1899-1902
Lees reeks by Stemme uit die vrouekampe
deur Bienedell Uitgewers
W.J.D. MURRAY, supt. per J.G.
Kampstempel: Burger Kamp 1 Aug., 1900, Belfast
Daar was altoos gewapende khakies sodat hulle ingeval ons te ver loop, op ons kon skiet. Ons was maar bang om te ver te loop. Dalk skiet hulle regtig.
As ons smôrens gaan water put, is alles vasgeys en alles wit geryp. Dan dink ons aan ons eie huise. Ons had nie genoeg emmers of goed om vir water tot die anderdagmôre te sorg nie. Ons goed was mos gevat en verbrand. Die vleis, wat ons kry, was vreeslik maer. Ons kon dit nie kook om te eet nie. As dit gekook word, word dit slym. Ons het dit in die vuur gebrand om te eet. Ek het dit self gedoen.
Ek het gesien, as die wa kom met die skape, wat hulle vir ons uitdeel, dat ’n jonge van omtrent 14 jaar oud in elke hand twee skape of lammers dra en in die huis bring. Môre kry ons daarvan om te eet. Ek het ook gesien dat ’n bees aangestoot word na die slagpale. Dit het gelyk of die dier siek was, en in alle waarskynlikheid het ek ook daarvan geëet. Die sprake was dat dit longsiekte was wat die bees aan gely het. Ons het ook vleis ontvang van die rib naby die longe, wat so iets soos sug aan was. Dit was hard om so iets te eet, maar wat kon ons doen?
Kerse het ons nooit ontvang nie. Ons het skelmpies by die Tommies gekoop, 1/- vir een kers, en of daar siekte of dood is, maar 9 uur moet die ligte uit wees, en geen lig meer.
Ons moes self ons wasgoed in die spruit was. Dan was daar ook gewapende khakies. Ons was 8 dae in Belfast, toe is die kindjie van my skoonsuster gebore. Dit was ’n dogtertjie. Sy het net 27 dae oud geword. Toe is sy dood. ’n Verpleegster wat daar was, het gesê sy is dood aan stillestuipe. My suster moes vir haar self ’n vroedvrou kry.
My enigste kind is dood ’n maand voor ek naar die kamp geneem is. Toe al die kinders in die kamp masels kry, het ek gehelp om hulle op te pas. Dit was vreeslik om te sien hoe maer een uitgeteer hulle was, en hoe een ou kindjie sy handjie uitsteek naar sy moeder en vra om kos en vleis.
Ons word toe aangesê om ons reg en gereed te hou om enige uur na Durban te vertrek. Onder die wyl word daar geveg in die dorp in die nag. Een vrou is doodgeskiet. Haar naam het my ontgaan, maar ek was self op haar begrafnis. Twee kinders, hulle van was Davis, is ook gekwes, maar hulle het weer gesond geword. Hulle is na Pretoria gestuur. Hulle het in die huis waar ons in was, ook geskiet, en ek het ’n koeël in my koffieblik gekry waar ook ’n bietjie koffie in was.
Dit was ’n benoude nag vir ons vrouens. Die Engelse het gesê die boere wou die kamp aanval, maar dit weet ons tog dat ons mans nooit ’n kamp sal aanval waar vrouens in is. Ons kon hoor as die een blokhuis ’n sarsie maak en dan weer die ander ook. Wat eintlik gebeur het, was dat ’n muil in die nag in die straat geloop het, en toe dog die khakies dit is die boere. In die nagte wat hulle geveg het, het hulle al ons brood wat ons moes klaar hou vir die reis na Durban, deur die stukkende vensters gesteel.
Ek het gevra om naar Middelburg te gaan waar ’n suster van my was. Drie van haar vyf kinders is in die kamp dood, maar dit was my nie toegestaan nie, alhoewel ek my eie treingeld wou betaal. Toe vra ek om toegelaat te word om na Balmoral te gaan waar my ou moeder en my ander suster was, maar dit wou hulle ook nie toelaat nie.
Elke dag word ons aangesê, more moet ons vertrek, en ten laaste het die dag aangebreek om te vertrek naar Durban. Hier is 'n wa en die goed word opgeset, maar ons moes maar weer loop stasie-toe. Daar moes ons by ons goed sit tot die aand. Toe word ons in die kaal kooltrokke gesit en die seile daar oorgetrek. Nou is daar niks anders om te doen, ons moes maar probeer om te slaap. Die anderdagmore word die seile afgehaal en ons sien ons is nog op Belfast. Ons was toe al mooi vol want die trokke was nie eers ’n bietjie uitgevee nie. Ons kry toe nie koffie of kos nie. Die wat by hulle had kon eet, maar nou begin die kinders huil van honger. Dit was September toe ons daarvandaan vertrek.
