1899-1902
Lees reeks by Stemme uit die vrouekampe
deur Bienedell Uitgewers
Verklaring van Mev. Dorothea Jones te Klerksdorpkamp
" Sommige ook weer wat op sterwe lê vra vir kos, en dan kry hulle vir 'n antwoord ‘Vrek maar, dan is dit een minder om voor te sorg.’"
Ons is by ons huise deur die Engelse op waens sonder tente gelaai, en ons moes toe heel dag in die son bly sit tot die aand sonder kos of ’n druppel water. Toe eindelik gee hulle ons ‘Bully Beef' en klinkers. Ons sê toe vir hulle ons het nie perdetande nie. Ons kry toe meel om pap van te maak; dit kon ons ook nie eet nie, want dit smaak soos pure stysel.
Toe ons by die kamp kom, moes ons vier huisgesinne in een tent gaan. Die swaar het toe begin. Na ons vyftien dae daar was, breek die masels en kinkhoes onder die mense uit. My suster het in een maand se tyd al haar kinders verloor. Daar is tot twintig mense op een dag dood. ’n Hospitaal is toe later opgerig waar die mense kon heengaan; maar toe sterf die mense eers, want die Khakies kon hulle toe gif ingee netsoos hulle wou. Die naarste was as die mense beter word, vra hulle vir kos, en dan kry hulle net ‘Beaf Tea’ en kondensmelk. Sommige ook weer wat op sterwe lê vra vir kos, en dan kry hulle vir 'n antwoord ‘Vrek maar, dan is dit een minder om voor te sorg.’
Daar was ook ’n paar goeie nursies onder hulle wat vir die siekes kos gesteel het, maar hulle word weer siek so gou as hulle die kos geëet het, want hulle mage was te swak om kos te staan. Die nursies se geld is toe afgeneem en hulle is toe weggeja. Dr. Russel was ’n goeie dokter en het baie mense gesond gemaak. Hy is toe weggestuur omdat hy die mense te goed behandel het, en Dr. K. is toe in sy plek gekom, maar toe het daar byna nie een uit die hospitaal gekom nie. Elke mens wat hy gedokter het, se maag het so baie gewerk dat hulle daarvan dood is. Die vrouens het gewens dat dieselfde ding met hom moes gebeur, en op ’n dag was dit ook so. Hy het by die kleinhuisie geboer totdat hy byna dood was.
Met ons kos het dit uiters treurig gegaan. Ons het net genoeg gekry om ons aan die lewe te hou. Dit was ’n bietjie meel, rys en slegte mieliemeel. Die vleis was treurig. Partykeer van ’n dooie skaap en dan partykeer so maer dat as jy dit teen die muur gooi, dan bly dit daar sit van taaiheid. Daar het sommige van ons, waaronder ook kinders, emmers gevat en slagpale toe gegaan om bloed te vang. Toe het daar ’n ou ‘handsupper’ ons weggeja. Party se emmers het daar bly lê. Hy het die bloed in gate laat gooi en ‘carbolic’ daaroor laat gooi. Die ou ‘handsupper’ was Nikolaas Meyer. Die grootste gedeelte kos gee hy vir die ‘Scouts.’
Daar het partykeer varke in die nag gekom en die lyke stukkend gevreet.
Een van die voormanne, nog 'n 'handsupper' wat ons gehad het, was ene du Toit. Hy het saam met die dokter rondgeloop om die siekes hospitaal toe te neem. Hulle ruk die arme kinders uit die moeders se arms, alhoewel hulle smeek en bid om die kinders terug te kry. Op ’n dag word hy siek en het drie dae lank op sterwe gelê want hy't gesê al die vrouens en kinders staan voor hom – sy gewete het hom begin pla.
Die ‘handsupper’ Willem van der Berg het by die tente waar die vroue hulle klere moes ontvang hulle so omgestamp dat hulle oormekaar geval het. Hy was te sieklik om te gaan veg, dus het hy maar tussen die vrouens geveg soos 'n meid.
Die lyke is tot vier in een graf begrawe.
Die liewe Heer het my tot hiertoe gespaar waarvoor ek vandag nog dankbaar is.
(Getekend) DOROTHEA JONES voor Mej. J.S. Labuschagne, Vrederegter.
Boschpoort 169, Dist. Lichtenburg, 20 April, 1917