1899-1902
Lees reeks by Stemme uit die vrouekampe
deur Bienedell Uitgewers
Ervarings van Mevr. P.B. Wolvaardt (Wolmaransstad)
In Januarie 1901 was ek verplig van my plaas te vlug. Vir sewe maande het ons as vreemdelinge rondgeswerf tot ons in Augustus deur die vyand na Brandfortmoordkamp gevange geneem is. Op pad daarheen is my jongste kind dood en die hartverskeurendste was dat geen blanke persoon dog twee swartes haar moes begrawe.
Op 9 Augustus 1901 het ons by die kamp aangekom. Dog, daar vermoed werd dat die gestorwe kind witseerkeel had, werd ek met my dogters afgesonder. Daar het nog twee kinders (’n seun en ’n dogter) van my siek geword aan masels. Alle kos, behalwe blikkiesmelk, word hulle belet. Na enige dae is een dood met die woorde, ‘Ma, gaan tog by Jesus vir my kos vra.’ Ek met drie kinders werd ook siek na die hospitaal vervoer. Kort hierna is my dogter van 16 jaar dood; ook na baie gesoebat om voedsel, en na nog ’n dag my kind van ses jaar.
Ek het toe met my laaste dogtertjie weggeloop terug na die kamp, waar ek koors gekry het. Gelukkig was daar in die moordhospitaal nie meer plek vir my nie, dus is ek vandag nog hier om my verklaring te maak.
In Augustus 1902 is ek terug huistoe. Maar o, die hartseer toe ek my verwoeste plaas en verbrande huis aantref! Dit was gedoen deur die barbaarse Engelse! Hoe kan daar nog Afrikaanse moeders wees, wat nog meer uitgestaan het, en nou met die aartsvyand saamgaan!
Mag ons vertrou dat ons Volk weer een word.
A.S. WOLVAARDT
Verklaard voor my te Wolmaransstad op 20 Julie, 1921
W. DE GREEF
Vervolg...