Op Balmoral sien ek een van my skoonsusters. Toe vra ek haar hoe dit met my ou moeder gaan, maar sy durf nie na aan ons kom nie, of dan keer die Engelse wagte haar. Hulle wou ook nie toe ons vertrek haar toelaat om my te groet nie! Toe die trein vertrek huil ons almal, want trane was volop waar ons gaan en in die kampe ook.
In die gesprek het sy my vertel dat daar ’n hospitaaltent verband is en ook ’n paar kinders, en ek het haar vertel van die vrou wat geskiet is en ook van die twee kinders, maar ons had geen tyd meer om te gesels..
Ek kan ’n mens nooit vertel hoe swaar dit was om so gevang te wees en so weggevoer te word nie. Sewe dae het ons van Belfast gery toe kom ons in Meerbankkamp.
Langs die pad het die swartes wat op die stasie of langs die spoor werk dikwels vir ons gestaan en lag. Dan sê hulle ‘Daardie een is my vrou’ en die ander se ‘Daardie is myne.’ Dit moes ons alles aanhoor.
Ons het ook reën gehad oppad. Dan sit ons stokke onder die seile sodat die water nie moes inloop nie. Waar die trein lank stilhou, het ek self by die lokomotief gaan warmwater haal om koffie te maak. Op Heidelberg het ons in ’n Khakiepot koffie gekry, ook ’n paar hopbrode.
Op Volksrust het ons in ’n derdeklaswa moes klim. Dit was tog beter. Ons kon regop siit en was beskerm reën.
Toe kom ons in Meerbankkamp in die wildernis. Nou aan die duskant van ’n lopie is ’n vlei. Daar was ’n klein vrouekampie. Aan die oorkant was ons tente opgeslaan. Daar was nog nie vrouens in, ons was die eerste. Die aand sit ons almal op die grond in die tent en huil, want toe was dit eers swaar.
Nou moet ons maar gaan slaap en die grond is nat. Smôrens moet ons die beddegoed uitgooi anders is dit te nat om op te slaap.
Vier families kry een markiestent. Nou moet ons maar weer kos gaan vra, en vuurmaakgoed soek in die bosse. Ons was bang om diep in die bos in te gaan want daar was swartes wat die vrouens en die meisies wou vang. As ons dan hout genoeg het, maak ons dit vragte en dra dit op ons koppe uit. Ons moes verder ook maar self sien hoe ons dit aan die brand kry. Later het hulle vir ons stompe hout gegee en dit moes ons maar self kap om stukkend te kry.
Ons moes ’n halfuur ver loop om ons brood om 10 uur in die more te ontvang. 2 uur nm. moes ons weer kom om ons vleis te kry. Die volgende dag moes ons suiker, koffie, ens. gaan haal. Ons het naderhand somar daar gebly van ons die brood ontvang tot later dat ons weer die vleis moes kry. Anders het ons die hele dag net heen en weer aan die loop gebly. Die brood was so min en klein dat ons dit opeet voor ons die vleis kry. Nou het ons net die stukkie vleis as dit gaargemaak is om te eet. As ek die vleis ook nou daar kon opeet, het ek dit seker gedoen. Honger is ’n vreeslike ding. Die brood het van Durban gekom. Dan dra die swartes dit op hulle kale skouers aan. Bokseile was oopgetrek en daar lê die vleis, stukkies van 1, 2 of 3 pond. Die vleis ontvang ons namate hoe groot ons familie is. Een met baie kinders kry meer as een met minder kinders, 'n Man loop tussen die rye en deel dit uit. So Iê die vleis in die warm son tot alles uitgedeel is. Dikwels was die vleis onsuiwer en het sleg geruik.
As daar sprake is dat die khakies buite pakgekry het van die Boere, dan kry ons die dag minder kos as ons na regte moes kry.
Dit was maar hard om so veel te loop. In Meerbank was nog nie winkels nie, anders kon ons, soos in Belfast, maar vir ons self iets kry. Want ons had nog ’n paar pond wat ons onder ons klere om ons lyf had.
Daar was vrouens wat niks had, geen kouse of skoene en byna nakend. Een vrou se kaal liggaam het uitgesteek deur die bloes en rok wat sy aan had, verder niks meer.
