1899-1902
Lees reeks by Stemme uit die vrouekampe
deur Bienedell Uitgewers
Verklaring van Johanna le Roux, gebore Grove
My vader was op kommando en my moeder was op die plaas met agt kinders. Ons het gehoor hoe die Engelse huise afbrand, die vee uitroei en die vroue vang om na kampe toe te stuur. Om te voorkom dat ons nie ontvoer word nie het ons aangesluit by ’n aantal ander vroue, wat om dieselfde rede hulle huise verlaat het.
Dit was in Junie 1901 dat ons begin rondvlug het. Nadat die Engelse volgens ons beskouing met hulle rooftog in ons distrik klaar was, het ons weer teruggegaan plase toe en die laer van twintig waens opgebreek. Skaars was ons tuis of veldkornet Theunissen laat ons weet om dadelik te vlug omdat die Engelse reg op ons aftrek. Die manne het teenstand gebied om ons en die ander vrouens ’n kans te gee om te ontvlug. Deur moeilikheid met die inspan het veel tyd verlore gegaan en by die tyd dat ons ’n halfuur op pad was, moes ons burgers ook vlug. Die Engelse het ons in die gesig gekry en toe hulle kanonne op ons laat skiet. Na van ons osse gedood is, het ons tot staan gekom en toe het hulle ons met geweld gevange gemaak. Intussen het die Engelse op ons werf gekampeer en toe hulle ons daar terugbring was ons huis in volle vlam. Dit was ’n vreeslike gesig om te sien hoe die sogenaamde beskaafde Engelse volk die onskuldige diere by hope doodsteek en alles wat voorkom, verniel. Varke is sommer lewendig oopgesny. Met niks anders dan die klere aan ons lyf word ons konsentrasiekamp toe vervoer. Ons is vertel dat dit alles gedoen word om ons te beskerm. Op die 20ste Junie het ons op Brandfort aangekom. Daar was ons ’n maand toe my moeder deur al die verwaarlosing siek geword het en hospitaal toe moes gaan. My moeder was lank siek en al die tyd was daar niemand om na ons kinders om te sien nie. Sy het gelukkig beter geword maar toe moes twee broertjies hospitaal toe gaan. Na vyf dae was die een ’n lyk. Op dieselfde dag is 28 lyke begrawe, van twee tot sewe in ’n gat. Later nl. vanaf Oktober was ek werksaam in die hospitaal en kon daar die ellende van naby aanskou. Van 20 tot 30 het in vier-en-twintig uur gesterf. Ek weet van ’n hele familie wat uitgesterf het. ’n Sekere Mevrou van der Berg het agt kinders verloor en Mevrou du Toit haar drie kinders binne veertien dae. In Januarie 1902 is ’n sustertjie dood en van ons was ses in die hospitaal.
Die vleis wat ons ontvang het, was totaal oneetbaar en die meel was te min om van te lewe maar darem te veel om van dood te gaan. Groenhout met ’n handvol steenkool was ons toegestaan vir ’n dag. As bakoonde het ons gebruik gate in die wal van die Keeromspruit en dan het dit dikwels gebeur dat die soldate nog ons brood steel terwyl dit in die oonde was. Op ’n sekere dag in Oktober het ’n klomp vroue die kommandant versoek om beter en meer voedsel; maar hy het hulle uitgevloek en uitgeskel. Dit was net te erg en die vroue het toe sy tent gestorm sodat hy met alle spoed moes vlug. Die Kamppolisie het tussenbeide gekom; maar die vroue het hulle so getakel dat meer as een dokter toe geneem moes word.
Byna vierduisend van ons stap toe die Kamp uit na die Boere. Om ons te keer, word gewapende troepe agter ons ons aangestuur en hulle het ons teruggedryf. Twee nl. Mevrou die Weduwee Viviers en Mevrou Miemie Els word in die tronk gestop. Sommige is na die prisonierskamp gestuur terwyl die kamp vir ’n week lank deur gewapende troepe opgepas is. ’n Maand later het inspekteur Barret deur die Kamp gegaan om rapport uit te bring en daarvandaan het dit ’n bietjie beter gegaan. Kort hierna is vrede gesluit. Kinders van drie jaar en daaronder was nie meer in die Kamp te sien na die oorlog nie - almal dood.
Palmietfontein
23/4/1917