STEMME UIT DIE VROUEKAMPE (2)

1899-1902

Lees reeks by Stemme uit die vrouekampe

deur Bienedell Uitgewers

Kampverklaring: T. Joubert, C. Joubert, Z. Joubert, S. Joubert, M. Joubert

Vroeg een môre in die begin van Mei 1901, het ek en ’n paar van my skoonsusters gaan loop op ons plaas. Ons sien toe 'n Engelse Kommando aankom en draai toe dadelik huistoe. Ons ou skoonvader het toe gaan wegkruip langs die rivier en ons het gou vir ons gaan warm aantrek, meer dan een rok opmekaar, en van ons nodigste goed het ons begin inpak ingeval hulle ons sou wegneem kamp toe. Ons was klaar met ontbyt en ons middagete was op die vuur toe die Engelse daar aankom. Ons was 36 persone, vroue en kinders bymekaar; ook een neef van my, een goeie bekende; die ander was my skoonsuster met hulle kinders. Die offisiere het ons net 5 minute tyd gegee om uit die huis te wees. Hulle neem toe die stoele en tafels en slaan dit aan stukke, gooi lampolie op en steek dit aan brand in die eetkamer en sitkamer; dinge wat ons graag wou red, ook matrasse, het hulle weer afgeneem en in die brandende huis gegooi. Al ons eetware, ook die kokende kos in die potte het hulle geneem. My bed en een trommel het ek veilig buite gekry. Ek het toe my meid daarop laat sit, met die waarskuwing dat sy nie moes opstaan nie, en as hulle dit wou neem, moes sy baie hard skree. Dit gebeur toe ook en die meid skree vreeslik hard. Toe vra die offisier my, 'Vir wat skree die meid?’ Ek sê toe, ‘Omdat jou soldate haar wil vang.’

Hy het hulle toe gewaarsku om haar te laat staan, en die leuen in die nood het my toe gehelp om bed en trommel te laat hou. Die skoonsusters het ook gesorg om iets van hulle nodigste goed oor te hou. Met wat ons toe oor had, kon ons tog op ’n manier slaap en gelukkig was ons tog almal goed dik aangetrek.

Ons het gehoor dat die Engelse gewoonlik alles verbrand en nou was ons oortuig daarvan. Ons karre het hulle vir hulle vol gelaai, en op die een klein wa word al ons goed toe opgegooi, sodat daar geen sitplek op was nie. Ons gaan sit toe almal onder ’n boom, want ons was nie van plan om kamptoe te loop nie. Die offisier kom toe en sê ons moet loop. Ons sê, ‘Dis te ver om te loop.’ Hy sê, ‘Nou goed, dan sal ek my soldate roep en die onder julle sit, dan sal julle sien wat hulle sal doen.’ Met die dreigement het my skoonsuster, wat drie groot dogters had, eerste opgestaan en beginne loop en toe ons ook. Hulle ry te perd en jaag ons toe soos diere aan, so na aan ons dat ons die perde se bekke met ons hande wegdruk. Ek sê, ‘Julle perde sal ons raaktrap.’ Hy sê, ‘Julle moet vinnig loop, dit word laat.’ Een van my skoonsusters het binne die maand ’n baba verwag. Sy kon naderhand nie meer loop nie.  'n Ander suster en ek gaan pleit toe vir haar by die offisier. Dit het nie eens gehelp nie. Hy stuur toe ’n swarte met ’n ou kar wat verskrikkelik gestamp het, om haar op te laai en kamp toe te neem. Ons moes maar bly loop en kom die aand skemerdonker in die kamp. Daar het ons nie kos nie, en almal is honger en dors, en die kinders huil van honger en ons van naarheid. My ou skoonmoeder was toegelaat om bo-op die goed op die wa te sit met ’n paar kindertjies wat haar moes vashou.

Ons het die aand ’n ronde tentjie gekry om in te slaap, maar ons kon nie slaap nie. Die tent was glad te klein vir soveel mense en dit was vol van die mikstertluise. Ons noem hulle die khakiluise. Ons is die volgende more weg, maar voor ons gaan, het hulle eers ons perdewa, wat hulle geneem het, en nog goed opgepak was, met hamers uitmekaar geslaan dat die splinters so waai. Daarvandaan het ons toe op die wa gery. Die aand het ons naby Carolina op ’n plaas gekom en daar geslaap. Daar het ons kos gekry. maar rou; toe dit gaar was, kon ons tog weer eet en koffie drink wat ons bietjie warm gemaak het, want dit was baie koud; die kinders was toe ook stil.

Die volgende more is ons na Carolina en in die Stadshuis gesit, maar ons het g’n kos nie, en wis ook nie waar om te kry nie. My skoonsusters en ek het toe uitgegaan om te gaan soek waar ons kos moet kry. Ons het die hele dag rondgeloop tot ons doodmoeg was, maar kon niks kry nie.

Die ander dag het dit beter gegaan en ons het die plek gekry, buite die dorp waar hulle die beeste en skape slag. Ons het toe ook daar vleis ontvang; ons moes maar self vir ons water put en vuurmaakgoed soek.

Ons het ag dae daar gebly.

Die nagte was baie rusteloos. Daar was iemand wat probeer het om die Stadshuis in te kom. Een aand het ons na die deur gegaan waar die een probeer om in te kom en kry toe ’n Engelsman daar. Daarna moes ons maar altoos waak.

Ons word toe gesê dat ons van Carolina na Belfast met ossewaens moet gaan. Die Engelse laai ons goed toe op ’n ander wa, en ons moes toe sonder katels of enige iets op die briekplanke van die waens sit. Daar was nooit vir ons tente opgeslaan nie. Ons moes maar op die waens slaap en langs die waens boer.

Een dag sien hulle langs die pad ’n paar boere. Ons word toe voor gesit, en die khakies skuil toe agter ons. Gelukkig was daar geen geskiet nie.

Met die ryery is daar ’n os dood. Sy maat moes so ingespan trek met die juk, tot waar ons gaan slaap.

Die aand het elke os ’n paar klinkers uit ’n blik gekry om te eet. Ons moes ook uit dieselfde blik van dieselfde klinkers eet, so het dit gegaan tot op Wonderfontein. Daar moes ons self ons goed op die kaal trokke laai. En daar was nie ’n platform nie. Ons moes maar self sukkel om die goed op te kry en sien hoe ons op die kaal trokke kom. Daarvandaan na Belfast. Ons goed is aangery dorp toe maar ons moes loop; ons het ’n leë huis gekry. Die volgende more moes ons gaan kos ontvang. Vleis moes ons by die stasie, waar hulle dit slag, ontvang; koffie, suiker en meel kry ons in die dorp. Die koffie was vreeslik sleg. Dit was akkerpitte en nie eens fyngemaal nie. Dit was ook so min dat ons nie daarmee kon uitkom nie. Ons moes self ons brood bak, maar kry nie vuurmaakgoed nie. Om mis op te tel vir vuurmaakgoed moes ons ’n pas dra.

Vervolg...