Ons het toe onder mekaar klere vir haar bymekaar gemaak. ’n Vrou met ’n paar kinders was in een tent. Sy had net ’n paar khakiekomberse, ’n potdeksel en ’n paar kleingoedjies. Die Engelse had al haar goed verbrand, sy moes maar op die grond sit en slaap. Later het ons by ’n huis kos ontvang. Dit was tog nie so ver nie. Daar moes ons twee aan twee staan net asof ons ingespan is, tot ons beurt kom om ons kos te kry. Daar het dikwels vroue flou geword want die son was vreeslik of dit reën. Maar om tog maar iets te kry, moes ons staan tot ons beurt kom. Die kamp was ook op ’n natte plek en meeste van die tyd was ons voete nat.
Ek het nie soveel brood ontvang as op my kaartjie staan nie. Ek het twee gewone grootbakkersbrode vir een week gekry. Die kinders huil dikwels van honger vir brood, en dan gee ek maar my brood vir hulle sodat as ek by my tent kom, het ek nie vir myself brood nie. Dit kan g’n mens hou om ’n kind oor brood te hoor huil. Toe die kamp groter geword het, is daar ook baie kinders en ook grootmense dood.
Ek het dikwels snags wakker geword van ’n gehuil hier en ’n gekerm daar, en ook andere geluide. Dit is tog te naar om so iets onder sulke omstandighede aan te hoor. Dan is dit miskien weer kinders wat sterf en ag! hoedat die moeders huil! Van my skoonsuster is twee kinders in een nag dood, en dieselfde nag ook ’n ander skoonsuster. O, maar dit was treurig. Ek kan nie skryf hoe die toestand in die kamp was, en niemand wat nie self daar was nie, kan hom so iets voorstel. Die kerkhof was nie ver van ons tente nie. Die doodwaens gaan na aan ons verby. As kinders miskien sterf sonder dat hulle van die dokters medisyne gebruik het, dan wil hulle nie toelaat dat die kinders moet begrawe word nie.
As die lyke by die kerkhof kom, dan is die grafte al vol water, dan moet dit eers leeggeskep word. Daar is weinig dae verby wat daar nie mense begrawe is nie; byna maar aldagen tot 13 op een dag.
Daarna is ek naar Pietermaritzburgkamp. Daar was ’n broer van my wat my daarheen gevra het. Vrouens wat mans buite had, kon nie terug gaan nie, maar altyd verder en, daar was nie soveel siekte en dood nie en die dorp was daar na aan ons. Die vrouens het daar gaan werk en kos en groente gekoop. Ek het ook daar gaan werk, want ek moes vir my klere sorg.
Ons hoor toe op 1 Junie 1902 dat daar vrede is. Die Sondag was dit deur die predikant van die preekstoel afgekondig. Almal het gehuil, man, vrou en kind, en vrouens het flou geword, want toe dink ons aan almal wat dood is.
Die predikant maak toe ook bekend dat die Goewerneur die namiddag sou kom om alles te vertel. Hy kom ook toe met sy tolk en vertel ons, dit is vrede, maar ons land is afgegee aan hulle en ons vlag ook. Ons kon dit nie glo nie en meer dan een vrou en meisie het uitgeskree ‘Dit is nie waar nie. Waarom het julle dit gedoen, ons sou nog uitgehou het, dit is ons wat vir ons land ly! ’
Die kamp was toe in rep en roer, want almal oud en jong het gaan luister, en nou is almal ontevrede, en die vrouens was kwaad en huil.
Dit het ’n paar dae geduur, toe kom die mense van buite af in. Almal sien daar goed uit, mooi frisse kleur en vet en gesond. My man kom ook in en dit was ’n groot plesier vir my maar ag! hoeveel was daar nie meer met ons nie.
Dit was toe byna 14 maande wat ek toe so rond in die kampe was en ek was maar twee jaar getroud. Toe wou die kampkommandant nog hê dat my man die eed van getrouheid moes af lê, maar dit wou hy nie doen nie. Toe moes hy vreeslik sukkel om uit te kom. Hy het toe applikasie gemaak na ’n kommissie wat in Carolina aangestel is, van wie die kampkommandant toe order gekry het om hom dadelik weg te stuur. Ten laaste is hy huistoe, en ek ’n weinig later. Dit het treurig gelyk toe ons by die huis kom. My ou skoonvader en skoonmoeder was toe ook al by die afgebrande huise. Skoonvader het altoos buite op kommando gebly.
Sonder iets, niks in ons besit moes ons nou van nuuts af begin om te boer. Maar dit was nog lekkerder as in die kamp.
Skoonvader en moeder is nou albei dood en my man en ek woon nou op hulle plaas.
ZANNETHA W1LHELMINA JOIJBERT. Geb. STEYN.
Elandsf'ontein, Carolina
Vervolg...