twee wat nog werk: hulle is langs mekaar; elke twee minute is daar 'n verskriklike gedruis, sodat die hele berg bewe; dan sien jy die rook al hoe vinniger uitkom totdat daar eindelik 'n verskriklike ontploffing is; dan sien jy net lawa en swael in die lug trek; die kleintjie brul net baie, maar die grote is die laaste paar maande baie kwaai.
"Een keer het die berg die lawa so ver gespoeg dat dit omtrent 100 voet van my geval het; ek hardloop gou soontoe en vat twee koue stukke lawa en neem 'n warm stuk tussen die twee koue stukke. Ek het nou twee soorte — een pikswart en een swart met baie swael in en hy is amper geel. Dit was die moeite werd om Napels te besoek. Bo van die berg af kan jy Pompei mooi sien lê, onder in die leegte."
Van Napels af is Johannes na Rome. "Rome het 'n groot indruk op my gemaak. Eers is ons na die Katakombes toe; dit is waar die Christene in die geheim godsdiens gehou het in die tyd van Nero. Dit is oneindige onderaardse grotte en in party plekke gaan 'n mens seker 100 voet onder die grond. Daar is baie graftes van Christene in hierdie Katakombes. Die Rooms-Katolieke het nou baie kruise, ligte en beelde hierin gesit. Dit is ook Roomse priesters wat jou hierin rondneem".
In die gladiatore-gevegte van die Romeinse tyd was die Suid-Afrikaanse stoeier ook baie geïnteresseerd. In een van sy briewe gee hy 'n beskrywing van hierdie gevegte — toe gevangenes mekaar tot die dood moes beveg voor die Romeinse toeskouers. Hy vertel van die Colosseum, waar ook die Christene deur die wilde diere verskeur is.
In Rome het hy ook die Vatikaan besoek. Die groot St. Pieterskerk was vir hom besonder interessant toe hom meegedeel is dat die kerk op die plek gebou is waar, volgens oorlewering, die apostel Petrus met die hoof na onder gekruisig is en waar sy stoflike oorskot in 'n kis van marmer en goud bewaar word.
Nadat hy nou ook deur Duitsland gereis het, beskou hy Duitsland "as ongetwyfeld die mooiste, beste en ook die skoonste land, waar ek tot dusver was. Daar is geen werklose nie. Hulle het geen agterbuurtes nie Jy sal nie eers 'n papiertjie in die strate sien nie; tot selfs die kinders sal 'n hele blok ver loop om 'n tremkaartjie nie op straat te gooi nie."
Die eerste oortog na Amerika was baie dra-maties. Johannes het 'n mede-Afrikaner op die skip ontmoet. Dit was vir hom 'n groot vreugde. En toe begeer hulle albei dat die see onstuimig moet word! En toe word die see onstuimig. Die gevolg was dat byna al die passasiers seesiek geword het — ook die mede-Afrikaner wat gewens het dat die see moet onstuimig word; Johannes was een van die weinige wat nie oor die tralies moes leun nie. En bowendien moes die kampioen-stoeier een aand 'n vrou red wat op die punt was om deur haar man verwurg te word! "Een aand, toe ek besig was om uit te trek," skryf Johannes,
"hoor ek iemand vreeslik skreeu. Ek vlieg uit, en 'n man sê my dat iemand besig is om sy vrou te vermoor. Ek skop toe die deur van die kajuit oop — toe hang die vrou se tong al uit soos hy haar verwurg. Ek gryp hom toe en trek hom weg. Toe wil hy my net "hê", maar ek het hom goed aan sy arm beetgehad." Maar toe die vrou bykom, jaag sy Johannes weg, hoewel sy byna nie kon praat nie. Johannes het daarop verskoning gemaak: "As ek jou nie kom help het nie, sou ek graag gesien het wat van jou geword het." Dit het ook nie lank geduur nie of die vrou roep weer om hulp. Johannes snel haar andermaal te hulp, maar word deur die man bestorm. "Ek gryp hom toe weer aan sy arm en was genoodsaak om sy arm baie seer te maak; die man se arm was tydelik onbruikbaar." Nou het die vrou vir Johannes gevra om haar te beskerm, en laasgenoemde het die man gewaarsku dat hy hom aan die kaptein sal rapporteer, as hy weer sy streke uithaal.
In Amerika het dit maar dramaties gebly. Tydens sy kort verblyf in NewYork was hy getuie van die gevangeneming van twee moordenaars, en by 'n ander geleentheid is hy so hittete deur rampokkers onder die koeëls gesteek, of liewer, het hy per ongeluk amper in die pad van hul koeëls gekom. Verder het die hoë geboue en pragtig-verligte strate op hom 'n groot indruk gemaak: "Dit was regtig mooi om so van die see af na NewYork toe te kom. Dit is 'n gesig wat 'n mens nooit sal vergeet nie: in die eerste plek die groot beeld — die "Statue of Liberty" — wat in die see opgerig is; dan die groot geboue, wat van 40 tot 103 verdiepings hoog is. Jy staan met jou oop mond alles en bekyk."
Terug in Londen, skryf hy: "In Amerika was dit nie heeltemal so sleg nie, maar daar was dit baie kouer met al die kapok en ys."
In Detroit en Buffalo was dit so koud dat "as jy uit die hotel kom, voel dit of die wind wat so teen jou gesig waai, lou-warm is. Jy voel die koue eers as jy 'n rukkie daarin is. Jou ore en wange verys; dan moet jy dit met kapok vryf. Dit was toe dat ek gedink het: as ek die lewe en gesondheid behou wil ek my op die skip weer laat braai by die Ekwator."
Na sy terugkeer in Londen het Johannes daar vir 'n rolprent-opname van die "Movie Tone" 'n trem bestuur en daarna met 'n vliegmasjien toere uitgevoer, waarvan een was 'n "val" van 1500 voet.
Slot volg...