STEMME UIT DIE VROUEKAMPE (5)

1899-1902

Lees reeks by Stemme uit die vrouekampe

deur Bienedell Uitgewers

Verklaring van Mevr. M.M.C. Grove (Vlakfontein)

Toe die Engelse deur Pretoria gekom het, het ek met vyf kinders na Middelburg gevlug.  Die dag ná ons daar aangekom het, het die Engelse ook daar aangekom. Na ons drie maande daar was, het die Engelse ons met ’n kaal wa na die naaste Boerekommando gestuur. Dit was te Brakfontein — en ons op die kaal vlakte afgelaai.

Van daar is ons deur my vriende na die naaste woning geneem. Daar het my eggenoot my gekry en my na die plaas Witbank in die distrik Bethal geneem. Ons moes met die kommando vlug. Die Pretoria-Delagoabaai-spoorlyn het ons in die nag oorgevlug. Te Witbank het ons vir 9 maande gewoon. Toe het die Engelse ons uitgedryf; ons huis voor ons oë afgebrand — ons geneem en omtrent 600 tree van die woning laat kamp.

Ons ete was ’n stukkie skaapvleis en fyn klinkers deur ’n swarte voor ons op die grond gesit. Die volgende more is ons op ’n wa gesit wat so vol luise was dat ons byna nie kon leef nie. Daarna is ons na Springs gestuur, en toe na die kamp te Johannesburg waar ons 7 maande moes bly. Ons is daar op die ellendigste manier behandel. Die kos was van die slegste, die vleis oneetbaar taai en maer. Ek was ’n maand siek in die kamp van die slegte voedsel. Al het ek geld geoffer, was daar niks verkrygbaar — bv. 2/6 vir een hoendereier. Die vroue moes self die hout en kole na die kamp dra, ’n derde myl van die ontvangplek.

Toe ons mans nog aanhou met die geveg — en nie wou ingee — het die Engelse ’n klomp van ons vroue op kateltrokke gelaai en na Durban gestuur. Dit het ons 5 dae geneem. Ons was net eenmaal toegelaat om af te klim. By die stasies waar die trein stilgehou het, was ons blootgestel aan allerlei beledigende en lae aanmerkings van tommies en swartes. Daar is ons in Jacobskamp gesit waar die behandeling ’n bietjie beter was. Die brood was somtyds goed, maar as ’n mens dit sny kom daar muise ens. uit.

Toe die vrede gesluit was, het my eggenoot my daar weggekry — ons moes nog drie maande daar bly voor ons kon wegkom. Met groot moeite het ons by ons verwoeste woning aangekom en moes hard werk om ’n dak oor ons te kry.

M.M.C. GROVE

Vervolg...